Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in Sy Naam die lewe kan he.

Joh. 20:31.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View August 2012 Issue >>
 

Ons was op pad terug na die basis op Omathiya – in die destydse ‘rooi gebied’. Ek was op die agterste voertuig wat ingesleep moes word omdat dit gebreek het. Skielik het die voertuig waarop ek was, heen en weer begin swaai en ek het geweet iets is verkeerd. Binne ’n breukdeel van ’n sekonde het die voertuig omgeslaan, ek het die gras getref, gegly en die volgende oomblik het een van die noodwiele wat los gelê het, my met groot impak teen die lae rug getref. My rug is met die slag gebreek.”

Altyd waar gevaar dryg
Anthonie (Anton) Franken is in 1968 in Ermelo in Mpumalanga as die oudste van vier seuns gebore. Van kleins af was hy maar altyd daar waar die gevaar gedreig het. Na skool is hy vir twee jaar weermag toe waarvan hy die tweede jaar op die grens van die destydse Suidwes-Afrika moes deurbring. Die ‘Kwe 100-ammunisievoertuig’ waarop hy en 15 ander was, het gebreek en moes ingesleep word.
“Daar was ook los nood-wiele agterop die ammunisie-voertuig waar ek in die een hoek gesit het. Toe ons deur die rooi gebied na ons basis terugry, het die ‘Kwe’ begin swaai en ek het in my binneste geweet dat iets verkeerd is. Ek onthou alles asof dit gister was. Dit was die reënseisoen – 31 Januarie 1989 – en ek was verbonde aan 61 Meg Bn-veggroep met ’n formidabele reputasie.”

“Here, help my!”
“Die angs, magteloosheid en totale verlatenheid wat ek op daardie oomblik ervaar het, onthou ek vandag nog in detail. Ek was 19 jaar oud, 2 000 km van die huis af en al waaraan ek kon dink, was my familie. Ek het net uitgeroep: ‘Here, help my!’ Omdat dit donker nag was, gereën het en daar chaos was, het iemand op my rug getrap terwyl ek in die gras gelê het. Vyf en veertig minute later het ek die Puma in die verte hoor dreun en het ek moed geskep. Ek en my maat wat kopbeserings opgedoen het, is op die ‘Casavac’ gelaai en na Ondangwa gevlieg. Die X-straalmasjien het nie gewerk nie en daar kon nie tóé vasgestel word hoe erg my besering was nie. Die volgende dag is ek per vliegtuig na 1 Militêre Hospitaal in Voortrekkerhoogte geneem. Daar is vasgestel dat my rug-werwels vergruis is, maar ek moes 10 dae wag voordat die ortopeed vanaf Amerika teruggekeer het. ’n Fusie is gedoen en skroewe is in my rug geplaas, maar my kans om ooit weer te kon loop, was 0%.”

“God, hoe kon U dit toelaat?”
Rebellie, woede, aggressie, oorgawe aan drank en totale wanhoop het gevolg.  Die grootste uitdaging van Anton se  lewe het gevolg. Negentig operasies in die daaropvolgende 23 jaar het gevolg, maar dit kon nie verhoed dat sy bene by die heupe geamputeer moes word nie. Anton het ’n hele paar maal by die dood omgedraai en was ’n baie moedelose man.
Drie jaar gelede het sy pad egter met ’n Christen-chirurg s’n gekruis en nadat hy deur die snydokter geopereer is en nog ’n aantal maande plat moes lê, kon hy weer regop sit en selfs kort rukkies rustig in ’n stoel sit.
“Terstond het ek besef dat ek nog in een stuk is en ek het begin om voluit te leef – soos nog nooit tevore nie! Saam met my vriend Martin trek ons groot vragmotors meters ver: ’n 10-ton-trok word 26 meter getrek, individuele trekke van 3.5 ton oor 30 meter volg en daarmee saam openbaar God Sy werk deur ons.”
“Martin, wat sy bene as gevolg van meningitis verloor het, en ek, het kragte saamgespan en ons het ‘Ampies op die Pad’ begin. Ons reis landswyd en getuig oor ons lewens by skole, kerke en instansies vir gestremdes deur hulle te bemoedig en by te staan. God het ons daar geplaas om mense te help om nie fokus te verloor nie. Môre is nie ’n waarborg nie, die tyd wat jy het, is geleende tyd en jy moet dit ten beste gebruik. Ampies bestaan nou al vier jaar en ons reik uit waar dit menslik moontlik is met alles tot ons beskikking.”

Diensbaar vir Hom
“Geloof, en nogmaals geloof en ’n verhouding met Jesus Christus help ons om die wa deur die drif te trek, ons kruis elke dag op te neem en vir Hom te getuig. Die oes daarbuite is so groot en arbeiders is so ontsettend min. Ons doen dinge nou wel op ’n ‘ander’ manier, maar ons weet ‘it’s not over until God says it is!’ Ek is net dankbaar dat ek, ten spyte van my gestremdheid, nog diensbaar vir Hom kan wees.”

Meer inligting beskikbaar: www.ampiesopdiepad.co.za
–getuienis van Anton Franken

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication