Vertrou jou lewe aan die Here toe. Vertrou Hom en Hy sal vir jou sorg.

Ps 37: 5.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View February 2012 Issue >>
 

Twaalf jaar gelede het ’n jong sangeres van Namibië die musiekwêreld soos ’n storm getref toe sy ‘Crescendo 2000’ gewen het. Riana Nel, boorling van Windhoek, Namibië, het daarna behoor­lik in die SA Gospelmusiekbedryf wortelgeskiet. JUIG! het met haar gesels om meer oor dié talentvolle en uitgesproke volgeling van Jesus uit te vind.
Wanneer het jy jou hart en lewe aan Jesus oorgegee?
Ek het daar op ’n berg net buite Windhoek gesit en al was ek maar net so omtrent 10 of 11, het ek daardie dag sommer in trane uitgebars oor die sons­ondergang. Ek huil in elk geval maklik, maar op daai oomblik het ek besef God is persoonlik en naby! Ek is in Hom en Hy in my! Nooit sal Hy my verwerp nie; ek is deel van Hom en hy aanvaar my nét soos ek is! Hy is so tevrede met hoe Hy my gemaak het! Op daardie berg het ek Sy aanra­king gevoel, Hy bestaan nie net in die teorie nie, maar is ‘tangible’...tasbaar.
Waar kom jou liefde vir musiek vandaan?
Grootgeword in ’n musikale huis én jy word natuurlik daarmee gebore. My pa kan die kitaar en mondfluitjie tegelyk speel en is iemand oor wie ek graag spog. My ma het ’n lieflike stem en so saam-saam het my ouers saam met ons kuiermense gesing. My sus, Nianell, het alte graag saamgesing, maar ek en my ander sus het eerder om die hoek weggekruip, ons was nie te mal oor die aandag nie. Ek het my lewe lank ge­stoei teen hierdie beroep, maar dit het my ge­kies! My so aan die kraag getrek, en ek weet dis wat ek moet doen! En waarvoor Hy jou roep, sal Hy jou toerus en lei! As God jou roep, sal hy die deure oopmaak en niks sal jou kan keer nie. Hy is die grootste promotor ooit! Nie mense nie. En dan bygesê... Die Here gebruik alte graag sy tyd, so wees geduldig!

Fokus jy hoofsaaklik op lof- en aanbiddingsmusiek of sing jy ook ander, sekulêre musiek?
Ek het drie Christelike albums gemaak en my laaste album, deur die Coleske-broers, is ’n sekulêre album. Musiek is ’n instrument om by die wêreld uit te kom. Vir té lank het ek toegelaat dat die boodskap net na dié wat dit reeds gehoor het, uitgaan: dis erg frustrerend vir iemand wat ’n evangelistiese hart het. Ek het toe met ’n sterk oortuiging ’n sekulêre album opgeneem wat steeds die Woord bevat. Ek het nooit gedink dat ek soveel teenkanting van Christene sou kry wat my daaroor kruisig nie. Ek het die grootste vrede oor wat ek doen en sien God in elke lied en elke CD wat verkoop. Ek weet ek kry dit nou reg.

Watter uitdagings moet jy as Christen in die Christen-musiekwêreld in die oë kyk?
Om eg te bly. Om nie ’n ‘selfrighteous’ masker op te sit nie. Mense het nodig om die swak jy en ’n sterk God te sien. Hulle ‘relate’ daarmee en dis selfs wat die wêreld raaksien; ’n mens bewys juis God se Genade deur dit nie te probeer bewys nie. Trots is altyd iets wat aan my deur klop en as ek kla en kla en kla, manifesteer dit in trots. “God resists the proud, but gives grace to the humble.’’ Ek probeer dus met my hele hart ‘dankie, dankie, dankie!’ sê en vertrou dat God die beste weet en altyd goed is!

Is jy deel van ’n spesifieke
gemeente?
Ek dink dis vreeslik belangrik om êrens ingeskakel te wees, om mense rondom jou te hê wat vir jou reguit vrae vra. Ek kies my kerk oor die Lewe, Woord en Gees wat daar is. Ware vriendskappe is baie belangrik! Ek het sulke mense wat my perspektief in my lewe gee. As my wasgoed op die grond lê, help hulle my om dit mooi op te hang. Ek maak seker dat geen muf in my kaste groei nie, alles moet in die lig wees!
Wat is dit omtrent mu­siek wat jou so opgewonde maak dat jy daarop fokus terwyl jy eintlik gekwali­fi­­­seer­ het as grafiese ontwerper?
Daar is soveel dinge wat my ‘laat tiek’ en ek het nog nooit goed in ’n ‘boks’ geaard nie. Ek doen alles waarvoor ek lief is. Hoekom nie? Ek voel net die gemaklikste met musiek, dis waarlik ‘effortless’ vir my! Grafiese ontwerp is iets wat ek doen as ek nie sing nie en nie andersom nie. Die Here praat met my deur die liedjies wat ek skep en ek gee woorde aan mense wat sukkel om te praat.
Jy dra die boodskap oor en kan selfs soms die manier waarop mense dink, beïnvloed! ‘Why do nothing when you can change the world?’ Nog iets wat my uiters opgewonde maak, is die spontane liedjies wat ek skep.
Dit wys die Heilige Gees wat deur die woorde praat, vir my en ek staan altyd verstom oor hoe Hy werk deur ‘toevallige’ woorde wat mense uitskreeu. ’n Mens is geneig om soms soos die wêreld se grootste skynheilige te voel as jy so preek deur jou musiek, liedjies en lewe... maar dis normaal. ‘I haven't arrived yet’, maar is in geloof op pad in my reis.

As jy voor ’n gehoor optree, wat visualiseer jy of waaraan dink jy?
Ek sal gereeld na die dak of in die ligte opkyk en dan is dit asof ek my Here oor my sien glimlag en hoor sê: “Ek is tevrede met jou voordat jy ’n noot sing my liefie!” Op daardie oom­blik is dit net ons twee.
Ek herinner my daaraan dat my aanvaarding nie in dit is wat ek doen nie, maar ín Wie ek is! Ek staan net voor mense omdat Christus my kwalifiseer en om geen ander rede nie! Dan... sing ek tot ek voel hoe my stembande dans en ek sommer net hardop wil lag van lekkerkry. Soms huil ek ook deur party ‘songs’. Dis lekker om nog te kan vóél hoe dit voel waaroor jy sing. Dis hoekom ek eer­der my eie liedjies wil skryf en sing!

Jy is ook ’n ywe­rige wêreldreisi­ger en het reeds verskeie ander lan­de besoek. Waar­om het jy te­ruggekom SA toe terwyl jy tog die wêreld voor jou oop gehad het?
Ek dink nie my reise is al verby nie, daar is nog baie planne en drome! Enige kind van God wat ’n baanbreker is, DROOM nog groot...ja, uit jou begroting uit.
Ek weet God het vir my ’n boodskap gegee vir alle mense, maar veral vir mý mense. Ek weet dat dit nóú die tyd vir my is om tuis te wees en in my taal te sing. Ek verstaan die Afrikaner-hart, sy seer en sy kommer: ek is een. Ek’s nou nie Ester nie, maar ek voel die roep... vir ’n tyd soos dié! Ek sal nie stilbly nie! Ek sing net uit ’n hart vol van liefde!

Jou nuwe CD se titel is ‘Die Moeite Werd’. Waarop sinspeel die titel?
Elke seisoen wat ons beleef en elke berg wat ons klim, is die moeite werd, al voel dit nie op die oomblik so nie. God laat alles uitwerk volgens Sy Wil.
Ook ’n ‘prophetic statement’ dat vrouens weer moet begin glo dat hulle dit werd is om soos prinsesse hanteer te word en nie met die tweede beste tevrede moet wees nie. Dis snaaks hoe ek getoets word oor alles wat ek sing en skryf - ek moet verseker twee keer dink!

Sien Riana haarself ook as
‘getroud en as ma’?
Ja, maar daar is eers baie pret om te geniet en nog baie reis voor die regte man my sal kan inspan. Hy sal maar hard moet veg!
En wanneer dit gebeur, sal ek dit van die dakke af skreeu! So ’n ou sal sowaar iets wees om oor te spog! Daar is twee tipes vrouens wat enkellopend is: Dié wat bitter en kwaad is en dié wat desperaat is.
Ek wil nie een van daai twee wees nie, maar ’n vrou wat HOOP op haar God se perfekte tyd sodat dit Hom sal eer!

Enige bemoedigende woord vir ons lesers en vir jongmense in  2012?
Kom ons sê eerder dankie as om te kla! Soek Hom in alles en lag vir jouself as jy te diepsinnig raak. Mmmmm, doen elke week iets mal en buite jou roetine.
Weet dat jy niks anders as jouself hoef te wees om begeerlik te wees nie! ‘Expect God’s favour!’ En o ja...koop my CD en luister veral na snit nr. 11! 

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication