Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U Woord is die waarheid.

Joh. 17:17.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View July 2011 Issue >>
 

Benescke Janse van Rensburg: Passievol, Energiek, Ingelig

Avontuurlustig, aktief, op hoogte van wêreldgebeure en passievol – veral oor God! Dit is Benescke Janse van Rensburg, plaasnooi van die Vrystaat en nou ’n bekende huishoudelike naam vanweë haar betrokkenheid in die media. Kapenaars wat vroeg uit die vere is, sal haar veral ken as die lewenslustige stem op ’n oggendprogram van ’n baie bekende Christen-streeksradiosender.

Jy het ‘n baie interessante en ongewone naam. Waaraan is dit ontleen?

My ouma se naam is Betty. Ek was die eerste kleindogter in die familie en die plan was dat ek na haar vernoem sou word. My ouers het die ‘B’ gebruik en hulle eie naam gemaak. Later het ons uitgevind dit beteken ‘stap saam met God’ en ‘geseënd’.

Wanneer het jy ‘n persoonlike oorgawe aan die Here gemaak?
Ek was bevoorreg om in ’n huis groot te word waar beide my ouers ’n intieme pad saam met God stap – en dit uit hulle voorbeeld spreek. Ek was nog in die laerskool toe ek vir die eer­ste keer die be­keringsgebed gebid het. Op universiteit het my verhouding met God verdiep. Ek bid dat die verdieping nooit sal ophou nie.

Jy het op ‘n plaas in die Vrystaat grootgeword. In hoe ‘n mate het jou agtergrond en opvoeding jou gevorm tot vandag?

Om op ’n plaas groot te word, bied aan enige kind die geleentheid om sorgeloos groot te word. Saam met my ouers was elke dag op die plaas vir my, my broer en suster ’n avontuur. Ons sou gaan visvang, roei op die dam, bergklim, piekniek hou, in die winter saam met my pa ’n bok gaan skiet en in die somer saam met my ma op die grondtennisbaan tennis speel of in die dam swem – en al drie ons kinders was nog op laerskool toe kon ons al motor bestuur. Die plaaslewe maak jou lief vir avontuur. Gelukkig het my man ook op ’n plaas grootgeword – ons pak dus nou ons avonture saam aan.

Jy het ’n B.A.-graad en ’n onder­wysdiploma behaal, maar tog verder studeer en jou Meestersgraad in Joer­nalistiek verwerf. Waar het die belangstelling begin?

Ek is baie nuuskierig, baie lief vir mense en ek raak gou verveeld. Met joernalistiek is die stories elke dag nuut. Ek doen onderhoude met interessante en soms invloedryke mense wat my inspireer. En dit is gelukkig nie een dag dieselfde nie!

Jy het in 2005 vir ’n paar maande in Europa gaan studeer. Watter invloed het die Europese denke en leefwyse op jou lewensbeskouing gehad?
Ek was deel van ’n groep van 35 internasionale studente wat in Holland studeer het en ook saam ’n tydskrif begin het. Uit dié groep was ek seker die enigste gelowige. Op ’n dag was ons op ’n uitstappie met een van daardie groot toerbusse en ek het na al die mense op die bus gekyk. Dit was vir my baie hartseer om te dink dat as ons almal daardie dag sou sterf, ek nie weet of ek een van hulle saam met my in die hemel sou sien nie.
Tog, die tyd dáár het my aangemoedig om meer vir mense te bid wat nog nie ’n verhouding met Jesus Christus het nie. En ek dink my grootste uitdaging was sekerlik om my Verlosser Jesus Christus aan mense, wat tot op daardie punt slegs Sy Naam as ’n vloekwoord geken het, voor te stel.

Waarom het jy besluit om na SA te­rug te keer en nie, soos so baie ander Suid-Afrikaanse jongmense, ’n loopbaan oorsee te volg nie?

Ek hou van reis en om nuwe plekke te ontdek en mense te ontmoet. Tog kom daar ’n stadium dat ’n mens terugverlang na jou land, taal en natuurlik, jou familie! Hoewel dit lekker moet wees om oorsee te woon omdat jy makliker kan reis, is Suid-Afrika die plek waar ek en my man oud wil word.

Jy was eers by Radio Kansel ’n omroeper voordat jy vroeër die jaar by Radio Tygerberg se oggendskof, ‘Oggendrooi’ aangesluit het. Wou jy nog altyd in Christen-media werk?
Voordat ek Holland toe is om daar te studeer, het ek internskappe gedoen by verskeie rolspelers in die sekulêre media, insluitende die ondersoekende joernalistieke program, ‘Special Assignment’, die tydskrif, ‘Weg’ en ook koerante soos ‘Volksblad’ en ‘Die Burger’.
Dit was goeie ervaring. Tog, as mens eers deel geword het van die media waarin jy ervaar hoe God werk en lewens verander, en daarby die voorreg het om die storie aan die wêreld te vertel, draai ‘n mens moeilik na die sekulêre media terug.

Jy werk tans by Radio Tygerberg en is verantwoordelik vir die og­gend­skof ‘Oggendrooi’. Vanwaar die besondere naam? Wat kan luiste­raars verwag om in die gleuf te hoor?

Saam met my kollega, Anton Brink, is ons verantwoordelik vir Radio Tygerberg 104FM se ontbytskof, tussen 06:00-09:00 elke weeksoggend. Die program is gevul met stories van hoop, inspirerende insette en musiek wat jou op en wakker kry en dit is vir ons ’n voorreg om van ons luisteraars se drome waar te maak. Die doelwit met die program is om luisteraars te inspireer en impakteer en hulle in staat te stel om die dag vol moed aan te pak.

Hoekom Oggendrooi? Net voordat die son deurbreek in die oggend, is dit rooi op die horison. Die rooi, wat ‘oggendrooi’ genoem word, hou die belofte in dat die son sal deurbreek en die donker uitwis. Nét so word dit soms donker as ons deur ’n krisis gaan. As ons ons oë op God hou te midde van ’n krisis, raak dit rooi in ons geestesoë terwyl ons op ’n deurbraak wag, want saam met God kom die deurbraak altyd!

Jou ander passie is TV-werk. Jy was betrokke by die vervaardiging van ‘InPas’ vir KykNET. Sien jy vir jouself ’n toekoms in die TV-bedryf?
Definitief. Televisie was nog altyd my groot passie en daar is ’n paar opwindende projekte in die vooruitsig. Een van my drome is om te sien dat Christene voorlopers word in die televisiebedryf wat kwaliteit en inhoud betref. God vereis immers van ons om alles wat ons doen ‘met uitnemendheid’ te doen.

Jy het onlangs jou eerste boek ‘Ontdek God in die Stories van Mense’ geskryf. Vertel ons hoe het die idee van ’n boek beslag gekry.
Oor die jare as joernalis in die radiowese, te­le­visie, tydskrifte en ook vir die elektroniese dagstukkies, Vers-’n-Dag, het ek die ge­leent­heid gehad om ’n klomp stories van hoop te vertel. Deur hierdie stories het ek God se grootheid en wonderwerkende hand nuut ontdek en besef dat Hy vandág nog asemrowende wonderwerke doen.

Toe Lux Verbi my nader om ’n boek te skryf, het ek onmiddellik gedink aan die geloofstories omdat dit my lewe verander het en my geloof versterk het. In die boek het ek God se karaktereienskappe van A tot Z gerangskik, byvoorbeeld A – Almagtig, B – Beskermer, ensovoorts, met ’n storie wat elke karaktereienskap van God illustreer. Wanneer ons God se karakter beter leer ken, raak dit makliker om aan Hóm vas te hou as die storms soms ons lewens tref. God ver­ander immers nooit nie!

Waarom, dink jy, is die neiging onder jongmense om hulle van die tradi­sionele kerkbegrip los te maak?
Vroeër jare was die Sondagdiens die plek waar meeste gelowiges weekliks ‘gevoed’ is. Daar was nie geestelike CD’s of DVD’s beskikbaar nie. Vandag lyk die prentjie anders. Op pad werk toe in hulle motors, kan jongmense na geestelike CD’s met goeie musiek luister. Terwyl hulle oefen, kan hulle op iPods na ’n inspirerende prediker luister of, as hulle by die huis kom, kan hulle vinnig na Joyce Meyer se halfuur- televisieprogram kyk.

As jongmense dan Sondag in die kerk kom en die musiek is swak of outyds, hulle vind die preek vervelig en abstrak of hulle stap by die deur uit en voel hulle kan nie die boodskap prakties gaan toepas nie, moet predikers nie wonder hoekom kerke leeg­loop nie. Kerkleiers moet besef dat hoewel die boodskap dieselfde bly, hulle hul aanbieding sal móét aanpas om relevant te bly in ’n veranderende samelewing.

Daar word deesdae al meer aangedring op die allegoriese (of ook alternatiewelik tot die tradisionele eksegese) verstaan van die Bybel. Wat is jou mening hieromtrent?
Ek glo die Bybel is net ’n boek as jy dit sónder die Heilige Gees probeer lees. Vandaar die vrae soos: “Was Maria regtig ’n maagd?” of “Het Jesus werklik opgestaan?” Die oom­blik as jy die Heilige Gees as jou Leidsman in jou lewe innooi en Hóm vra om jou deur die bladsye te lei, sal jy ervaar hoe die Woord lewend word. In die proses sal jy ’n oneindige, liefdevolle God ontdek wat vanaf Ge­nesis tot Openbaring ’n liefdesverhouding met elkeen begeer. Elke woord in die Bybel is waar, elke belofte staan vas en daar is nie een woord wat bygevoeg of weggeneem kan word nie. Dit is ‘n volmaakte Boek.

Jy is getroud met ‘n biokinetikus. Vertel ons hoe julle ontmoet het en hoe hy jou in jou loopbaan steun.

Ek het ’n onderhoud met Johannes oor ’n gesonde leefstyl gevoer. Hoewel ons van die eerste oomblik af lekker gesels en gelag het, was ons aanvanklik eers net vriende wat saam geoefen het. Mettertyd het ek agtergekom dat ek nie gou genoeg by die gim kon uitkom om hom te sien nie. Vandag is ek baie bly oor daardie onderhoud.

Ek dink Johannes is een van die grootste geskenke wat God my kón gee. Hy is geduldig, baie eerlik, het ’n uitstekende humorsin en hy laat my glo dat niks vir my onmoontlik is om te bereik nie! En boonop het hy my opnuut laat besef dat álles wat ons is en het, net genade uit God se hand is en dat ons élke dag vir leiding van God moet bid vir ons loopbane, huwelik en drome.

Watter planne het jy nog vir die jaar?

Ons werk hard om ‘Oggendrooi’ die beste oggendprogram in die Kaapse Skiereiland te maak. My tweede dagboek waarin ek geestelike lesse aan geskiedkundige gebeure koppel, verskyn later vanjaar. Ek is baie opgewonde daaroor. Daar is ook ’n dinamiese televisieprogram in die vooruitsig, maar dis al wat ek op dié stadium gaan sê...

Sien Benescke haarself ook binnekort in die rol van Ma?

Wie weet... Ek en my man dink kinders is seker een van die grootste geskenke uit God se hand en ons is baie lief vir kinders.

Enige woord van bemoediging/raad vir die jongvrou van die 21ste Eeu?

Wend ’n poging aan om God se karakter te ontdek. As jy weet wie Hy is en as jy sy liefde vir jou besef, gaan jy met groter selfvertroue jou uniekheid aanvaar en uitleef. En wanneer jy Hom innooi om deel van jou lewe te wees en jou daagliks te lei deur Sy Heilige Gees, kan ek jou verseker dat jy nog verbaas gaan staan by die besef dat daar géén beperking is op wat Hy in jou lewe kan doen en wat Hy ook deur jou lewe vir ánder kan en wil doen nie.

Onderhoud deur Toi Nell

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication