Maar die Woord van die Here, dit bly vir ewig. En hierdie Woord is die Evangelie wat aan julle verkondig is.

1 Pet. 1:25.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View June 2012 Issue >>
 

’n Nuwe stem het veral die geestelike musiekmark soos ’n storm op die oop see getref – Martha du Plessis. Sy is onder baie jongmense en kinders as ‘Juffrou’ bekend, maar hierdie vrou wat haar inspirasie uit die natuurskoon van Kommetje, waar sy deesdae woon, put, sing lof- en aanbiddingsmusiek tot God se eer. JUIG! het met haar gesels.

Martha, jy kom uit ’n toegewyde Christen-gesin. Wanneer het jy tot bekering gekom en het jy ’n spe-sifieke ontmoeting met die Here gehad?
Ek was van kleins af gelowig, maar het in graad 8 ’n oorgawe aan die Here gemaak. In daardie stadium het ek omtrent dag en nag Bybel gelees. Ek was nie altyd ewe toegewyd nie, maar my verhouding met die Here en liefde vir Hom het daarvandaan
net verder gegroei.

Jy het B. Mus. studeer en jy was betrokke by verskillende kore. Het jy toe al geestelike musiek geskryf en gesing of het julle hoofsaaklik op die sekulêre mark gefokus?
Die kerkkoor van die Studentekerk op Stellenbosch, waarvan ek lid was, het uit die aard van die saak geestelike musiek gesing. Pro Cantu het sekulêre sowel as geestelike musiek gesing en ek het toe reeds as solis graag ‘gospel’ gesing. In daardie stadium het ek nog nie eintlik liedjies geskryf nie.

Wat het jou laat besluit om ’n geestelike album op te neem?
Dit was altyd my droom om ’n geestelike album op te neem en op ’n manier uit te reik na ander mense en God se Naam deur my sang te verheerlik, want dit is my bedie-ning. Ek het egter ook ’n geruime tyd voor my egskeiding in 2009 met die woorde van Ps 63:5 ’n belofte aan die Here gemaak. In ’n tyd toe ek in ’n put was, het Hy my op ’n besondere manier geleer van die krag wat daar in lof en aanbidding is. Ek het ontdek dat wanneer ek God loof en aanbid, Hy my optel, troos en krag gee. Toe het ek regtig ’n liefde vir musiek waarin die Here se Naam grootgemaak word, begin ontwikkel. Met hierdie CD en met my bediening wil ek onder meer ander mense wat in moeilike omstandighede verkeer, ondersteun en met hulle die vertroosting wat daar in lofprysing en aanbidding is, deel.

Die titel van jou album is ‘Ek soek U, O God’. Waarop sinspeel die titel – jou eie persoonlike soeke?
Die titel sinspeel hoofsaaklik op drie dinge:
•  Ek is baie lief vir die lied omdat dit my eie daaglikse honger na God verwoord.
• Die spesifieke lied is die woorde van Ps 63 waaruit ek die belofte aan die Here gemaak het om Sy Naam groot te maak en Hy my gebed verhoor het.
• Dit is die boodskap wat ek wil uitdra: die belangrikste ding wat ons in hierdie lewe kan doen, is om God groot te maak.

Kommetje is ewe bekend onder kunstenaars en branderplankryers. Sou jy sê die plek inspireer jou geestelik of put jy nie noodwendig inspirasie uit die natuur nie?
Ek het ’n groot bewondering vir God se Skepping en is lief vir die natuur. Hier in Kommetje is ons bevoorreg om redelik na aan die natuur te kan leef met die berg aan die een en die see aan die ander kant. Dit is juis die natuurskoon wat my geïnspireer het om ‘Ek wil sing’ op hierdie CD te skryf.
Jy beskryf jou liedere as ‘die resultaat van gebed en verootmoediging’. Wanneer het jy begin ervaar dat God só met jou praat?
Ek stel nie daarin belang om net ’n paar mooi geestelike woorde op papier te skryf en daarvan ’n lied te maak nie. Dit is vir my belangrik dat ek in my verhouding en intimiteit met God moet groei en dit wat ek skryf, is ’n uitvloeisel daarvan. God praat mos deur verskillende dinge en wanneer daar so-iets op my hart is, bid ek dat God vir my die woorde en die melodie sal gee en ek probeer daaroor skryf.

Enige boodskap vir jong opkomende kunstenaars?
Hou aan om Hom te loof en prys, want ek het geleer dat God op wonderlike en onverwagte wyses werk.

Martha se debuut-CD is beskikbaar aan JUIG! lesers teen die spesiale prys van R100, posgeld ingesluit.
Vir bestellings of optredes kontak marthas.duplessis@gmail.com, of www.facebook.com/MarthaduPlessis, of 082 823 7553.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication