Verbly julle in die Here en juig, regverdiges, jubel alle opregtes!

Ps.32:1.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View February 2013 Issue >>
 

Die Franse Hugenote het ’n ongelooflike erfenis van geloof, Christelike uithouvermoë en opoffering nagelaat. Hulle bydrae tot die kultuur, geestelike lewe en voorspoed in ons land is eintlik heeltemal buite verhouding met die klein aantal wat hulle aan die suidpunt van Afrika gevestig het.

Afrikaanse voorouers
Daar is nog baie Hugenotevanne in ons gemeenskap: Blignaut, De Klerk, De Villiers, Du Preez, Du Toit, Fourie, Hugo, Joubert, Le Roux, Malan, Nel, Pienaar, Retief, Rossouw, Theron, Viljoen, Visagie en nog baie meer. Die eerste Hugenoot wat op 6 April 1652 in die Kaap geland het, was Maria de la Quellerie, vrou van die eerste goewerneur van die Kaap, Jan van Riebeeck. Maria se oupa was ’n Hugenoot-pastoor.

Dinamiese Christen-beweging
Die Hugenote was Protestante, lede van die Hervormde Kerk in Frankryk. Hulle voorgangers was die Waldensiërs – ’n dinamiese Bybelstudiebeweging wat in die 12de eeu, onder leiding van Peter Waldo, ’n handelaar van Lyon, ontstaan het. Hulle begeerte was om die Skrif in só ’n mate te bestudeer dat hulle Bybelse beginsels op alle lewensterreine kon toepas. Hierdie arm mense het met vrymoedigheid twee-twee uitgegaan en die Woord in die hele Suid-Frankryk, Noord-Italië en Switserland verkondig.

Te midde van swaard en vlam
Nadat die Bybel in 1229 deur die konsul van Valencië op die lys van verbode boeke geplaas is, het die Roomse pousdom die Waldensiërs wreedaardig vervolg. Duisende is vermoor. Die oorlewendes het na die suidelike Alpe van Wes-Piedmont gevlug en daar floreer. Ten spyte van die feit dat hulle as heidene verklaar en wreedaardig deur die Inkwisisie en die weermag van die pous vervolg is, het die Waldensiërs meer geword en hulle toewyding aan die Here het toegeneem.

Hervorming in Frankryk
Toe die geskrifte van dr. Martin Luther Frankryk bereik het, het prof. Jacques Lefevre van Sorbonne Universiteit in Parys die briewe van Paulus verklaar en die ‘Hervormingsdogma van Regverdiging slegs deur Genade van God, deur Geloof alleen’, verkondig. William Farel was een van die studente wat toe tot geloof in Christus gekom het.

Vurige Evangelis
Farel het een van die mees prominente leiers van die Franse Hervormingsbeweging geword en het stede vir Christus gewen. Farel se straatprediking is as vurig en kragtig beskryf. Die pous was anti-Christus. Farel is die ‘roede van die priesterdom’ genoem.
Sommige priesters het selfs probeer om hom te vermoor. Nadat een so ’n aanslag op sy lewe onsuksesvol was, het Farel omgeswaai en aan die priester wat die skoot afgevuur het, gesê: “Ek is nie bang vir jou skote nie!”

Wen stede vir Christus
Met groot evangeliese dryfkrag en debatsvaardigheid het Farel daarin geslaag om die meeste Franssprekendes in Switserland, onder meer stede soos Neuchatel en Genève, tot die Protestantisme te bekeer. In 1535 het Farel in Genève verklaar: “Ek is gedoop in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees...Ek verkondig Christus: hoe Hy vir ons sonde gesterf en weer uit die Dood tot ons regverdiging opgestaan het. Wie in Hom glo, sal gered word en ongelowiges sal verlore gaan. Ek sal dit aan almal wat wil hoor, verkondig. Ek is gereed om jou te oortuig...!” Teen 21 Mei 1536 het die algemene vergadering van inwoners van Genève ten gunste van die Hervorming gestem en die Protestantse geloof die amptelike geloof van die stad gemaak.

Uitdaging en verpligting
Dit was toe dat die 27-jarige Franse Hervormer, Johannes Calvyn, deur ’n plaaslike oorlog gedwing is om met ’n ompad deur Genève te reis. Hy het verwag om slegs vir een nag in die stad te wees, maar Farel het egter van die bekende geleerde, wat ‘Die Institusie’ geskryf het, gehoor en blitssnel gegaan om hom vir die ‘saak’ te wen. Calvyn het nie belanggestel nie en hoe meer Farel sy planne verduidelik en die situasie in Genève beskryf het, hoe minder wou Calvyn vir die nag oorbly. Hy het besef indien hy Farel se uitdaging sou aanvaar, sou dit vereis dat hy by konflik en geskille betrokke moes raak. Sy ingesteldheid was egter dié van ’n geleerde en sy tenger liggaam en geaardheid het van sulke aktiwiteite weggedeins. Farel het daarop aangedring dat hy moes help om Genève tot oortuiging te bring deur op te staan en te sê: “Mag God jou studies ver-vloek indien jy nou, wanneer Sy Kerk jou nodig het, weier om hulp te verleen.”

Geroep en gestuur
Calvyn was duidelik hierdeur geskok. Farel se donderende stem het vir hom soos God s’n geklink. Hy het onmiddellik toegegee en ingestem om in Genève te werk. Hierdie stad het die middelpunt van die Franse Rewolusie geword en die drukkers in dié stad het die besigste in die hele Europa geword.

Publiseer vir die Hervorming
Een van die grootste meesterstukke van die Hervorming, Die Institusie, is deur Johannes Calvyn geskryf en aan koning Francis van Frankryk gerig om aan hom te bewys dat die Protestante nie heidene nie, maar getroue volgelinge van die Skrif
is. Dit is merkwaardig hoe dié brief – ’n teologiese handboek van 1 000 blaaie met 80 hoofstukke – die verdediging van die Protestantse geloof en die Hervormingsmanifes asook die Katagese handboek en ’n gids vir Christelike Dissipelskap geword het.

Gemobiliseer om te evangeliseer
’n Hele stroom Hervormingsboeke het die lig gesien en duisende pastore, Evangeliste en sendelinge is aan die Geneefse Akademie opgelei en regoor Europa uitgestuur. In Calvyn se leeftyd het 2 000 Hervormde Kerke net in Frankryk alleen, ontstaan.

Catharina de Medici
Toe koning Francis egter in 1547 sterf, het Frankryk onder beheer van sy vrou, Catharina de Medici, gekom. Hierdie Jesebel en manipulerende ‘Koningin van Konkelary’ het die Franse politiek vir die volgende paar dekades gedomineer. Die heerskappy moes na regte na Antonie de Bourbon, die leier van die Hugenote gegaan het. Catharina de Medici het dit egter vir haarself ingepalm. As ywerige Katoliek was sy vasbeslote om van die ‘aansteeklike siekte, protestantisme,’ ontslae te raak.

Verraad
Op Sondag 1 Maart 1562, was die hertog van Guise, die getuie van ’n massamoord op honderde Protestante in ’n kerk in Vassy. Ten einde oorlog te vermy, moes die troonopvolger, Henri, koning van Navarre en die seun van Antonie de Bourbon, met Catharina se dogter, Marguerite, trou. Hierdie huwelik was veronderstel om vrede tussen die Hugenote en Katolieke in Frankryk te bring, maar dit het in ’n valstrik verander omdat Protestantse aristokrasie vir die troue na Parys gestroom het. Catharina het haar tienerseun, koning Charles IX, oortuig om bevel te gee dat dié grootskaalse massamoord moes plaasvind.

Die Heilige Bartolomeusnag massamoord
Op 24 Augustus 1572, vroegoggend, het Henri van Guise die Katolieke troepe gemobiliseer om die koning se opdrag uit te voer. Net in Parys alleen is daar 5 000 Protestante vermoor. Die dodetal regoor die land was meer as 30 000. Die Spaanse ambassadeur het aan Rome terugrapporteer: “Op hierdie oomblik, terwyl ek skryf, word almal doodgemaak...nie eers die kinders word ontsien nie. Mag God hierdeur geseën word!” Pous Gregorius XIII en sy kardinale in Rome was hieroor verheug en het ’n baie plegtige mis as dankseggingsdiens bygewoon. Die pous het opdrag gegee dat ’n spesiale medalje gemunt moes word om die massamoord te gedenk en verskeie fresko’s wat hierdie massamoord uitbeeld, is bestel om die Vatikaan te versier.

Plotselinge verandering en weerstand
Die Heilige Bartolomeusnag massamoord het die Protestantse denkwyse totaal verander. Calviniste het verander van aanvaarders van die heilige reg van konings na voorstanders van die skeiding van mag, beperk tot die regering en die oppergesag van die wet. Die Katolieke saak, alreeds bevlek deur die bloedige Mary se vervolgings in Engeland en die hertog van Alva se slagting in Nederland, is gekenmerk deur die onmenslikste vervolgings, tirannie en verraad. Die Heilige Bartolomeusnag was die begin van die agt geloofsoorloë in Frankryk.

Voorspoed omgekeer
Henri van Guise is op bevel van Henri III, wat self vermoor is, vermoor. Dit het die Protestant, Henri van Navarre, die enigste ernstige aanspraakmaker op die troon in Frankryk gemaak. Omdat die Katolieke meerderheid nie die Protestantse koning van Frankryk kon verduur nie, het Henri homself tot Katoliek verklaar. In 1594 het hy Parys triomfantelik as koning Henri IV binnegery en in 1598 teken hy die Edik van Nantes waarin die Hugenote godsdiensvryheid beloof word. Die volgende 12 jaar het die Hugenote, en die hele Frankryk, floreer.

Standvastig tydens vervolging
In 1610 is Henri IV egter vermoor en onder Lodewyk die XIII en sy eerste mi-nister, kardinaal Richelieu het die Pro-testante toenemend onder druk verkeer. Gedurende dié tyd het die Hugenote bekend geword as ‘Die Kerk van die Wildernis’ omdat dienste in die uiterste geheimhouding, dikwels in woude, gehou moes word. Die Hugenote het dwarsdeur die Protestantse wêreld vir hulle heldhaftige lyding, onwrikbare geloof en standvastige moed bekend geword.

Herroeping
In 1685 het Lodewyk die XIV, die Sonkoning, die Edik van Nantes met die Edik van Fontainebleau vervang.
Hierdeur is Protestantse kerkdienste verbied, alle kinders moes in die Katolieke godsdiens geskool word en emigrasie is verbied. Honderdduisende Franse Hugenote, wat intellektuele, dokters en professionele mense in Frankryk ingesluit het, het na Noord-Amerika, veral New York en Virginia, Engeland, Duitsland en Holland geëmigreer. Veral in Duitsland is hulle hartlik deur koning Fredrick Wilhelm verwelkom. Honderde wat na Holland verhuis het, het na Kaap die Goeie Hoop geseil waar hulle in en om die toenmalige wildernisgebied, bekend as
Olifantshoek, gevestig het.

Die Huis van Oranje
Louise de Coligny, die dogter van die vermoorde Hugenote-leier, admiraal Gaspard de Coligny, is met prins Willem van Oranje, die leier van die Hollandse Protestantse Weerstandsbeweging teen die Spaanse Katolieke, getroud. Die huwelik tussen die Hugenoot-aristokrasie en Hollandse vorstehuis het meegebring dat Willem van Oranje III, later koning van Engeland, die held van die Prote-stantse magte in Noord-Ierland geword het. Selfs vandag nog is oranje die kleur van die Protestante in Noord-Ierland en dit is ook die oorsprong van die naam van een van die grootste riviere in Suid-Afrika. Die Oranje Vrystaat is ook na prins Willem van Oranje vernoem. Die oranje in die ou Suid-Afrikaanse vlag is ook om waardering te wys vir die geweldige rol wat die Hugenote in die geveg om geloof en vryheid in Holland, België en Suid-Afrika gespeel het.

Die verdediging van die Hugenote
Die vervolging van die Protestante in Frankryk het formeel tot ’n einde gekom toe die Edik van Toleransie in 1787 deur koning Lodewyk die XVI geteken is. In Oktober 1985 het president Francois Mitterand van Frankryk, ter viering van die herroeping van die Edik van Nantes, formeel aan die nageslag van alle Huge-note regoor die wêreld verskoning gevra. Die Franse regering het daardie jaar ’n spesiale posseël gedruk wat gelees het: ‘Frankryk is die tuiste van die Hugenote.’

Besoek die Hugenote Museum
Indien jy nog nooit die geleentheid gehad het om die Hugenote monument en museum in Franschhoek te besoek nie, sal dit beslis vir jou ’n fassinerende en inspirerende ervaring wees. Boekies oor stambome en die nageslag van elke Hugenoot-familie kan ook by die museum gekoop word.
JUIG! beplan om in elke uitgawe hierdie jaar ’n artikel te plaas waarin die erfenis van die Hugenote belig sal word.

DR. PETER HAMMOND is die outeur van The Greatest Century of Reformation. Skakel 021 689 4480 of mission@frontline.org.za of besoek
www.ReformationSA.org

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication