Jy moet die Here jou God liefhe met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.

Eksodus 20:1

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View October 2011 Issue >>
 

Quo Vadis, Afrikaner? Waarheen Nou?

Is daar ’n toekoms vir die Afrikaner, of is hy besig om stadig maar seker aan die vergetelheid te emigreer? Miskien moet daar net ’n voëlvlug oor die verlede geneem word om te besin oor sy toekoms. As jy wil weet waarheen jy op pad is, moet jy tog kyk na waar jy vandaan kom.

Interessante volksverskynsel
Die Afrikaner is ’n interessante volksverskynsel: die naam en ’n groot deel van sy identiteit is te danke aan die taal wat hy praat. Onder die benaming ‘Afrikaans’ het mense van veral Nederland, Duitsland en Frankryk gaandeweg ’n nuwe volksverband gevorm. Wat hulle aanmekaar gebind het, was ’n taal wat in Afrika ontkiem het. Maar daar was ook ’n ander, baie belangrike gemene deler in hierdie nuwe volk aan die suidpunt van Afrika: hulle het ’n gemeenskaplike godsdienstige erfenis gehad. Hulle het hulle geloof in gemeen gehad - ’n Christelike geloof.

Dit geld vir sowel Van Riebeeck (1652) as die Franse Hugenote (1678). Trouens, laasgenoemde het juis omrede hulle geloof na die suidpunt van Afrika gevlug. Die Groot Trek het ook ’n belangrike rol in die vormingsjare van hierdie nuwe volk gespeel. Gedurende hierdie trek was die Bybel die volk se handboek. Daarmee saam is Christelike waardes diep ingegroef in die psige van die Afrika­ner. Vir baie jare was die Bybel onteenseglik die norm vir leer en lewe.

Verengelsingsbeleid vestig kultuur
Ironies genoeg het die Britse verengelsingsbeleid (sedert 1795) ook grootliks bygedra tot die vestiging van ’n Afrikaanse kultuur. Die aankoms van 11 gereformeerde predikante uit Skotland, onder leiding van ds. Andrew Murray senior, het presies die teen­oorgestelde uitwerking gehad: hulle het Hollands en Afrikaans aangeleer en onder ds. Andrew Murray jnr. het daar in 1860 ’n herlewing uitgebreek wat die aangesig van Suid-Afrika ingrypend verander het. Dit het ook ’n beduidende en langdurige impak op Afrikaners as mense gehad. Tot nou toe word die Pinksterdienste wat in 1862 in die Paarl begin het, steeds in baie gemeentes gehou.

Die herlewing het meegewerk dat Afrikaans in 1925 as amptelike kerktaal sowel as ’n landstaal met gelyke status erken is. In 1933 het die eerste Afrikaanse Bybel verskyn. Dit het meegewerk tot ’n self-persepsie dat die Afrikaner ’n Christen-volk is.

Het ons die spoor byster geraak?

Die moderne Afrikaner het nog in ’n groot mate sy taalidentiteit, maar met die geloof van baie het daar ’n groot skroef losgeraak. ’n Mens kan dit nou maklik toeskryf aan li­berale teologie - wat veral van Duitse kant die Kerk ingesypel het - maar daar was ook ander omstandighede wat meegehelp het om die Afrikaner se geloof te ondermyn.

Ons pragtige kultuur-historiese erfenis het hom vasgeloop teen die materialisme van die goudstormloop en die magstryd om politieke en militêre oorheersing en die Anglo-Boereoorlog het onder andere sy merk op meer as een manier op die Afrikaner gelaat. Industrialisasie en afwykende teologie het ook meegewerk om ons geestelike sekerhede te ondermyn. Die sug na politieke oorheersing het selfs in die Kerk neerslag gevind.

Afrikaans ’n vloekwoord

Die Kerk het gaandeweg die teologiese onderbou vir Apartheid verskaf. So het ‘Afrikaner’ ’n simboliese verandering ondergaan - van soeker na vryheid, tot oorheerser oor ander. ‘Afrikaans’ het in die proses vir baie ’n vloekwoord geword. Politieke oorheersing was die raamwerk waarbinne mag vergestalt was.

Wetgewing is aangepas om in ’n mags­posisie te bly. En die Kerk het ’n godsdiens­tige en kulturele enklawe geword. Ander was nie in die Kerk welkom nie, want dit is, in die stuiptrekkings van Apartheid, gesien as die laaste vesting.

Bly daar iets oor?

Die Afrikaner is nou gestroop van politieke mag, maar ook in ’n groot mate van kulturele hoogmoed. Ook van teologiese meerderwaardigheid. Die Afrikaner moet weer die waardes van sy godsdienstige erfenis herontdek. Hy kan, en mag, ánders wees, maar hy mag nie eenkant staan nie. Hy is geroep om sout en lig te wees in die samelewing waarvan hy deel is. Sy eerste en vernaamste lojaliteit is nie teenoor sy kultuur nie, maar aan die Kerk van ons Here Jesus Christus.

Hy is nie beter as ander Christene nie, net anders. Hy moet help om, saam met die res van die Kerk van Christus, Christelike waardes te vestig, uit te reik na dié in nood en hande te vat met almal wat Koninkryks­werk doen. Hy is hier om te dien, nie om te oorheers nie. En daardie dienswerk moet op alle vlakke van die samelewing plaasvind: in die onderwys, gesondheidsorg, politiek, ekonomie – oral en altyd.

Dra vrugte van die Gees

Hy mag nooit weer van ander afgesonder word op die basis van meerderwaardigheid of hoogmoed nie. Hy moet eerder poog om Christelike waardes op alle terreine te vestig. Die vrug van die Gees moet sy lewe kenmerk: krag, liefde, selfbeheer­sing, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid, sagmoedigheid, verdraagsaamheid, eerlikheid, opregtheid, betroubaarheid en hardwerkendheid. Die boom word aan sy vrugte geken.

As hierdie dinge weer deel van die Afrikaner se lewe word, sal ander nie meer met agterdog en haat na Afrikaners kyk en hoef hy hom nie vir sy andersheid te skaam nie. Dan dien hy die Koninkryk en help hy die land bou. Kom bid volhardend dat God hierdie land weer sal besoek soos in 1860.

deur Johan Kriel

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication