God is nie n mens dat Hy sal lieg nie.

Num 23:19a.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View February 2013 Issue >>
 

Nik en Ruth Ripken is veterane in oorsese sendingwerk nadat hulle langer as 30 jaar ondervinding op die sendingveld opgedoen het. Gedurende dié tyd het hulle saam met hulle drie seuns in Oos- en Suidelike Afrika sendingwerk gedoen. Hulle werk reeds sedert 1991 in lande wat hoofsaaklik as ‘geslote lande’ bekendstaan. Hulle moes ook die dood van hulle 16-jarige seun as gevolg van ’n asma-aanval op Paassondag in 1997, en die dood van vele Christen-bekeerlinge in Moslemlande, verwerk. Kort na die dood van hulle seun het die Ripkens ’n wêreldwye pelgrims-tog onder vervolgde gelowiges begin om die Bybelse begrip rakende sendingwerk te herower; veral rakende hoe om getuies te wees en huiskerke te plant in omgewings waar marteling en vervolging aan die orde van die dag is.

Toegewy aan Christus
Die Ripkens het onderhoude met ongeveer 600 vervolgde Christene uit 72 lande gevoer. Hierdie gelowiges was baie dapper en het die Ripkens vertel hoe om onder vervolging te floreer en nie net te oorleef nie. Hulle verteenwoordig ’n oorwinnende lewe in Christus – iets wat in Bybelse tye algemeen onder Christene was.
Hierdie egpaar het aan die voete van vervolgde gelowi-ges gesit, wat hulle in staat gestel het om ’n groot aantal boeke en artikels te skryf. Die egpaar bied werkswinkels aan vir kerkgangers, kweekskole, Bybelkolleges en veral vir diegene wat Christus te midde van groot vervolging verkondig.  Geopende Deure Suid-Afrika was onlangs gasheer vir die Ripkens, wat in die Midde-Ooste woonagtig is en op ’n lesingtoer in Suid-Afrika was. Ek was be-voorreg om ’n paar uur saam met hulle te spandeer en het na die onderhoud nederig, maar ook meer ingelig, gevoel.

Werk onder vervolgde nasies is seker somtyds hartverskeurend…
Nik: Die plek wat die grootste uitwerking op ons gehad het en ons verander het, is Somalië. Toe ons in 1991 soontoe is, was daar ongeveer 150 bekeerlinge uit ’n be-volking van 8 of 9 miljoen. Teen 1997 was nog net vier van hulle lewend. Hulle was Jesus-volgelinge vir ongeveer 20 tot 30 jaar, maar hulle dood is veroorsaak deur ’n verwantskap met ’n buitestaander –
iemand soos ek en jy – iemand van ’n Wes-terse kerk.
Hulle dood is veroorsaak deur hulle vriendskapsverhouding met hulle werkgewers; diegene saam met wie hulle aanbid het. Hulle is doodgemaak omdat hulle geskenkte Bybels sigbaar rondgedra het. Àl hierdie gelowiges is doodgemaak. Ons het daardie land gebroke agtergelaat.

Hoe het julle die verlies hanteer?
Ruth: Ons het ongeveer 50 000 mense per dag kos gegee en probeer om hulle in daardie aaklige omstandighede – die Somaliese hongersnood – aan die lewe te hou. Ons het soggens wakker geword met ongeveer 20 babas wat gedurende die nag as gevolg van hongersnood gesterf het. Daar was baie verwoesting, en ek weet nie wat ons aan die gang gehou het nie, maar daar was ’n dringendheid om in daardie omstandighede te probeer help en
Christus se hande en voete te wees.
Een ding waarvan ek seker is, is dat God jou nie dinge wat met jou gebeur, verniet laat ervaar nie. Hy gebruik altyd die erva-rings in jou lewe om ander te bemoedig en te help.
Sommige gelowiges is gemartel, ons seun is oorlede en net twee maande daarna ook my ma. Ons is terug Amerika toe, onseker wat ons verder te doen staan. Ons was gereed om handdoek in te gooi. Maar die Here het aan ons gesê: “Julle kan blydskap kies. Te midde van hierdie tragedie moet julle blydskap kies!”
Dit was slegs toe ons die doelbewuste besluit geneem het om blydskap te kies, dat ons oorwinning ervaar het. En dit is wat ek in die lewens van gelowiges wat vervolg word, gesien het: hulle leef ’n lewe van blydskap, dit maak nie saak wat hulle in die gesig staar nie. Dit is ook nie geveinsde, mensgemaakte blydskap nie – dit kom van Christus! Ons het toe besluit om na ‘geslote lande’ terug te gaan en met gelowiges onderhoude te voer. Ons het met oop arms gegaan en gesê: “Leer ons, wys ons wat dit vir ons, die Weste, gaan kos om met julle, wat die prys vir julle geloof betaal…wat huise, vroue, kinders verloor en deurentyd gevangenskap in die gesig staar, hande te vat.”

Watter sendingstrategieë volg julle nou nadat julle hulle antwoorde gekry het?
Nik: Ons volg dié strategie – hoe om wys tussen venynige wolwe te wees. Ons kan dit nie vermy om soos skape onder die wolwe te wees nie. Voor ons ondervin-ding in Somalië, was ek en Ruth nog nooit iewers waar die wolwe die meerderheid was nie en dit geld waarskynlik vir die meeste Christene in die Weste. Hulle leef in gemeenskappe wat verdraagsaam is teen-oor die skape wat in die meerderheid is.
Die gelowiges het ons meegedeel dat dit absoluut noodsaaklik is om die taal en die kultuur aan te leer. Hulle woorde aan ons was: “Ons kan die werk van ’n pastoor doen en selfs ’n pastoor wees. Julle werk is om onder die wolwe te wees. Julle werk is om vir ons te wys hoe julle die Christus-boodskap aan ’n oneerlike polisieman bring, hoe weerspieël julle Sy lig teenoor julle bure wat julle sal aangee of julle huis sal afbrand? Wys vir ons hoe om Jesus se boodskap as skape aan andere onder die wolwe te bring.”
As jong paartjie het ons heel arrogant gedink dat ons Jesus na die stamme moet neem en hulle moet leer wat die Bybel sê.
Nou het ons egter 72 lande besoek en aan die voete van 600 gelowiges gesit sodat die vervolgde Christene ons kan leer wie Jesus is en wat die Bybel eintlik behels. Dit is waarskynlik een van die belangrikste dinge wat ons as gelowiges in Westerse lande moet leer: ons moet van ons arrogansie afstand doen voordat ons op ’n vliegtuig klim. En dit is baie beter om in Jerusalem en Judea daarvan afstand te doen as wat dit op die verste uithoeke van die wêreld uit jou uitgeslaan word.

Wat het julle geleer deur in die geslote lande te bly?
Nik: My kultuur het die Bybel in die verlede tyd geplaas – dit is ’n ou boek wat handel oor wat God gedoen het, en die aanname bestaan dat God hierdie dinge nie meer doen nie. Vervolgde gelowiges gee weer vir ons die Bybel in die teenwoordige, aktiewe tyd terug. Die Woord is ’n tweesnydende swaard, dit is sowel Ou- as Nuwe Testament. Baie van hierdie gelowiges leef in Ou Testamentiese kontekste en nasies – Westerlinge kan dit nie altyd hanteer nie. Indien jy nie verlies en ontbering kan hanteer nie, koop dadelik vir jou ’n eenrigtingkaartjie huis toe en verbrand jou brûe. Dit kos nederigheid, geloof en geduld om in hierdie lande te werk omdat die proses om hierdie mense te bereik, dikwels jare neem. Jy besef baie gou dat jy meer bý hulle gaan leer as wat jy áán hulle gaan leer en dat jy meer gaan luister as praat.

Wat is nodig om ’n effektiewe sendeling te wees?
Nik: Die woord ‘sendeling’ is nie eers in die Bybel nie – ek het dus ’n afkeer van die woord, juis omdat dit nie in die Bybel is nie. Toe ek gelowiges in een baie streng Moslemland oor hulle geliefde werkers uitgevra het, is een persoon se naam telkens genoem. Ek was nogal oorbluf dat een mens se naam so dikwels genoem kon word en het toe gevra waarom juis dié man se naam herhaal word.
Hulle vertel my toe dat sy pa in Amerika oorlede is en dat hy nie genoeg geld gehad het om die begrafnis by te woon nie. Hy het die vervolgde Christene genader en gevra om by húlle geld te leen! Hy het nie na ander Westerlinge gegaan nie, maar na die arm, vervolgde gelowiges. ’n Mes is deur my hart gedryf toe hulle sê: “Weet jy hoekom ons hom liefhet? Omdat hy ons nodig het! Die res van julle het ons nie nodig nie!

Gelowiges wil dus voel dat hulle nodig is, en nie net ‘gehelp’ word nie…
Nik: Ja. Wanneer ons ongehoorsaam is en nie vir ons broers en susters in gevangenskap bid nie, ignoreer ons ’n deel van die Liggaam van Christus. Dit is amper asof jou een arm afgekap word sonder dat jy dit eens agterkom! En dan dink ek in my stilligheid hoe kan gelowiges in Suid-Afrika (of Europa of Noord-Amerika) nie agterkom dat daar ’n arm weg is nie? Of dat hulle neus afgesny is nie?
En dit is een van die dinge wat satan en die vervolgers wil hê gelowiges moet voel: geïsoleerd, alleen, vergete of in die steek gelaat. Ons versterk hulle geloof en hulle vermoë om vervolging te hanteer wanneer ons vir hulle bid.

Hoe kan JUIG!-lesers ander help om hierdie gelowiges te onthou?
Nik: Ons praat van vervolgde gelowi-ges met die klem op vervolging eerder as om oor gelowiges wat vervolg word, te praat. Moenie vir hulle jammer voel nie. Ondersteun hulle eerder met julle gebede, briewe en gawes. Maak jou kerk daarvan bewus deur Geopende Deure uit te nooi. Skenk donasies aan veldwerkers of teken as vennoot aan. Die belangrikste is egter om nie die vryheid om oor Christus te getuig, waarvoor hier-
die gelowiges sterf, te vermors nie!

Vir meer inligting oor Nik en Ruth se bediening, besoek www.nikripken.com .
Om Nik se nuwe boek, ‘The Insa-nity of God’ te koop, kontak Geopende Deure, Suid-Afrika.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication