Maar die man wat julle in die verwarring bring, wie hy ookal mag wees, God sal hom straf

Galasiers 5:10

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View March 2013 Issue >>
 

Sal jy Jesus volg waarheen Hy jou ook al lei? Is jy taai genoeg om Hom te volg, veral na plekke toe waar dit moeilik gaan? Bestaan die moontlikheid dat ons die vrede en sekuriteit van ’n nuwe lewe in Christus gekies het, maar dat ons alles in ons vermoë doen om van Sy lyding af weg te vlug?
Dit is die uitdaging wat Nik en Ruth Ripken aan ons stel. Hulle is sendelinge wat die pad saam met Christene in Kentucky asook dié in oorlog geteisterde Somalië gestap het. Die onheil was met tye oorweldigend toe hulle tienerseun gesterf het en die werk, waarvoor hulle geroepe gevoel het, terselfdertyd stelselmatig voor hulle oë verwoes is. Hoe kan God goed wees wanneer die lewe so donker lyk? Hoe kan Christus as Oorwinnaar regeer wanneer van die mense wat as martelaars gesterf het, van Nik se beste vriende was?

Om Jesus te volg
Uit die puin van Somalië het die idee by die Ripkens ontstaan om deur die wêreld te reis en die verhale van oor die 600 gelowiges in 60 lande aan te hoor. Dit was manne en vroue wat deur Jesus geleer is om taai en voorbereid genoeg te wees om saam met Hom deur swaar vervolging heen te loop. Hierdie gelowiges roep saam met die getuies in die Skrif uit dat Jesus dit werd is; Hy is my lewe werd, die lewe van my eggenoot, en die lewens van ons kinders. In hierdie tweede gedeelte van my onderhoud met die Ripkens, bespreek ons die uitdagings om vervolgde gelowiges te bereik.

Om by ’n nuwe kultuur geïntegreer te word, die taal aan te leer en tussen die mense te woon: dit is ’n langtermyn proses wat baie verskil van vele ‘Westerse’ sendingstra-tegieë...
Nik: Een van die dinge wat die vervolgde gelowiges sê, is dat hulle daarvan hou wanneer mense vir kort besoeke kom, maar hulle noem dit ‘skiet en ry’ (‘drive by shooting’).
Wanneer jy vir ’n rukkie lank van ‘buite’ af inkom na hierdie mense toe, sal jou hart so gebroke oor vervolging wees dat jy een van twee dinge gaan doen: jy sal geld op ’n misplaasde manier aanwend, of jy sal die vervolgdes saam met jou huis toe bring. Hoe weet jy wanneer om Josef uit die tronk te laat? As jy hom voortydig uit Farao se gevangenis bevry, sal die Egiptenare sowel as die Jode sterf.
Wanneer jy na plekke soos Egipte, Tunisië, Algerië, Somalië, Afganistan en Pakistan gaan, is dit asof jy in Suid-Afrika (die Nuwe Testament) op ’n vliegtuig klim en dan in die Ou Testament afklim. Wat jy dus somtyds doen, is om die Nuwe Testament agter te laat, jy klim van die vliegtuig af en jy wil vir Elia, Moses en Josef gaan sien – solank hy nie in die tronk is nie. As hy in die tronk is, wil jy hom nie sien nie, want dan mag jy dalk ook in die tronk saam met hom beland. Jy moet daardie verhale van die Ou Testament ken...sodat jy ’n konteks het waarbinne jy die boodskap van die Nuwe
Testament kan plaas.

Hoe bereik julle mense in hierdie vyandiggesinde gebiede?
Ruth: Baie van die mense wat Jesus nie ken nie, kan nie lees of skryf nie. Ons moet dus die Bybel goed genoeg ken om die verhale aan hulle te vertel. Hulle kan nie die Woord oopmaak en die verhale vir hulleself lees nie. As ons nie hierdie verhale vertel of leef nie, gaan Jesus nie in hierdie plekke bekend gemaak word nie.
Ons poog deesdae nie meer om individue na Christus toe te bring nie, maar eerder gesinne as ’n geheel. (Dink aan die tronkbewaarder en sy huisgesin in Filippi; Cornelius, ens.) In lande waar Islam die meerderheid is, is dit nodig dat ’n hele gesin saam tot beke-ring kom sodat hulle mekaar kan ondersteun, liefhê en aanspreeklik hou. Hulle vervolging mag moontlik nooit tot ’n einde kom nie, maar ten minste het hulle die Liggaam van Christus by hulle.

Hoe lank neem dit om ’n effektiewe sendeling te word?
Nik: Gelowiges in vervolging weet meer van ons as wat ons van onsself weet – en hulle weet dit neem ongeveer 10 jaar vir ons om doeltreffend te wees. Om die nuwe taal aan te leer, neem ten minste twee volle jare van toegewyde studie...net om op ’n baie elementêre vlak te kan kommunikeer. Gewoonlik is daar na ongeveer vier jaar ’n groei in doeltreffendheid waarneembaar, maar die werklike draaipunt is eers na 10-12 jaar van toegewyde werk in ’n land.
Die grootste kwessie is dat jy nie kan verwag om in Noord-Afrika, Oos- of Sentraal-Asië te doen wat jy in Suid-Afrika gedoen het nie. As jy nie in jou tuisland betrokke by sending is nie, in jou eie Jerusalem nie, moet dit dan nie gaan aanpak in Judea, of Samaria of die uithoeke van die wêreld nie.

Daar word gesê dat die Westerse Kerk in ’n koma is rakende die toestand van ver-volgde gelowiges...
Nik: In Matteus 28, sê Jesus: “GAAN!” (Die Groot Opdrag). Hy sê nie gaan nadat Ek jou geroep het of nadat jy ’n ‘spesiale roeping’ gekry het nie. Gelowiges in vervolging wat in die tronk is, geslaan word, gesinslede verloor het (alles omdat hulle die Kruis opgeneem het en getuies is), is verbaas dat Christene in Suid-Afrika, Amerika, Australië en die grootste gedeelte van Europa die getuienis oor die Opstanding van Jesus prysgegee het te midde van godsdiensvryheid, terwyl gelowiges in vervolging dit nog NOOIT opgegee het nie. Hulle sal dus vir ons sê: “As jy nie oor Jesus gaan getuig in Suid-Afrika nie, hou jou geld liewers vir jouself. As jy nie in Suid-Afrika kan getuig nie, gaan jou gebede nie juis diep wees nie. As jy nie oor die straat gaan stap om na jou buurman uit te reik nie...waarom sal ons ooit verwag dat jy hier na ons toe sal kom en dit hier beter kom doen?”
Hulle kan hulle nie voorstel dat Suid-Afrikaners en Amerikaners nie gewillig is om te midde van sulke vryheid van hulle geloof te getuig nie, en dit terwyl gelowiges in vervolging gewillig is om tronk toe te gaan vir hulle geloof. Hulle sê vir ons: “Luister hier, moenie vir ons jammer voel nie. Wanneer ons geslaan, in die tronk gestop en vervolg word, is dit duidelike bewys daarvan dat ons geweier het om ons monde te hou en stil te bly. Moenie vir ons jammer voel nie en moenie bid dat ons bevry word van vervolging nie, bid liewer dat ons gehoorsaam sal wees in vervolging.”

Dit is ’n ontnugtering!
Nik: ’n Man, wie se vader 10 jaar lank onmenslik deur die KGB gemartel is, het vir my gesê: “Toe ek in die tronk was in my land het ek groot vreugde daaruit geput dat ek vir Jesus ly sodat julle in Kentucky meer vryheid kan hê om van Jesus te getuig.” Ek het toe my bandopnemer afgeskakel en vir hom gesê: “Jy kan dit nie aan my doen nie, want ek kan jou nie daarvoor vergoed nie.” Hy het na my gekyk, geglimlag en gesê: “Dit is die skuld van die Kruis.” Ek het weer eens gesê dat dit ’n skuld is wat ek nooit kan terugbetaal nie. Hy tik my toe voor die bors en sê: “Jong man, moenie my vreugde steel nie, ek het groot vreugde geput uit die wete dat ek in die tronk was en dat my lyding die vryheid van julle in Kentucky gekoop het, en moet jy dit nou nie mors nie.”

Hoe moet ons hulle vervolging benader?
Nik: Ons het ons Bybels herskryf en lees dit deur filters – dat vervolging verouderd is...Vervolging is nie iets waarna jy soek of waarvan jy af weghardloop nie, dit kom as gevolg van wie Jesus is.
Die primêre oorsaak van vervolging in die wêreld is omdat mense na Christus toe draai. As die Kerk dus bid vir vervolging om op te hou, dan bid hulle in werklikheid dat mense nie meer tot bekering kom nie...
As ons gehoorsaam is om te doen wat God ons geroep het om te doen, sal mense gearresteer en geslaan word, hulle sal hulle werk verloor, hulle kinders sal van hulle af weggeneem word, sommige sal gemartel word, in gevangenskap geplaas word en sommige selfs gedood word. Weens ons gehoorsaamheid om die Evangelie te verkondig, sal ons vervolging ly. Om in die sendingveld werksaam te wees, het jy volharding nodig!

Westerse Christene het so baie te leer by hierdie broers en susters in die geloof...
Ruth: Wanneer jy die Bybel lees, sal jy sien dat dit vol is van verhale oor vervolging (Daniël, Paulus, ens.) As gelowiges in Christus, sal ons vir ons geloof vervolg word, of ons nou in ’n vry land of ’n vervolgde land is, ons is deel van ’n Liggaam. Wanneer ons vir die gelowiges in daardie lande bid en teenoor ons bure getuig, is ons in volle vennootskap met hulle en kan hulle sê; “Ja, ek ly hier vir Jesus sodat jy die kans het om in jou land in vryheid te getuig.’’

Laaste gedagtes oor die reis wat julle onderneem het?
Nik: Ons het altwee omtrent al 10 keer in Malawi malaria gehad en het soveel medikasie geneem dat dit senuweeskade in my bene, arms, voete en hande veroorsaak het. Ons het ons seun in die sendingveld sien sterf. Ons het 20 keer getrek...maar wanneer mense kyk na die prys wat ons betaal het en vir ons vra wat ons sal doen as ons ons lewens weer oor kan begin sal ek antwoord dat ek 10 jaar vroeër sou gegaan het!

Waar kan ons meer uitvind?
Ruth: Vir meer inligting oor ons bedie-ning, gaan na: www.nikripken.com. Om een van ons opleidingsessies vir kerke en sendelinge by te woon, of om ons nuutste boek, ‘The Insanity of God’, te koop, kontak asseblief Geopende Deure.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication