Maar die Woord van die Here, dit bly vir ewig. En hierdie Woord is die Evangelie wat aan julle verkondig is.

1 Pet. 1:25.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View May 2008 Issue >>
 

Hartoorplanting op 18

 

Rebellie, aggressie, alkohol, dwelms, seks en verkeerde vriende – om net ‘n paar terme op te noem waarmee ons jeug vandag geassosieer word. Maar verstaan ons regtig die druk waaronder ons jong mense leef? Die skool, vriende, ouers, die media en flieks – dit alles probeer die tiener van vandag rigting gee. Die vraag is: “Wie maak ons tieners werklik groot?”

 

Ek was nog klein toe ek besef dat my ouers aan meer dink as net na my te kyk. Hulle het foute gemaak, maar ek het myself nie daaroor bekommer nie, want ek het probeer uitvind hoe ek as jong mens self die alleenheid, verwardheid en innerlike stryd kon oplos.

 

Moenie my verkeerd vestaan nie, my ouers het elke aand seker gemaak ek het kos en klere en hulle het my nie eenkant toe gegooi nie, maar emosioneel was hulle so betrokke by hulle eie dinge dat hulle nie vir my as jongmens dit gegee het wat ek die nodigste gehad het nie: liefde, geestelike en emosionele aandag! Ek was leeg aan die binnekant. En ek het besef ek moet hierdie ‘leegheid’ vul met iets.

 

Ek het nie dadelik na die naaste dwelmhandelaar gegaan nie. Geen jong mens raak só in dwelm- en alkoholmisbruik betrokke nie. Ek was heeltyd soekend na iets of iemand om hierdie ‘leegheid’ in my lewe te vul. Ek wou graag aanvaar word deur my portuurgroep. Ek sou enigiets doen om net emosionele liefde, aanvaarding en aandag te kry. Daarom het ek begin skelm rook toe ek in Graad 7 (st. 5) was. Eerstens het ek gedink dit sal die ‘leegheid’ vul en tweedens het die ander tieners wat gerook het, my aanvaar en deel van hulle groep gemaak. Gou was ek verslaaf aan sigarette. Ek het besef dat ek nog steeds so leeg was soos vóór ek begin rook het!

 

Ek het begin rondkyk vir ander moontlikhede om my alleenheid en ‘leegheid’ te vul. Dit ten spyte van my baie vriende en my ‘gewildheid’. Dis hoe duisende jong mense voel. Ons dink as hulle vriende het en elke aand tuis eet dat hulle nie alleen of leeg is nie. Maar dis waar ons die fout maak. Ouers sê: “Dit sal nooit met my kind gebeur nie…!”  Dis presies wat my ouers ook gedink het. Maar hulle het nooit regtig geweet hoe stukkend en alleen ek binne in my hart was nie!

 

Ek het saam met vriende op partytjies begin alkohol gebruik. Ek het van die uitwerking gehou wat drank op my gehad het en kon makliker met ander kommunikeer, veral met meisies. Op 15 was ek verslaaf aan alkohol! Ek het tot drank skool toe begin vat. Ek is uitgevang en het ‘n finale waarskuwing gekry. Maar - ek was nog steeds leeg, verward en alleen!  Dit ten spyte van die drank en die sigarette! By ‘n 21ste verjaarsdagpartytjie van vriende is ek blootgestel aan dagga. Daardie eerste trek was die begin van my einde! In die begin was ek net ‘n ‘geleentheids-roker’, totdat ek self die geleenthede begin soek en skep het. Ek het al hoe meer dagga begin rook en oor naweke gedrink en ‘n ‘jol’ gehad. In my 2de of 3de maand in Gr. 10 (st. 8), was ons op ‘n skoolkamp. Ons het op ‘n aand-staproete ‘n man wat op die terrein gewerk het, raakgeloop en by hom ‘n plastieksak vol dagga gekoop met geld wat ons vir die onderwysers weggesteek het. Ons het ‘n lekker tyd gehad totdat ek en ‘n vriend gevang is met die dagga. Die gevolg was dat ek uit die skool geskors is op 15 jarige ouderdom!

 

Ek het daarna na ‘n Tegniese Kollege gegaan waar ek vriende met ‘ravers’ gemaak het. Ek het my klasse begin ‘bunk’ om dagga en ander dwelms in Kollegetyd te gebruik. A.g.v. al die dwelms en klasse wat ek gemis het, moes ek die Kollege verlaat.Ek het deur kontakte ‘n werk gekry om trokke af te skuur sodat dit gespuit-verf  kon word. Hier het ek ‘n satanis en iemand betrokke in heksery ontmoet. Ek het betrokke geraak om die gaping in my lewe vul wat dwelms, alkohol en seks nie kon nie. Ek is summier afgedank weens dwelmgebruik by die werk. Ek was werkloos! Ek het by ‘n bende aangesluit. Ons het mense beroof, onsedelik opgetree teenoor meisies en elke dag dwelms gebruik. Ek het een aand weggeloop van die huis af en my ouers het nie geweet waar ek was nie. Na 3 of 4 weke het ek my pa laat weet en hy het nie twee keer gedink om my te kom haal nie.

 

 My pa het by mense ‘n kamer gehuur (my ouers is intussen geskei). Een aand nadat ek by hom gaan bly het, het ek verskriklik dronk geword en wou die eienaar van die huis met ‘n mes doodmaak. Hy het die polisie gebel en ek is tronk toe vir poging tot moord. Om een of ander rede is ek vrygelaat en ek het weer op straat geëindig.

 

 ‘n Jong getroude paartjie in Boksburg het hulle oor my ontferm. Hulle het hulle huis voorwaardelik vir my oopgemaak: rehabilitasie en medikasie moes volg! Ek was desperaat; daarom het ek sommer dadelik ingestem om op die rehabilitasieprogram te gaan. Een aand was ek weer saam met vriende uit na ‘n nagklub en ek het weer teruggeval. Hulle was baie teleurgesteld, maar het nie moed opgegee nie. Hulle het met my kom praat en gesê dat ek die volgende Sondag saam met hulle kerk toe moes gaan. “Ek kan nie kerk toe gaan nie. Ek was nog net by troues en begrafnisse in ‘n kerk!. Nee, nie kerk nie!” het ek gedink.

 

Voor kerk die oggend het ek ‘n halwe pakkie sigarette opgerook uit senuweeagtigheid! Byna 1100 mense het daardie oggend die AGS Kerk in Kempton Park bygewoon. Dr. Isak Burger, President van die AGS, was die prediker. Hy het egter nie gepreek nie, maar net met sy oë toe gestaan. Volgens my moes hy preek. Kort daarna het die hele gemeente spontaan aanbid en lofprysing gedoen.

 

Iets snaaks het met my gebeur. Dit was asof daar ‘n ‘onsigbare’ persoon met my gepraat het. Nie hoorbaar nie, maar ek kon dit duidelik in my gedagtes hoor: “Francois, Ek het vir jou op die kruis gesterf. My Naam is Jesus Christus en as jy nie vandag ‘n keuse maak om My aan te neem nie, gaan jy nie meer lank lewe nie. Ek is baie lief vir jou.”  Na jare se soek het ek net geweet. Ek het “ja” gesê vir Jesus. Hy het my in 3 sekondes vrygemaak en gedoen wat geen sigaret, alkohol, dwelms of seks kon nie!

 

Daardie oggend het ek ‘n hartoorplanting, op 18 jarige ouderdom, ontvang! Nie fisies nie, maar geestelik. My hele lewe het verander. Vandag is ek ‘n voltydse Evangelis wat fokus op Jeug-Evangelisasie. Ons het die afgelope 2 jaar omtrent 25 000 jongmense vir Jesus gewen en ek het met meer as 80 000 jongmense oor Jesus Christus gepraat. Daar is hoop vir ons Jeug – Jesus Christus! Daar is hoop vir u tiener – die Evangelie van Jesus! Vir meer inligting oor ons bediening: www.salvationten.com

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication