Vra My, en Ek sal jou antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel. Dit is nog vir jou n geheim, en jy weet niks daarvan nie.

Jer 33:3.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View October 2012 Issue >>
 

Hoeveel kinders het Adam en Eva gehad?
Die meeste mense is bewus van die feit dat Adam en Eva twee seuns, Kain en Abel, gehad het. Sommige weet dat Set ook gebore is, maar in Gen 5:4 lees ons dat hulle ook ander seuns en dogters gehad het. Volgens Hebreeuse oorlewering is daar 33 seuns en 23 dogters vir hierdie paar gebore [Lees Gen 7:2-3 vir meer inligting].

Maria Magdalena se Loopbaan
Dit staan nêrens in die Bybel dat Maria Magdalena ’n prostituut was nie. Sy word baie min in die Bybel genoem. Behalwe haar teenwoordigheid tydens die Opstanding, is die enigste ander feit wat ons omtrent haar lees dat sy deur sewe duiwels besete was (Luk 8:2).

Delila het nie Simson se hare gesny nie…
Die storie dat Delila Simson se hare geskeer het, is al so dikwels herhaal dat baie mense dink dit staan in die Bybel. In Rig 16:19 lees ons dat sy ’n man geroep het om sy hare af te skeer nadat sy hom aan die slaap gesus het.

Noag se Ark
Was daar regtig twee van elke soort dier in die Ark? Die meeste kunswerke wys twee kameelperde, skape en leeus wat die Ark instap. Indien Gen 7:1-3 noukeurig gelees word, is dit baie duidelik dat, hoewel onrein diere in pare die Ark in is, rein diere in groepe van sewe die Ark ingegaan het: daar sou dus 14 skape, 14 bokke, 7 hane en 7 henne gewees het…volgens God se Wet was daar baie meer rein as onrein diere.

Die Drie Konings
Baie van ons het seker al gehoor van die drie ‘konings’ of ‘wyse manne’  waarna ten tye van Jesus se geboorte verwys word, maar die feit is dat dit nie in die Bybel staan dat daar juis drie was nie. Daar word slegs verwys na drie soorte geskenke. [Lees Matt 2:7-11]

Was Abraham ’n Jood?
Abraham was die vader van die Hebreërs, maar nie alle Hebreërs was Jode nie. Nie Isak, Jakob, Josef of Moses was Jode nie. Ons hoor dikwels mense praat van hoe Moses die Jode uit Egipte gelei het, maar dit is nie korrek nie. Die 12 stamme van Israel was almal Hebreërs, maar streng gesproke kan slegs die stam van Juda Jode genoem word. Die woord ‘Jode’ verskyn nêrens in die eerste agt boeke van die Bybel nie. Die eerste keer wat daar van ‘Jode’ gepraat word, is in 2 Kon 16:6. Toe die Koninkryk van Israel in die Noordelike Ryk met Samaria as hoofstad, en die Suidelike Ryk van Juda met Jerusalem as hoofstad, verdeel is, is die term ‘Jood’ gebruik toe daar na die stam van Juda verwys is.

Verstaan die Sesde Gebod
Diegene wat daarop aanspraak maak dat die sesde gebod selfverdediging, of militêre diens verbied, verkeer onder ’n misverstand. God se Wet vereis dat moordenaars moet boet en weerloses beskerm moet word. Daar is ses verskillende Hebreeuse woorde vir ‘doodmaak’. Die Bybel onderskei baie duidelik tussen ‘moord’, wat deur die sesde gebod verbied word, selfverdediging (Eks 22:2), dood tydens oorlog (in Josua se geval), doodstraf vir ’n veroordeelde moordenaar, manslag en die doodmaak van diere vir voedsel. Lees gerus Neh 4:14 in dié verband.

Staan dit werklik in die Bybel dat die Here diegene help wat hulleself help?
Hierdie frase word so dikwels aangehaal dat baie mense vas oortuig is dat dit in die Bybel geskryf staan. Hierdie was egter ’n gesegde van Benjamin Franklin, dit staan nêrens in die Bybel nie.

Adam en Eva se Vrugte
In teenstelling met die algemene oortuiging, het Eva nié ’n appel in die Tuin van Eden geëet nie. Die vrug word, om die waarheid te sê, glad nie genoem nie. Daar word net gepraat van die vrugte van ‘die Boom van Kennis van Goed en Kwaad’. Die rede waarom hierdie misverstand ontstaan het, is waarskynlik omdat die woord ‘appel’ in die Middeleeue gebruik is om na alle vrugte en neute (behalwe bessies) te verwys. Deur die eeue heen het hierdie woord ook bly vassteek wanneer daar na die vrugte in Genesis verwys word (Gen 2:17). Sommige Bybelgeleerdes is egter van mening dat dit moontlik ’n granaat kon wees.

Wat is die Tekens van die Eindtyd?
Daar word dikwels na oorloë, gerugte van oorloë, natuurrampe, hongersnood, peste, aardbewings, vervolging en valse profete as tekens van die eindtyd verwys. Jesus Christus sê egter in Matt 24:1-14 dat hierdie tekens nie dié van die eindtyd is nie. “Hierdie Goeie Nuus van God se koningsheerskappy sal eers in die hele wêreld , aan al die nasies, verkondig word voordat die einde kom.” Matt 24:14

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication