Maar nou se die Here: Draai met volle oorgawe terug na my toe! Vas, huil en treur! Moenie julle klere skeur omdat julle hart seer is nie, skeur julle harte!

Joel 2:12,13

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View May 2011 Issue >>
 

Aan Die Front Vir Christus: Peter en Lenora Hammond

In die vroeë Kerkgeskiedenis was die opofferings van getroue martelare die saad vir die verspreiding van die Evangelie. Die toewyding van die Hervormers het die waarheid van die Woord op alle samele­wingsvlakke moontlik gemaak. En vandag maak die werk van vreeslose sendelinge dit moontlik vir die liefde van Christus om tot aan die uiterstes van die aarde bekend te word. Peter Hammond is ’n man met al dié kwaliteite: getrou, toegewyd en vreesloos. Peter is ’n onvermoeide soldaat vir Christus wat meer as 100 sendingreise in oorloggeteisterde lande oor die afgelope 30 jaar voltooi het. Hy is ook ’n Christen-historikus wat verantwoordelik is om die Christen-erfenis lewend te hou en JUIG!- en JOY!-lesers deur sy artikels op te voed. Ons het met Peter en Lenora Hammond oor hul geloofsreis tot dusver gesels.

Peter, jy was vir jare agnosties. Hoe het jy tot bekering gekom en jou hart en denke verander?
Ek het in ’n agnostiese huis opgegroei en op 3 April 1977 tot bekering gekom. Ek het op ’n Sondag filmteater toe gegaan, maar nie geweet dat die plaaslike Baptiste Kerk die teater vir ’n evangelistiese saamtrek gehuur het nie. Dit was die eerste keer dat ek die Evangelie gehoor het. Toe Eerwaarde Rex Matthie verduidelik het wat Jesus namens ons deurgemaak het, het hy gevra: “Wat het jy al ooit vir Christus gedoen?”

Ek was oorweldig deur sonde-oortui­ging. Ek het besef dat ek ’n selfsugtige, skuldige sondaar was wat die ewigheid in die hel verdien het. Ek het vorentoe gegaan en ’n openbare toewyding aan Christus gemaak. Terwyl ek voor gekniel het, het ek nie net ’n oorgawe aan Hom gemaak nie, maar is baie duidelik tot die sendingveld geroep.

Vertel ons van jou passie vir sendingwerk.
Ek was reg van die begin af betrokke by die bediening, by Scripture Union-vakansie-uitreike, opleiding by Evangelism Explosion asook persoonlike deur-tot-deur-evangelisasie. Ek was ook betrokke by literatuurverspreiding by treinstasies en bushaltes, ek was in beheer van die Jeuggroep en het Sondagskool gehou.

Nadat ek die fenomenale sendingwerk van Francis Grim, wat sendingstasies in meer as ’n 100 lande regoor die wêreld ge­stig het, gelees het, het ek aansoek gedoen om by sy organisasie aan te sluit. Verbeel jou my verbasing toe hy net die volgende Sondag die spreker by my kerk was! Ek het vorentoe gegaan en my diens aangebied.

Jy was in die nasionale weermag en jou weermagopleiding het handig te pas gekom tydens die talle gevaarlike sendingreise in Afrika en oorsee...
Toe my oproepinstruksies kom, was ek vasbeslote om my twee jaar in die weermag te doen, maar dié tyd as sending- en evangelisasietyd te gebruik. Dit was nie maklik om ’n Christen in die weermag te wees nie, maar ek het saans met ’n Bybelstudie- en gebedsgroep begin en dit was in wese die begin van Frontline Fellowship.

Baie gou was ons besig om evangeliese uitreike te doen en filmevangelisasie te organiseer. Bybelstudiegroepe in die verskillende kasernes het vinnig vermenigvuldig en ek het ook ’n evangelis ge­reël om ’n veldtog by ons militêre basis te kom hou. Honderde het in die openbaar hul lewens aan God gegee en baie lewens is verander.

Jy het reeds baie sendingreise in Afrika onder­neem – dikwels in uiters gevaarlike gebiede. Waarom lê Afri­ka so na aan jou hart?

Terwyl ek een nag tydens ons deurnaggebedsbyeenkoms, gereël deur Operation World, gebid het, het die Here Mosambiek baie swaar op my hart gedruk – die minste geëvangeliseerde land in die Suidelike halfrond. ’n Marksistiese land in die greep van burgeroorlog en geen persoon onder 18 word in ’n kerk toegelaat nie. Daar is nie eens één Bybel per duisend mense nie!

Ons het reeds soveel van God se wonderwerke tydens ons militêre diensplig beleef – Sy beskerming en ingryping in tye van nood. God het ons toe geroep om oor­kant die grens in die oorloggeteisterde, kommunistiese Mosambiek en Angola Bybels te versprei, die vervolgde kerke by te staan en ons vyande te evangeliseer. Baie van my vroeë sendingwerk is op veldmotorfiets gedoen.

Ek het talle kere van die Kaap deur Mosambiek en Zimbabwe op ’n veldmotorfiets gery wat hoog gepak is met Nuwe Testamente en Evangelie-boekies asook die Jesus-film in Portugees. Wanneer daar nie geld vir brandstof was nie, moes ek ryloop. Ek het meer as 140 000 km geryloop en ek het die geleentheid gehad om die Jesus-film aan duisende Mosam­biekers te wys en kon honderde na Christus lei.

Om Angola te bereik, het behels dat ons deur riviere vol krokodille moes swem, later geleende kano’s gebruik om die Bybels en literatuur oor te neem terwyl ons langsaan swem. Ons is vanuit die lug gebombardeer. Ek was die getuie van vele oorlogwandade en het gesien hoe talle kerke met die aarde gelykgemaak is. Daar is ook op my geskiet en ek moes lugbombardement verduur - van hoogvlieënde Anatov- en laagvlieënde MIG-23-bomwerpers. Tydens my uitreike is ek al in lokvalle gelei, daar is op my geskiet, is deur groepe papgeslaan, gearresteer en talle kere in die tronk gesmyt. Dit het behels dat ek talle kere geblinddoek en geslaan is, in stinkende selle ge­smyt is en deur menslike afval besmeer is, ek moes al lang uitmergelende ure onder ondervraging deurbring, is onder water gedompel en in eensame opsluiting in rotbesmette selle aangehou. Op een spesifieke sendinguitreik na Mosambiek saam met ses Amerikaanse mediese sendelinge, is ons deur kommunistiese troepe gevange geneem, in Russiese Mi8-helikopters na Tete vir ondervraging ge­vlieg, toe deur ’n Sowjet-Anatov 26 militêre voer­tuig na Maputo vervoer en in Machava-veiligheidstronk gesmyt. Op daardie stadium was ek net vir ses maande getroud en Lenora was die enigste een in ons kantoor wat wêreldwye gebedsteun vir ons kon begin en die wêreld bedag maak  op ons lot. Daar is druk uitgeoefen en ons is uiteindelik vrygelaat. Gedurende dié tyd het ek meer as 12 000 openbare byeenkomste gelei. In Soedan het ons meer as 300 000 Bybels en Christen-boeke in 22 tale in 14 verskillende streke ingesmokkel. Ons het ook meer as 780 onderwysers opgelei en gehelp om 100 skole op die been te bring en hulle met duisende Christen-handboeke toegerus.

Jy is bekend as Christen-historikus. Waar kom jou passie vir jou Christen-erfenis vandaan en waarom is dit vir jou so belangrik dat Christene akkurate kennis van die geskiedenis moet hê?
Dit is uiters noodsaaklik dat ons ons ge­skiedenis ken. En tog vind ons so baie Christene totaal oningelig oor die ontsaglike stryd en die ernstige lyding wat baie Christene moet deurgaan. Dit het my gedwing om boeke te skryf waarin ek vir die geloofslydendes opkom en namens hulle praat om sodoende vir hulle verligting te bewerkstellig. Dus het ek geskryf: ‘In the Killing Fields of Mozambique’; ‘Holocaust in Rwanda’ en ‘Faith under Fire in Sudan’.

Afrika is ’n konflikkontinent. Ons is in stryd gewikkel vir die siel van hierdie kontinent. Christene word vervolg en in baie gevalle het hulle aan my gesê: “Ons is ’n vergete geslag wat ’n vergete oorlog veg. Bid Christene in Suid-Afrika vir ons? Jy moet asseblief vir ons ‘n ambassadeur wees en namens ons praat. Jy moet aan ander vertel wat ons hier deurgaan.” Die Groot Opdrag is my hoogste ambisie.

Die Bybel het die antwoord vir elke lewensfeer. Soos Hosea verklaar het: “My volk gaan ten gronde as gevolg van ’n gebrek aan kennis...” Hosea 4:6. Dit is uiters nodig dat ons die geskiedenis ken omdat die ge­skiedenis Sy storie is. Volgens Karl Marx, die groot kommunis, is die eerste gevegsone om die geskiedenis te herskryf. So baie het die geskiedenis vanuit ’n sekulêre en en anti-Christen-perspektief geskryf en ons so­doende van ons Christen-erfenis beroof.

Op een stadium het ons die geskiede­nisboek van Suid-Soedan gesoek en dit laat herdruk. In ander gevalle het ek die nodigheid vir die pu­blisering van kompakte boeke wat die lewensveranderende ware stories van grootse sendelinge en Hervormers vertel, gesien. Ek het ‘The Greatest Century of Reformation’ en ‘The Greatest Century of Missions’ hieroor geskryf.

Jy is ’n kundige van verskeie gelowe, veral Islam. Van waar die belangstelling?

Een uit elke vyf persone is ‘n Moslem. Islam sluit die grootste blok onbereikte mense in die wêreld in. Dit is die ‘behoeftigste’ sendingveld in die wêreld. Islamitiese regerings is ook van die grootste vervolgers van die Christelike Kerk. Ek spesialiseer al vir die afgelope 30 jaar in die Islamitiese godsdiens en ek het die voorreg gehad om lering van gesaghebbendes soos Gerhard Nehls van SIM-Life Challenge Africa te ontvang. Ek het teen Ahmed Deedat in die grootste moskee in die Suidelike halfrond gedebatteer en selfs deur-tot-deur evangelisasie in van die Moslem-woonareas gedoen, onderhoude op Moslem-radiostasies gedoen en die grootste skeepsvragte Bybels ooit na amptelike Moslem-lande gesmokkel.

Jy is aktief betrokke by die besker­ming van lewens van ongeborenes, vroue en kinders in Suid-Afrika...
Telkens as ek terugkom van sendinguitreike oor landsgrense heen, is ek geskok deur die morele verval in Suid-Afrika. Juis as gevolg hiervan het ek die nodigheid gesien vir Africa Christian Action 20 jaar gelede. Van die hoogtepunte was Operation Clean Sweep, waar ons meer as 9 000 kleinhandelaars oortuig het om nie langer pornografiese publikasies aan te hou nie.

Toe Telkom die ‘087-dial a porn-lyn’ begin het, was ons suksesvol om opposisie daarteen te mobiliseer totdat die lyn gesluit is. Africa Christian Action het die eerste anti-pornografie- en pro-lewe-boeke in hierdie land gepubliseer.

Ons het reeds se­dert 1992 lewenskettings gemobiliseer en gekoördineer en ook ‘Life Sundays’ en Nasionale Bekeringsdae ge­reël sedert aborsie in 1997 gewettig is. Ons het ook op ’n gereelde basis voorleggings aan die parlement en het duisende radioprogramme en TV-onderhoude oor die afgelope 20 jaar gehad. Die belangrikste is dat ons Christen-tuisonderrig en Christen-handboeke vir die doel ingevoer het.

Wat, volgens jou, is deesdae Christene, die Liggaam van Christus en die wêreld se grootste bedreiging?

Die grootste bedreiging vir die Christendom wêreldwyd kom van die sluwe effek van sekulêre humanisme en materialisme wat die lewens van vele Christene besoedel en verwoes het. Die vervolging kom uit sekulêre lande, meestal kommunistiese of radikale, Islamitiese regerings. ’n Groter bedreiging is egter die apatiese optrede binne die Kerk. Satan se taktiek is: verrot en oorwin, verwar, verdeel en oorwin. Ons moet God ken om Hom bekend te maak.

Lenora, jy kom uit ’n sendingfamilie. Vertel ons meer.
Ek het grootgeword en die Here geken asook wat dit beteken om Hom voluit te dien. Ek het begryp dat God ons Skepper is en dat Hy Oppermagtig is. My geloof het egter eers aan die einde van my 5 jaar stu­die op Universiteit werklikheid geword. Ek veronderstel ek het die volle sirkel voltooi en het nodig gehad om my verhouding met die Here persoonlik te maak.

As kinders was ons in die kollig en my ouers is deurentyd van ons weggeneem. Hoe ouer ek egter geword het, hoe meer het ek besef hoe getrou my ouers Hom gedien het en ek het dit begin respekteer. Dit was nogal belangrik omdat ek nou goed kan verstaan hoe ons eie kinders moet voel.

Hoe het jy en Peter ontmoet?
My pa, Eerw. Bill Bathman, se werk onder die vervolgde Christene in kommunistiese lande het hom ten volle laat begryp watter strategieë die Sowjet-unie gehad het om wêreldoorheersing te bewerkstellig. Hy het na Suid-Afrika gekom en bedien en uiteindelik het ek in 1988 saam met hom op ’n bedienings­reis gekom. Ek het Peter deur my ouers se bediening ontmoet.

Jy is ’n sterk, talentvolle vrou. Vertel ons meer van die werk wat jy saam met Peter doen?
As kind, en ook as jong volwassene, het ek dikwels saam met my pa en sy bedie­ningspanne in Oos-Europa gereis. Ek het eerstehands en op baie jong ouderdom geleer om ander mense se leefwyses en eetgewoontes te respekteer asook om vyandige grensposte met vragmotors vol Bybels oor te steek. Toe ek Peter ontmoet, was ek reg vir die lewe wat op my gewag het. My rol is egter net administratief.

Ek begryp nou hoe belangrik die rol in 1989 was toe Peter, na ’n huwelik van net ses maande, deur Russiese troepe in Mosam­biek gevange geneem en in die tronk gegooi is. Ek was die enigste een in ons Sen­dingkantoor wat die telefoonoproepe, die pers en die vele onderhandelinge kon hanteer wat uiteindelik tot Peter en die ander se vrylating gelei het. Ander betrokkenheid sluit berading en gasvryheid in.

In 2010 is jy met kanker gediagnoseer en jou seun was ook baie siek vir ’n hele aantal jaar. Hoe het dit jou geloof in God beïnvloed?
Ons seun Christopher is in 1995 met Posterior Urethral Valves (nierversaking) gebore wat groot chirurgie op die ouderdom van vyf dae genoodsaak het. Ons het geweet dat ’n nieroorplanting nodig sal wees en in Desember 2009 was ek die nierskenker. Christopher het ongelukkig vele komplikasies beleef en was vir ses maande dikwels in die Rooikruis-kinderhospitaal. Hy moes elf operasies in nege weke ondergaan.

My eie herstel as skenker was pynliker en moeiliker as wat ek gedink het en net toe ek weer goed begin voel, is ek met bors­kanker gediagnoseer en moes ’n bila­terale mastektomie ondergaan gevolg deur vyf maande chemoterapie. Ek het geweet, net soos wat ek dit nou weet, dat niks buite God se beheer was nie en Hy het ’n soe­wereine plan vir elkeen van ons en ook as gesin. Ons het die storm in Sy krag weerstaan en vertrou God in alles. Enigeen wat in die storie belangstel, kan ons blog volg:
http://hamfam-lenora.blogspot.com

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication