Maar die Woord van die Here, dit bly vir ewig. En hierdie Woord is die Evangelie wat aan julle verkondig is.

1 Pet. 1:25.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View May 2009 Issue >>
 

Christenskap is Nie 'n Godsdiens Nie!  

                                                    

Christenskap is nie ‘n godsdiens nie.  Christenskap is ‘n leefwyse wat gefundeer is op sekere fundamentele beginsels wat die Heilige Gees in die bekeerling tot die Christendom teweegbring: “Die vrug van die Gees,  daarteenoor, is liefde, VREUGDE, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” (Gal.5:22: beklemtoning persoonlik.)  Vreugde is ‘n kardinale element van ‘n wedergebore kind van God se hele lewe:  “Verbly julle in die Here en juig, regverdiges, jubel alle opregtes!”(Ps.32:1.)

 

OPENBARING VAN VREUGDE

Dis nodig dat ons mekaar telkens daaraan sal herinner dat Christenskap die openbaring van vreugde is oor ons verhouding met God, deur Sy Seun, Jesus Christus; ons noem dit wedergeboorte. C S Lewis, die wêreldberoemde skrywer, was ‘n selferkende ateïs, ‘n man met verskeie doktorsgrade en professor aan ‘n universiteit. Toe het God Sy hand op hierdie begaafde man se lewe gelê en hy het kragdadig tot bekering gekom. Die titel van die eerste boek wat hy ná sy bekering geskryf het was: ‘Surprized by Joy!’

 

Daar is ‘n eeue-oue Christelike legende wat vertel dat, nadat die satan uit die hemel gewerp is vanweë sy opstand teen God, hy met geleentheid besig was om deur die heelal te sweef op soek na iemand wat hy kon verlei.  Toe ontmoet hy ‘n ‘goeie’ engel uit die hemel en hulle het lank oor verskillende dinge gesels.  Net voordat hulle uitmekaar is, vra die engel vir satan: “Lucifer, sê vir my, wat mis jy die meeste vandat jy uit die hemel weg is?”  Dit was asof daar ‘n weemoedige trek in die slinkse oë van die satan gekom het en stugweg antwoord hy: “As jy dan moet weet:  Ek mis die vreugde;  ek mis die tintelende, bruisende, sprankelende vreugde van die oggend-,  die middag- en die aandure. Ek mis die vreugde van die hemel.”  As ons daardie vreugde wil geniet, sal ons nou reeds daarvoor moet begin oefen.  Hierdie noodsaaklike, onvernietigbare Christelike blydskap het grootliks in ons wêreld soek geraak.  Jesus sê in  Joh.16:22: “Niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie.”

 

TWEE SOORTE BLYDSKAP

Christenskap is ‘n leefwyse van blydskap. Teveel mense is onder die waan dat die Christen ‘n lang, suur gesig moet hê, altyd in rougewaad geklee moet wees en gereeld soos ‘n begrafnisondernemer moet optree.  Hierdie mense doen die Christendom meer skade aan as wat ooit bereken sal kan word.  Daar is natuurlik twee soorte blydskap: daar is die kortstondige blydskap van die wêreld – van die verlore seun in die ver land van sonde en verkwisting, en dan is daar die blydskap van die Vaderhuis,  waar daar ná berou en terugkeer,  feesviering,  sang en vreugde is.  Ons moenie ons blydskap op die verkeerde plekke of by die verkeerde mense gaan soek nie. Die bron van ons blydskap is die sekerheid van ons verlossing deur Jesus Christus. Die toppunt van ons blydskap is om te weet dat daar Iemand is wat jou onvoorwaardelik liefhet. Ons lewe moet jubel: “Ek weet verseker dat Jesus leef! Ek is verlos! God het my lief! Hy woon deur die Heilige Gees in my. Christus het ook vir my gesterf! My sonde is vergewe! Ek het ‘n ewige Vaderhuis en ek is op pad huis toe!”

 

Christenskap neem nie die vreugde uit ons lewe weg nie; dit plaas juis die vreugde daarin terug, soos wat sout aan kos smaak gee. Paulus sit in ‘n koue Romeinse tronksel met ‘n gegeselde rug en skryf ‘n ‘tronkbrief’ aan die gemeente van Filippi. Waaroor skryf hy? Oor die ellendige tronkkos? Oor die yl kombersie wat die koue moet uithou? Oor die arrogansie van die Romeinse soldate wat hom met minagting behandel? Nee,niks daarvan nie.  Twaalf maal in hierdie kort brief van vier hoofstukke skryf hy oor Blydskap! “Verbly julle altyd in die Here!  Ek herhaal: verbly julle!”(Fil 4:4). Ware Christelike blydskap het niks te doen met ons uiterlike omstandighede nie: dit het sy oorsprong in Jesus Christus. Goethe het gesê: “Dit is nie wat OM ons is nie, maar wat IN ons is;  dit is nie wat ek BESIT nie, maar wat ek IS wat my gelukkig of ongelukkig maak.” Geneeshere sal vir jou sê dat blymoedige mense die spanning en stres van die lewe baie beter hanteer as morbiede mense. In Spreuke 15:15 staan daar: “Dit gaan altyd sleg met die bedrukte mens;  die blymoedige mens se hele lewe is ‘n fees.”

 

DIE BRON

Paulus kwalifiseer duidelik die Bron van sy blydskap: “IN DIE HERE!”  Hy gee aan ons die blydskap wat niemand van ons kan wegneem nie: nie beproewing, eensaamheid, droefheid, siekte of selfs die dood nie.  Hoe lank duur hierdie blydskap? Paulus sê: “Verbly julle ALTYD in die Here!” Nie net as dit goed gaan nie, maar altyd. In sonskyn en in onweer; in vrede en in storm; in gesondheid en in siekte; in lewe, en ja, selfs in die dood. Dan herhaal Paulus sy oproep: “Ek herhaal: Wees bly!” Herhaling is ‘n beproefde opvoedkundige beginsel, want ons is geneig om so gou te vergeet.  Daar is so min Christelike blydskap in ons teenswoordige wêreld en as Christene moet ons tot die volume daarvan bydra.  Ons moet ophou om die duisternis te vervloek.  Ons moet elkeen ‘n klein kersie van blydskap aansteek en help om die duisternis terug te drywe. Christus se opdrag is:  “Julle is die lig vir die wêreld … laat julle lig so skyn voor die mense dat hulle jule goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”(Matt.5:15-16)

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication