Jesus het daarop gereageer: Ek verseker jou, as iemand nie van bo (opnuut)gebore word nie, kan Hy die Koninkryk van God nie sien nie.

Joh 3:3.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View October 2012 Issue >>
 

Daar is twee soorte mense in hierdie wêreld: kinders van God en kinders van die duiwel. Indien jy nie weergebore is nie, is jy nie ’n kind van God nie, maar van die duiwel. Satan werk op ’n baie spesifieke manier deur sy kinders – ons lees daarvan in 2 Kor 4:4: “Dit is die god van hierdie bedeling wat die gedagtes van die ongelowiges verblind sodat hulle die lig van die Goeie Nuus nie kan sien nie.” Hy werk dus deur geestelike blindheid in sy kinders en dit bereik hy deur die volgende:

Liberalisme
Indien die waarheid verwerp word, sal enige leuen geglo word. In die Weste is godsdienstige misleiding een van die sterkste wapens. God het nie godsdiens geskep nie. Hy is ’n God van liefde en verhoudings. Satan is die outeur van godsdiens. Hy is die godsdienstigste wese wat bestaan. Hy hou daarvan om godsdienstiges in sy web vas te vang deur hulle godsdienstige dinge te laat glo.
Godsdienstiges sal hulle  lering nie as deel van hulle wese, van wie hulle is, sien nie. Mohammed het byvoorbeeld gesê: “Die waarheid is aan my onthul.” Boeddha het verklaar: “My lering wys heen op die verkryging van die waarheid.”
In teenstelling hiermee verklaar Jesus Christus dat Hy die Weg, die Waarheid en die Lewe is. (Joh 14:6). Hy het baie beslis nie agter Sy lering geskuil nie. Godsdienstigheid is dus bloot om op jou eie moraliteit en goeie werke te steun ten einde die Ewige Lewe te verkry. Die Christen, daarenteen, vertrou egter op Christus se volmaakte werk aan die Kruis.

Vals Christenskap
Vals Christenskap is wanneer iemand probeer om ’n Christen te wees, maar terselfdertyd ook getrou aan die belangrike, of selfs minder belangrike, oortuigings van ’n ander geloof, te wees. Wanneer die ontdekkings van die moderne wetenskap bo die openbaring van die Skrif gestel word, of wanneer net sekere dele van die Skrif as die Waarheid aanvaar word, is dit valse Christenskap.
Die Bybel leer dat daar ’n baie definitiewe balans tussen God se toorn en Sy liefde is. Die liberale teologie fokus egter net op God se liefde. Vir hulle is Hy net ’n God van liefde wat niemand ooit hel toe sal stuur nie. God is egter nie nét ’n God van liefde nie – Hy is ook regverdig en Sy regverdigheid eis dat sonde die dood verdien. Sonde kan nie in God se teenwoordigheid bestaan nie, dit hoort in die hel. God het sondaars lief en het alles moontlik gedoen om sondaars te red, maar hulle het verkies om Christus nie te aanvaar nie. Slegs een sonde kan jou in die hel kry, en dit is om Jesus te verwerp.

Kultusse
’n Kultus is ’n groep wat van die fundamentele leerstellings van die Skrif afgewyk het en kan gedefinieer word as ‘’n godsdienstige groep wat op een persoon of ’n persoon se interpretasie van die Bybel, gebou word.’ Satan weet dat die mens se gees na God en ’n betekenisvolle geloof dors. Deur hierdie kultusgroepe probeer hy die mens se aandag van God se verlossingsplan deur Jesus Christus aflei. Groepe sluit die volgende in: Jehova Getuies; Mormonisme; Spiritisme; Zen Boeddhisme; Hare Krishna; Transendentale Meditasie; Die Kerk van die Nuwe Jerusalem; Teosofiese Vereniging; Unitarisme; Baha’I Geloof, en so meer. Kultusse verteenwoordig ’n vals geloof, ’n verdorwe en dooie geloof.

Okkultisme
Die woord ‘okkulte’ beteken ‘om te versteek’ of ‘van sig te verdoesel’. Okkultiese bewegings beskik oor sogenaamde verborge waarhede. Hierdie ‘waarhede’ kan egter net deur sekere stappe te volg, bekom word. Voorbeelde van die okkulte sluit in: Astrologie; Satanisme; Spiritualisme; Vrymesselary, ens. In teenstelling hiermee is Christenskap altyd in die Lig – niks word ooit versteek of in die duister gedoen nie.

Agnostisisme
‘Agnosties’ beteken ‘onbekend’. Agnostici is van mening dat die waarheid oor God nooit geken kan word nie. In Romeine in die Bybel lees ons egter dat die mens weet God bestaan op grond van jou gewete (Rom 1:19) en deur die Skepping (Rom 1:20). Indien jy nie op die lig van jou gewete of die Skepping kan reageer nie, kan jy ook nie op die lig van Christus reageer nie. God openbaar Hom slegs aan diegene wat Hom wíl ken (Jak 4:8).
Mense wat die Waarheid van die Skrif verwerp, doen dit bloot omdat hulle nie hulle eie selfgemaakte leefstyle en begeertes wil prysgee nie. Vir hulle is dit dus ’n maklike uitweg.

Ateïsme
Hierdie beweging beweer dat God glad nie bestaan nie. Evolusie gaan van hierdie voorveronderstelling uit. Daar is egter baie meer bewyse dat God wel bestaan as dat Hy níé bestaan nie. Die ateïs het doodeenvoudig geen grond vir sy argumente nie. Ps 14:1 stel dit onomwonde dat die gek in sy hart glo dat daar geen God is nie. Die ateïs kies doodeenvoudig om te glo dat daar geen God is nie. Die duiwel is nie ’n ateïs nie, maar hy kan mense verblind vir die waarheid.
Ons geloof is gegrondves op die feit dat Jesus Christus uit die dood opgestaan het. Die Bybel verklaar dat daar net een manier is om in die Hemel te kom, en dit is deur Jesus Christus. Indien jy dit deur jou eie werke probeer doen, sal jy nie slaag nie (Op 20:11-15). Alle paaie lei dus nie na die Hemel nie, Jesus is die enigste Weg!
Kopiereg © Paul Daniel

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication