Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in Sy Naam die lewe kan he.

Joh. 20:31.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View July 2011 Issue >>
 

'n Tweede Kans

Nou gee ons alles in die Here se hande oor, Hy sal sorg,” het Lourens en Sophia Opperman besluit toe haar gesondheid in 2008 so verswak het dat ‘n nieroorplanting dringend gedoen moes word om haar lewe te red. “En God het gesorg, my lewe is ‘n getui­enis daarvan,” vertel Sophia. In 2004 het Sophia al hoe meer las van kroniese moeg­heid ondervind. ‘n Reeks toetse het gevolg en polisistiese niere is by haar gediagnoseer. Dit is ‘n genetiese siekte wat sy van haar pa geërf het. Hierdie toestand veroorsaak dat die niere aanhou vergroot, maar dat die nierwerking afneem. Dit kan nie behandel word nie en ‘n nieroorplanting sou later die enigste opsie wees. Sophia kon met haar werk voortgaan tot Oktober 2007 en moes daardie November met dialise begin. “Die dialise bind ‘n mens geweldig. Ek kon nie na baie plekke gaan nie omdat ek drie keer per week dia­lise moes kry. Daar was net dialisesentrums in Windhoek en Walvisbaai.” “Dialise is ook nie ‘n kuur nie, dit hou mens net aan die gang tot ‘n geskikte skenker vir ‘n oorplan­ting gevind is,” vertel Sophia.

Dialise nie die oplossing
Sy wys na merke op haar polse en arms as gevolg van die dialise. “Nie een van hierdie punte wou werk nie. Later is daar ‘n tipe kateter in my skouer ingeplant. Dit het net ‘n rukkie gewerk voordat dit verstop het. ‘n Ander kateter is in my ander skouer ingeplant, maar dit het ook nie baie lank gewerk nie. My liggaam het alle vreemde voor­werpe verwerp.”

Sophia moes talle kere na Pretoria of die Kaap reis om hierdie operasies te ondergaan. Uiteindelik het die dokter gesê dat hulle nou moet hoop op ‘n skenker, omdat daar is nie meer opsies nie. In 2008 doen sy ‘n tyd lank peritinale dialise. Dit kon sy tuis doen, maar dit moes drie keer per dag gedoen word. “Daar het hope voorraad in my huis rondgestaan,” sê sy. Later die jaar het sy ernstig siek geword en ‘n deel van haar dikderm moes verwyder word. Haar wond het septies geword en haar skoonsus, Lucia het haar wond gereeld skoongemaak en versorg. In Desember 2008 het sy saam met haar man Lourens, en twee seuns Danie en Jan-Hendrik na hul huis in Hentiesbaai gegaan vir ‘n wegbreekkans, maar dit was moeilik. “Ek moes teen daardie tyd weer dialise in Walvisbaai kry en ons moes elke tweede dag die 100 km ry.”

Draaipunt kom
Na hierdie vakansie het daar ‘n draaipunt gekom, vertel Sophia. “Ek onthou so goed dat Lourens op pad terug gesê het dat ons alles aan die Here moet oorgee. En van toe af het daar ‘n groot rustigheid oor ons gekom.

Vroeër het ons oorweeg om op Walvisbaai te gaan aftree sodat ek naby ‘n dia­lisesentrum kon wees, maar nou was ons rustig en het op die Here vir uitkoms gewag. “Talle dinge bly my by, soos die dag toe ek vir een van die dokters in Windhoek ‘dankie’ gesê het omdat hy soveel vir my gedoen het. Sy antwoord was dat die Here vir hom so goed is dat hy nie alles vir homself kan hou nie, maar dit moet deel.” “Ek het later ook eers besef waardeur Lourens en die seuns in hierdie tyd moes gaan. Hulle was baie selfstandig en het met tye groot dele van die huishouding oorgeneem.”

God se genade staan vas

En tog staan God se Genade in hierdie verhaal uit soos ‘n paal bo water. Sophia wys vir my ‘n e-pos wat sy in November 2008 van Lydia Botes, die nieroorplantingskoördineerder, gekry het. Dit sê dat haar kanse op ‘n suksesvolle nieroorplanting volgens die laaste toetse 0% is weens haar liggaam se geneigdheid om vreemde voorwerpe te verwerp.

“Na die oorplanting het toetsuitslae getoon dat ek maar ‘n 4%-kans tot ‘n suksesvolle nieroorplanting gehad het.” Op 12 Februrie 2009 om 20:00 kry Sophia ‘n oproep uit Pretoria: “Ons het ‘n skenker gekry.” Sy moes so gou as moontlik in Pretoria kom. Lourens was vir werk in Swakopmund. “Gaan solank, ek kom!” het hy gesê. “Ek onthou dat ek so oorbluf was dat ek vir Jan-Hendrik gesê het ek weet nie wat ek moes doen nie. “Ma moet seker gaan pak!” het hy gesê. “Alles het toe so vinnig gebeur. Ds. Callie Opperman en van ons vriende het kom bid en my moed ingepraat. Hulp het uit verskeie oorde ingestroom en sesuur die volgende oggend was ek op die lughawe, op pad om my nuwe nier te ontvang,” het Sophia vertel.

Krisisse nie uitgesluit nie
Maar nog ‘n paar krisisse moes hanteer word. “Die vlug was ‘n uur-en-’n-half vertraag. Uiteindelik in Johannesburg, was daar ‘n ongeluk op die snelweg en die verkeer het stilgestaan. Sophia se broer, Jannie van Wyk, wat haar op die lughawe gaan haal het, het die eerste afrit geneem en 15:30 is Sophia by die teater van die Jakaranda-hospitaal ingestoot.

“Ek het soveel ondersteuning gehad. My sussie, Elize Heystek, het van Jeffreysbaai af gevlieg, my niggie Gerty Pieterse, my seun Danie en nog baie vriende en familie, was almal daar om sterkte toe te wens. Danie en ds. Pieter Heystek is saam met my tot by die teater en ds. Pieter het saam met my en die personeel ‘n gebed gedoen voor die operasie. Lourens het net na die operasie in Pretoria aangekom en was vir my ‘n steunpilaar. In die eerste dae na die operasie het ek, as gevolg van vog, 20 kg opgetel. Ek het vier terugslae gehad, maar die Here was getrou. Ek moes ‘n hele tyd in die intensiewesorg­eenheid bly en kon nie loop of staan nie. Kuiermense moes beurte maak om my vir kort rukkies te sien en almal moes maskers dra. Ek kon geen blomme ontvang nie.”

Steun van die familie
Nadat sy ontslaan is, het Sophia ‘n tyd lank by haar niggie en haar man, Gerty en Hendri, gebly. “Sy was baie goed vir my en het gesorg vir ‘n telefoon en klokkie in my ka­mer. Snags het sy kom inloer en vra of ek iets nodig het. Sy het vir my badwater in­getap en blommetjies aangedra.” Later het sy ook ‘n tyd lank by haar broer, Jannie en sy gesin, gebly totdat sy sterk genoeg was om huis toe te gaan. “My skoonsus, Renate, was ‘n ster en het my so goed versorg.” “Danie het baie tyd spandeer om my te help om papierwerk uit te sorteer. My visum het verval en ek moes reëlings tref en boetes betaal omdat ek langer as ‘n maand in Suid-Afrika was en my visum nog nie beskikbaar was nie. Hy het alles hanteer. Danie het ook grafieke gemaak van al die toetse se uitslae sodat ons die vordering kon sien.”

Higiëne van uiterste belang
“Danie was die heeltyd daar vir my en Jan-Hendrik het vir Lourens ondersteun toe hy weer terug Windhoek toe is. Die Here het vir ons almal gesorg.” Sophia vertel hoe sy na die oorplanting moes aanpas. “Ek moes vraelyste op ‘n rekenaar voltooi oor al die nasorg wat na die operasie vereis is. Aanvanklik moes alles ook baie higiënies wees om te voorkom dat ek siek word.”

“Die matte in ons huis moes met teëls vervang word en vriendinne het gereël dat ons huis van bo tot onder skoongemaak is voordat ek tuisgekom het. Selfs die agterkante van die skilderye is gewas! Tuis het vriende eetgoed aangedra en vir my spesiale kos gemaak volgens al die voorskrifte. Ander het my voete gevryf of my naels versorg of my hare kom was.”

Tweede kans op lewe
Die grootste vraagstuk vir Sophia is hoe ‘n mens dankie sê vir so ‘n wonderlike geleent­heid - ‘n tweede kans om te lewe. Sy het ‘n brief aan die familie van die skenker geskryf, alhoewel sy nie weet wie hulle is nie. Verder lei sy ‘n lewe van dankbaarheid en staan haar skoene vol by die kerk, in haar vriendekring en gemeenskap.

“Ek het vanjaar ingeskryf vir ‘n oorsigkursus oor die Bybel wat weereens my oë open vir al God se groot werke oor die eeue heen.” Sy kuier ook gereeld saam met vriende wat oor die afgelope jare soos familie geword het en skilder in haar vrye tyd. Die internis wat Sophia op gereelde basis gaan sien, sê elke keer dat sy gelukkig was om betyds ‘n nier te kry.

‘n Besoekende dokter van die Kaap het, nadat hy haar mediese geskiedenis gelees het, gesê dat God haar baie lief moet hê. Tans loop die familie weer die paadjie saam met Sophia se broer Jannie, wat aan dieselfde kwaal ly en wag op ‘n oorplanting...

deur Marlize Oosthuizen

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication