Maar die Woord van die Here, dit bly vir ewig. En hierdie Woord is die Evangelie wat aan julle verkondig is.

1 Pet. 1:25.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View February 2013 Issue >>
 

Andreas
Andreas was die eerste van die Apostels wat Jesus gevolg het. Ons sien hom deurgaans in die Evangelies mense na die Here toe lei, insluitend die seuntjie met die vyf brode en twee vissies. Na die dag van die uitstorting van die Heilige Gees, het Andreas wydverspreide sendingtogte na die Kaukasiese berge onderneem (hedendaagse Georgië), na die Skithiërs aan die Kaspiese See, na Bisantium (hedendaagse Turkye), na Griekeland, Thracië en Macedonië. Die kerkhistorikus, Eusebius, teken op dat Andreas die Woord verkondig het aan die Skithiërs, Sogdiërs en die Saksers.
Hy is in Patros gekruisig, waar hy as martelaar op ’n X-vormige kruis gesterf het. Die tipe kruis word vandag die St. Andrewskruis genoem. Ageas, die goe-werneur van die Edessenes, het gepoog om alle Christene te dwing om offers aan Romeinse afgode te bring. Andreas het hom openlik gekonfronteer en is daarvoor ter dood veroordeel. Andreas het verklaar: “Ek sou nie oor die eer en heerlikheid van die Kruis gepreek het as ek die dood aan die Kruis gevrees het nie.” Andreas is op 30 November 80 A.D. doodgemartel en 30 November staan gevolglik bekend as St. Andrew-dag. Vier lande maak aanspraak op Andreas as hulle beskermheilige: Rusland, Griekeland, Duitsland en Skotland. Die St. Andrewkruis kom voor op die nasionale vlag van Skotland.

Petrus
Simon, vir wie Jesus later die nuwe naam, Petrus, gegee het, is in Betsaida, Galilea gebore. Hy was ’n visserman en die seun van Jona. Sy broer, Andreas het hom na die Here toe gebring. Dit was Petrus wat so kragtig op Pinksterdag in Jerusalem gepreek het, toe meer as 3 000 siele vir Christus gewen is. Nadat hy verskeie kere in Jerusalem gevange geneem is, het Petrus en sy vrou in Babilon gaan bedien. Dit is hier waar hy sy eerste Sendbrief (1 Petrus) geskryf het. Terwyl hy in Rome bedien het, was Johannes Markus (die skrywer van die Evangelie van Markus) sy tolk. Markus het sy Evangelie geskryf onder die Apostoliese gesag van Petrus, wat  ’n ooggetuie was van baie van dit wat opgeteken is. Keiser Nero het die Apostel Petrus in 68 A.D. ter dood veroordeel. Petrus het daarop aangedring dat hy nie waardig is om op dieselfde manier as sy Heer gekruisig te word nie en is dus onderstebo gekruisig. Voordat hy gesterf het, het hy sy Romeinse tronkbewaarders, Processus en Martinianus, asook 47 van die ander gevangenes, bekeer.

Simon die Yweraar (‘zealot’)
Simon die Yweraar het deur Noord-Afrika gearbei, insluitend die groot stad van Carthago. Hy het die Evangelie in Spanje versprei en in Brittanje bedien. Hy is daar in 61 A.D. op 10 Mei in Caistor, Lincolnshire as martelaar dood.

Jakobus
Jakobus, die oudste broer van die Apostel Johannes, was die eerste Apostel om ’n martelaarsdood te sterf. Op die bevel van koning Herodes Agrippa is Jakobus in 44 A.D. in Jerusalem onthoof.

Filippus
Ná Christus se hemelvaart het Filippus na Skithië gereis (hedendaagse suidelike Rusland) en 20 jaar lank daar bedien. Daar word geglo dat Filippus die Evangelie tot in Gallië (hedendaagse Frankryk) verkondig het. Daarna het hy in Klein-Asië (Turkye) gaan bedien waar die Here hom in Hiërapolis gebruik het om die vrou van die Romeinse prokonsul te genees. Hy is hiervoor gekruisig.

Johannes
Die Apostel Johannes was die seun van Sebedeus,  ’n visserman van Galilea. Sy moeder, Salome, was die suster van Maria, die moeder van Jesus. Johannes, sy broer Jakobus, en die Apostels Petrus en Andreas was almal vennote in ’n vissersbedryf voordat die Here hulle geroep het. Johannes se broer, Jakobus, was die eerste van die Apostels wat gesterf het; Johannes was die laaste. Al die Apostels, behalwe Johannes, het gewelddadig gesterf. Johannes het egter ’n martelaarslewe gely. Die Here Jesus het sy moeder, Maria, in die sorg van Johannes agtergelaat. Johannes het kerke deur die hele Asië gevestig en die Boek van Die Openbaring, die Evangelie volgens Johannes, en 1, 2 en 3 Johannes geskryf.

Matteus
Matteus was ’n belastinginvorderaar en tollenaar voordat die Here hom geroep het. Hy was ’n begaafde skrywer, en was miskien selfs die beste geleerd van al die Apostels. Hy is die skrywer van die Evangelie volgens Matteus en het sendingtogte na Persië, Egipte en Ethiopië onderneem. In Ethiopië het hy ’n marteldood vir Christus gesterf.

Thomas
Thomas Didimus (tweeling) was ’n visserman van Galilea. Na die hemelvaart, het Thomas sendingwerk in Babilon gaan doen. Daar het hy die eerste Christen-kerke gestig. Daarna het hy in Persië en Indië gearbei en menigte bekeer. Die ‘Bar Thomas’ Kerk, in Indië bestaan nog tot vandag toe. Op 21 Desember sterf hy in Mylapore (hedendaags ’n voorstad van Madras) ’n martelaarsdood.

Matthias
Matthias is gekies as die Apostel wat die verraaier, Judas, vervang het. Matthias het gearbei in Armenië en die Oekraïne en het kerke in Colchis en Sebastopol geplant. Hy het as martelaar in Adjure (in hedendaagse Georgië) gesterf.

Bartolomeus
Die Apostel Bartolomeus het oral in Klein-Asië bedien, insluitend  Hiërapolis, Laodisea, Kolosse, in Armenië en Indië. In 68 A.D. het Bartolomeus in Albanopolis (Derbend in Azerbeidjan) ’n marteldood gesterf nadat hy die koning van Armenië tot die Christendom bekeer het. Die koning se heidense broer het Bartolomeus as vergelding vermoor.

Die jonger Jakobus
Jakobus (die seun van Alfeus) was Matteus se broer en die seun van
Maria (die vrou van Klopas – ook ’n volgeling van die Here). Jakobus is van Kapernaüm afkomstig. Hy het die kerke in Sirië gestig. Die skrifgeleerdes en fariseërs het hom in Jerusalem van die Tempel afgegooi en toe gestenig omdat hy Christus verkondig het.

Judas (Taddeus)
Die Apostel Judas het die Evangelie na Armenië geneem, waar hy die kerk in Edessa gestig het. Armenië het later een van die eerste Christen-koninkryke geword. Hy het ook later in Sirië en Persië evangelisasiewerk gedoen. Judas het in Kara Kalisa, naby die Kaspiese See, nagenoeg 64 km van Tabriz (hedendaagse Iran), as martelaar gesterf.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication