Jesus het daarop gereageer: Ek verseker jou, as iemand nie van bo (opnuut)gebore word nie, kan Hy die Koninkryk van God nie sien nie.

Joh 3:3.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View May 2008 Issue >>
 

Die Res van My Lewe is die Beste van My Lewe

 

Argitek, motiveringspreekster, uitgewer van Lady Grey Skryfbehoeftes, kunstenares, predikantsvrou, ma van vier, ouma, vriendin van vele vroue - dit is Elise Grey!
In 'n mens se leeftyd hier op aarde ontmoet 'n mens vele mense - uit hulle almal kan ek vandag met vrymoedigheid sê, is Elise een van die heel besonderste vriendinne wat ek ken. As Nasionale Skakelbeampte van die ACDP in die verlede en landswye motiveringspreekster, ontmoet ek baie indrukwekkende vroue, maar ek is seker dat elkeen van u wat Elise ken, kan getuig dat sy onmiddellik 'n spesiale plekkie in u hart gesteel het met daardie eerste ontmoeting. Vandag het ek 'n paar vrae aan hierdie uiters stylvolle vriendin van menige Suid-Afrikaanse vrou gevra:
 
Daar is sprake dat julle die einde van die jaar Australië toe verhuis - wat motiveer julle tot so 'n stap op hierdie ouderdom van julle lewe?

Roeping het min te make met ouderdom maar alles te make met gehoorsaamheid. Dink maar aan Sara. Slegs 7 ure na aankoms, op ons heel eerste besoek aan Australië in 1997, het ek en Jan net GEWEET ons wil daar werk en woon. Daardie heilige “gut” gevoel het die deurslag gegee. En dit was bonatuurlik want mens kry nie op 54 jarige ouderdom permanente verblyfstatus nie, en Jan het! Sommer vir drie van ons vier kinders ook, wat toe nog op universiteit en skool was. Jan se visie verstom en so stuur hy toe solank die kinders vooruit. Nou byna 10 jaar later op 64 en 59, sluit ons twee DV by hulle aan en met ‘n Handelinge 20 vers 24 passie: “die drang om die evangelie van God se Genade uit te dra.” 120

Gaan jy nie teveel na julle oulike eiesoortige woonplek in Wapadrand verlang nie?

Natuurlik! Ons oop-plan huis in knus in die bosse versteek, tog binne in die hoofstad van SA. Ek is gek oor my huis, wat ons net eers gaan verhuur anders is die afskeid te swaar. Kyk ons mooi gastekamer, stoep, woonkamer en tuin! Die tema van my 2008 Dagboek gaan juis oor die huis en al sy fasette en natuurlik kleinseun Lucca – kyk hoe sit hy soos ‘n gesoute evangelis op die leerbank.
 
Jou man, Dr Jan Grey, 'n kleurvolle en uitgesproke N.G. Kerk leraar wat hou van die Woord en die Waarheid - waar sal hy daar inskakel met sy besondere gawe om siele te wen vir Jesus?

Met dieselfde passie as wat hy die GOEIE NUUS en die goeie Basiese Begrippe van Christen-wees by Mt Sheba en vele ander gemeente-seminare aangebied het, sal ons dit voortsit by Mt Warning (naby Crabbes Creek waar ons gaan woon), ook in die sneeuvelde bokant Melbourne, tussen die boere in Wes Australië; maak nie saak waar nie, Sjina ook, solank Jan en ek kan toesien hoe “bokke” “skape” word. Daar’s genoeg Christene wat vir ons wag om saam te span en ons te help om Afrikaans en Engelssprekendes na die Here te lei. Wat ‘n enorme voorreg! Ons is mos toegeruste sendelinge vanuit ‘n lieflike Suid Afrika met ‘n Dwight L Moody missie: “ Ons is oppad hemel toe en ons wil soveel as moontlik mense saam met ons vat!” Ook Australiërs. Ons vriend Harry in Engeland se tereg: “Mission is the Church in love with the whole world!”

Die afgelope paar jaar besoek julle Australië gereeld - wat kan jy ons vertel van die Suid-Afrikaanse gemeenskap en kerkopset in Australië?

Ons weet dat daar wel ‘n Afrikaanse gemeente of meer in Perth is. Ons gaan na die Ooskus wat dig bevolk is.
Ons wil egter nie ‘n kerk stig nie maar kerk wees. Jan en ek glo, soos George Barna, Michael Frost, die Woord en vele ander christene, dat KERK ‘n werkwoord moet wees en nie ‘n selfstandige naamwoord nie.

As 'n mens na jou kyk, na jou luister of oor jou lees, lyk alles so in beheer, so 'n mooi en volmaakte prentjie - moes jy al ooit ook deur swaarkry gaan?

Swaarkry is ‘n “must have”. ‘n Christen kyk nie terug nie, behalwe na swaarkry  sodat sy met dankbaarheid ‘n tentoonstelling van Goddelike genade, geestelike groei en karakterontwikkeling kan aanskou. Brennan Manning som dit mooi op:
“Anyone God uses significantly is always deeply wounded... We are, each and everyone of us, insignificant people whom God has called and graced to use in a significant way. On the Last Day, Jesus will look us over not for medals, diplomas or honors, but for scars.” Daar is ‘n ander swaarkry wat met ons verhuising gaan einde kry en dis die verlange na ons kinders en kleinkind Lucca. Die Here wil darem dat families ‘n billike kuierafstand van mekaar woon. Na 9 jaar se verlang kan ons kinders nou ook DV, op ons stoep kuier en wil ons die kleinkinders cuddle en bederf. Die lewe is kort en as ons, soos Psalm 90 vertel, dalk 75 of 80 gaan word het ons nog net tussen 11 en 16 jaartjies oor... Genadiglik kon ons ses dekades in ons wonderlike land beleef. Ons slaapkamerfoto getuig van 37 jaar wat vinnig en interessant vebygesnel het. Van bo na onder: Eugene en Henke du Plessis in Sydney,  hulle seun Lucca, ek en Jan 1970, Daniel en Melissa Grey van Pretoria wat in November die eerste Jon Phoenix Grey verwag, Michael en Sozon Smith in Sydney en Meyer Greydie jongste seun in Byron Bay waar hy digitale film produksie studeer.

Die afgelope 25 jaar het jy in die harte en handsakke geklim van vroue regoor Suid- Afrike en Internasionaal met jou "Dagboek vir 'n Dame" en besondere motiveringspraatjies - is jy nou verlore vir die vroue van Suid-Afrika?

Nooit nie, ek het ‘n gevoel dat die beste nou voorlê! Die Dagboek beloof om nooit op te hou verras nie. Ek geniet idees en bydraes van die gebruikers. Daarom is daar vir 2008 (reeds op die rakke) bo en behalwe, die handsakgrootte dagboekie,  ook ‘n Sakevroue Dagboek vir ‘n Dame – identies behalwe dat sy groter is en spog met 16 ekstra bladsye.  Die geestelike impak van die skryfbehoeftereeks is verblydend. Ek sien uit om ook met my motiverings-geselsies in Australië te begin. Die Greys sal gereeld In SA kom seminare aanbied soos wat alle rondreisende evangeliste wêreldwyd dit doen. Ons sal egter nie hierdie heerlike uitdaging sonder die Christene in Suid Afrika se gebedsondersteuning wou aanpak nie.  
My Lady Grey Collections se hoofkantoor het verhuis 4 Images, in Persequorpark in Pretoria. Ek het die administratiewe leisels aan Nicolene my vennoot oorhandig en ons sal daagliks per epos saamwerk. Nou kan ek fokus op die kreatiewe aspek van ons produkte en ook my AustralAsië mark uitbrei.


Hier staan ek in die deur van my ateljee waar ek die afgelope 17 jaar in die weelde van ‘n inheemse bos kon skep, skryf en bid. En dankie aan al die lojale Dagboekaanhangers. Kom vereer my met ‘n kuiertjie in Crabbes Creek, in die reënwoud waar ek net nog mooier goetertjies gaan ontwerp.

 

Elise, ons die Joy lesers wil graag vir jou en Jan vryspreek om ook in Austalie die "bokke" in "skape" te gaan verander en voort te ploeg met die wonderlike werk en roeping op julle lewens. Julle is een van die kleurvolste gesinne wat Suid-Afika verlaat om ewigheids-kleur te gee, daar waarheen julle nou geroep is!

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication