Vertrou jou lewe aan die Here toe. Vertrou Hom en Hy sal vir jou sorg.

Ps 37: 5.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View July 2011 Issue >>
 

Kamele: Eerste Vervoermiddel

Reeds sedert Bybelse tye ’n manier waarop handelsware en mense van een plek na ’n ander vervoer is, is kamele vandág nog ’n bekende gesig in die Midde-Ooste. Daar word wyd bespiegel dat kamele vanaf Asië na Noord- en Suid-Amerika en daarna na Afrika versprei het. Daar is vandag ongeveer 17,5 miljoen kamele oor die wêreld versprei. Ons lees in Ge­nesis reeds dat Abram kamele as geskenk ontvang het – “Hulle het aan Abram goed gedoen oor haar en vir hom kleinvee en beeste gegee; ook donkies, slawe en slavinne, don­kiemerries en kamele.” Gen 12:16. En regdeur die Bybel word daar van kamele melding gemaak as deel van die mense se rykdom.

Soorte kamele
Daar is twee soorte kamele: die Arabiese of dromedaris-kameel met sy enkele boggel en dan ook die baktriese kameel met sy twee boggels. Eersgenoemde is inheems aan die droë woestyndele in Wes-Afrika en die baktriese kamele is weer inheems aan Sentraal- en Oos-Asië. Albei soorte is mak diere en verskaf melk en vleis en word ook as werkdiere gebruik.

Die lewensverwagting van ’n kameel is 40 tot 50 jaar en ’n volwasse kameel is sowat 1.85 meter hoog by die skouer en by die boggel sowat 2.15 meter. Gewoonlik is die boggel omtrent 30 cm hoog. Dit is geensins ongewoon vir ’n kameel om ’n hardloopspoed van tot 65 km/h (slegs oor kort afstande) te bereik en ’n spoed van 40km/h vir lang afstande te handhaaf nie.

Oorlewingstrategieë

Die dromedaris-kameel kan 15–20 dae sonder water oorleef, in teenstelling met ander diere wat drie tot vier dae sonder water kan klaarkom. Waterverlies deur urine is beperk tot die absolute minimum aangesien hul urine so gekonsentreerd is. Dié soort kamele kan temperatuurskommelings van 34 tot 42˚ C in hul liggame verduur. Hulle is in staat om gedurende die dag hitte in hul liggame te berg en dan op maniere anders as deur verdamping vry te stel, m.a.w. deur uitstraling, geleiding en oordraging gedurende die koel nagtelike ure.

Fisiologiese aanpassings
Hulle oorleef in hierdie woestyntoestande deur hul vermoë om water deur fisiologiese aanpassings te berg. Hierdie aanpassings sluit die volgende in:

  • Hul liggaamstemperatuur kan met tot 8˚ C fluktueer. Dit stel hul in staat om oormatige hitte deur die nag te verloor sonder dat hul liggaamsvog verloor.
  • Indien sonder water, word hul skildklieraktiwiteit verminder.
  • Hulle het baie minder water nodig as ander lewende hawe.
  • Hulle sweet ook nie voortdurend nie en begin sweet teen veel hoër temperature as ander diere.
  • Hul bloedplasmavolume verminder net ietwat gedurende ernstige dehidrasie.
  • Hulle kan vinnig na dehidrasie herstel en is baie minder tot detoksifikasie geneig.
  • Vet is hoofsaaklik tot die boggel beperk. Dit kan dan vinnige hitteverspreiding deur die vel verseker.
  • Dik en lang ooghare beskerm die oog teen bestraling van die son.
  • Die gesplete bolip is geskik om voedsame kos in baie dorre toestande te kan eet.
  • Hul gewoonte om op hul agterbene te urineer, verseker ekstra afkoeling deur verdamping
  • Hul dik jas reflekteer sonlig en dit insuleer hul ook teen die intense hitte wat deur die woestynsand uitgestraal word.
  • Die niere en ingewande is aangepas om water te behou.
  • Kamele het ’n baie ongewone en ingewikkelde immuunstelsel wat verseker dat hulle selde siektes opdoen.


Gebruike vandag
Met al hierdie inligting in gedagte, is dit geensins verrassend dat daar vandag weer teruggekeer word na die gebruik van kamele ook in die Wes­terse woestyngebiede nie. Daar is, bo en behalwe gebruike soos wat in die woestyne nodig is, ook baie geleent­hede vir kameeltoerisme in woestyngebiede. Een so ‘n voorbeeld is Solitaire in Namibië.

Kameel­kam­pe op Solitaire
Die mistieke klein dorpie Solitaire laat op meer as een manier reg aan die naam ge­skied. Die dorpie bied ’n oorslaapgeleentheid op jou toer van Suidwes-Namibië wat absoluut noodsaaklik is. Brandstof, bande, ‘n algemene handelaar, tuis­gebakte brood en appeltert is maar enkele van die dinge wat toeriste hier kan geniet op hul safari deur die Namib-woestyn. Hierdie geïsoleerde buitepos is die ideale oorstaanplek vanwaar die woestynomge­wing en die attraksies van die omgewing ondersoek kan word. Solitaire het sy eie unieke karakter en is baie bekend vir sy onoortreflike gasvryheid – jou deurgang na die hoogste duine ter wêreld via Sesriem en Sossusvlei.

Gegradeerde verblyf
Die hotel in Solitaire het ’n gradering gelykstaande aan 3 sterre en het die Hospita­lity Association of Namibia–Toekenning vir uitnemendheid: Erkenning vir bestendige prestasie, in 2008 gewen. Dit is baie goed toegerus en bied al die dienste wat toeriste normaalweg verlang. Staproetes tussen 3.5 en 8 km is duidelik gemerk met baie inte­ressante inligting oor plante en bome op die roete. ’n Sonsondergangrit word ook aangebied en die asemrowende sonsondergange oor die Namib kan dan besigtig word; daar is selfs ook sterrekyk op versoek beskikbaar. Slegs 260 km vanaf Windhoek, is dit dus eintlik baie maklik om tot daar te kom en die vrede en vreugde van die Namib ten volle te geniet.

deur Toi Nell

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication