Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie?

1 Korintiers 4:7

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View June 2011 Issue >>
 

In Sy Voetspore… Heinrich en Charné Dry

- deur Ymile Kennedy

Heel dikwels word predikants- of pastoorskinders deur gemeentelede beskryf as: “Jong, hulle is die onmoontlikste kinders in die gemeente.” In Heinrich Dry se geval is dit egter eerder iets soos: ‘Die appel val nie ver van die boom nie,’ of ‘aan sy vrugte word hy (en sy vrou) geken’ as kinders van die lewende God. Ons het met Heinrich (37) en Charné (31) Dry oor hulle geloofsreis gesels.

Heinrich, jy het as past. Tommy en Wilna Dry se seun grootgeword. Het jy weggedwaal of altyd ‘n intieme verhouding met Jesus gehad?

Ja, daar was ‘n tyd in my lewe toe ek nie die Here gedien het nie - die jaar wat ek diens­plig gedoen het in die Vloot en ook toe ek in Londen gebly het. Jy sien, dit is wat dikwels gebeur wanneer jongmense hulle ouerhuis verlaat. Ek het op skool gedink ek ken die Here en alles is in orde, maar ek het Hom nooit werklik persoonlik geken nie. My prentjie van wie die Here is, was altyd klein en beperk, ek het nooit besef dat Hy soveel groter is as my beperkte verstand nie. Ek het in 1995 ‘n ware ontmoeting met die Here gehad toe ek in Kaapstad gebly het. Hy het vir my gesê: “ ...Heinrich jy het al alles in die lewe probeer, maar nog nooit vir My ‘n kans gegee nie.” Ek het Sy stem só duidelik gehoor, soos iemand wat langs jou sit en met jou praat. Ek het so groot geskrik, nooit geweet dat die Here so met My sal praat nie! Ek het so onwaardig gevoel om te dink dat die Here tog in my sou belang­stel; veral nadat ek so ver van Hom af geleef het. Hy het verder vir my gesê en in ‘n visie gewys hoe Hy al my sonde uitwis en vir my ‘n nuwe lewe gaan gee met nuwe beloftes. Na dié gebeure was my lewe nooit weer dieselfde nie en dit is nou al meer as 16 jaar gelede. Ek het daar en dan my tasse gepak en huis toe gegaan. Dit was die opwin­dende begin van God se roeping in my lewe.

Jy is vandag die kampuspastoor van Doxa Deo Gemeente in Pretoria. Vertel ons meer van die verskillende bedieninge wat julle het.
Doxa Deo se Visie as Gemeente is om transformasie in ‘n stad te fasiliteer en om mense te mobiliseer en toe te rus as God se agente in die stad. Daarom is dit belangrik dat ons nie nét as Kerk invloed uitoefen nie, maar dat ons ook op ander gebiede soos Besigheid, Sosiale Opheffing, Sport, Kultuur, Opvoedkunde en Politiek ‘n beduidende bydrae in die samelewing lewer.

Ons is daarvan oortuig dat die Kerk ‘n groter stem op alle gebiede van die samelewing moet hê. Die Kampus waar ek tans bedien is ons nuutste kampuse en is een van nege ander kampusse in Pretoria en sewentien ander kampusse nasionaal en internasionaal. Ons strategie as gemeente is om transformasie in ‘n stad teweeg te bring deur verskeie kampusse in verskillende dele van ‘n stad te plant en sodoende in kleiner eenhede meer effektief te kan bedien. Dis soos wat Jesus gemaak het in Markus 4 met die vermeerdering van die brode. Hy het vir die dissipels gesê dat hulle die mense in klompies van 50 en 100 moet verdeel sodat hulle kon verse­ker dat geeneen oorgeslaan word nie.

Wat is Doxa Deo se gevoel oor ander denominasies, veral gesien in die lig van al die veranderinge en nuwe (liberale) sieninge in die Afrikaanse kerke? Ondervind jy dat verskillende denominasies deesdae meer saamwerk as in die verlede?

Ek is die afgelope 5 jaar in Pretoria deel van ‘n groep - LPE, (Love Pretoria East) waar le­raars van verskillende gemeentes en bedie­ninge deur die jaar byeenkom om saam te droom en te bid vir ‘n stad. Van SA se suksesvolste gemeentes word hier verteenwoordig en die samewerking, liefde en eenheid hier is vir my so verblydend. As gemeentes in ‘n stad nie eens kan saamstem nie, hoe kan ons ooit herlewing en transformasie verwag? Waar daar eenheid is, gebied God Sy seën. Moet gemeentes meer saamwerk? Beslis. Ek sal ook alle bedie­naars, leraars en geroepenes aanmoedig om deel te word van so ‘n beweging. As Doxa Deo Gemeente besef ons dat ons nie alleen al die mense in ‘n stad sal kán bedien en bereik nie; daarom is samewerking met ander bedieninge vir ons van kritiese belang en erken ons verseker die roeping en bedie­ning van verskillende gemeentes.

Jy is ook by die musiek­bediening betrokke...
My passie vir musiek het reeds in 1995 begin toe die Here my vir voltydse bedie­ning geroep het. Soos reeds genoem, het die Here vir my ‘n visie gewys van hoe my lewe in die toekoms sal lyk. In die visie was ek besig om te sing en musiek te maak en het ek gesien hoe mense die Here net spontaan begin loof en hoe wonderwerke plaasvind en mense tot inkeer kom. Van daardie dag af het ek geweet dat musiek altyd ‘n groot rol in my bediening sal speel en dit wás ook so. Ek is al die afgelope paar jaar ‘n aanbiddingsleier in Doxa Deo en geniet dit geweldig. Ek is ook tans besig met ‘n CD-opname waaroor ek baie opgewonde is.

Watter beginsels leef julle?

Ons lewensmissie word vasgevang in Matt 22:34-39 waar Jesus praat oor die groot gebod: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel en jou hele verstand en jou naaste soos jouself.” Hierdie Skrifgedeelte praat van drie verhoudings, ons verhou­ding met God, met ons naaste en met ons­self. God is liefde en wie God nie ken nie, ken ook nie liefde nie. Ons sal nét liefde kan gee a.g.v. die liefde wat God in en deur ons lewens openbaar. Ons is gemaak om liefde te gee en te ontvang. Die enigste manier om jou naaste te kan liefhê, is om jouself eers te kan liefhê en aanvaar soos jy is. Selfliefde is nie hoog­moedig of verwaand nie, dit is ‘n Bybelse opdrag. Om jouself lief te hê, is om vol te word van God se opinie aangaande jou. Ons lewensmissie is om God se liefde deur ons te laat werk en aan mense wat liefde nodig het, te gee.

Charné, hoe kom jy deur ‘n dag as vrou (vir 10 jaar) van ‘n pastoor, ma van drie kindertjies en dan het jy ook nog ‘n permanente werk?
Ek het ‘n positiewe uitkyk op alle vlakke van my lewe. Positiwiteit is vir my ‘n sleutel tot die uitvoering van dag-tot-dag take. Ek glo dat ‘n mens se gesindheid en denkpatroon jou lewenskoers kan bepaal.

Wat is jou grootste uitdagings as pastoorsvrou?
Alle mense beleef uitdagings, die vraag is hoe ons daarop reageer. Ek beskou uitda­gings as groeigeleenthede. Genoegsame tyd is soms ‘n uitdaging en ek het gevind dat dit ‘n goeie ding is om jou dag goed te beplan en te bestuur volgens die model in Stephen Covey se boek: “First Things First”.

Wat sou jy sê maak julle verhouding so besonders en watter resep sou jy aan jong getroude vroue wou gee?
Die liefde wat ons vir mekaar het, is gebore uit ons liefdesverhouding met die Here. Daardie intense, hartroerende, onvoorwaardelike liefde kom nét van God af, want Hy is liefde. “...want liefde is sterker as die dood. Die hartstog magtiger as die doderyk, sy gloed is ‘n gloed van vuur, ‘n vlam van die Here.” Hoogl 8:6.

Wanneer ‘n huweliks­paar afsonderlik groei in hul verhouding met God, groei hul outomaties nader aan mekaar. Daar is ‘n huweliksresep opgeskryf in Ef 5:22-33. In dié gedeelte gebruik Paulus telkemale die ‘net soos’-begrip. Hy vergelyk die vrou met die Kerk en die man met Christus. Die misterie van die huwelik is dat ons mekaar moet liefhê net soos Christus (die Ware Bruidegom) sy Kerk (die ware bruid) liefhet. Die huwelik is ‘n roeping - ‘n opdrag van God. Aan jong vroue in die huwelik: Wees jouself, wees ongekompliseerd, wees jou man se ‘cheerleader’, bid saam, droom saam, lag saam, vertrou saam.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication