Verbly julle in die Here en juig, regverdiges, jubel alle opregtes!

Ps.32:1.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View May 2008 Issue >>
 

Die Woord is waar (2)

Ons dien ’n barmhartige, genadige en liefdevolle God wat nie wil hê dat een mens verlore moet gaan nie (kyk by 1 Tim 2:4).  Daarom is elke mens wat lewe se getuienis net die bewys van ’n liefdevolle Pa wat verlore kinders kom soek het.

Daardie dag by die burgermeesterstee in Potchefstroom, met sewehonderd vroue en drie mans, sal my vir altyd bybly!  Dit was die dag wat ek vir die eerste keer in my agt-en-twintigjarige lewe bewus geraak het dat daar baie meer in Christenskap is as bloot net  kerk toe gaan en terugkom.  Ek onthou die spreker wat voor my aan die beurt was, Gary Kieswetter, het opgestaan en vorentoe geloop met sy Bybel in die hand.  Ek het nog gedink dat ’n Bybel tog nie daar hoort nie.  Dit was nie ’n Sondag nie… Min het ek geweet dat my geestelike ore op daardie Saterdagoggend sou oopgaan!

Binne die eerste vyf minute van sy Woordbediening was my hart honger en het die Heilige Gees my kom arresteer.  Ek onthou die teken was die knop in my keel wat my sangsessie baie moeilik gamaak het. Gary het Kol 1:27 as ankervers gebruik en die een eienskap van Jesus na die ander uitgelig.  Dit was die Lewensbrood vir my hongersnood!  Soos ‘n tennisbal-diamant het dit in sy hand geglinster en ek het besef: ‘Daniel…, jy’s so arm soos ’n geestelike boemelaar!’

Na daardie dag het ek ’n besluit geneem om ernstig te begin bid.  Ek het nie geweet wat daardie Engelsman gehad het nie, maar ek wou dit ook hê!  Ek onthou die maande daarna…: ek het gedink ek gaan dit verloor!  Ek het aanmekaar gebid en gesoek, geklop en gevra… maar daar was net niks nie.

Omtrent ses maande vandat ek begin soek het, het ek die aand in die Kimberley-teater gesing.  Ek was totaal moedeloos omdat niks meer vir my sin gemaak het nie. Ek wou net deur die aand se ‘show’ kom, sodat ek die laaste lied, Dixiland (Gloryland) kon sing.

Met pouse daardie aand het ek letterlik agter in die kleedkamer op ‘n hopie gaan sit en huil.  Ek was aan die einde van my ‘konsert-krag’. My vrou, Daleen, het kom inloer en my daar gekry.  Sy het my gevra wat fout was en my antwoord was dat ek nie meer geweet het of daar waarlik ’n God in die hemel is nie.  Hy antwoord my dan nie!  Sy het in my aktetas begin soek na die pakkie koringkorrel-kaartjies en vir my  gesê: “Kom ons kyk wat sê die Here vanaand vir jou.” Toe sy dit vir my gee, het my hele liggaam vuurwarm geword.  Ek sit nog en wonder of daar ’n God in die hemel is en ’n stem in die een oor sê vir my: “Ek het jou mos gesê hierdie ‘Gospel-stories’ is net daar om jou beter te laat voel”.   Toe ek afkyk op die kaartjie, staan daar: ‘Roep my aan, en Ek sal jou antwoord, en jou bekend maak, groot en ondeurgrondelike dinge, wat jy nie weet nie!’ (Jer. 33:3)

Toe ek daar opstaan vir die tweede helfte van die aand, was daar vuur in my gees. Bonatuurlik!  Daleen het nogal gedink dat ek werklik ‘n goeie akteur is.  Dieselfde ou wat so pas gesit en huil het, het toe gesing asof hy die Idols-kompetisie gewen het!

Terug by die huis het ek vir haar gesê dat ek vir Gary Kieswetter wou gaan opsoek.  Ek moes hom kry om hom te vra wat dit was wat hy het, wat ek nie gehad het nie…en hoe ek dit ook kon kry!

Ek onthou hoe ’n gevoel van vrede my aangegryp het toe ek op 26 November 1993 voor hulle huis in Pretoria gestop het.  Toe ek hom gevra het wat dit was wat hy in hom het, was hy baie wys om nie op ’n godsdienstige manier met my te praat nie.  Ek was nog altyd baie godsdienstig.  Hy het geluister oor hoe ek twee keer ’n dag Bybel gelees en gebid het, elke Sondag kerk toe gegaan het, my tiendes gegee het en uit ’n baie godsdienstige familie gekom het.  Hy het net sy hand op my skouer gesit en gesê: “Dan, you need to be born again!  Repent of your sins and accept Jesus Christ as your Saviour!”

Sy woorde was skaars uit toe het my bene onder my geknak.  Toe my knieë die grond raak, het ek na God geroep.  Hy het my in ’n eenvoudige, maar opregte gebed na die Here gelei.

Toe ek daar opgestaan het, was ek vry!  Dit het gevoel of ’n ton bakstene van my skouers afgehaal is (Vergelyk Mat. 11:30). Buite was die lig so blou, ek het die voëltjies hoor sing en mense van alle kleure was vir my mooi.  ’n ‘Jesus-hart’ het my deur Sý oë na mense laat kyk.  As die Seun jou vrygemaak het, sal jy waarlik vry wees. (Vergelyk  Joh 8:36)

Halleluja!

Danie

ʼn Persoonlike getuienis:

Lewenswoorde, ewigheidswoorde! Hoe gebeur dit dan dat hierdie woorde vir soveel jare in my hart toegesluit was, dat ek dit nooit kon herken vir wat dit werklik was nie? 

Dit was so ’n groot voorreg om in alle opsigte as ’n Christen te kon grootword. By die huis, skool en op die sportveld: dit was wie ek was - deel van ’n verligte, bevoorregte groep mense aan die Suidpunt van ’n Suid-kontinent. Dit was altyd so wonderlik om Sondae-oggende die kerkklokke te hoor lui, wetende dat hulle ook vir mý lui en nader roep om te kom eet van die Lewensbrood.  My hart het gehou van die stille gevoel wat hierdie dag se stilstaan bring. So kan ek met dankbaarheid terugdink aan die meetsnoere van my kinder- en jongmensdae.  Dit het werklik geval op mooi plekke en op sagte paaie!

Dit was eers op vyf-en-twintig, as jonggetroude en met Danie se nuutgevonde liefde en ontmoeting met ons Here Jesus, dat ek die diepte, egtheid en dimensie van my eie Christenskap wou meet en ondersoek.

Honger na meer,  het ons begin soek… Ek het gewonder oor die sekerheid in my hart.  Dit was ‘n wáre sekerheid .  Was dit dan die oes van geloofsaad wat in kerkdienste en skoolopeninge in my hart gesaai was, of was daar ’n dag wat die Gees van God ook oor my kom waai het?                                                      

Kan dit wees?  Kan mens vir jare met ’n skat in jou hart loop en nie regtig weet dat dit ’n ‘dag-en-datum-ervaring’, ’n ontmoeting, ’n bloed-oortapping was nie!  Seker moeilik om te glo, maar ek het nie geweet dat wat met my as twaalfjarige gebeur het, ’n naam gehad het nie. Hoe het ek al gewens om die naam van die evangelis te onthou wat die kinderdienste vir drie middae in ‘n ry kom aanbied het. Ek onthou die onkeerbare trane toe die liefde van Jesus om my hart kom vou het!  Die gevoel dat ek aan Hom behoort was in my hart vasgebrand.  Geloof in Hom, liefde vir Hom! Dit was ook trane van intense sondeberou. Waarlike berou.  Vir ‘n bo-gemiddelde, relatiewe stroopsoet kind, kon dit net die inwerking van die Heilige Gees gewees het. Dit was ’n tuiskoms!

Die huistoery met my fiets was vir my die wittebrood van hierdie nuwe verhouding.  Daar was steeds trane, dié keer vir die mooi om my en die gevoel in my! Te gou was ek by die huis.  Ek sou vir altyd my fiets kon trap!

My ouerhuis was altyd ’n veilige, warm en liefdevolle plek.  Dis net dat ’n mens agt-en-twintig jaar gelede nie met die ‘Bybel onder die arm’ geloop het nie.  Jy het agter ’n toe deur gebid en die grootheid van God hoogstens met woorde oor die natuurskoon beskryf.

So het ek as Christen vir twaalf jaar oor my wedergeboorte geswyg. Die swye het selfs vir my die waarheid kom kamoefleer.  Ek het werklik gedink dat my ervaring uniek was. 

As ek nou terugkyk oor al die sagte paaie wat ek kon loop, weet ek dit was genade-paaie. Groen weivelde, want die Goeie Herder se stem was daar om my te lei en te beskerm.  Hy was naby my en by my.  Nou  kan ek ook begryp waarom spesiale gebedstye soos bakens in my lewe kon uitstaan.  Sy teenwoordigheid maak altyd die verskil. 

Toe my ervaring ‘n naam kry, kon ek my domisilium verstaan.  Kon ek stil-stil die grendels om my spesiale ontmoeting losmaak en my getuienis vrye vleuels gee.

Ongelukkig was ’n gebrek aan kennis en vrymoedigheid tog verantwoordelik vir tye wat ek aan wêreldse standaarde gekonformeer het.  Sou ek van beter geweet het, sou my identiteit in Jesus vir my ’n heining kom span het waarbinne my woorde en dade geweeg en oorweeg sou wees. 

Vir elkeen kom daar ’n dag wat Jesus ook jóú dorp besoek en by die stadspoort van jóú hart kom staan.  Mag Hy jou dan ook in die boom vind, soos vir Saggéüs. Wagtend om Hom te kan sien sodat Hy ook vir jou kan sê:  “Maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis bly!” (Luk 19:5)

Ek moet vandag in jóú kom bly! Vandag en môre en tot in ewigheid!

Daleen

 

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication