Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U Woord is die waarheid.

Joh. 17:17.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View February 2013 Issue >>
 

Carike Keuzenkamp is deel van elke Afrikaanse huishouding. Van Kraaines (nege jaar lank), deelname aan Noot vir Noot en Liriekeraai, tot Skouspel, vermaak sy ons nou al 45 jaar lank. Sy het al nagenoeg 50 CD’s en DVD’s uitgereik, in die rolprent ‘Liefling’ verskyn en het in 2010 die SAMA-toekenning vir ‘n leeftyd se bydrae tot plaaslike musiek ontvang. Maar wie is Carike Keuzenkamp as Christen en waarmee hou sy haar deesdae besig? JUIG! het gaan uitvind.
Sommer met die intrapslag sê Carike: “Ek is ’n plat-op-die-aarde mens met Hollandse nugterheid en geen ‘hang-ups’ nie.” Dit ís ook so; haar antwoorde getuig daarvan en openbaar iemand wat gemaklik met haarself, haar bekendheid en die lewe is.

Wat is van die uitdagings wat jy al in jou musiekloopbaan moes oorkom? 
My musiekloopbaan was altyd net ‘n stokperdjie, veral in die beginjare toe my kinders nog in die huis was. Die laaste paar jaar was ek baie produktief met veral opnames, want ek het meer tyd! Ek het so 15 jaar gelede besluit om weer verhoog-optredes te doen en het begin met damesoggende. Dit was ‘n groot uitdaging vir my om weer ’n program saam te stel, die liedjies se woorde te leer en alleen op ’n verhoog te staan. Daar het my geloof my elke keer gedra – ek het vasgehou aan Fil 4: 13: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” Hierdie vers het my in elke moeilike situasie gedra.

Wat was jou ervaring met die vervaardiging van ‘Hy’s die Een’ CD?
Ek wou nog altyd ’n gospelalbum opneem en sal dit weer doen as die geleentheid hom voordoen. Vir my was dit beslis een van die vervullendste projekte wat ek nog aangepak het.

Waarom?
Ek sit nie oor goed en filosofeer en top nie. Ek weet net wanneer iets lekker was. Die projek was net ‘reg’. Dit was die regte liedjies; dit was die regte liedjies vir my stem in daardie stadium. Ek het die Here daar in die ateljee gevoel. Dit is glad nie ongewoon dat daar probleme met opnames opduik nie, maar hierdie keer het daar net nie probleme opgeduik nie – alles was net ‘reg’. Natuurlik was dit ook my eerste gospelalbum; dus was dit baie spesiaal vir my. Ons laaste Kinderland DVD en CD is ook gospelalbums – ‘Carike, Ghoempie en Ghoeghoe kuier in Bybelland’. Dis wonderlik dat kindertjies op ’n prettige manier van die Bybel kan leer.

Waar het die idee vir ‘Ghoempie en Ghoeghoe kuier in Bybelland’, vandaan gekom?
Dit het uit die Kinderland CD’s voortgevloei. Ek het geweet my kleinkinders gaan nie eendag na plate luister nie en ek wou iets vir hulle behoue laat bly. Ons stof toe die liedjies af wat ek gesing het toe ek jonger was – die goed waarna die ouens wat nou self ouers is, geluister het toe hulle kinders was. Ek het gedink dit gaan maar ’n eenmalige ding wees. Ek het gedink ek is nou klaar, ek gaan nou aftree, maar die Here het ander planne met my gehad.
Dit was toe ’n reusesukses. Ek het twee Kinderland CD’s gemaak en toe word Ghoempie gebore uit die behoefte aan ’n karaktertjie wat die liedjies met mekaar kon verbind. Kinders was mal oor Ghoempie en toe kom Ghoeghoe en vandaar af Ghoempie en Ghoeghoe in Bybelland omdat daar ’n groeiende behoefte was aan gospel vir kinders – Afrikaanse kinders. Daar was niks in Afrikaans nie.
Tien jaar gelede het mense nie geweet wat ’n DVD is nie! Ons het begin by bekende liedjies soos Stille Nag en toe liedjieskry-wers gevra om liedjies te skryf oor Jona, Moses, vyf brode en twee vissies, ensovoorts.

En daarvoor is jy toe vir die SAMA-toekenning benoem. Jy het ook ’n SAMA-toekenning vir jou bydrae tot plaaslike musiek ontvang.
Toekennings is ‘nice’. Dis ’n aansporing en dis lekker om erkenning te kry en te weet dat jy goed doen waarvan mense hou, maar ek is 65, ek hoef nie meer aan my loopbaan te werk nie. Ek gun dit eerder vir jongmense wat nog ’n loopbaan bou. Ek waardeer natuurlik die toekennings omdat dit ook toegeken word aan die mense saam met wie ek werk, die span, want hulle kry ook die toekenning. Dit verg baie ure se harde werk, en dit is hulle spanpoging wat dit moontlik maak. Ek doen maar net die ‘glamour’-werk.

Hoe bly jy naby aan die Here in die vermaaklikheidswêreld en met ’n besige skedule?
Ek sien myself eerstens nie as ’n vermaaklikheidskunstenaar nie, maar as ’n vrou en ma. Dit plaas ’n mens se voete stewig op die grond. Ek bestee maar omtrent 10% van my lewe aan my sang, die res is my gesin se tyd. Of ek nou in die ateljee, op die verhoog of die kombuis is, die Here is altyd by my. Ek praat heeldag met Hom, maak nie saak waar ek is nie. My geloof is ’n ‘way of life’.

Jy was altyd ’n toegewyde ma en jou gesin het eerste gekom. Wil jy ons so ietsie van jou verhouding met jou kleinkinders vertel?
Ek kom uit ’n era waar ons huisvrouens was. Jy het gaan studeer om iets te hê om op te-rug te val. Ek wou ’n huisvrou wees en toe ek getroud is, was ek gelukkig; ek het nie nodig gehad om te werk nie. Ons was nie ryk nie, maar ek kon by die huis bly. Ek het kinders grootgemaak en dit is wat ek wou doen. Nou het ek ook wonderlike kleinkinders. Neil is 12 en Jacques is 8 – hulle is een en ’n half jaar gelede VSA toe.
Ek mis hulle verskriklik, maar die Here het my voorberei. Hulle is eers vir ’n paar jaar Kaap toe. Daar het ek hulle so elke twee maande gesien, en toe is hulle VSA toe. As hulle eensklaps moes weggaan, sou dit vir my baie swaar wees. Hulle is gelukkig net ’n vliegtuigrit ver en daar is darem ook Skype-oproepe.
Die Here het ook vir my een in hulle plek gegee om my te troos. Werner se seuntjie is nou een jaar oud en hulle woon in Johannesburg. Hy het sy oupa se naam gekry, Olaus – die Van Zyl-naam. Ons jongste kind trou Februarie in die Kaap. Dit is verder weg as Johannesburg, maar nader as die VSA!

Hoe voel jy oor Karla-hulle se weggaan na Amerika?
Ek glo as ’n mens se kinders wil gaan, laat hulle gaan. Jy kan nie vasklou nie, jy kan nie selfsugtig wees nie. Ek het my lewe aan my kinders gewy en ek wonder soms wat sal gebeur as ek baie oud is en nie meer kan vlieg nie...

Jy is nou al 45 jaar getroud. Wat het jou huwelik so rotsvas gehou?
Die Here het vir my die regte man gegee! Hy is ’n gawe van die Here en ook ’n Christen. Hy is ’n wonderlike ondersteuning vir my. Hy het nie omgegee om ‘mnr. Keuzenkamp’ te wees nie. Ons het regtig ’n goeie huwelik. Ons is baie verskillend, maar vul mekaar baie goed aan. Olaus is ’n ingenieur – hy is die linkerbrein en ek is die regterbrein. Trane en argumente tel glad nie by hom nie; hy wil die feite op die tafel hê. Hy wil weet: “Wat is die probleem? Wat is die ergste?” Dan werk hy uit wat ons daaraan gaan doen en dan is dit skielik nie meer die ergste nie.
Ons gee mekaar ruimte en hoe meer ons ruimte gee, hoe meer wil ons eintlik net bymekaar wees. Ons geniet mekaar se geselskap; ons hou daarvan om alleen bymekaar te wees. Noudat dit net die twee van ons is, gaan eet ons tog te lekker uit as ons nie lus vir koskook is nie – soms sommer net in ’n koffiewinkeltjie.
En natuurlik bind ons geloof ons. Die rots in ons huwelik is Jesus en as ’n mens aan Sy Woord vasklou, val al die ander dinge in plek. My lewe – my huwelik – is op God gebaseer. Jongmense is lief daarvoor om 1 Kor 13:4-7 aan te haal wanneer hulle trou, maar net die eerste stukkie. Kyk na die laaste stuk, vers 7: “Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” Daar is alles wat jy in jou huwelik, eintlike enige verhouding, moet toepas. Ek het dit jare gelede al my eie gemaak.

Kan jy ons vertel van ’n tyd toe jy ’n geloofskrisis beleef het en hoe jy daardeur gekom het?
Ek het nog nooit ’n geloofskrisis gehad nie. Ek vertrou die Here een honderd persent, maar ek het al tye gehad waartydens my geloof getoets is en ek Hom moes vertrou.
Ek wou al, vandat ek 12 is, babas hê. Ek wou ’n ma wees en kinders grootmaak, maar ek het gesukkel om swanger te raak. Dit het ’n ‘ding’ by my geword – ’n obsessie. Ek wou ’n kind hê. Ek was toe 23. Toe ek 25 was, het ek nog steeds nie ’n baba nie en Olaus moes na Berkley, Kalifornië, in die VSA gaan – vir verdere studie. Toe maak ek ’n kopskuif. Ek wíl nou nie meer ’n kind hê nie, want ek gaan nie daar in Amerika, ver van my ma en my dokter, my baba kry nie.
Die dag voor ons vertrek, moes ek ’n bloedtoets ondergaan en daar bevestig my dokter toe: “die koeël is deur die kerk” ek is swanger. En ek vertrek die volgende oggend! Dit het finansiële implikasies gehad: ek sou nie kon werk nie. Nou práát ek met die Here: “Hoekom moet ek nóú swanger word, noudat ek VSA toe gaan, sónder my ma en sónder my dokter?” Die volgende krisis was dat ek na ’n opleidings-hospitaal toe moes gaan. Daar het ek geleer die Here weet die beste. Dit was die beste ding wat met my kon gebeur.
Die hospitaal was met die nuutste van die nuutste toegerus. Daar was komplikasies met Werner se geboorte. Hulle kon my ’n epiduraal gee en hom vinnig met ’n keisersnee die wêreld inbring. Daardie dae was daar nie so iets soos ’n epiduraal in Suid-Afrika nie! Ek was in die hospitaal met die nuutste tegnologie tot my beskikking en die Here het geweet die geboorte gaan komplikasies hê. Beide my dogters is later ook d.m.v. keisers gebore om dieselfde rede.
Ek onthou ook so goed een ander keer toe my geloof versterk is. Ek het op ’n raad gedien waar ek ’n voorlegging oor Afrikaanse musiek moes doen. Die top ou het sy eie idees oor Afrikaanse musiek gehad en ek het geweet ek staan nie ’n kans teen hom nie. Ek is op my knieë voor die Here en ek vra Hom om my die woorde te gee, die woorde in my mond te lê. Voor in my voorlegging het ek die versie, wat vandag nog een van my gunstelinge is, geplak:
“Aan Hom wat deur Sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die Kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid, Amen.” (Ef 3:20,21). Toe ek by die vergadering kom, is die man nie eers daar nie! Nie alleen het die Here my die moed en die woorde gegee nie, Hy het ook die pad vir my gelyk gemaak!

Hoe kry jy dit reg om musiek te maak wat eie en uniek aan jou is? Watter raad het jy vir kunstenaars om nie generies en soos al die ander te klink nie?
Ek dink ek sing musiek wat my stem pas. Ek was baie gelukkig om al die jare saam met die bekende musiekregisseur, Boet Pretorius, te werk. Hy ken my stem baie goed en weet presies waartoe ek in staat is. Hy het ook altyd vir die regte repertoire gesorg.
Ek skryf ongelukkig nie self liedjies nie, maar my raad aan jong sangers sou wees dat dit baie sal help as jy self skryf. Ons het op die oomblik baie goeie sangers, maar nie baie liedjieskrywers nie. Daar is ’n groot tekort aan liedjieskrywers in Afrikaans.

Het jy enige boodskap vir ons lesers?
Hieroor kan ’n mens ’n bladsy skryf, maar as Christen kan ek maar net sê dat ’n mens moet leef soos wat Jesus geleef het en die gebod: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself, uitleef.

Is jy beskikbaar om as ’n spreker op te tree? Kan mense jou kontak?
In hierdie stadium doen ek geen optredes meer nie. My man tree eersdaags af en ons wil ’n bietjie rondreis en nie gebind wees nie. Ek, Ghoempie & Ghoeghoe is wel op Facebook en mense kan my daar volg, of vir Albertus Kotze by Sony Music skakel met algemene navrae by 011 274 5000.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication