Maar die Woord van die Here, dit bly vir ewig. En hierdie Woord is die Evangelie wat aan julle verkondig is.

1 Pet. 1:25.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View June 2011 Issue >>
 

Milli-sekondes Tussen My en Die Dood

- deur Susan Krause

Om 10-uur dié aand in Januarie 2002 het ek met ’n ligte hoofpyn wakker geword. Ek het nie veel daarvan gedink nie, na die badkamer gestap en twee tablette geneem. Terug by die bed het my man, Kevin, voorgestel dat ons bid. Kort nadat ons gebid het, het ek iets soos ’n elektriese golf deur my liggaam voel trek – van my kroontjie teen my ruggraat af, en ek het ’n kloppende hoofpyn ervaar.

Ek het van skok gebewe en het gewag dat die volgende golf my tref. Kevin het voortgegaan om te bid en my getroos ter­wyl ek lê en huil het... Uiteindelik het ek gaan slaap en die volgende oggend opgestaan sonder om weer enigsins aan die vorige aand se gebeure te dink.

Hoewel ek nie meer hoofpyn gehad het nie, het dit gevoel asof daar sand in my oë is elke keer as ek my oë knip. Twee dae later is ek dokter toe. Sy het ’n hoofpynspasma gediagnoseer en my na ’n fisioterapeut ver­wys. Toe dit egter nie die hoof­pyne verlig nie, het sy my vir toetse na die hospitaal verwys. ’n Limbaalpunksie is gedoen; die spesialiste het bloed op die brein gevind en my vir ’n noodangiogram gestuur.

Maak reg met God
Ek was verskriklik bang in die hospitaal. Die dokter het my baie ernstig meegedeel dat ek bly kan wees dat ek nog leef... “Ons sal ’n breinoperasie moet uitvoer sodra die swel­ling op die brein gesak het.” Ek kon dit nie glo nie. Ek het sommer begin huil, stom en bevrore van angs. Die dokter het ook gevra dat my man saam met hom moet stap. Toe hulle terugkom, kon ek op hul gesigte sien dat ek my vir die heel ergste moet voorberei.

En toe Kevin daardie dag huis toe gaan, het hy by my gepleit: “Maak asseblief seker dat jy Jesus as jou persoonlike Verlosser aanvaar het.” Hoewel ek weergebore was, was ek maar ’n baie lou Christen en ons het albei geweet dat my verhouding met God baie intiemer behoort te wees. Erger nog as die blote gedagte aan die dood, was die hele idee van ’n lewe na ’n onsuksesvolle operasie.

Ek moes hoor dat slegs 33% van diegene met ’n aneurisme oorleef en dat die moontlikheid van verlamming, epilepsie of iets ergers, nie uitgesluit kan word nie. Ek en my man het besluit om maar die kans te waag en met die angiogram voort te gaan. Binne ’n baie kort rukkie het ek egter geleer om God volkome te vertrou. Volgens die dokters sou die operasie sewe uur duur en onder ’n mikroskoop uitgevoer word. Ek was angsbevange terwyl ek alleen in die kamer oor die toekoms lê en dink: “Gaan ek hel toe?”, “Sal ek die operasie oorleef?”

Hierdie gedagtes het my getreiter en ek het ’n geestelike stryd in die donker nag beleef. Ek het God gevra om my sondes te vergeef, om tog te bevestig dat Hy my vergewe het. Daar was nie ’n hoorbare antwoord daarop nie, maar ek het geweet ek was gereed om God te ontmoet. Iets in my hart het verander en ek het geweet die Here was lewend in my en dat Hy my deur hierdie operasie sou help.

’n Ontstellende tyd
’n Week later is ek hospitaal toe. Toe hulle my hare die oggend afsny, het ek geweet die tyd was daar... Met my kinders en my man om my bed, het ons alles in gebed aan God oorgegee. In die operasieteater was die atmosfeer uiters gespanne. Hulle het die slagaar in my regterbeen oopgesny en vinnig begin werk.

Ek kon die stroom bloed voel spuit en is aangesê om doodstil te bly lê. Dit was egter baie moeilik omdat ek die instrumente in my lyf voel rondkrap het. Die suster het my kop in haar hande gehou. Skielik het ek vlamme binne my brein voel brand. Ek het uitgeroep en hulle probeer sê dat iets verkeerd was, maar ek is nie toegelaat om te beweeg of iets te sê nie. Hulle het my platgedruk terwyl trane oor my wange gestroom het. Toe ek my oë toemaak, kon ek die vlamme genadeloos sien brand. Ek het gedink ek was in die hel; later was ek selfs te moeg om verder te baklei en het aan die slaap geraak. Na sewe dae is ek uit die Intensiewe Sorgeenheid ontslaan en teruggeskuif na die algemene saal alhoewel ek nog erg onder morfienverdowing was. Elke oggend is ’n bloedverdunner toegedien en tog was ek, te midde van alles, baie dankbaar dat God my geestelik sowel as fisiek bewaar het. Hoewel ek oorleef het – en dit was ’n wonderwerk – het ek dubbelvisie gehad. Dit was onmoontlik om ordentlik te loop en ek kon nie teruggaan werk toe nie.

’n Wandelende wonderwerk!
Ek het vir ’n maand tuisgebly – hulpeloos en sukkelend. Ek kon nie bestuur, werk of ordentlik sien nie. Ek het in ’n diepe depressie verval, my denke gebombardeer met vreesgedagtes van die duiwel self. Jou denk­wêreld is die kragtigste en manipuleerbaarste wanneer jy weerloos is.

Dit was ’n daaglikse stryd om my ge­dagtes met God se Woord en hoop vir die toekoms te vul. “‘Ek weet wat Ek vir julle beplan het’, sê die Here. ‘Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.’” Jer 29:11. Ek moes ’n keuse maak – om hierdie dinge deur te werk en God te vertrou, of om handdoek in te gooi. Deur God se Genade het ek die regte keuse gemaak en het ek depressie die stryd aangesê. Ek het geleer om God te loof en te prys t.s.v. my omstandighede en om God te dank vir alles in my lewe. Soms, terwyl ek besig was met lofprysing, sou die duiwel kom en my gedagtes besoedel met bose gelag en ’n spottende stem. Dit was moeilik, maar ek het besef ek moes op Jesus en die wonderlike karakter van God fokus. “Tog is U die Heilige wat woon waar Israel U prys.” Ps 22:3.

Ek het net geweet hoe meer ek Hom loof en prys, hoe makliker sou dit word. My eie gebede en die van my broers en susters in Christus het my genesing moontlik gemaak. Vandag is ek die leidster van die damesaanbiddingsgroep. Elke dag is ’n reis en dit is net God se Genade, Sy Woord en Sy Heilige Gees wat my daagliks deurdra.

Ek het deesdae feitlik geen newe-effekte meer van die aneurisme nie. Ek is ’n wandelende wonderwerk van die Allerhoogste God! Ek het vir drie jaar met dubbelvisie gesukkel wat volgens neuroloë slegs ses maande sou duur. Vandag het ek net 5% dubbelvisie – min genoeg om geen effek op my daaglikse leefstyl te hê nie.

Mense vra my dikwels of ek weet waarom ek ’n aneurisme gehad het. Daar is geen familiegeskiedenis nie, soos wat so dikwels met hierdie ‘fratse’ die geval is. Ek weet egter die Here het hierdie hele situasie gebruik om my nader aan Hom te bring – om my te red en ’n verhouding met Hom te hê. Ek kan nou waaragtig sê: “En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens Sy doel vir hulle lewe.” Rom 8:28.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication