Maar die Woord van die Here, dit bly vir ewig. En hierdie Woord is die Evangelie wat aan julle verkondig is.

1 Pet. 1:25.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View October 2011 Issue >>
 

Trane van Bloed

Dit is iets waaroor nie baie gepraat word nie en wat goed verdoesel word deur diegene wat deur hierdie sielkundige siekte getraumatiseer is of nog steeds hierdeur geraak word. Dit kan moontlik jou kollega, jou vriendin by die kerk of selfs jou eie kind wees. Wat agter die ge­slo­te deure van hierdie mense wat hulself verwond se slaapkamers aangaan, is eintlik baie ont­stellend. Wat sal jy doen indien iemand vir wie jy baie lief is en vir wie jy omgee, ’n mes of ’n skeermeslemmetjie gebruik om haarself herhaaldelik daarmee te sny – en dan die wonde vir ander wegsteek? Hierdie wonde is diep genoeg om baie te bloei, maar nie diep genoeg om die dood tot gevolg te hê nie. Dít is die skreiende wêreld van diegene wat hulself beseer om hul emosionele pyn uit te doof.

Wat is selfverwonding?

Selfverwonding (ook bekend as selfsken­ding) is ’n doelbewuste aksie waardeur die eie liggaam beseer word deur ernstige weefselskade te veroorsaak ten einde ’n gemoedstoestand te verander. Dit kan deur snywerk, krapwerk, bytery, trek of pluk van die vel of selfs die herhaaldelike stamp van die kop gedoen word.

Volgens Kinderhulplyn is die algemeenste vorm van, of dit waarmee hulle die meeste te doen kry, skending deur snywerk. Sommige het egter ook al van die meer bizarre gevalle gehoor waar die hare uitgepluk word (trichotillomania), die vel gebrand word, of selfs waar ’n arm of been gebreek word. Dit is egter belangrik om te weet dat dit nie ’n geval is van poging tot selfmoord nie. Dit is bloot ’n meganisme om die lewe te kan hanteer.

Desperate roep om hulp
Mense wat dus tot hierdie uiterstes gaan, wil werklik lewe (selfmoord is al aangemeld, alhoewel dit nie doelbewus was nie). Selfverwonding is ’n desperate roep om hulp en ’n manier om emosionele pyn te hanteer. Daar bestaan selfs webblaaie wat aan hierdie saak gewy word en dit is rede tot kommer. Baie gevalle word nooit aangemeld nie en word ook nie behandel nie – en dit is juis waarom daar groot kommer hier­oor heers. Dié wat dit doen, is gewoonlik deel van die middel- of hoër klas, intelligent en goed opgevoed en dit begin reeds in die vroeë adolessensie.

Waarom wil mense hulself verwond?
Deur selfverwonding kan woede of kommer tot uiting kom en dit kan ’n manier wees om na ander uit te roep. Vir sommige gee die aanskoue van hul eie bloed selfs ’n gevoel van krag of behaaglikheid; dieselfde gevoelens wat op een of ander stadium in die lewe van hul weggeneem is. Dr. Juan Schrönen, ’n psigiater van Bellville, Kaapstad, sê baie van dié wat hulself verwond, gebruik dit as hanteringsmeganisme.

“Selfverwonding word dikwels ’n verslawing en word as ’n soort ontvlugting gebruik. Diegene wat ’n traumatiese erva­ring beleef het, mag moontlik begin met selfverwonding.” het hy bygevoeg. Hulle vervang emosionele pyn met fisieke pyn. “Hulle ervaar ’n adrenalieninspuiting en is vir ’n wyle eufories. Die emosionele pyn word ondraaglik en die fisieke pyn, hoewel onaangenaam, is iets wat hulle meer kan hanteer.”

Selfskending gee die persoon ’n gevoel van intense beheer in ’n wêreld waar hulle voel asof alles buite beheer is. Watter pyn hulle ook al innerlik ervaar, of dit nou ge­sinsprobleme, seksuele of fisieke mishandeling of selfs emosionele verwaarlosing is, word as ondraaglik ervaar en kan net vergeet word deur die pyn wat hulle deur selfskending ervaar.

Sophie se verhaal
Sophie Scott het haar verhaal neergeskryf en dit is in boekvorm uitgegee (Crying Scarlet Tears). Sy was ’n gemiddelde tiener toe sy begin het om haarself te verwond en volgens haar het sy geen rede gehad om dit te doen nie. Sy het wonderlike ouers gehad en was ’n Christen van agtjarige ouderdom. Sy was selfs ’n aanbiddingsleier in die jeuggroep. Die eerste dag wat sy haarself verwond het, was ’n redelike normale dag. Sy het met ’n vriendin by die skool baklei, maar hulle het tog al hulle probleme uitsorteer. Haar ouers het die betrokke aand uitgegaan en sy was alleen tuis toe sy die snaakse drang gehad het om haarself te slaan. Sy het ’n klerehanger geneem en haarself teen die been geslaan. Sy sê sy het geen pyn gevoel nie, maar was heimlik trots op die merk op haar been.

Daardie aand het sy haarself herhaaldelik met die klerehanger geslaan. Sy het later selfs haar pa se leergordel geneem en haarself met die gordeldeel daarmee teen die been, arms, rug en maag geslaan. Dit was die eerste keer wat sy pyn ervaar het en dit het haar ietwat bang gemaak. Sy het die gordel weggepak en gaan slaap. Dit was die begin van ’n verskriklike en verslawende gedragspatroon wat net in erns en gevaar toegeneem het en vir ’n hele aantal jare aangehou het.

’n Gevaarlike verslawing
In Sophie se eie woorde: “Dit het nie gevoel asof ek myself vir enigiets straf nie. Ek was ook nie ontsteld of kwaad nie. Ek het niks gevoel nie. Terwyl ek myself geslaan het, was die enigste ding waaraan ek gedink het, die feit dat ek myself slaan. Daar was geen skuldgevoel of blaam nie, geen emosie hoegenaamd nie.”

Die volgende dag het sy met ’n kompas op haar arm begin eksperimenteer en het haarself ook uit die klaskamer verskoon en haarself in die toilet herhaaldelik in die gesig geklap. Hierdie onmiddellike endorfieninspuiting het baie vinnig verslawend ge­raak. Oor die volgende paar weke het sy van slaan tot sny met skeermeslemmetjies en glasstukke gevorder.

Verdoeseling van die bewyse
Sophie is gedwing om haar beserings weg te steek en het dit gedoen met lang moue en lamlendige verskonings oor dié bese­rings wat sy nie kon wegsteek nie. Eindelik het haar vriende by die kerk gesien dat iets fout is en met haar daaroor praat. Sy het hulle met ’n storietjie mislei en toe begin vermy. Sy het selfs haar ouers begin vermy. Hoewel sy innerlik na hulp gesmag het, kon sy dit net nie aangryp toe dit aangebied word nie.

Op sestienjarige ouderdom, ongeveer ’n jaar nadat hierdie selfskending begin het, het sy dit ten minste een keer per dag gedoen. Sy het verskriklik skuldig begin voel, veral omdat sy ’n Christen was. Sy het elke nag na God uitgeroep en Sy vergifnis gevra, maar die drang om haarself seer te maak was so intens dat sy gevoel het sy sou dit glad nie kon staak nie.

God sien jou pyn en jou seer
Een aand, terwyl sy gebid en na Christelike musiek geluister het, het sy ’n stem gehoor en onmiddellik geweet dat dit die Here is. Hy het gesê dat Hy vir haar, Sophie, lief is. Sy het besef dat sy nie waardig genoeg vir Hom gevoel het nie en hoewel sy die woorde probeer herhaal het, kon sy nie. In haar hart het sy nie geglo dat Hy haar lief het en dat Hy vir haar omgee nie. Sy het daardie nag na Hom uitgeroep en ge­smeek dat Hy haar sou genees. Uiteindelik kon sy haarself sover kry om hardop te sê dat God haar liefhet, dit te glo en ’n groot vrede het oor haar gedaal. Hoewel sy nader aan God gevoel het, het die drang om haarself te skend nie verdwyn nie. Vir die daaropvolgende paar jaar het sy desperaat probeer om dit wat sy besef het verkeerd in God se oë is, te staak.

Genesingspad volg
Sy kon selfs met haar jeugleier daaroor praat en hulle het die pad na ge­nesing saam begin stap. Soos wat die skending afgeneem het, het Sophie ’n ander vorm van skending begin toepas: Bulimie. Sy het groot hoe­veelhede purgeermiddels gebruik. Toe sy dit aan haar berader erken, het die snyery as selfskending weer teruggekeer en was baie gevaarliker as die eerste keer. Sy het haarself begin brand, groot hoeveelhede pille gedrink en selfs doelbewus alleen in gevaarlike plekke rondgehang.
Sy is universiteit toe om haar as Christen-jeugwerker te bekwaam. Gedurende dié tyd is sy self deur intense berading. In van dié sessies het dit uiteindelik uitgekom dat sy as baie jong meisietjie gemolesteer is. Sy het geleidelik begin om al haar pyn en seerkry te hanteer – deur baie trane en gebede heen. Stadig, maar seker, het sy gesond begin word en die skending het afgeneem.

’n Lig aan die einde van die tonnel
Nadat sy gegradueer het, het sy by ’n plaaslike kerk as jeugwerker begin werk. Sy het geleer om haar pyn en emosies op gesonder maniere uit te druk.

Toe sy gevra is waarom dit haar so lank geneem het om uiteindelik dié punt te bereik, was haar antwoord: “Ek het geleer dat ek God en Sy tydsberekening moes vertrou. Ek wou kitsgenesing hê en ek wou hê God moes my help om onmiddellik met hierdie skending op te hou. Die waarheid is dat God wel genees, maar Hy doen dit wanneer Hy weet die tyd daarvoor is reg.”

Wie is God werklik?

“Ek vind nog dat ek soms ontken dat hierdie dinge ooit met my gebeur het omdat dit makliker is en ek wens ek kan met se­kerheid sê dat dit nooit weer sal gebeur nie. Die waarheid is egter dat hierdie begeerte om myself seer te maak nog steeds somtyds in my brand. Indien ek begin twyfel aan God se liefde, of as ek die dag sommer bietjie ‘af’ voel, lees ek uit die Psalmboek en dit is regtig baie bemoedigend. Ek is baie lief vir Ps 121, want dit herinner my telkens aan Wie God regtig is.” Sophie is vandag ’n lewende getuie van die krag van God se liefde.

Hoe om uit te reik na iemand wat haarself verwond

  • Probeer om nie te vra waarom hulle voortgaan met hierdie ‘sondige handeling’ nie. Dit verhoog skuldgevoelens en laat hulle nog verder veroordeel voel. Moedig hulle egter aan om hul Bybels te lees en te bid wanneer hulle die snellers voel kom.
  • Moenie probeer voorgee alles is in orde as dit duidelik nie die geval is nie. Mense toon verskillende reaksies op selfverwonding – sommige vind dit verwarrend, verfoeilik, verontrustend en moeilik om te hanteer. En die reaksies is te verstane. Indien dit is hoe jy voel, gesels gerus met iemand daaroor.
  • Probeer om die ‘skender’ nie skuldig te laat voel nie. Dinge soos: ‘As jy vir my lief is, sal jy dit nie doen nie,’ of ‘Moenie dit doen nie – vir my asseblief?’ is woorde wat enige selfskender dikwels hoor. Die enigste manier waarop hulle werklik kan ophou met hierdie dade, is deur God se hulp en self te wíl. Hierdie verslawing het absoluut niks met hulle liefde vir jou te doen nie.
  • Wees sensitief, maar laat hulle tog ook goed verstaan dat jy daar is om te help wanneer hulle jou hulp nodig het.
  • Moenie bang of huiwerig wees om professionele hulp voor te stel nie. Jy kan selfs aanbied om saam te gaan indien hulle nie die moed het om alleen te gaan nie.


Waar kan jy om hulp aanklop:

Kinderhulplyn: www.childline.org.za of skakel 08000 55 555. Opgeleide beraders is 24 uur per dag beskikbaar
Lifeline: Tolvrye nommer: 0861 322 322
Die SA Depressie- en Angssteungroep – Nasionale tel. nr: 011 783 1474
Selfmoordhulplyn: 0800 567 567
SMS-krisislyn: 31393 en SMS jou pro­bleem en hulle sal onmiddellik reageer.

deur Sophie Scott

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication