Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie?

1 Korintiers 4:7

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View October 2011 Issue >>
 

Wat Dan van Sonde?


Dit wil voorkom asof die woordjie sonde besig is om uit ons woorde­skat te verdwyn. Dié tendens kan waarskynlik toegeskryf word aan die feit dat die konsep van sonde in ons samelewing as oudmodies en irrelevant beskou word. Terwyl die grense tussen reg & verkeerd, eties & oneties en moreel & immoreel besig is om vinnig te vervaag, bevind ʼn groeiende aantal mense hulleself in ʼn  grys moeras van onsekerheid.
 
‘Verbruikersvriendelike terme’
Die woordeskat van die moderne mens ten opsigte van etiese  en morele kwessies het die laaste tyd dramaties verander. Ons sien deesdae hoe dinge wat vroeër as sonde beskou is, nou in ‘verbruikersvriendelike terme’ verpak word:

alkoholisme is eerder ’n chemiese afhanklikheid;’
trots
is ʼn meerderwaardigheidskompleks’ of ’n ‘opgeblase ego;’
ontug
staan bekend as ‘vrye liefde;’
sodomie
is nie meer ʼn  gruwel nie, maar net die logiese uitvloeisel van mense se alternatiewe seksuele oriëntasies;
pornografie
word bemark as ‘volwasse vermaak;’ in die dampkring van liberale godsdiensvryheid word daar selfs akkommoderend na sataniste verwys as die Luciferian Society;
aborsie
is nie meer moord nie, maar wel die geaffekteerde individu se keuse en reg in terme van die grondwet;
wellus
word effektief aangewend as ʼn  bemarkingstrategie by die verkoop van bykans enige produk; ongetroude paartjies ‘leef saam’ en leef nie meer ‘in sonde’ nie.

Die gebruik van moderne terapeutiese taal soos selfbeeld, selfverwesenliking, selfvertroue en selfliefde het daartoe bygedra dat tradisionele waardes soos nederigheid, naasteliefde, altruïsme en ʼn lewe in afhanklikheid van God al minder byval vind.

In die wêreld, maar nie van die wêreld nie

In skerpe kontras hiermee, kry gelowiges in Rom 12:2 die opdrag om nie aan hierdie wêreld gelykvormig te word nie. Ons weet dat God die maatstaf vir alle waarheid is, dat sy Woord die waarheid is en dat sy Gees die Gees van waarheid is wat ons in die hele waarheid lei! God se ingeplante woord en sy inwonende Heilige Gees stel elkeen van ons dus in staat om tussen die waarheid en (selfs die mees subtiele) leuen te kan onderskei. Ons hoef dus nie deur hierdie stroom van verwarring en misleiding meegesleur te word nie!

Omdat God sonde haat en op die naam noem, is dit van die uiterste belang dat ons, as Sy Liggaam, stroom-op swem en duidelik standpunt inneem wanneer die grense tussen reg en verkeerd dreig om te vervaag.

Wet vs. Genade
Die vraag is dus nie of ons stroom-op moet swem nie, maar eerder hoe ons te werk moet gaan om effektief lig en sout te wees. Geslagte lank het ʼn  groot deel van die Kerk verkeerdelik geglo dat, deur die wet te preek,  ʼn  heilige lewenswandel  bevorder word. Ons teenvoeter vir die toename van  sonde  was  gewoonlik om die wet en veroordeling te preek.
Die teenoorgestelde is egter waar, want volgens 1 Kor 15:56 is die krag van die sonde die wet, en volgens Rom 6:14 sal die sonde nie oor ons heers nie, want ons is nie onder die Wet nie, maar onder Genade!

In Joh 1:17 lees ons dat die Wet deur Moses gegee is, maar dat Genade en waarheid deur Jesus Christus gekom het. Daar is dus ʼn  diep kloof tussen die Wet aan die een kant en Genade aan die ander kant:

die Wet vereis geregtigheid van die gevalle mens; Genade skenk geregtigheid aan die gevalle mens; die Wet veroordeel die bestes onder ons, terwyl Genade die slegstes onder ons vryspreek; die Wet plaas die fokus op wat die mens moet doen; Genade plaas die fokus op dit wat Jesus reeds op Golgota gedoen het!

Genade ʼn  leermeester
Talle mense dink dat, deur Genade te beklemtoon, ons mense sal aanmoedig om in sonde te volhard. Niks is egter verder van die waarheid nie. In Titus 2:11 – 12 sê Paulus dat Genade ʼn leermeester is wat ons leer “om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, (en) ingetoë en regverdig en vroom in die teenswoordige wêreld te leef.”


Nie net kom ons deur Genade tot redding nie, maar ons handhaaf ook ons dag-tot-dag-verhouding met God deur Genade. Kol 2:6 sê “Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom.”

ʼn  Geestelike hartoorplanting
ʼn  Ware gelowige is nie iemand wat God deur uiterlike pogings tot wetsnako­ming probeer behaag nie, maar ʼn  persoon wat tydens wedergeboorte (sien Joh 3) ʼn  geestelike hartoorplanting ondergaan het. ʼn  Geestelike hartoorplanting, en nie wetsnako­ming nie, is juis die effektiefste teenvoeter vir sonde!

Van die lewensveranderendste gebeure in die mens se lewe vind plaas tydens we­dergeboorte. Eerstens vind daar ʼn  inplan­ting van die Goddelike natuur plaas. Dit blyk duidelik uit skrifgedeeltes soos 2 Pet 1:4: “ ... sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur ...”

Wedergeboorte
Die feit dat Christus nou in die gelowige is, het verrykende gevolge: i) omdat die Goddelike natuur, asook God se agape liefde (sien Rom 5:5) nou in ons harte gedeponeer is, kan die gelowige se karakter na die gestalte van Christus verander (Ef 4:13, Rom 8:29); ii) die gelowige besit nou die begeerte en vermoë om God se Wil te doen. Fil 2:13 sê “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae;” iii) Christus in ons, is nou ons hoop op heerlikheid (Kol 1:27). Tweedens vind daar tydens we­dergeboorte ʼn verandering van koninkryke plaas. Kol 1:13 sê ”Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde.”

Ons word dus tydens wedergeboorte gered uit die koninkryk van duisternis en in die koninkryk van die Seun geplaas. Koninkryk impliseer heerskappy en dui daarop dat die gelowige nou as’t ware onder nuwe bestuur, naamlik dié van die Heilige Gees, geplaas word. As burgers van hierdie nuwe koninkryk het gelowiges nou die begeerte en vermoë om hulle vrywillig aan hierdie heerskappy te onderwerp. Sodanige onderwerping lei toenemend tot ʼn  lewe van oorwinning oor sonde.

Genade en
Heiligmaking

Genade is ook die onderbou van heiligmaking (sien Titus 2:11–14). Paulus wou nie hê dat die Korinthiërs by redding volstaan nie, maar ook dat hulle geestelik in die Genade van die Here groei. In 2 Kor 1:15 lees ons: ”In hierdie vertroue wou ek vroeër na julle kom, dat julle ʼn  tweede genade kan ontvang.”  Wanneer die Heilige Gees ons tydens wedergeboorte wederbaar, bedien Hy die eerste genadewerk van redding aan bekeerlinge. Wanneer Hy ons daarna vervul en vir diens toerus, doen Hy die tweede genadewerk van heiligmaking in ons le­wens. Dit is moontlik danksy die voltooide werke van Jesus aan die Kruis en daarom ontvang ons uit Sy volheid Genade op Genade! (Joh 1:16).
       
Die sleutel
Die korrekte benadering ten opsigte van sonde is beslis nie om kompromieë daarmee aan te gaan nie – kompromieë maak ons kragteloos! Die antwoord is ook nie om sonde in ‘verbruikersvriendelike terme’ te verpak en sogenaamd met jou sonde/swakhede vrede te maak nie.

Ons moet sonde op die naam noem en daaroor heers. Dit is egter ook kontra-produktief om die wet en veroordeling te preek wanneer ons sien dat sonde toeneem! Die sleutel wat God die Kerk gegee het en waarmee ons die deur na volhoubare ver­anderde gedragspatrone kan oopsluit, is Genade, wedergeboorte en heiligmaking. Hoewel ons kan verstaan dat die regerings en o­werhede van hierdie wêreld poog om die gedragspatrone van ʼn  gevalle mensdom met wetgewing te reguleer, is dit nie die aangewese roete vir die Kerk nie.

Wedergeboorte is die oplossing, omdat die natuur van Christus dan in ons gedeponeer word en daar ʼn  verandering van koninkryke plaasvind. Dit is hierdie geestelike hartoorplanting wat ons in staat stel om oor sonde te heers en om heilig te leef! Kom ons verkondig daarom met nuwe ywer die boodskap van wedergeboorte – dit alleen kan harte verander en blywende heilige gedragspatrone tot gevolg hê!

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication