Maar die man wat julle in die verwarring bring, wie hy ookal mag wees, God sal hom straf

Galasiers 5:10

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View July 2011 Issue >>
 

Liewe Vriend,

Ek wil graag hiermee die getuienis met u deel van ‘n jong vrou wat onlangs haar hart vir die Here gegee het by ‘n veldtog in Hammanskraal, Suid Afrika. Sy het aan die einde van die diens na vore gegaan om haar getuienis te bring oor dit wat die Here daardie aand vir haar gedoen het. Pragtig het sy daar gestaan met haar Afrika haarlokke, saamgevat in ‘n eenvoudige poniestert, haar snoesige wol baadjie en bruin stewels, gepantser teen die byt van die koel winteraand. “My naam is Kegomoditswe”, het sy gesê, “en vanaand het ek my lewe oorgegee aan Jesus.”  Elke woord was duidelik hoorbaar vir elkeen wat daar saamgebondel het op die Tembisa Stadion. ‘n Skielike stilte het oor die gehoor neergedaal. Hierdie jong vrou het waarlik ‘n ontmoeting met God gehad! Elke sin wat sy geuiter het, was swaar gelaai met Sy teenwoordigheid.

My boodskap het daardie aand gehandel oor die bad van Betesda, soos gelees in Johannes 5. Die verhaal is van ‘n man wat vir 38 jaar lank siek was, en wonderbaarlik deur Jesus Christus gesond gemaak is. Ek het verduidelik dat daar ‘n siekte is wat baie erger is as die siekte wat daardie man gehad het, naamlik die besmetting van die sonde. Hierdie siekte-toestand tas meer aan as net ons uiterlike liggame. Sonde is ‘n virus wat die siel verwond en die bloeiende slagoffer al hoe verder en verder wegdryf van God af. “Terwyl ek daar op die stadion gesit en luister het na die Evangelie-boodskap, het ek net so siek gevoel soos die man waarvan ons so pas gehoor het”, het Kego verduidelik. “Dit het vir my gevoel asof ek ook jare lank gewag het om my lewe vir Jesus te gee. Vanaand was dit die eerste maal in my lewe dat ek nie omgegee het wat enige iemand anders van my dink nie. Ek het net geweet dat ek vanaand my hart vir die Here moet gee. Ek het altyd gedink ek is baie oorgewig, maar ek besef nou dat dit die gewig van my sonde was wat my neergedruk het. Dit voel vir my asof ek vir die eerste keer vars lug kan inasem.”

Kego is in haar middel-twintigs en ‘n lid van die Metro Polisie. In ‘n onderhoud met een van IHN personeellede, na die afloop van die diens, het sy haar werk beskryf as uiters gevaarlik. “Ons werk met vuurwapens, ons werk met diewe, ons werk met moordenaars – ons het elke dag met hulle te kampe,” het sy verduidelik. Sy het voorheen al van Jesus gehoor, maar Hom nog nooit persoonlik aanvaar as Heer en Meester van haar lewe nie. As broodwinner van haar familie, wat haar ouers insluit, asook haar broer en suster en twee van haar klein kindertjies, gaan sy gebuk onder erge druk van alle kante af. Vir twee weke het sy die plakkate dopgehou wat die opkomende veldtog geadverteer het, en sy het ‘n dringendheid in haar gevoel om dit te gaan bywoon. Sy het daardie aand by haar huis weggery, gedryf deur ‘n behoefte om by Jesus uit te kom. “Ek het nie omgegee oor my tv-sepies, of my verwarmer of my aandete nie – ek het net nodig gehad om by Jesus uit te kom.” By die aanhoor van die Evangelie boodskap, het die openbaring van haar behoefte na ‘n Verlosser, al hoe meer intens van haar gees besit begin neem. Toe die uitnodiging gerig word om vir Jesus te kom aanneem, het sy saam met vele ander mense na vore gedring om by die verhoog uit te kom. Na ‘n kort gebed waarin daar vir Jesus gevra is om in te kom as Heer en Verlosser van haar lewe, beskryf Kego die volgende gebeurtenis: “Dit het gevoel of ek nie meer op die aarde teenwoordig was nie. Ek het net die teenwoordigheid van God gevoel. Ek het beter gevoel as in ‘n baie, baie lang tyd. Die afgelope maand het dit nie so goed met my gegaan nie, maar vanaand voel ek niks anders as die teenwoordigheid van God nie.” Sy het vreugdevol gegloei van blydskap. “Ek weet vanaand dat geen koeëlbestande onderbaadjie of enige vuurwapen in die hele wêreld my soveel beskerming sal kan bied as dit wat Jesus aan my kan gee nie. Al moet ek dalk sterf, dan weet ek nou dat ek hemel toe sal gaan. Hy is die beste lewensversekering ooit!”

Ons dank die Here onse God vir die grootste wonderwerk van almal – die wonder van redding en verlossing! Een lewe in ‘n menigte wat vir altyd verander het! Die getuienis van Kego het my diep aangeraak daardie aand. Ek vertrou dat haar woorde ook tot u hart sal spreek.           
                                                                                                                               Warm seëngroete,
Tamryn Klintworth
Evangelis

Tamryn is die stigter van In His Name Ministries, ‘n Evangelistiese organisasie, toegewy tot die verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus dwarsdeur Afrika en die hele wêreld.  Op Facebook vind jy Tamryn Klintworth, of besoek die bediening se webtuiste by: www.inhisname.org.za

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication