Maar die man wat julle in die verwarring bring, wie hy ookal mag wees, God sal hom straf

Galasiers 5:10

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View November 2012 Issue >>
 

Die wêreld het nog altyd baie verskillende gelowe en ideologieë gehuisves. Hierdie godsdienstige plura-lisme is, a.g.v. globalisasie en migrasie tussen lande, baie duideliker in die Weste. Hierdie kleiner wordende wêreld bring aanhangers van verskillende gelowe nader aan mekaar. Ons ontmoet mense van ander rasse en leer meer van hulle kultuur en geloof deur televisie en die internet.

’n Oeroue werklikheid
Moskees, tempels en nie-Westerse restaurante weerspieël deesdae die diverse aard van baie Westerse gemeenskappe.
Dit is iets nuuts in die Weste, maar in Asië was diversiteit nog altyd aan die orde van die dag; feitlik alle belangrike wêreldgodsdienste het, en dit gebeur nog steeds, in Asië begin. In Afrika bestaan die Kerk, naas die tradisionele godsdiens, ook saam met Islam.
Die grootste meerderheid Christene skuur dus vandag skouers met mense van ander gelowe. In hierdie opsig is ons dus niks anders as die vroeë Christene, wat Jesus as Heer en Redder  in die teenwoordigheid van vele ander gode in die Grieks-Romeinse wêreld van daardie tyd, verklaar het nie.

Verkondig Jesus Christus
Net soos die vroeë Kerk, word ons opgeroep om die waarheid dat God Homself in en deur Jesus Christus openbaar het, te aanvaar en te verkondig. Deur Sy Dood en Opstanding kan sondaars vergifnis en versoening met God ervaar. Hoe verklaar ons dus in hierdie godsdienstige plurale en relatiewe samelewing met al die relatiewe waarhede en eise wat dit inhou, die finaliteit van Jesus Christus? 
Christene moet leer om, ter wille van gemeenskaplikheid en sonder enige kompromie, met die aanhangers van verskillende gelowe saam te werk. Sommige is van mening dat godsdienstiges ter wille van harmonie moet ophou om daarop aan te dring dat hulle die absolute waarheid beet het. Die uitdaging aan die moderne Kerk is om te demonstreer dat dit nie die geval is nie.

Pluralisme en relativering van die Waarheid
Sommige Christene het selfs opgehou om die uniekheid van Christus te verklaar en, in plaas daarvan, begin om hierdie pluralisme te aanvaar. Hoewel niemand die bestaan van hierdie veelvuldige samelewing kan ontken nie, het hierdie mense egter sover gegaan om selfs die metafisiese pluraliteit te aanvaar. Dit behels dat hulle aanvaar dat alle geloofspaaie ewe geldig is en na God (of die goddelike werklikheid) lei.
Daar word dus ten gunste van Vedanta Hindoeïsme gepraat: ‘Jesus is een van die vele paaie wat na uiteindelike goddelike werklikheid lei; een openbaring van vele moontlike manifestasies van die goddelike.’
Hierdie skeiding van ‘geestelikheid’ van enige gegewe godsdiens, pas die post-moderniste soos ’n handskoen. Die groot kwelling vir Christene lê in hierdie dekonstruktiewe aspek: die ongeloof t.o.v. die Absolute Waarheid, die ver-werping van oorbruggende verhale wat betekenis aan die lewe gee en die relativering van waarheid. Hierdie dinge het reuse implikasies vir die Kerk en die pogings om die hele Evangelie aan die wêreld te verkondig.

Jesus is die vleesgeworde Waarheid
Post-moderniste is van mening dat ons nie toegang tot die absolute oorkoepelende waarheid het nie, al waaroor ons beskik, is waarhede – stories gekonstrueer vanuit ons gemeenskappe met geen eksterne waarheidsgeldigheid nie. Die waarheid is dus gekoppel aan stamme en nasies.
Omdat daar geen neutrale platform is waarvolgens hierdie kompeterende ‘stories’ beoordeel kan word nie, behoort ons die verskillende menings, wat almal na opperheerskappy en aanvaarding streef, te aanvaar. Die waarheid is die mening/siening  wat hierdie ‘kompetisie’ wen. Die waarheid word deur krag, en diegene wat die absolute waarheid as die blote afdwing van hulle eie wil op ander sien, gedefinieer.
Post-modernistiese aanhangers van pluralisme is agterdogtig t.o.v. gods-
dienstige gesagstrukture en verklarings. Vir hulle is die stelling ‘Jesus is die Vleesgeworde Waarheid’ ’n  front vir koloniale imperialisme, kulturele chauvinisme of godsdienstige onverdraagsaamheid.

Vae, persoonlike menings
Hierdie selfde agterdog is van toepassing op moraliteit – kategorieë van ‘reg’ en ‘verkeerd’ is pogings om jou wil op ander af te dwing. Waarom sal ons ander se definisies van reg en verkeerd aanvaar? Reg en verkeerd is deesdae ’n kwessie van persoonlike interpretasie.
Of mense nou met embrio’s eksperimenteer, geld onder korrupte regerings maak of skuiling aan oneerlike sake-ondernemings bied, post-moderniste het nie die basis om te sê dat hulle verkeerd is nie. Diens en ekonomiese pragmatisme spreek die laaste woord: Wat is bruikbaar? Wat is die beste vir die mens se behoeftes? Wat vervul sy of haar aspirasies die beste?
Sulke individualisme is ironies gegewe die post-moderne klem op die gemeenskap. Agterdog teenoor gesag en sonder enige deursigtige standaard as gids, val die individu terug op eie gesag. Die waarheid word nie aan ’n nasie of kultuur gekoppel nie, maar aan die individu. En die situasie het ’n invloed op hoe geestelikheid deesdae verstaan word.
Dit het verder tot gevolg dat pluraliste se siening van die geestelike werklikheid soos geestelikheid sonder geïnstitusionaliseerde godsdiens kan voel.

’n Christen se reaksie
Christene is deesdae vry om godsdiens-tige idees wat hulle eie geestelikheid pas, te kies. En hierdie vryheid is aantreklik. Die alternatief, so word gesê, is om naïef, arrogant en disrespekvol teenoor ander kulture en gelowe te wees.
Daar word aan ons vertel dat absolute sienings slegs spanning tussen die verskillende gelowe verhoog, konflik tussen gemeenskappe vererger en, in sommige gevalle, selfs geweld aanblaas. Om verdere polarisering van ons gefragmenteerde wêreld te vermy, behoort ons ’n  plurale benadering t.o.v. die waarheid te volg.
Wat verstaan ons onder die kritiek en eise? Hoe sal ons die Waarheid van die Evangelie vandag aan ander aanbeveel?

Aanbeveling van die Waarheid
Deur die Waarheid te ken, beteken nie arrogante onverdraagsaamheid nie. Dit beteken om oortuiging met neerbuigendheid te verwar, of rasionele verdeeldheid met onaanvaarbare gedrag. Wanneer relativiste daarop aandring dat daar nie so-iets soos ’n algehele waarheid is nie, sien hulle dié uitspraak as ’n universele waarheid! Relativisme is dus net so absoluut soos die stelling: ‘Jesus is die Weg, die Waarheid en die Lewe’ en dus onderhewig aan dieselfde beskuldigings van uiterste onverdraag-saamheid en liefdeloosheid.
Die Christelike geloof veroordeel arrogansie en keur nie ’n meerderwaardige houding teenoor ander mense en gelowe goed nie.
Daar is egter bekrompe Christene en ook onsensitiewe praktyke in die ge-skiedenis van die Kerk, maar dit is deel van die Kerk se skandalige mislukkings eerder as dit wat die Christelike geloof werklik behels. Christene is veronderstel om mense te wees wat nederig, en die sout en lig in hierdie wêreld te wees.

Ons werk met mense
Christene word opgeroep om lief te hê, nie te verdra nie. Ons het nog altyd met mense te doen, nie net blote idees nie! Die relativis is ’n mens van vlees en bloed en is na die beeld van God geskape. Dit is baie belangriker om die persoon vir Christus te wen as om as wenner van die argument uit die stryd te tree.

Hoe om die waarheid oor te dra
’n Wêreldwye ekonomiese afswaai of ’n natuurramp tref geen onderskeid tussen ’n relativis of ’n aanhanger van eksklusiwiteit nie. Wanneer relativiste swaarkry, sal dit nie die goeie waarheidsargument wees wat hulle sal wen nie!
Dit sal waarskynlik praktiese sorg en kommer deur liefdevolle Christene wees wat hulle harte sal raak. Ons kan relativisme nie ‘aanloklik en warm’ maak nie, maar ons kan ’n warm hand van liefde na die relativis wat swaarkry, uitsteek. En juis dít is ’n goeie wegspringplek om die waarheid van Christus oor te dra.

Vrae oor relativisme
Dit is in die veiligheid van ware vriendskap waar vertroue verdien en gerespekteer word dat ons sekere aannames eerlik kan bevraagteken. Christene kan leer hoe om saad te saai wat relativisme omver kan gooi deur vrae oor die toereikendheid van relativisme as lewensgids te vra.
Kan enigiemand werklik sonder die Absolute Waarheid leef? Hoeveel moet werklik oortuig word van die verskil tussen Moeder Teresa en Pol Pot? Selfs wanneer mense God se Waarheid ontken, sal dit bly voortbestaan omdat dit duidelik en oortuigend is: dit is opreg. Hierdie herkenning is deel van God se algemene Genade.
In ons relatiewe klimaat is dit so maklik vir die Kerk om vertroue in die Evangelie as die ‘Krag van God se Redding’ te verloor en Christus nie meer as die enigste Weg en Waarheid en Lewe te verklaar nie. Om hierteen te waak, behoort Christene baie duidelik in die Waarheid van Sy Woord gegrond te wees. Die werk begin dus reeds tuis – in die lewe, aanbidding en dissipelskap van ons evangeliese kerke.

Glo jy die teenoorgestelde?
Om in ’n Absolute Waarheid te glo, is om absoluut die teenoorgestelde as hierdie wêreld te glo. Ons kan spot en vernede-ring verwag. Ons moet egter net onthou dat die Een wat die Vleesgeworde Waarheid was, die Gekruisigde Waarheid geword het aan die hand van diegene wat voorgegee het dat hulle die waarheid en kennis in pag het.
Donkerte het egter nie die laaste woord gespreek nie. Lig het die donkerte van Jesus se graf deurdring en met die Opstanding tree die Waarheid as uiteindelike Oorwinnaar uit!

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication