God is nie n mens dat Hy sal lieg nie.

Num 23:19a.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View December 2010 Issue >>
 

Geborge Kinders in 'n Moeilike Wereld

Dit raak al hoe duideliker dat hedendaagse kinders meer be­skroomd is, huiweriger is om enige risiko’s te neem en baie meer angsbevange is as vorige geslagte. Daar kan baie redes daarvoor wees, maar een van die hooffaktore is oorbeskermende ouers.

Dié ouers, wat die kinders se beste belange op die hart het, is daarvoor verantwoordelik dat kinders min selfvertroue het en veel eerder na Ma toe hardloop as om self die probleme te probeer oplos. Deur te probeer om die lewe so probleemvry en pynloos moontlik vir die kinders te maak, word alles deur die ouers self gedoen en dit verhoed dat hul kinders die vermoëns ont­wikkel om hulle volle potensiaal te bereik.

OORBESKERMENDE OUERS

Kinders wie se ouers alles vir hulle doen, is sielkundig baie broos en angsbevange. Hulle het geen begeerte om enigiets deur te voer nie en dit wil al hoe meer voorkom asof ons besig is om ‘n generasie ruggraatlo­ses groot te maak.

Die skrikwekkende werklik­heid is dat hierdie kinders on­volwasse en angstige vol­was­senes word en baie met ern­stige sielkundige probleme sukkel. Wat is werklik die probleem en hoe kan dit opgelos word? Wat as jy self ‘n oorbeskermende ouer is – hoe kan jy nou jou foute wat jy reeds gemaak het, regstel? Hoe kan ‘n ‘Christelike opvoeding’ bydra om hierdie probleem by ons kinders aan te spreek?

DIE KERNPROBLEEM: SKUGTER LEWENSWYSE

In die boek, No More Jellyfish, Chickens, or Wimps, sê die skrywer Paul Coughlin: “Christians are raising some of our culture’s wim­piest kids.” Die groot probleem is dat ons, as Christene, geneig is om weg te skram van deugde soos skranderheid, vrymoedigheid en moed.

Hierdie drie aspekte van integriteit vereis ‘n aktiewe en selfgeldende houding teenoor die lewe, maar baie Christene dink dat dit verkeerd is om selfgeldend te wees. Dus word ons kinders geleer om altyd dierbaar, aangenaam en inskiklik te wees, t.s.v. die omstandighede. ‘Aangenaam’ beteken nie noodwendig ‘goed’ nie. Jesus Self was sagmoedig en Hy het Homself ook beskeie genoem. Hierdie karak­tertrekke is sinoniem met onderdanigheid en buigsaamheid. Ons moet egter vra: aan wie was Hy onderda­nig? Die antwoord: Sy Vader se Wil!

IDENTITEIT IN CHRISTUS

Dit is wat ons altyd moet onthou. Onderdanigheid en buigsaamheid is nié vrees vir konflik nie. Dit is ook nié beskroomdheid nie! Onderdanigheid en buigsaamheid is om te weet wie ons in Christus is en dat ons glo wat God sê, waar is en dat ons in gehoor­saamheid aan Hom, ons liefde vir Hom sal uitleef aangesien Hy ons eerste liefgehad het. Hierdie hele uitgangspunt is gans anders as wat ons aan ons kinders leer en self ook uitleef. Hoekom is ons kinders so be­skroomd en bang? Een studie het getoon dat 85% van alle kerkgangers ‘n passiewe persoonlikheid het. Hoekom? Die Bybel sê tog: “Regverdiges is so dapper soos leeus.” Spr 28:1. Nêrens in die Bybel lees ons enigiets dat ons so soet soos stroop moet wees nie.

SELFGELDING NOODSAAKLIK
Dit is nodig dat ons ons kinders aanmoedig om geregtigheid na te jaag en deugde soos onversetlike selfliefde aan te neem – nie aggressiewe of selfsugtige gedrag nie. Nee, selfgeldende, selfversekerde gedrag wat geborge kinders kweek.

Ons het nie net kinders met beter maniere wat weet wanneer om ‘asseblief’ en ‘dankie’ te sê nodig nie, maar ook kinders wat bereid sal wees om ‘n maat op skool te verdedig indien hy of sy geterg word oor die ou klere wat hy/sy dra. Ons het kinders nodig wat vriende sal maak met die een wat deur die bullebakke afgeknou word en dan bereid is om dié een te verdedig. Ons het kinders nodig wat dit nie sonder meer sal aanvaar as dinge in die lewe verkeerd of nie aanvaarbaar is nie.

WAAR IS MOED EN INTEGRITEIT HEEN?
Baie tieners is bang om hul ware gevoelens met hul ouers, of enigiemand, te deel omdat hulle nie veroordeel wil word nie. Baie word vroeg reeds geleer dat hulle gevoe­lens oor die dinge om hulle, sleg of verkeerd is. Hulle leer dat sekere emosies ontoelaatbaar en onaanvaarbaar is. Sommige word selfs gestraf indien sekere gevoelens verwoord word. Die hartseer feit is dat sommige van hierdie jong volwassenes hul na dwelms, fantasiewêrelde, geheime lewens en selfskending wend in ‘n desperate poging om die hoë sielkundige spanningsvlakke te kan hanteer.

Ouers wat nie hul kinders geleer het om self te voel, te dink, dinge te verwerk of self besluite te neem nie sal vind dat, wanneer hulle dan, in hul tienerjare, die lewe en sy vraagstukke moet hanteer, hulle geen idee het hoe om dit te doen nie. Deur ons kinders te leer om foute of sonde te vermy, verwyder ons hulle inderwaarheid daarvan om die aankweek van positiewe karaktertrekke soos vrymoedigheid en integriteit, te ontwikkel. Ten einde hierdie deugde te bemeester, is meer as net lysies ‘moets’ en ‘moenies’ nodig. Dit is uiters noodsaaklik om te leer wat mag nie gedoen word nie, maar dit is ook nodig om op sonde te fokus – die sonde om nie te doen wat reg is nie.

BASIESE WAARDES
Moed is die vermoë om vrees, pyn, gevaar, onsekerheid of intimidasie te konfronteer, of dit nou vir onsself of vir ander is... moed is die basiese waarde waarop alle ander deugde soos wysheid, matigheid en geregtigheid berus. I.p.v. om ons kinders te waarsku om nie by iemand wat verkeerd behandel word, betrokke te raak omdat hulle moontlik self iets kan oorkom nie, mag dit dalk ‘n baie goeie idee wees om met hulle te gesels oor wat in so ‘n situasie gedoen behoort te word. I.p.v. om op die kantlyn te staan. Tydens ‘n skoolgeveg, byvoorbeeld, is die regte ding om te doen om eerder ‘n onderwyser te gaan roep wat kan ingryp.

OORBESKERMENDE OUERS EN ONDERONTWIKKELDE KINDERS
Hoeveel keer het jy al na jou kind se skool toe gejaag om huiswerk wat by die huis vergeet is, te gaan aflaai? Het jy al ooit ‘n sportafrig­ter geskakel om te kla omdat jou kind nie vir ‘n span gekies is nie? Kies jy jou kinders se vriende, klere of selfs hul haarstyle? Is jy moontlik ‘n oorbeskermende ouer?

Daar is natuurlik grense: ons kinders kan nie die huis verlaat en ontoepaslik aangetrek wees nie. Hulle kan ook nie net doen wat hulle wil nie. Maar hulle kan be­slis kies of hulle ‘n blou of ‘n rooi trui wil dra; al dink jy een lyk beter as die ander. Laat hulle toe om hul eie gevegte te veg sonder om elke keer in te gryp as daar ‘n probleem is.

SIMPTOME VAN OORBESKERMING

  • Onderbreek die kind dikwels
  • Skryf aan die kind voor wat hy/sy behoort te dink en te voel asook dat die kind se gevoelens verkeerd is (mag moontlik aan hulle sê dis verkeerd om kwaad te wees)
  • Hul kinders se inisiatief tot niet maak
  • Onderwerpe kortaf verander (wanneer ‘n kind bv. oor iets kontroversieels gesels)
  • Net bereid is om sekere kwessies te bespreek
  • Van hulle kinders verwag om top-pres­teerders te wees

Indien kinders teen onvermydelike uit­dagings en teenspoed beskerm word, ont­wikkel hulle beslis nie ‘n begrip van hul eie vermoëns en swakpunte nie. Sommige word té selfversekerd met ‘n verwronge beeld van hulself. Ander weer, kom selfvertroue kort en dit lei tot angs en depressie – die ideale teiken vir afknouery.

Of oorbeskermende kinders arrogant (teveel selfvertroue) of selfverkleinerend (te min selfvertroue) word, hulle deel dieselfde kwaal: hulle fokus teveel op hulself en nie genoeg op ander nie. Kindersielkundige David Elkind, sê: “We learn through expe­rience, and we learn through bad experiences. Through failure we learn how to cope.” Dit is nodig dat ons kinders elke dan en wan iewers faal sodat hulle uit hul foute kan leer en sterker mense kan word.

DIE DUN LYN TUSSEN BESKER­MING EN OORBESKERMING
Ons kinders leer hoe om op te tree deur ons gedrag dop te hou. Is jy passief, aggressief of selfgeldend? Passiewes reageer, of kies om nié te reageer nie, op lewenskwessies i.p.v. om pro-aktief te wees. Aggressiewe mense oorreageer op wat om hulle gebeur. Beide hierdie twee groepe word deur vrees aangedryf. Vrees vir afkeuring of konflik laat die passiewe persoon aanvallend optree. Beide isoleer hulself van ander, selfs die­gene wat vir hulle lief is.

Selfgeldende persone is pro-aktief en reageer met die regte hoeveelheid liefde en beleefdheid. Hulle maak ander mense nie onnodig seer nie, maar hulle maak seker dat hulle hul kant van die saak gestel kry. Hulle is beslis nie mense wat net ander tevrede hou nie en is ook nie ‘koue’ persone wat ander op ‘n afstand hou nie. Hulle probeer nie om ander te beheer nie en hulle laat hulle ook nie deur ander beheer nie. Hulle word nie deur vrees, angs of bekommernis beheer nie. En dit is waar ouers behoort te wees.

KARAKTERTREKKE VAN DIE MANMOEDIGES
Die punt is dat ons as ouers ‘n voorbeeld vir ons kinders behoort te wees deur ‘n ‘dapper’ lewenstyl te handhaaf. Ons behoort hulle aan te moedig om ‘n verskil te maak en nie verkeerde dinge te aanvaar nie, maar liewer deel van die proses te wees waardeur dinge reggestel word.

Jy mag dalk voel dat jy nie in staat is om ‘n voorbeeld te stel nie omdat jyself in vrees leef. Dit is belangrik om die dinge wat jou daarvan weerhou om ‘n geloofsvervulde en geborge lewe te lei, te hanteer. Om moed te ontwikkel, probeer om aan die volgende dinge te werk. Die beloning sal in sowel jou eie as jou kinders se lewens sigbaar wees.

  1. Kweek ‘n empatiese verbeelding: probeer jouself in iemand anders se skoene plaas.
  2. Raak pro-aktief en pro-sosiaal. Werk daaraan om ‘n positiewe invloed op ander se lewens te wees. Dit gebeur nie sommer net nie – dit mag nodig wees om te beplan hoe jy spesifieke mense gaan help en spring dan aan die werk.
  3. Wees in beheer van ‘n kritiese situasie – veral as jou kinders by is. Dit is dan nodig om manmoedig te wees.
  4. Kyk jou vooroordele in die oë en hanteer dit. Aanvaar en respekteer ander; selfs al is hulle van ander gelowe, rasse of status.
  5. Ontwikkel ‘n avontuurlustige gees. Dit beteken nie jy moet nou ewe skielik gaan rekspring nie. Leer ‘n nuwe vaardigheid aan – dit kan jou net goed doen! En laat jou kind ook hierdie avontuurlikheid toe.
  6. Wees moreel baie sterk gegrond – staan op vir die regte van ander en jouself. Byvoorbeeld as iemand die Here se Naam voor jou gebruik, neem standpunt in en sê baie duidelik so.

VREDEMAKERS, NIE LAFHARTIGES NIE
Onthou dat vredemaak nie die vermyding van konflik beteken nie. Om van ‘n pro­bleem weg te hardloop en te maak asof dit glad nie bestaan nie, of om té bang te wees om daaroor te praat, is lafhartig. Deur altyd in te gee, ‘n deurmat te wees, is beslis nie wat Jesus in gedagte gehad het nie. Dit is belangrik dat ons ons kinders beskerm en hulle opvoed oor die gevare in en van die wêreld.

Hulle het dissipline nodig en hulle moet weet wanneer hulle gedrag verkeerd is. Hulle behoort egter vry te wees om lewens te leef sonder die nimmereindigende ingryping van ouers. Gun hulle ruimte om self besluite te neem, maar laat dan ook toe dat hulle die verantwoordelikhede dra indien hulle foute maak. Die uiteindelike moedige stap vir ouers is om hulle kinders te laat gaan.

Dit is ‘n uiters vreesaanjaende ding om toe te sien hoe jou kind die aanslae van die lewe moet hanteer, maar as hulle geleer het hóé om sulke situasies te hanteer, is hulle beter toegerus daarvoor. 1 Kor 16:13-14 sê: “Wees op en wakker! Staan vas in wat julle glo! Wees moedig! Wees sterk! Alles wat julle doen, moet in liefde geskied.”

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication