U Woord, Here, staan vir altyd vas in die hemel.

Ps. 119:89.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View January 2011 Issue >>
 

Bevry Uit Sonde

Ek is getroud en ‘n geordende pastoor, ‘n Namibiër in murg en been met ouers wat Christus geleef het! Ek is op veertien gedoop en wedergebore op ses­tien. Ek was egter van dertienjarige ouderdom tot in 2010 verslaaf aan pornografie...

WAAR HET DIT BEGIN?
Op dertienjarige ouderdom is ek in die skool­koshuis bekendgestel aan baie grafiese pornografie en masturbasie. Dit was konsepte wat ek nie op daardie stadium geken het nie, maar die oom­blik toe my kamermaat aan my verduidelik het wat dit was, was ek verslaaf daaraan.

Die paar keer wat ek aan grafiese pornografie blootgestel is, was genoeg om my ge­dagtes te voed en die beelde op te roep wanneer ek dit ‘nodig gehad’ het. Die lengte waartoe ‘n mens gaan om hierdie ver­slawing te voed, is ongelooflik! Omdat ek oorgewig, nie eintlik aantreklik is en nie ‘n haan onder die henne was nie, het hierdie ‘donker’ aktiwiteite my goed gepas.

NA SKOOL
Ek het gaan studeer, maar het in dié tyd baie ver van die Here afgedwaal. Alkohol was vir my baie belangriker as vrouens, want ek het nog steeds nie die moed gehad om met meisies te gesels met die oog op ‘n verhouding nie. Ek kon mos nog steeds my gedagtes ‘gebruik’ vir my eie ‘aktiwiteit’ later.

Tydens my kollegejare was ek ‘n perso­neellid by ‘n skoolverlaterskamp waar ek ‘n meisie ontmoet het. Ons verhouding het uit seks bestaan. Omdat dit ‘n langafstand verhouding was, het dit uiteindelik dood­geloop. Ek was egter só vasgevang in my ‘pornografiese verbeel­dingsleefstyl’, dat dit nie eintlik saak gemaak het nie.

CHRISTUS VERSKYN IN DIE PRENTJIE
Na kollege het ek gaan werk, maar in 1999 tot bekering gekom. Twaalf jaar tevore is ek weergebore, maar het die pad, uit eie keuse, byster geraak. In ’99 het ek ophou drink, ophou vloek, maar my ander twee verslawings kon ek nie prysgee nie. Ek was toe reeds voltyds in die bediening, maar my verslawing het voortgeduur.

My gedagtes het genoeg beelde bevat om my te ‘voed’ wanneer dit ‘nodig’ was! Ek het in die stad begin werk en toegang gehad tot die internet... Wow! Internet is die ‘uitkoms’ vir die verslawing van die Here se kinders. Dis anoniem, geheim, donker – net waar die vyand jou wil hê. Dit maak jou anti-sosiaal, want jou lewe word deur dit wat op die skerm is, opgeslurp.

En dit is so maklik om toegang tot die onderskeie webwerwe te kry; selfs ‘n kind van ses sal dit regkry. Ek het, t.s.v. die feit dat ek besig was om te studeer om pastoor te word, nie opgehou nie. Die skuldgevoelens het my bloots gery, maar dit was asof iets my van binne gedryf het.

GETROUD

Ek het altyd gedink as ek dinge dóén, sal die verslawing verdwyn: as ek eendag pastoor is, of as ek getroud is en meer seks met my vrou het, of... dit hét egter nie. Laataande met die afstandbeheer van die TV in die hand, het ek vinnig kanale verander as my vrou ingekom het.

Internetpornografie was egter vir my die heel beste – niemand het daarvan ge­weet nie. Ek het op die internet begin ‘chat’ en selfs verskeie kere kuberseks gehad met vrouens wat net so verlore was soos ek. En my eie vrou het niks hiervan geweet nie.

VOLTYDS IN DIE BEDIENING

Selfs nie eens toe ek die bediening voltyds betree het, het die verslawing verdwyn nie. Dit het slegs vir ‘n paar maande goed gegaan, maar toe het ek weer die ‘donkerte van my kantoor’ opgesoek – agter ‘n toe deur onder die voorwendsel dat ek ‘tyd met die Here spandeer!’ Ek het selfs op ‘n webblad afgekom waar jy met ‘n webka­mera ‘jou weivelde kon vergroot’.

Kuberseks het vir my ‘n nuwe dimensie aangeneem. My dubbele lewe, as eggenoot en Pa en pastoor van my gemeente, het sy tol geëis. Nodeloos om te sê, my bediening was aan die kwyn. Ek kon mense nie meer bedien nie; ek het dit selfs oorweeg om weer die wêreld te begin dien. Dit was egter nié die Here se Wil nie. Sonde is nóóit Sy Wil nie. Dit was vir my absolute hel om met myself saam te leef – dit moes dus vir my vrou net so erg, of nog erger, gewees het; al het sy van niks geweet nie.

UITGEVANG

Spreuke 10:19 sê: “Hy wat in opregtheid wandel, wandel veilig, maar hy wat sy weë krom maak, word bekend.” As jy jouself met verkeerde dinge besig hou, word jy altyd een of ander tyd uitgevang. Ek het eenkeer teen­oor my vrou erken ek het ‘n probleem, sy het my vergewe en gedink die pro­bleem is iets van die verlede. Maar een aand in Januarie 2010 was ek weer in my kantoor ‘besig’. My vrou het die kantoor ingestap...

LEEF IN ONTKENNING
“Eers toe ek my man uitgevang het, het ek besef wat al jare aan die gang was. Ek het aanvanklik gedink ek verbeel my – geen Christen-man sal mos pornografie op die TV kyk nie. Ek het lank in ontkenning geleef. Ek het die fout by myself gesoek.
Ek het gedink ek was nie aantreklik genoeg vir hom nie en ek het hard aan myself gewerk. Ek het sy guns probeer wen – sonder sukses. Depressie het gevolg... maar ek kon met niemand daaroor praat nie. Hoe kan ek vir iemand vertel dat my man, die pastoor, verslaaf was aan pornografie en internetseks?”

SOEK HULP
“Nadat ek hom uitgevang het, het ons besluit dat hy hulp moes kry. Pastore en predikante kan egter nie sommer by enige plek om hulp aanklop nie. Ons was bewus van Kwazisabantu in Natal en het onmiddellik ons sisteme in plek gekry sodat hy gehelp kon word.” Die rekenaar is geskuif, ander wagwoorde – net aan my vrou bekend - is ingevoer en ek is Kwazisabantu toe vir berading. Reeds tydens my eerste sessie by ‘n berader daar het hy ‘n demoon geïdentifiseer en uitgedryf. Demone maak selfs in predikante en pastore woonplek! Na gebed het ek ook van iets anders bewus geword: wanneer jy met dinge besig is soos wat ek was, lieg jy onbeskryflik baie. Die Heilige Gees het my oortuig dat ek vir elke leuen wat ek vertel het om my ‘donker leefstyl’ te verdoesel, moes vergifnis vra. Ek het die berader weer gevra om vir my te bid en toe manifesteer die demoon behoorlik. Dit het gevoel asof hy my tong uit my mond uittrek, maar toe ek uiteindelik daar uitstap, was ek waarlik vry. “As die Seun julle dus bevry, sal jul­le regtig vry wees.” Joh 8:36. Ek kon huis toe gaan en nooit weer pornografie kyk nie!

WAT NOU?

Is jy ook vasgevang in ‘n soortgelyke ver­slawing? Daar is hoop, daar is vergifnis. Al wat jy moet doen, is om die wortel daarvan te vind en dít dood te maak. Die Skrif sê in Luk 3:9, dat indien die boom sleg is, dit by die wortel uitgekap moet word. Vind uit wat die wortel van jou verslawing of sonde is en roei dit uit.

By my het die duiwel vatplek gekry deur die afwesigheid van ‘n sterk, leidende mansfiguur in my lewe, by jou is dit moontlik iets anders. Kry die wortel en roei dit uit! Die Here ontbloot jou nie om met jou die spot te dryf nie, maar Hy ontbloot jou om jou oorwinnaar in jou omstandighede te maak. Ek kon Kwzisabantu toe vir hulp – jy kan ook. Met God se hulp ís dit moontlik!

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication