Vra My, en Ek sal jou antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel. Dit is nog vir jou n geheim, en jy weet niks daarvan nie.

Jer 33:3.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View October 2012 Issue >>
 

Net soos baie ander mense staan ons, Afrikaners wat glo in die Genade en krag van God, tans voor geweldige uitdagings. Een daarvan is dat baie van ons nou deur wetgewing ons posisies, inkomste en aansien kwyt is. Die vraag is: Hoe moet ons hierdie uitdagings met die hulp van die Here aanpak en daarvan ’n sukses maak?

Waarvan praat ons?
Ons praat van ’n spesifieke groep mense (onder andere moontlik ook lesers van JUIG!) wat ’n belangrike bydrae t.o.v. nasiebou, ekonomiese groei, politieke stabiliteit, sowel as persoonlike groei en finansiële sekuriteit kan lewer. Ons praat van ’n beduidende deel van ons samelewing wat die reg op die handhawing van hulle godsdiens en kultuur en eie identiteit het – sonder dat dit deur ander as negatief belewe hoef te word. Maar ons praat óók van mense wie se kollektiewe identiteit ná die ineenstorting van die onmenslike apartheidsbeleid geweldig bevraagteken word.
Dit is mense wat in die onlangse verlede reuse omwentelinge moes meemaak. Sowat van ’n politieke en maatskaplike ommeswaai was ’n bietjie meer as ’n dekade gelede vir die meeste Suid-Afrikaners nog heeltemal ondenkbaar. Die persoonlike impak daarvan was selfs vir gelowige Afrikaners só erg, dat baie van hulle land-uit is. Baie ander sou ook wou ‘verhuis’, maar beskik nie oor die ekonomiese middele om te emigreer nie. Vir die jongklomp was dit ietwat makliker, veral vóórdat die huidige finansiële krisis soos ’n donker wolk oor Amerika en Europa begin saampak het.

Nuwe toetreders tot die mark sukkel
Wat nou gemaak vir dié wat te lief vir die land is om te emigreer, of wat doodgewoon nie ’n ander keuse het as om te bly nie? Baie mense het hulle werk verloor a.g.v. wetgewing om regstellende aksie te bevorder. Baie ander doen nie eens meer die moeite om vir werk aansoek te doen nie omdat hulle ervaar dat teen hulle gediskrimineer word. In die proses het baie Afrikaners begin verarm. Ook nuwe toetreders tot die arbeidsmag sukkel om in diens geneem te word. Is daar ’n uitweg?
Ons het in die verlede daaraan gewoond geraak om die begunstigdes van die samelewing te wees. Vir ons was goeie onderwys en opleiding ’n gegewe. Werksgeleenthede was volop. ’n Inkomste was vanselfsprekend vir iemand wat bereid was om te werk. Dit het met ’n hele leefwyse gepaard gegaan. Nou het die voorheen-begunstigdes egter die benadeeldes geword. Hoe hanteer ’n mens dit?

Delf in die verlede
Ons moet ’n bietjie in ons eie verlede gaan delf om by die antwoord uit te kom: die Afrikaner het deur die Genade van God die vermoë gehad om groot uitda-gings die hoof te bied. Toe Brittanje ons voorvaders in die Kaap onderdruk het, het hulle die Groot Trek aangepak.
Ná die Anglo-Boereoorlog het die Afrikanervolk uit die as opgestaan en die bloedige teenslae van die verlede met harde werk en kreatiwiteit oorwin. In die depressiejare van die 1930’s het  Afrikaners weer deur vindingrykheid en deursettingsvermoë, namate die omstandighede genoodsaak het, oorleef. En hulle geloof in God was deurlopend die grootste enkele faktor wat hulle deurgedra het. ’n Lewe sonder hierdie geloof is vir die Afrikaner, histories, ondenkbaar. Dit het ons voorgeslagte gehelp om nooit te gaan lê nie.

Eie inisiatief noodsaaklik
Die uitdaging vir alle Suid-Afrikaners (nie net Afrikaners nie!) wat nou deur wetgewing hulle posisie, aansien en inkomste kwyt is, en boonop ook verhinder word om weer vir soortgelyke betrekkings aansoek te doen, is om met die krag van Bó sélf inisiatief aan die dag te lê en met iets nuuts en innoverend te begin, al is dit ook aan die begin klein en onaansienlik en al weeg dit nie op teen waaraan jy gewoond was nie.  Maar dan moet ’n mens nié toelaat dat jou trots jou verhinder om te doen wat jy in gedagte het nie. Die soort trots wat dink: ‘Dis benede my om met minder tevrede te wees as waaraan ek gewoond was. Wat sal mense van my dink?’
So beskryf Maretha Maartens dit onlangs op Facebook: ‘Verlede Sondag deur Petrusburg gery, foto’s geneem, my ou klim-denneboom gaan besoek, tant Mollie Strachan se vleispasteie, nou deur haar dogter gebak, gekoop en geëet. Lekkerste vleispasteie in die land, by die vulstasie net oorkant die Groot Trek-monument en direk langs die verbypad Kimberley toe. Volpunte! Maar, kyk, nou word ek kwaad en skaam vir ONS, vir die nageslag van konsentrasiekampmense en voorouers wat na die ABO ’n verskroeide binneland heropgebou het. Waarom nie Petrusburg (of enige ander plek) se vervalle stasiegeboue in ’n gemeenskapstuisnywerheid langs die treinspoor omskep en aansoek doen dat die trein weer daar stop nie?
Waarom net bly kla oor ons nuwe vervalle landskap? God help ons met die menslik onmoontlike. Die menslik moontlike, weet ons darem seker al, laat Hy aan ons oor. Dis tyd vir nuwe drome, ’n nuwe, daadwerklike ABO-inisiatief: Almal Bou Op. Uit die glasskerwe van gebreekte ruite, uit vervalle geboue en die vuil, flougeskrikte platteland kan daar nou iets nuuts verrys: skoonheid uit as, werk en inkomste uit die wil van mense wat juis met die oog op ’n tyd soos hierdie in Suid-Afrika is. Ek weet nie wie van ons gebore is om die gawe van kla voluit te beoefen nie, maar dit is ’n  Skrif-feit dat daar oral mense is aan wie die gawe om leiding te kan neem, gegee is. Kom uit julle skuilplekke! Dis ABO-tyd!”

Bydrae tot  ekonomiese groei
Op die lange duur kan inisiatiewe soos dié waarvan sy skryf ’n belangrike bydrae tot die broodnodige ekonomiese groei en maatskaplike en politieke stabiliteit van die hele land lewer. So bereik ’n mens veel meer as om slegs jou eie finansiële sekerheid te vestig: jy skep werk. En as daar nou een ding is waarsonder hierdie geliefde land nie veel langer kan oorleef nie, is dit juis werkskepping. Armoede is waarskynlik SA se grootste enkele bedreiging. Clem Sunter sê: “Almal kan nou stem, maar daar’s steeds ’n massa mense wat nie regtig ’n manier het om deel te neem aan die ekonomie nie. Dis hoekom ek aanhoudend skryf oor die kleinondernemingswese en maniere om ’n meer demokratiese ekonomie te skep, in plaas daarvan om die groot rolspelers...soos die myne en banke te nasionaliseer...
Daar’s ongeveer nege miljoen klein sakeondernemings by ons, en as elkeen van hulle een ekstra persoon in diens neem, is nege miljoen werkgeleenthede geskep...kyk net hoe goed het Afrikaners as entrepreneurs gevaar sedert hulle vanaf 1994 nie meer ’n veilige hawe in die openbare sektor of groot ondernemings kon vind nie...die Lonmin-ramp en die onlangse betogings in die Kaap is gevaarlik naby aan die soort voorvalle wat ons kruitvat kan laat ontplof. “(Die Burger, 8/9/2012).

Gewone mense kan help bou
Om met ’n nuwe kleinonderneming te begin, is ’n wonderlike uitdaging vir mense wat oor die nodige kundigheid beskik en die wilskrag en moed het om deel van ’n proses te wees wat veel wyer strek as net persoonlike voordeel. Ons land gaan nie slegs deur groot politieke besluite van die afgrond gered word nie, maar ook, en veral deur, gewone mense wat bereid is om stukkie vir stukkie aan ’n gesonde ekonomie te help bou, en só die dreigende politieke ramp die hoof te help bied. As die derduisende bekwame mense wat tans werkloos is, bereid is om met iets nuuts te begin en ook vir ander werk te skep, gaan die aangesig van hierdie nasie beslis ten goede verander. En as dít ons visie is, haal dit ook die angel uit die verlies aan status. Jy kan dan met reg sê: “Ek is besig om te help nasie-bou!” Boonop weet ons waar ons krag vandaan kom: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” Fil 4:13.

Uitnodiging
JUIG! gaan vorentoe die lig laat val op mense wat in moeilike tye hulle betrekkings verloor, met iets anders begin en wat ’n winsgewende bedryf geword het. As jy van sulke stories weet, deel dit gerus met ons. Op dié manier kan ons hopelik ’n verskil in baie mense se lewens maak en bydra tot ’n beter, veiliger Suid-Afrika.

JOHAN KRIEL is ‘n voormalige le­raar van die NG Kerk, en tans ‘n raadslid.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication