Maar die Woord van die Here, dit bly vir ewig. En hierdie Woord is die Evangelie wat aan julle verkondig is.

1 Pet. 1:25.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View August 2012 Issue >>
 

Ons het verlede keer lekker oor ’n besoek aan die Caprivi gesels. Aangesien dit ver is en brandstof lankal nie meer die goedkoper item op die inkopielys nie, wil ’n mens mos tog maar die maksimum uit ’n besoek so ver van die huis af haal…en dis teerpad al die pad...wel, nou dalk nie as jy daar van die Wes-Transvaal se kant kom nie...daar is die stukke pad langs die gewese teerpad blykbaar meer rybaar as wat die pad self vir ’n lang tyd was.

Verskillende roetes moontlik
Dit is belangrik om te weet dat dié gedeelte van die land nie net deur die suide van Namibië bereikbaar is nie. Jy kan deur verskillende grensposte vanuit Suid-Afrika deur Botswana, Caprivi toe ry, of jy kan die pad wat by die meeste van ons die bekendste is, naamlik dié oor Vioolsdrif en Noordoewer, gebruik.
Die afstande vanaf Johannesburg en Kaapstad tot op Rundu is die volgende: As jy van Kaapstad af sou ry en koers hou, reg noord, oor Vioolsdrift en Noordoewer, Windhoek verby tot in Rundu, gaan jy moet regmaak vir ten minste 2 200 kilo-
meter. As jy van Johannesburg af ry en jy wil in die Namibiese hoofstad ’n draai maak, ry jy deur Botswana, oor Kang, Gobabis toe. Vandaar is dit Windhoek en dan noord oor Grootfontein tot op Rundu, 2 100 kilometer. Die voordeel vir die Gautengers is dat hulle nie oor Windhoek hóéf te ry nie. Hulle kan steeds oor Kang ry, maar dan noord bly en Namibië oor Ghanzi, Shakawe, deur die Mohembo-grenspos, langs die Okavango-rivier af binnegaan. Hierdie afstand is maar 1 650 kilometer tot op Rundu, maar jy hoef nie wes te draai nie. Draai oos as jy by B8 kom en jy wen nog 200 kilometer op pad Caprivi toe.

Mamili wag…
Hiervandaan kan jy nou koers kry oor die brug by Kongola al aan die oostekant van die Kwandorivier af, verby die Mudumu Nasionale Park op pad na Mamili.
Die Mamili Nasionale Park is ’n ongerepte deel van Namibië wat deur baie min mense besoek word. Om egter hier ’n draai te maak, is ’n ware avontuur. Jy sal net seker moet maak jy is goed toegerus. In Mamili is daar geen luukses nie. Geen storte, toilette of afgekampte kampeer-plekke nie. Geen brandstof en geen winkels of selfs ’n snoepie nie...
In die ‘nat seisoen’, en sedert 2005 voel dit al soos ’n onophoudelike nat seisoen, is dit moeilik om deur die kanale te beweeg. Die hele vleiland vorm deel van die Linyanti-moeras.

Voëlparadys soos min
Die twee eilande, Nkasa en Lupala in die Kwando-/Linyanti-rivier, vorm die kern van ’n besoek aan die gebied. Dit is ’n voëlparadys en groot troppe olifante en buffels kom ook hier voor. Indien jy dalk in die water sou beland, kan herwinning ’n nuwe uitdaging wees. Jy sal die sleeptou aan die vasgevalde voertuig met die een oog moet dophou terwyl die ander oog op die omgewing rondom jou moet wees. Daar mag dalk net ’n grote krokodil vir sy nuutgevonde prooi wag, of ’n paar seekoeie is dalk ook deur jou ontydige besoek versteur.

Nie vir die witlakentoeris nie
Ten spyte van alles, bly dit ’n besoek werd. Nie vir die witlakentoeris nie, maar vir die persoon wat so bietjie meer as die gewone wil sien, kry Mamili ’n duidelike regmerkie op my lys. Daar is vandag maar min plekke waar jy kan gaan en byna geen ander toe-riste sien nie, maar ’n goeie kans het om troppe olifante, buffels, leeus, hiënas, luiperds en baie bokke saam met voëls, soos die lelkraanvoël, rooikeelreier, en nog baie, baie meer, te siene sal kry.
Toegangspermitte is by die toerismekantoor in Windhoek of Katima Mulilo verkrygbaar. Daar is ook kantore op Susuwe, Nakatwa en Shisinze. Die beste plan bly maar nog steeds om dit reeds in Windhoek of Katima te bekom. Die kantoorroetine doer ver is maar nie altyd na wense nie.

‘Vic-valle’ ’n móét
Hoewel ons in hierdie reeks artikels oor Namibië en die kuierplekke in Namibië gesels, is dit tog belangrik om te besef dat as jy reeds so ver gereis het, die Victoria-waterval binne jou bereik is. Dit is ook belangrik om te weet dat jy vanuit die Kaap of Johannesburg op goeie teerpad tot by die waterval kan ry. Jy kan ook die ‘Valle’ vanuit Zimbabwe of Zambië besoek en besigtig. Jy sal nou wel ’n klompie reëlings moet tref as jy alles by die onderskeie grensposte wil laat vlot, maar dis tog die moeite werd.

Winter is voorkeurtyd
Wanneer jy sou besluit om die Victoria-waterval te besoek, probeer om dit in die droër tyd van die jaar te doen. Die laat wintermaande is my voorkeurtyd. Die water is aansienlik minder as in April- en Meimaand wanneer almal gewoonlik tydens die skoolvakansie daar wil uitkom. Die minder water maak dit egter ’n skou-spel met foto- en besigtigingsgeleenthede wat die vol Zambezi net na die reënmaande verreweg oorskadu.

NEAL VAN DEN BERG is besturende direkteur van Me­dia vir Christus/Kanaal 7, Namibië. Skakel +264 (61) 235 815 of besoek www.k7.com.na

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication