Dit veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgele word nie.

2 Pet. 1:20.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View June 2011 Issue >>
 

Pa: Veel Meer as ’n Broodwinner

- deur dr. Kevin Smith

Tot baie onlangs het alle literatuur oor ouerskap die hele kwessie van moe­derskap geïdealiseer en vaderskap heeltemal oor die hoof gesien. Met die nuut­ste navorsing oor die gesin het daar ’n baie besliste skuif plaasgevind en die persepsie is nou dat vaders ’n baie groot bydrae t.o.v. sowel kinder- as volwasse-ontwikkeling kan lewer (Mary Pickard-verslag, 1998).

Die gemeenskap besef uiteindelik dat vaders net so ’n belangrike rol speel ten einde die gesonde ontwikkeling van hul kinders te verseker. Hul rol strek veel verder as bloot dié van tradisionele stereotipe broodwinner. Navorsing wys toenemend op die voordele van kinders met gesonde vader-kind-verhoudings. Volgens George Rekers, professor in Neuropsigiatrie en Gedragswetenskappe, Navorsingsdirekteur vir Kinder- en Adolessentpsigiatrie en voorsitter van die Fakulteit Sielkunde aan die University of South Carolina School of Medicine, is daar ’n definitiewe korrelasie tussen ’n positiewe en volhoubare verhou­ding met die vader en ’n goeie selfbeeld, hoë selfvertroue in persoonlike en sosiale interaksie, hoë morele volwassenheid, verminderde tienerswangerskappe, groter interne beheer en hoër loopbaanaspirasies.

Vaders wat liefdevol, sorgsaam en aktief betrokke is by die grootmaakproses se kans op goed-aangepaste kinders is veel groter as die wat nie betrokke by hul kinders is nie. Die vernietigende gevolge van ongesonde vader-kind-verhoudings is nét so goed gedokumenteer. Die afwesigheid van ’n vader lei by seuns tot toenemende aggressie en/of vroulikheid. Maritsa van Loggerenberg, ’n sosiale werker by St Albans Maksimum Veiligheidsgevangenis in Port Elizabeth, beraam dat ongeveer 90% van al die gevangenes met wie sy werk, sonder ’n vaderfiguur grootgeword het.

Alhoewel die media dikwels op die negatiewe fokus, het daar ook die afgelope paar dekades positiewe veran­deringe plaasgevind t.o.v. persepsies van die vader se rol. Die tradisionele beeld van die vader as ’n emosioneel-verwyderde broodwinner en streng dissiplinêre gesagsfiguur het plek gemaak vir ’n vaderfiguur wat ook ’n opvoedingsrol in die kinders se lewens speel. As Christene verwelkom ons hierdie positiewe verandering. Die Woord van God verminder vaderskap nooit tot ’n enkele funksie of metafoor nie, maar beklemtoon tog sommige van die belangrike rolle wat vaders behoort te aanvaar. Ek wil graag vyf hiervan noem.

Pa as pastorale begeleier
Theodore Hesburgh het eerste die woorde wat deesdae ’n beradingspreuk is, geui­ter: ‘Die belangrikste ding wat ’n pa vir sy kinders kan doen, is om hul ma lief te hê.’ So waar en belangrik as wat hierdie woorde is, is daar iets belangriker wat deur die Woord van God uitgelig word – Die belangrikste wat ’n pa vir sy kinders kan doen, is om die “Here jou God met jou hele hart lief te hê,” Deut 6:4-5 en “Herhaal hierdie woorde oor en oor vir julle kinders.” Deut 6:7.

Indien ’n pa die leiding neem en God liefhet en dien, is dit hoogs waarskynlik dat die kinders sy voorbeeld sal volg. Navorsing deur die Christian Business Men’s Committee het gevind dat ’n pa wat ’n aktiewe gelowige is, se kinders ’n 75% groter kans het om ook aktiewe gelowiges te wees. Wanneer slegs die ma ’n gelowige is, is die kans dat die kinders die Here dien, slegs 15%. As Christen-pa’s is ons geroep om pastorale begeleiers in ons huise te wees – mans wat God passievol liefhet en dien en wat hul gesinne in aanbidding van die Here Jesus Christus kan lei.

Pa as lewensafrigter
Onderrig van veral seuns is ook Pa se verantwoordelikheid. Dit sluit die onderrig van die weë van God (Deut 6:4-9), maar ook die onderrig van praktiese lewensvaardighede – goeie maniere, werksetiek, morele waardes, verhoudings met vrouens, gesinsfinansies en sakevernuf in. (Spr 1-9). Vaders behoort lewensafrigters te wees. Die hedendaagse slaggat is om hierdie ‘afrigtings­rol’ aan die kerk, die skool of selfs die televisie oor te laat. Vaders voel hopeloos ontoereikend toegerus vir hierdie be­langrike taak as lewensafrigter en los dit dus veel eerder vir ‘opgeleide, professionele mense’.

Ons vergeet egter in die proses dat ons vir ons jong kinders amper soos God is. Jou dogter glo elke woord wat jy sê en jou seun klou vas aan absoluut alles wat jy sê en doen. Vir jou kinders is jou gesag feitlik net soos God s’n. God het dit so beskik, want hy het pa’s geroep as die ‘lewens­afrigters’ in hul kinders se lewens. Sommige pa’s, egter, verwar ‘afrigting’ met ‘kritiek’. Ek onthou die televisie-onderhoud wat ek eens met ’n wêreldgehalte sportman gekyk het. As kind het sy pa hom verskriklik gedryf om die hoogste sport te bereik. Na elke wedstryd sou sy pa hom na die park neem en elke iedere foutjie wat begaan is, uitwys en hom tot sononder dril om dit uit te skakel.

Hy onthou: ‘Die meeste seuns het voor die wedstryd ’n hol kol op die maag gekry; myne het altyd na die wedstryd gekom omdat ek geweet het wat wag.’ Hy het verder onthou dat dit vir hom baie erger en meer stresvol was om sy pa na die tyd in die oë te kyk as enige span waarteen hulle te staan sou kom. God roep vaders op om afrigters te wees, nie kritici nie, om op te bou en nie af te breek nie!

Pa as bemoediger
Elke seun verlang na sy pa se goedkeuring en versekering dat hy trots is op hom en ’n dogter verlang sy goedkeuring in alles. Ma s’n is verseker – dis maklik om haar goedkeuring en trots te kry. Pa s’n is egter heeltemal ’n ander storie. As seun was dit vir my uiters noodsaaklik dat my pa trots op my sou wees. Ek het tog geleef met die gevoel dat hy was – en dit het my met moed en selfvertroue gevul.

’n Baie goeie vriendin het ook daarna verlang dat haar pa haar sou vertel dat sy pragtig is en dat hy bly is dat sy sy dogter is. Sy het egter nooit sy onvoorwaardelike, heelhartige goedkeuring en aanvaarding ervaar nie – en haar hart smag nou nog daarna.

John Eldredge, skrywer van ‘Wild at Heart’ glo dat elke seun nodig het om van sy pa te hoor dat hy dit in hom het om ’n ware man te word en elke dogter moet van haar pa hoor dat sy pragtig is en werd is om bemin te word. Indien hulle nie hierdie bevestiging van hom kry nie, sal hulle dit op ander plekke gaan soek. Dit maak nie saak hoe oud ons is of hoe ver ons van ons pa’s af weggedryf het nie, ons verlang nog steeds na hul goedkeuring. ’n Spaanse pa se verhouding met sy seun het so gespanne ge­raak dat die seun weggeloop het. Sy pa het besluit om hom te gaan soek. Hy het maande lank gesoek – sonder enige sukses. Uiteindelik, in ’n laaste poging om sy seun te kry, het hy ’n advertensie in die Madrid-koerant geplaas. Dit het gelees: ‘Liewe Paco, ontmoet my Saterdag om 12-uur voor die koerantkantoor. Alles is vergewe. Ek is lief vir jou. Pa.’

Twaalfuur die betrokke Saterdag was 800 Paco’s daar om Pa se liefde en goedkeu­ring te ervaar! ’n Deel van God se opdrag aan pa’s is om hul kinders van hul heelhartige goedkeuring en steun te verseker. Ons seuns moet weet dat ons trots is op hulle – hulle moet weet dat hulle vir ons die beste seuns in die wêreld is en dat hulle dit beslis in hulle het om ware mans te word. Kom ons laat ons dogters voel dat hulle prinsesse is – pragtig en waardig om bemin te word.

Pa as wetstoepasser
Dissipline is ’n aspek van die pa se liefde wat ons moontlik nog in hierdie generasie kan verloor. My predikant het onlangs van die VK teruggekeer met ’n skokkende verslag oor die gebrek aan dissipline onder kinders. Die Bybel is baie duidelik: “Hy wat sy seun nie dissipline leer nie, het hom nie regtig lief nie. As hy hom liefhet, sal hy hom dissiplineer.” Spr 13:24.

As liefdevolle pa’s is dit ons plig om toe te sien dat die toepaslike reëls in die huis geld. Hoe dit ook al ons harte skeur – en dit behoort - sal dit net erger wees indien ons dit nie doen nie. Na jare se hantering van rebelse tieners, het die Houston Polisie die volgende saamgestel: Reëls om misdadige kinders groot te maak.

Begin al kleintyd – gee die kind alles wat sy/haar hart begeer. So word hulle groot en glo die wêreld skuld hulle alles.

Wanneer hulle vloekwoorde gebruik, lag daaroor. Dit sal hulle laat dink hulle is oulik. Dit sal hom/haar ook aanmoedig om ander woorde aan te leer wat jou later uit jou sinne sal skok.

Tel alles op wat hulle laat rondlê – boeke, skoene, klere. Doen alles moontlik vir hulle, so sal hulle leer om alle verantwoordelikheid te ontduik.

Laat hulle enigiets lees. Maak net seker jou eetgerei is skoon en kiemvry, maar laat hulle enige gemors waarop hulle hul hande kan lê, lees.

Kies die kind se kant teen bure, onder­wysers en selfs die polisie. Hulle is almal tog bevooroordeeld teenoor jou kind.

Ons moet wrede, roekelose, outoritêre dissipline verwerp, maar indien ons die regte dissipline ignoreer, faal ons om ons kinders op God se manier lief te hê. Kinders floreer indien hul pa’s hulle lief genoeg het om Goddelike grense te stel en toe te sien dat dit konsekwent en met sorg toegepas word.

Pa as kameraad
Indien hulle voor die keuse gestel word, sal ons kinders beslis tyd saam met Pa bo enige speelgoed kies. Hulle wil veel eerder ons tyd as ons geskenke hê. En laat ons nou maar nie onsself bluf nie: gehaltetyd beteken ook genoeg tyd! Gehalte-oom­blikke vind plaas indien ons genoeg tyd saam met ons kinders spandeer.

Charles Francis Adams, ’n politieke fi­guur en diplomaat uit die 19de Eeu, het dagboek gehou. Eendag het hy geskryf: ‘Het vandag saam met my seun gaan visvang – dag gemors.’ Sy seun, Brook, het ook dagboek gehou en op dieselfde dag die volgende inskrywing gemaak: ‘Vandag saam met Pa gaan visvang – die lek­kerste dag van my lewe!’ Tyd saam met ons kinders mag moontlik voel asof dit gemors is, maar slegs die ewigheid sal kan wys dat dit moontlik ’n belegging met die grootste opbrengs was.

Toekomsbelegging
Navorsing aan die Cornwall Universiteit het getoon dat gemiddelde pa’s ongeveer 38 sekondes per dag aan hul kinders afstaan waarin hulle onverdeelde aandag kry en ongeveer 20 minute per dag verdeelde aandag. Dieselfde kinders spandeer 54 uur per week voor die televisie. Verdere navor­sing het getoon dat die gemiddelde kerkgaande tiener ongeveer twee minute per dag in gesprek met hul pa’s spandeer. 25% van hierdie tieners verklaar dat hulle nog nooit ’n sinvolle gesprek met hul pa’s gehad het nie, m.a.w. ’n gesprek waar daar op hulle belange en behoeftes gefokus word nie. Ons kinders het ons nodig om daar vir hulle te wees – om na hulle te luister, om saam met hulle te lag, om net eenvoudig by hulle te wees.

Hulle wil graag hê ons moet vir hulle sê, deur die tyd wat ons aan hulle afstaan, dat hulle ons grootste prioriteit is, belangriker as die koerant, die tuin, rugby, die werk en selfs kerkaktiwiteite. Ek het hier slegs bo­langs aan die Bybelse rol van pa’s geraak. Ek kon nog baie ander fasette byvoeg – Pa as beskermer, voorsiener, gebedstryder – maar as ons as pa’s net bogenoemde vyf rolle aanvaar, wat ’n belegging sal dit nie wees in die lewens van ons kinders nie! God het hulle aan ons sorg toevertrou!

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication