God is nie n mens dat Hy sal lieg nie.

Num 23:19a.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View February 2011 Issue >>
 

Realiteits-TV Romanse

Twintig vrouens, pragtig aangetrek met perfekte grimering en die witste tande, staan in die kersverligte vertrek rond. Hulle straal selfvertroue uit, maar een brunet, wat alleen eenkant staan, lyk nogal senuagtig. Haar oë knip onseker toe die ‘beskikbare jongman’ die laaste roos weggee...

Die kamera fokus en zoem in op Karin net toe hy Amanda se naam uitroep. Karin se gesig sak en die trane wel in haar oë op - terwyl sy gedwing word om voor die kamera te verduidelik hoe teleurgesteld en verwerp sy voel... en op die agtergrond klink die jongman ’n glasie op die volgende romantiese afspraak. Klink dit vergesog? Wel, dit is nie – om die waarheid te sê, dit is een van die gewildste werklikheids-TV-programme en gehore wêreldwyd val hiervoor en word absoluut hierdeur ‘ingesuig’.

VERWRONGE FANTASIEWÊRELD

In Suid-Afrika het ‘Boer soek Vrou’ sommer gou ’n baie gewilde program met ’n hoë kykertal geword. Selfs Christene word vasgevang in hierdie ‘kitsromanse- en fantasiewêreld’ van ‘liefde met die eerste aan­blik’ en ‘hulle het vir altyd gelukkig geleef’. Alhoewel ons weet hierdie programme is eerder ‘kompetisies’ as die werklikheid, word baie van ons tog onbewustelik hierdeur beïnvloed, naamlik deur te dink: ‘Ten einde geliefd te wees, moet jy die beste en die mooiste wees. Ryk mans regeer die wêreld en romanse is al wat tel.’

KONINKRYKSBEGINSELS

Ons behoort egter, as Christene, die Bybelse begrip van liefde, die huwelik en verhoudings te hê. Ons behoort volgens die Koninkryksbeginsels te leef en nie volgens wêreldse standaarde nie. In wêreldse verhoudings is seksualiteit, skoonheid, geld en mag geweldig belangrik, maar ons begin­sels behoort van ’n hoër standaard te wees. Ons word opgeroep tot Goddelikheid, respek, reinheid en onvoorwaardelike liefde. Lisa McMinn, Mede-Professor in Sosiologie aan die Christen-kollege, Wheaton, verduidelik: “Hierdie vertonings skep ’n verwronge beeld van liefde. Die vrouens verklaar hul liefde nadat hulle slegs enkele oomblikke in die man se teenwoordigheid was. Dit is so tipies Hollywood – liefde (wellus) met die eerste aanblik! Dit is ’n wanpersepsie! In die werklikheid is liefde nie nét op aantrekkingskrag gebaseer nie, maar op keuse en toewyding! Gesonde verhoudings verg tyd en harde werk – dit gebeur nie sommer net nie!”

VREES HEERS
Hierdie programme bied ’n baie oppervlakkige beeld en model vir liefde en wys selde die langtermyn-uitdagings en seëninge van die huwelik. Wat is dus die alternatief? Ons leef in ’n baie oppervlakkige kultuur wat verswelg word deur boodskappe van ontoereikendheid en die behoefte aan selfverbetering. Getroude vrouens leef in vrees dat indien hul gewig aansit, of grys word, of ’n plooitjie hier en daar het, of net eenvoudig ’n slegte dag beleef, hul mans hul eenvoudig gaan ‘los’ vir iemand jonger en ‘mooier’. En die boodskap word versterk juis omdat daar deesdae so min betroubare, sterk mans met Christelike beginsels is wat die huwelik, as instelling van God, hoog ag.

MENSLIKE POGINGS FAAL

Christus is ons hoop. Hy is die perfekte voorbeeld van onvoorwaardelike liefde en onderwerping aan die Wil van die Va­der. Indien enkellopendes hul lewens aan God onderwerp, sal Hy die regte persoon op die regte tyd hul pad laat kruis. Die mens kan nooit deur sy/haar eie pogings by die ‘perfekte’ verhouding uitkom nie. Indien getroudes die Bybelse opdragte vir getroude mans en vrouens ter harte neem en daarvolgens leef, (lees gerus
Ef. 5 en 1 Pet. 3) sal die uitdagings, toetse en beproewinge van die huwelik baie anders hanteer word as wanneer selfsugtige begeertes en wellus die botoon voer.

NÉT HY IS VOLMAAK

Hoe kan enige enkellopende dus die versoeking van verkeerde aandag van die teen­oorgestelde geslag, vals hoop en ‘redding uit eensaamheid’ vermy? “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou hele siel en met al jou krag.” Deut. 6:5.

Ons kan geen ander persoon na regte liefhê, indien ons God nie liefhet en Sy liefde vir ons aanvaar nie. Dit is net as ons in Hom volledig mens is dat ons gereed is om iemand anders volkome lief te hê en te trou. Indien ons die vleeslike begeertes najaag, sal ons altyd teleurstelling beleef. Geen mens kan ooit die ruimte vul wat in elk van ons is nie – God het dit in elk van ons geskep en nét Hy kan die ruimte vul. Indien ons verwag dat ons familie, vriende of lewensmaat die ruimte moet vul, sal ons nooit ’n vervulde lewe geniet nie. Slegs deur Sy Wil en Sy Woord eerste in jou lewe te plaas, kan jy God se seëning op alle vlakke te beleef. “...dat julle nie die liefde sal aanblaas voordat die tyd daarvoor ryp is nie.” Hooglied 2:7.

Enkellopendes maak dikwels die fout om selfs namens God romantiese planne te beraam net om eensaamheid te vermy. Dikwels kry enigeen wat genoegsaam aandag gee, sommer hul ‘liefde’. Hulle behoort baie goed te onderskei en hul harte te bewaar – en dit is slegs met die hulp van die Heilige Gees moontlik. “Boweal, wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen.” Spr. 4:23.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication