Maar die man wat julle in die verwarring bring, wie hy ookal mag wees, God sal hom straf

Galasiers 5:10

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View August 2012 Issue >>
 

In die meeste boeke en rolprente oor konsentrasiekampe, laat die skrywer God uit die prentjie – asof God nie met plekke waar sulke gruweldade plaasvind, versoenbaar is nie. Die held of heldin probeer die beste van die situasie maak, maar is heeltemal aan die willekeur van die wagte, en selfs die lewe, uitgelewer. Daar is geen God om hulleself na te wend nie. Maar dis nie die geval in hierdie ware verhaal van die 70-jarige Hea Woo* nie. Kort nadat sy in China tot bekering gekom het, het sy haarself in ’n Noord-Koreaanse arbeidskamp bevind. In hierdie dal van doodskaduwee, het God haar getroos en haar opdrag gegee om die Evangelie te verkondig…
Net soos sowat 25 000 ander vlug-telinge uit die Noorde, woon Hea Woo nou in Suid-Korea. Sy het nie lank gelede daar aangekom nie en sy sê: “Dit voel steeds asof ek op wittebrood is. Vir die eerste keer in my lewe is ek vry. Vry om te gaan waarheen ek wil, te doen wat ek wil en om Jesus openlik te aanbid.”

Vry uit die detensiekamp
Hea Woo is ’n kort, fyn en opgewekte vrou. Dit is moeilik om te glo dat sy etlike jare se detensie in ’n Nazi-agtige dwangarbeidskamp oorleef het. Dit was net drie jaar gelede dat sy letterlik by die kamp uitgehardloop het. “Die dag van my vrylating moes ek voor ’n enorme, elektriese hek staan en wag. Die oomblik toe dit begin oopgaan, het ek deur die smal opening gebeur. By die grootpad het ek net aanhou hardloop. Ek het nie één keer omgekyk nie.”
Lank voordat die Noord-Koreaanse geheime polisie Hea Woo na die arbeidskamp gebring het, het sy alreeds baie trauma verduur. Gedurende die Koreaanse Oorlog (1951-1953), toe sy ’n jong meisie was, het Noord-Koreaanse soldate die inwoners in haar dorpie beveel om na die Chinese grens te marsjeer. Dit het hulle twee maande geneem. Hulle het nagte deur gestap en bedags beskutting teen Amerikaanse bomwerpers gesoek. Hea Woo se pa, ’n dokter, het gesterf terwyl hy in diens van die weermag was.

Haar man vind die waarheid
In 1997 het Hea Woo se oudste dogter van hongersnood gesterf. Sy was maar in haar twintigs. Na haar dood het Hea Woo se man na China gevlug om kos in die hande te probeer kry, maar hy het soveel meer as voedsel daar ontdek. Hy het ’n Christen geword. Ongelukkig is hy gearresteer en teruggestuur. Hy is ses maande later in ’n Noord-Koreaanse tronk oorlede. ’n Paar van sy voormalige mede-gevangenes het Hea Woo besoek nadat hulle vrygelaat is, en haar vertel dat haar man hulle van Christus vertel het en dat hulle lewens as gevolg van sy getuienis verander is. “Ek was geskok om uit te vind dat my man ’n Christen geword het. Maar ek het instinktief besef dat hy die waarheid gevind het, terwyl ek, in daardie stadium, nog ’n leuen geleef het. Ek was oortuig: ons land se leiers was glad nie goddelik nie. Ek het na China gevlug en het na die enigste toevlugsoord gedraai wat ek kon vind: ’n kerk.” Daar het Hea Woo besluit om ook vir Jesus Christus te volg.
Na ’n paar jaar in China is Hea Woo gearresteer voordat sy na Suid-Korea kon vlug. Die twee Noord-Koreane wat saam met haar in ’n skuilhuis gewoon het, het na ’n kroeg gegaan, dronk geword en is deur Chinese polisiebeamptes gearresteer. Hulle het die adres van hulle skuilplek vir die polisie gegee en toe die polisie daar opdaag, was Hea Woo die enigste ander vlugteling op die perseel. Hulle al drie is aan die Noord-Koreaanse owerhede oorhandig.

Bid vir nog ’n kans...
“Ek was gelukkig,” sê Hea Woo. “Na tien maande in die tronk, is ek, ten spyte van my Christen-geloof, tot net ’n paar jaar in ’n arbeidskamp gevonnis. Maar ek het amper daar gesterf.” Na vyf maande in die tronk, het Hea Woo dodelik siek geword. “Die wagte het my na ’n hospitaal geneem en die dokter het aan hulle gesê dat ek net drie dae oorgehad het om te leef. Ek het tot God gebid en Hom gesmeek om my nie te laat sterf voor ek ’n kans gehad het om die wêreld van Noord-Korea en my man se geloof te vertel nie. Daar was sewe wrede wagte, en ek het God gevra om hulle te gebruik om my te help, selfs al was hulle deel van satan se weermag. ’n Wonderwerk het gebeur. Omdat die wagte geweet het dat ek siek is, het hulle vir my ekstra kos begin gee. Ek het geleidelik begin herstel...en na vyf maande was ek heeltemal genees. Dit was ongelooflik! Ek het geen medisyne ontvang nie. Dit was sekerlik God wat my aan die lewe gehou het!”
Toe het die dag aangebreek dat ’n groot trok Hea Woo en ander gevangenes by die tronk kom haal en na ’n arbeidskamp geneem het. Wanneer ’n mens haar uitvra oor wat die ergste gebeurtenis tydens haar verblyf in die kamp was, bly sy ’n ruk stil. Dan antwoord sy: “Ek kan jou nie sê nie. Elke dag was ’n marteling. Mense het gesterf en hulle lyke is verbrand. Die wagte het hulle as oor die pad gestrooi. Ons moes elke dag daardie pad stap en elke keer het ek gedink: eendag gaan die gevangenes ook oor mý loop.”

Getrou aan God
Maar sy volg dit op met ’n sterk stelling. “Ten spyte van alles wat ek deurgemaak het, het ek getrou aan God gebly. Ek wil hê jy moet dit neerskryf. Ek het getrou gebly en Hy het my help oorleef. Nie net dit nie, Hy het my ook ’n hart gegee vir die evangelisering van ander gevangenes. Ek erken dat ek bang was om dit te doen. Ek wou leef. Hoe kon God my vra om die ander gevangenes van Jesus te vertel? Ek sou sterf as hulle my ‘uitvang’. Maar God het volgehou. Hy het my gewys watter gevangenes ek moet nader. En dan het Hy my ’n gevoel gegee: ‘Dáárdie persoon. Vertel hom.’ Dan het ek na die betrokke persoon gegaan en vir hom of haar vertel wat in Handelinge 16:31 staan, dat mense in Jesus moet glo en dat hulle gered sal word. Dit was só ’n bemoedigende boodskap vir die gevangenes wat elke dag op die rand van die dood gestaan het dat hulle maklik en vinnig tot bekering gekom het. Nie net oor wat ek gesê het nie, maar hulle kon ook die Heilige Gees in my sien werk. Soms het ek van die bietjie rys wat ek gekry het aan ander gegee en wanneer van die mense siek was, het ek na hulle gegaan en hulle gehelp om hulle klere te was.”
En so het ’n geheime gemeenskap van Christene tot stand gekom. Hea Woo het nie ’n Bybel gehad om uit te lees nie; dus het sy die verse wat sy kon onthou, met die ander gedeel. Hulle het in die geheim op Sondae en op Kersdag op ongewone plekke soos die kleedkamer bymekaargekom en kort aanbiddingsgeleenthede gehad. “Ek het hulle gesange geleer en ons het baie sag gesing,” fluister sy. “Al vyf van ons het die kamp oorleef, omdat ons na mekaar omgesien het. Ons het nie in die moeilikheid gekom nie, ten spyte van ons geheime ontmoetings.”

Rykdom in haar hart
God het haar aan die lewe gehou in die Noord-Koreaanse dwangarbeidskamp en Hea Woo is steeds baie dankbaar daarvoor. God het ook haar gebed beantwoord om na Suid-Korea te gaan. “Ek is so gelukkig hier,” herhaal Hea Woo. “Ek is nie ryk in vergelyking met die meeste mense hier nie, maar ek het Jesus in my hart. Hy is die Herder van Psalm 23, die psalm van my lewe. Ek het daagliks daaroor gemediteer in die arbeidskamp. Ek was dalk in die tronk, maar dit het nie saakgemaak nie. Die situasie waarin ek myself bevind het, het geen impak op wie Jesus is, gehad nie. Hy is my Herder. Ek het vrede ervaar ten spyte van die omstandighede. Selfs al was ek in die dal van doodskaduwee, het ek niks gevrees nie. God het my elke dag vertroos. God het letterlik met my gepraat en aan my gesê dat ek Sy geliefde dogter is. Ek weet dat God ’n tafel vir my voorberei het en dat Hy my sal seën en verheerlik. Dalk in hierdie lewe, dalk in die volgende lewe. Dit maak nie saak nie. Ek sal vir ewig met Hom woon en wandel.”
 *Hea Woo is ’n skuilnaam om haar identiteit te beskerm.

Neem asseblief ’n paar minute en bid vir ons vervolgde broers en
susters in Noord-Korea:

•     Bid vir al die Christen-gevangenes; dat hulle nooit alleen sal voel nie en sal weet dat Jesus by hulle is. Bid dat God hulle die krag sal gee om die
daaglikse marteling te kan deurstaan.
•     Bid dat God die Christene op elke moontlike manier sal beskerm, veral teen geestelike aanvalle. Bid dat hulle in staat sal wees om diegene wat hulle leed aangedoen het, te vergewe.
•     Bid vir daardie gevangenes wat gelukkig genoeg is om vrygelaat te word – bid dat God hulle sal genees en hulle sal versterk soos hulle hul lewens herbou in ’n vyandige omgewing.
•     Bid vir sendelinge en organisasies soos Geopende Deure, wat die Liggaam van Christus, bedien.

Ondersteun Asseblief die Vervolgde Kerk!
Skryf • Bid  • Gee • Reis

Geopende Deure is ’n internasionale bediening wat vervolgde gelowiges bedien. Jou bydrae (van finansies, gebed, briewe skryf, ens.) kan ’n daadwerklike verskil in vervolgde gelowiges se lewens maak.
Besoek asseblief www.opendoors.org.za of skakel 011 888 9341, vir meer inligting.
–saamgestel deur Elrinda du Toit

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication