Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in Sy Naam die lewe kan he.

Joh. 20:31.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View December 2012 Issue >>
 

Die naam Wolraad Woltemade is sino-niem met self-opofferende moed. Wolraad is in Hesse-Schoumberg in Duitsland gebore, maar het as volwassene na die Hollandse nedersetting aan die suidpunt van Afrika geëmigreer. Hier het hy as melkboer vir die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie (HOIK) gewerk.

Die Kaap van Storms
Dit was ’n stormagtige winternag in Junie 1773 – die vyf skepe in Tafelbaai is deur die stormwind en die reuse golwe heen-en-weer geslinger en uitmekaar gebreek. Helder weerligstrale het elke paar minute die hele Tafelberg en die dorpie aan die voet van hierdie magtige berg verlig. Baie min van die matrose kon daardie nag enigsins slaap omdat die storm en die houtskepe nie gunstig op mekaar gereageer het nie.

De Jonge Thomas
Kaptein Barend Lameren was baie bekommerd dat sy skip, De Jonge Thomas, van die ankertou kon losbreek en die see ingeslinger sou word. Daar was 270 mans, vrouens en kinders aan boord asook baie waardevolle vrag uit die Ooste. Namate die storm intenser geword het, het die kaptein bekommerder geraak en net na middernag op 1 Junie 1773 beveel dat die kanon moes vuur om die mense op land te waarsku dat hulle moontlik hulp nodig sou hê.
Kort na vyfuur die oggend het dit toe inderdaad gebeur: die skip het van die ankertou losgebreek en is teen die rotse by die Soutriviermonding geslinger. Met ’n reuse geknars het die skip in twee geskeur en passasiers sowel as matrose is die see in geslinger. Baie het verdrink in hulle poging om die strand te bereik. Slegs die sterkste swemmers was suksesvol om veiligheid te midde van die bruisende water van die  riviermond te bereik.

Soldate en toeskouers
 ’n Afdeling van 30 soldate was gou op die toneel. Goewerneur Van Plettenberg het bevel gegee dat hulle moes toesien dat daar geen plundering plaasvind nie en dat oorlewendes bygestaan kon word. Wolraad se jongste seun, korporaal Christian Ludwig Woltemade, was een van die soldate. Die bevelvoerende offisier het die mense wat  nuuskierig  saamgedrom het, gewaarsku om nie naby die stormsee te kom nie. Sommige het probeer help terwyl ander egter opportuniste was wat die vrag wat op die strand uitgespoel het, wou plunder.

Woltemade en Vonk
Op daardie oomblik het ’n  man op ’n reuse swart perd aangery gekom. Hy was 65 jaar oud – Wolraad Woltemade en sy perd Vonk. Hy het dadelik sy jas en hemp uitgetrek, neergegooi, ’n tou gegryp en vreesloos met sy perd die stormsee ingery. Toe hy op sy perd by die skip kom, het hy die tou uitgegooi en teruggery strand toe met twee mans wat aan die tou vasgehou het. Toe hulle die strand bereik, het omstanders vinnig ingespring om die oorlewendes uit die kolkende water te red.
Dadelik, en sonder om selfs ’n woord te sê, het Wolraad omgedraai en weer met sy perd die ysige seewater ingery. Dit is sewe keer herhaal en sodoende is 14 mense se lewens gered. Dit het egter verskeie folte-rende ure geduur. Die see was yskoud en die golwe was reusagtig en die seestroom ontsettend sterk.

Nog ’n keer...
Die omstanders en soldate op land het na die sewende keer daarop aangedring dat hy dit nie nog ’n keer kan doen nie aangesien hy, sowel as sy perd, totaal uitgeput en die storm net te erg was. Die hulpkrete wat van die skip gekom het, was vir Wolraad net te erg en hy het uitgeroep: “Net nog een keer...” en omgedraai en weer die stormsee ingery. Dié keer het ses mans egter van die skip gespring en die tou vasgegryp. Dit was vir die arme uitgeputte Vonk net te veel. Perd, ruiter en drenkelinge het onder die magtige golwe verdwyn. Almal het in die stormsee verdrink.

’n Held word vereer
Ten einde Wolraad Woltemade se onselfsugtige opoffering en heldemoed te vereer, het die HOIK ’n skip na hom vernoem: De Held Woltemade. Later het die Republiek van Suid-Afrika ook die ‘Wolraad Woltemade-toekenning’, die hoogste siviele toekenning vir dapperheid in die land, gemaak. Sy naam is ook aan ’n hele aantal strate en voorstede in Suid-Afrika asook aan een van die kragtigste bergingsleepbote in die wêreld, wat in 1976 gebou is, gegee.
Die Woltemade-standbeeld deur Mitford-Barbeton is vandag op die Ou Mutual-perseel in Pinelands in Kaapstad te sien.
Dit bly egter onverstaanbaar dat hierdie inspirerende heldeverhaal uit die geskiedenisboeke verdwyn het. Vir Christene is Wolraad Woltemade ’n uitstekende voorbeeld van toewyding en redding van mense wat in ’n lewensbedreigende en verlore situasie was.

Red die Verlorenes
“ Rescue the perishing, care for the dying, snatch them in pity from sin and the grave;
Weep over the erring one, lift up the fallen, tell them of Jesus, the mighty to save.
Rescue the perishing, care for the dying; Jesus is merciful, Jesus will save...
Rescue the perishing, duty demands it; strength for thy labour the Lord will provide;
Back to the narrow way, patiently win them; tell the poor wanderer a Saviour has died.”
Fanny J. Crosby, 1869

DR. PETER HAMMOND sendeling, outeur en konferensiespreker. E-pos mission@frontline.org.za, besoek www.frontline.org.za of skakel hom by
021 689 4480.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication