Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U Woord is die waarheid.

Joh. 17:17.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View May 2011 Issue >>
 

Fundamentalisme: Wat sê die Bybel?

Die ontstaan van fundamentalisme
Fundamentalisme as ‘n beweging gaan egter veel verder terug - tot die einde van die Negentiende Eeu toe konserwatiewe Presbiteriaanse teoloë van die Princeton Teologiese Seminarium in die VSA die waarheid van die Bybel wou beskerm teen die uitdagings wat liberale teologie en soge­naamde hoër kritiek bied.

Die Niagara Bybelkonferensie, wat ge­reeld tussen 1878 en 1897 vergader het, definieer dit wat as fundamenteel tot die Christelike geloof geag word. Hieruit groei ‘n versameling van twaalf boeke wat oor vyf onderwerpe handel en in 1910 gepu­bliseer word, getiteld ‘The Fundamentals’. Dié versameling opstelle oor wat fundamenteel tot die Christelike geloof is, reageer op die kontroversie oor wat dit eintlik beteken om ‘n Christen te wees, wat aan die begin van die Twintigste Eeu (en tot in die 1920’s duur) die kerktoneel in Amerika oorheers het.

Vyf fundamentele waarhede

In 1910 beskryf die Algemene Vergade­ring van die Presbiteriaanse Kerk die vyf fun­damentele waarhede van die Christelike geloof: dat die Bybel deur die Heilige Gees geïnspireer is en onfeilbaar en foutloos is; dat Jesus Christus uit ‘n maagd gebore is; dat Christus se dood versoening vir sondaars met God bewerkstellig het; dat Jesus liggaamlik uit die dood opgewek is; en dat Hy werklik wonderwerke gedoen het.

Enige leser wat bewus is van die debat in teologiese kringe in Suid-Afrika, en wat dikwels in koerante en tydskrifte neerslag vind, sal weet dat dieselfde onderwerpe teoloë steeds besig hou en dat radikale uitsprake hieroor deur teoloë dikwels die kerkvolk se bloed laat kook. Gelowiges wat die vyf fundamentele waarhede onderskryf wat in 1910 geformuleer is, staan bekend as fundamentaliste, mense wat die Bybel fundamentalisties lees, in die sin dat hulle die fundamentele waarhede onderskryf wat daarin staan.

’n Term sonder behoorlike definisie
Die probleem met die term ‘fundamenta­lisme’, wat gereeld as skeldwoord gebruik word, kom wanneer ‘n militante politieke styl in Amerika (en Suid-Afrika, en Moslemlande) as fundamentalisties getipeer word, terwyl dieselfde term benut word om ‘n (groot) groep konserwatiewe gelowiges te beskryf wat die Bybel as geïnspireerde Woord van God en Waarheid lees. Tussen dié twee groepe bestaan, tot ‘n groot mate, ‘n enorme verskil. Evangeliese groepe stem saam oor die vyf sake wat in ‘The Fundamentals’ bespreek word, maar ondersteun nie ‘n ver regse politieke spiritualiteit nie. Verwarring omdat terme gebruik word sonder om dit behoorlik te definieer, het nog altyd groot skade veroorsaak.

Die verskil tussen liberales en fundamentaliste
Die kern van die verskil tussen fundamentaliste en liberales lê, na my mening, daarin of jy bereid is om ruimte te laat vir God se direkte ingryping in ons wêreld en ge­skiedenis. ‘n Groep teoloë gebruik as ver­onderstelling dat niks wat nié wetenskaplik verklaar kan word en ook in ons dag herhaal kan word, in Bybelse tye kon gebeur nie. Dit beteken dat alle wonderwerke en ingry­pings van God in mense se lewens as waarheid gediskwalifiseer word.

Byvoorbeeld: water kan nie in ons dag in wyn veran­der nie, daarom kon dit nie in Bybelse tye gebeur het nie. Geen see kan oopskeur sodat ‘n volk kan deurstap nie. As jy iets nie wetenskaplik kan verklaar nie, kon dit nie gebeur het nie. Daarom moet die Bybel gelees word as ‘n boek wat premoderne wy­ses gebruik om te beskryf wat gebeur het. Hulle glo die Bybel gebruik mitologiese, onwetenskaplike maniere om God in mense en die Israeliete se geskiedenis in te lees. Indien die moderne mens die ge­skie­denis wil verstaan, moet jy dit ontmitologiseer en premoderne, onwetenskaplike voorstel­lings verwyder om by die kernwaarheid, in die teks opgesluit, uit te kom.

Radikale transformasie
Ek maak ‘n stelling wat noodwendig veralgemenend is, omdat ek dit nie kan bewys nie. Tog meen ek dit is die waarheid dat wanneer ‘n mens ‘n direkte ontmoeting met die lewende God gehad het wat jou lewe radikaal getransformeer het, jy baie meer sin van die Bybel kan maak. En die rede hiervoor is dat jy eerstehands beleef het dat God ‘n Werklikheid is, en dat Hy in die werklilkheid van ons wêreld kan ingryp. Jy het self beleef hoe Hy Hom in gebed aan jou openbaar, en jou gebede verhoor, dikwels wanneer jou verstand en die wetenskap beduie dat dit onmoontlik is.

En dán kan jy glo dat Hy vanuit ‘n wolk met Sy volk en Moses kan praat, dat Hy ‘n stad se mure kan laat ineenstort wanneer Sy volk Sy lof besing, dat Jesus aan die Kruis sterf ter wille van jou sonde, en dat jy ook in die Opstanding van Jesus uit die dood gaan deel. Interessant dat postmoderne mense, wie se wêreldbeeld deels deur die onse­kerheid onderliggend aan kwantumfisika bepaal word, meer geneig is om ruimte te laat vir bonatuurlike ingrypings as die mo­derne mens wat slegs natuurlike ingrypings toelaat. Daarom vind postmoderne mense se spiritualiteit noue aansluiting by die Bybel. Godsbelewing is bepalend vir jou wêreldbeskouing. Hoe jy God belééf, gaan bepaal hoe jy die Bybel lees. En hoe jy die Bybel léés, gaan bepaal hoe jy God beleef.

Lewe in die Skrif

Wat sê die Bybel oor Homself? Twee sleuteltekste kom voor. In 2 Tim 3:16-17 (ek gebruik die NLV) lees jy: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te leer wat waar is en om ons te laat besef wat verkeerd is in ons lewe. Dit ruk ons reg en kweek ’n regte leefstyl. Dit is God se manier om ons voor te berei, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê ons moet doen.” Die Skrif is deur God ‘ingeblaas’, sê die Griekse teks, soos God sy asem of Gees in die mens se neus geblaas het (Gen 2:7). God het lewe aan die Skrif gegee, soos aan die mens, deur sy Gees daarin te blaas. Asem is ook die voer­tuig van spraak; jy gebruik jou asem om te praat. Wanneer God met die mens praat, gebruik Hy die Bybel. Die Gees wat profete geïnspireer het om Sy Woord te spreek, inspireer ook die Bybel om met ons te spreek.

Die rol van die Bybel

2 Tim 3:16-17 kan nie los van vers 15 gelees word nie. Luister ook hierna: “Jy is van kindsbeen af onderrig in die Heilige Skrif en dit het jou die wysheid gegee om die verlossing te ontvang wat deur geloof in Christus Jesus kom.” Nog ‘n teks wat jou help om die rol van die Bybel te verstaan, is 2 Pet 1:20-21: “Julle moet veral weet dat geen profesie van die Skrif ontstaan het deur die profeet se eie insig nie (of: kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie). Geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie. Inteendeel, dit was die Heilige Gees wat die profete God se woorde laat verkondig het.”

Biddende lees noodsaaklik
Wat saak maak, is dat jy die Bybel biddend lees, sodat die Eksegeet van God se Woord, die Heilige Gees, jou die verlossing kan wys wat deur geloof in Jesus Christus kom. Lees gerus Joh 14:26; 16:7-15. ‘n Bekende teoloog het onlangs in ‘n Sondagkoerant verwys na fundamentalisme as “’n onverdraagsame, letterlike verstaan van die Bybel.” Maak die letterlike verstaan van die Bybel jou noodwendig onverdraagsaam?

Ja, dit maak jou onverdraagsaam as dit jou verplig om wat die Bybel sonde noem, as sonde uit te wys. Maar dit vul jou met die boodskap van hoop dat God sy Seun se lewe opgeoffer het om die sondaar te red, en dit vul jou hart met die liefde van God vir sondaars wat Hom sy Seun as offer laat aanbied het. Nee, dit maak jou nie onverdraag­saam teenoor mense wat anders as jy dink nie, omdat jy, soos Jesus, leer om die ander wang te draai, vir jou vervolgers te bid en jou vyande lief te hê.

Ek staan op wat die Kerk deur die eeue as die fundamentele van die Christelike geloof gedefinieer het, sonder om versko­ning daarvoor te vra: dat God sondaars red en hulle die hoop op die ewige lewe gee, dat Hy mense gebruik om die goeie nuus van Sy liefde regdeur die wêreld te versprei, en dat Hy steeds in mense se lewens ingryp om Sy wonderlike plan te ontvou.

Met hierdie korrekte verduideliking en de­fi­nisie van fundamentalisme in gedagte, ka­tegoriseer JUIG! en JOY! onsself beslis as Bybels-fundamentalisties – ’n etiket waarvoor Christene nie skaam hoef te wees indien dit in die regte konteks gebruik word nie.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication