Jy moet die Here jou God liefhe met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.

Eksodus 20:1

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View May 2008 Issue >>
 

Kliniese Sielkundige Praat Oor Depressie

 

Twintig jaar gelede het ek Louis en Eulogy Kroon in Upington ontmoet en gedink: “Wat ‘n dinamiese paartjie!” Daar was Louis – die pragtige, groot, intellektuele man en aan sy sy was die kort, sprankelende Eulogy Kroon – voorwaar 'n mooi prentjie! Louis Kroon was toe reeds landswyd in die psigiatriese wêreld bekend as een van die top-psigiaters in Suid-Afrika. Veral die feit dat alles wat hy geleer het in verband met die heling van stukkende mense, volgens hom aan die Here en Sy Woord te danke is.

 

Ek het ook aan Louis 'n paar direkte vrae gestel en hier volg sy antwoorde daarop:

 

As ‘n psigiater wat sy kennis baseer op die Woord van God, wanneer en hoe het jy tot bekering gekom?

Alhoewel ek ‘n wonderlike praktyk gehad het, ‘n goeie vrou en kinders en allerlei stokperdjies, was daar tog ‘n gevoel van ontevredenheid in my lewe: ‘n soeke na ‘kannie kry!’ ‘n Leemte wat geliefdes en dinge nie kon vul nie. Eulogy het in 1968 tot bekering gekom en vir my begin bid. Op daardie stadium het ek geglo dat as ek sterf, die wurm sou seëvier en dis al. Ek het dit geglo alhoewel ek ‘n kerkganger was en myself as ‘n Christen beskou het. Ek het mos in ‘n Christen huis grootgeword…!

 

Deur ‘n boek “Gemartel vir Christus” deur Wurmbrand en deur sy getuienis, lees ek toe van hierdie wonderbaarlike  Liefde wat sy lewe gevul het en hom in staat gestel het om sy martelaars te vergewe en hul lief te hê. (Tot so ‘n mate dat party van hulle tot bekering gekom het). Ek besef toe dat Christus in Wurmbrand lewe en dat dit Hy is wat Wurmbrand in staat stel om Sy bonatuurlike Liefde uit te straal…en ek besef toe ook dat Christus nie net ‘n historiese figuur was nie, maar dat Hy waarlik vandag nog lewe in mense se harte en dat Hy mense in staat stel om bokant hulle omstandighede uit te styg.

Ek het besef dat ek nie daardie soort liefde in myself besit nie en dat Christus glad nie ‘n werklikheid in my eie lewe was nie. Daarop het ek, deur ‘n eenvoudige gebed, Hom gevra om in my hart te kom woon en van my die persoon te maak wat Hy wil hê ek moet wees. Daarna het my lewe drasties verander. Die leemte is gevul en ek het begin met die avontuur om saam met Jesus te wandel. My beroep het ‘n nuwe dimensie aangeneem. Ek het nie meer net na die mens se liggaamlike behoeftes omgesien nie, maar ook na hulle geestelike behoeftes.

 

 Wat het jou laat besluit om as psigiater te spesialiseer?

 Ek het besef dat om die Here waarlik as geneesheer te dien, ek meer moet weet van die mens se psige en dat die Here my mediese kennis wil gebruik in samewerking met sy genesende Woord. My basiese kennis van hoe om die Woord van God te gebruik het ek by Campus Crusade for Christ geleer. Verder het my studies van die Woord en my kennis van psigiatrie gehelp om die model wat ek in berading gebruik, te ontwikkel.

 

Speel Eulogy ‘n integrale deel ?

Verseker, sy is my mentor en my klankbord. Verder behartig sy ook die administrasie en besprekings. As ek ‘n geestelike laagtepunt bereik, is sy daar om my te herinner om weer my oog op Christus te vestig. Sy is my sielsgenoot.

 

Wat is  die redes vir die siekte van ons tyd, nl. Depressie?

Die moderne mens word blootgestel aan hoë standaarde van skoonheid, materiële besittings, geld en  prestasies. Solank as hulle tevrede is met hulle eie prestasies, gaan dit goed, maar indien hulle voel dat hulle tekort skiet aan die standaarde en hulle ervaar gereelde terugslae, kom daar ‘n gevoel van minderwaardigheid, hulle selfbeeld kry ‘n knou en dis dan wanneer depressie kan intree.

 

Die wêreld en die mense van die wêreld en veral die tydskrifte, nuus, TV en  boeke is geneig om op die negatiewe in die lewe te fokus. Mense ontwikkel geleidelik ‘n pessimistiese siening oor hulself en oor die lewe.

 

 

Mense soek hulle sekuriteit in mense en in hulle werk. Indien hierdie mense en werk nie voldoen aan hulle verwagtings nie, verloor hulle hul sekuriteitsgevoel en eventueel word die lewe sinloos. Hulle raak mismoedig, hulpeloos en magteloos.  So beland hulle dan by ‘n geneesheer wat hulle op medikasie plaas. Daar word geïmpliseer dat hulle nie in staat is om hulself te help nie en dat  medikasie die enigste antwoord is. Soms moet hulle op medikasie bly vir die res van hulle lewe.

 

Daar is ook onkunde oor hoe die Here mense kan genees deur die praktiese toepassing van die Woord van God. Ek vind dat daar ‘n gebrek aan kennis is oor die werking van die kruis, die vernuwing van die denke en oor geestelike oorlogsvoering…‘n stryd waarin die gelowige daagliks betrokke is…en hulle is nie eers bewus daarvan nie. Hulle weet net dat hulle omstandighede en die siekte baie erg is.

 

 

Baie Christene het  nie ‘n persoonlike verhouding met die Here nie,  maar is wel godsdienstig en  gaan kerk toe. Hulle verstaan nie die beginsels van Romeine 12: 1 & 2 en hoe om dit daagliks  in die praktyk daagliks toe te pas nie; om gedurig in gesprek (gebed) met Jesus Christus te wees nie.

 

So kan ‘n mens sien dat die groot probleem nie die omstandighede is waarin ‘n mens jouself bevind nie, dit is ook nie jou agtergrond wat jou lewe bepaal nie, dit is jou siening van die lewe. Dit is die gesindheid van jou hart wat die bepalende faktor is.

 

 

Medikasie is dan ook nie die finale antwoord nie. Sonder dat daar ‘n hartsverandering plaasvind, gaan die medikasie net die simptome verlig,  maar nie die onderliggende probleme regstel nie.

 

Wat is die eerste tekens van depressie?

 Ongelukkigheid met jou self, met ander en omstandighede - swaarmoedigheid.

 ‘n Negatiewe siening van jouself en ook sommer van alles, ja, die hele wêreldtoestand.

Moegheid

Onverklaarbare pyne soos hoofpyn, spierpyne, borspyn, maagpyn ens..

Moedeloosheid,magteloosheid en hopeloosheid.

Slaapsteurnisse.

Huil oor die geringste probleme.

Gevoel van minderwaardigheid, baie krities op jouself.

Skuldgevoelens.

Misbruik van middels soos alkohol, dwelms ens.

Uiterste simptome is ‘stemme’ wat die persoon aankla en veroordeel.

 

Let wel dat al die sogenaamde ‘simptome’ onderliggende negatiewe denkpatrone bevat. Deur die denkpatrone te verander en in lyn te bring met Christus se denke, begin genesing stadig intree. (Galasiërs 2: 20.)

 

Op jou ouderdom is die meeste van jou vriende al afgetree.  Wat motiveer jou om nog so voluit te werk met mense se probleme?  

Daar is ‘n groot behoefte by mense wat depressie en angs ervaar en nie met gewone berading of met medikasie gehelp kan word nie. Die moeilikste is om ‘n depressiewe persoon te motiveer om die beginsels wat ek vir hulle leer, toe te pas. Soos hulle die waarhede inneem en verpersoonlik, so vind die genesing plaas. Die Woord van God was as’t ware hulle harte en denke skoon en word die nuwe oorvloedige lewe in Christus ‘n werklikheid.

Deur mense te voer met God sebevestigende uitsprake, vind ek dat ek ook gedurig deur die Woord vernuwe word. So word my eie geloof ook versterk.

Dit help my ook om God se beginsels in my eie privaat lewe as ‘n lewenswyse toe te pas. En so verryk my lewe en ook my verhouding met Eulogy, my familie en my vriende.

Ek verskaf die gereedskap wat lei tot vernuwing wat hulle dan ook in staat stel om ander te help en so die goeie nuus van God se verlossing in Christus met ander te deel.

So word die groot opdrag vervul:   “Gaan dan heen, maak dissipels…en leer hulle die dinge wat Ek vir julle geleer het en Ek sal met julle wees tot aan die voleinding..” Matt. 28:19.

 

Die inspirerende oggend by Louis en Eulogy in hulle snoesige woning te Onrusrivier het so vinnig verbygevlieg en ek besef weereens dat as jy met Sy roeping in jou lewe besig is, geld die volgende ook vir jou soos vir Louis en Eulogy: ’Hulle voete is soos die van  ribbokke, hulle hardloop en word nie moeg nie!’

 

Om Louis te kontak, e-pos: mwlkroon@mweb.co.za

 

Ns: Die volgende JOY! Magazine/Klub 100-funksie vind binnekort plaas. Moet dit nie misloop nie!

 

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication