U Woord, Here, staan vir altyd vas in die hemel.

Ps. 119:89.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View March 2013 Issue >>
 

Dit is nie die gemiddelde persoon wat ’n meestersgraad behaal nie, dit is ook nie die deursnee vrou wat gaan studeer om ’n pastoor te word nie. Vir ’n ‘huishulp’ om beide te vermag, is ’n merkwaardige verhaal van moed, deursettingsvermoë en God se reddende genade.
Nobuntu Matholeni is ’n klein vroutjie met ’n breë glimlag en ’n groot hart. Vra ’n mens haar wie die mense is wat die grootste impak op haar lewe gehad het, vang haar antwoord ’n mens onkant. “Behalwe vir Jesus, is dit die mense wat elke dag uit die bed uit opstaan en weer gaan probeer.” Dit openbaar haar diep empatie met diegene wat sy bedien.
Sy was een van agt kinders wat haar ma vrou-alleen grootgemaak het omdat haar man verongeluk het toe Nobuntu net vier jaar oud was. Haar ma het van plaas tot plaas gewerk om haar kinders te onderhou. Hulle het hulle uiteindelik in ‘n township in Queens-town gevestig na hulle uitsetting uit Jamestown gedurende die apartheidsjare.

Vrou van geloof
Van haar ma sê Nobuntu: “Sy is een van my geloofshelde. Ek het haar sien bid. Ek het gesien hoe sy God vertrou.” Haar ma se doelwit was om al agt haar kinders deur matriek te kry. Dit het sy gedoen deur met haar karige inkomste elke maand vir net een kind boeke of skoolklere te koop.
Dit het beteken dat Nobuntu soms vir ’n paar maande skoolgegaan het voordat sy die nodige boeke in die hande kon kry. Daar was ook geen geld vir ander klere as skool-klere nie, maar die insig dat geleerdheid belangrik is, is op ’n vroeë ouderdom tuisgebring. Die hele gemeenskap het haar help grootmaak: “As ek rondgedool het wanneer ek in die skool moes wees, sou hulle my stop en vra hoekom ek nie in die skool is nie. Hulle was almal my ouers.”
Drie van haar broers is aan VIGS oorlede en een wat onderskeidings in matriek behaal het en selfs beter as Nobuntu gevaar het, het ’n arbeider geword. Hy het verlede jaar onderwys aan Unisa begin studeer nadat hy haar voorbeeld gevolg het. Nobuntu se susters is almal huishulpe. Dit was ook die pad wat Nobuntu na skool gevolg het.
“Dit gaan nie my lewe wees nie”
Sy is Kaapstad toe met drome om ’n verpleegster te word, maar het soos talle ander voor haar as ’n huisbediende opgeëindig. “Ek het na die ouer vroue om my gekyk en gewonder hoe hulle dit jaar na jaar doen.” Sy het besluit dat dit nie haar lewe gaan wees nie, en probeer spaar sodat sy kon studeer. Sy het by Louise en Tony Pitt uitgekom: “Daardie twee was soos my ouers vir my.”
Tony het aan George Whitfield College studeer en wanneer Nobuntu in sy studeerkamer afgestof het, het haar oog op die teologieboeke geval wat op sy lessenaar oopgelê het. Sy het begin lees. Die Pitt’s het haar belangstelling opgemerk en haar toegelaat om Tony se werkopdragte en kommentaar daarop te lees.
Sy was toe nog ongered, maar die Pitt’s het haar saam met hulle kerk toe genooi. Hulle het nooit druk op haar geplaas nie, nie eers met haar oor Jesus gepraat nie, maar dit was hoe hulle haar behandel het wat haar verander het. “Die saad vir my bekering was in hulle kerk gesaai, maar ek het die Here in die kerk in Khayelitsha aangeneem.”

God se roeping
Toe sy Tony en sy vrou meedeel dat God haar geroep het en dat sy Bybelskool toe gaan, was hulle oorstelp en het aangebied dat sy oor naweke vir hulle kon werk sodat sy steeds ’n inkomste kon verdien terwyl sy studeer. Met hulle hulp, die hulp van hulle kerk waar Tony die sendingkoördineerder was, asook prof. Land van Noord-Carolina, het Nobuntu haar vier jaar by die Baptiste teologiese skool voltooi.
Sy vertel van tye waar sy nie geweet het waar die fondse vir die volgende semester vandaan sou kom nie: “Soms kon ek ’n week nadat klasse begin het, nie klasse bywoon nie omdat ek steeds vir fondse gewag het. Ek het dan gebid: ‘Here, wat nou?’ Dan bel admin my en sê iemand het so pas die geld vir ’n verdienstige student betaal, my klasgeld is betaal.”


Laat die droom weer vlamvat
Nobuntu se advies aan werkgewers en die wat invloedryke posisies beklee wat ’n werknemer wil help om verder in die lewe te vorder, is so tipies van haar uitkyk op die lewe. “Die meeste mense dink nie dat hulle potensiaal het nie. Hulle het hoop verloor en van hulle drome vergeet. Hulle het net iemand nodig om hulle weer te laat vlamvat, om hulle aan wat hulle voorheen wou wees, te herinner.”
Sy praat geesdriftig oor ’n droom wat net in herinnering geroep moet word, dat iemand net die geleentheid gegun moet word om ’n droom te onthou. Volgens haar dink die meeste van ons dat geld die struikelblok is – daar is altyd te min – maar waar daar hoop is, is enige iets moontlik! “Wanneer ’n persoon hulle drome uitspreek, word alles in hulle weer wakker. Hulle sal die geleenthede raaksien, al wat hulle soms nodig het, is ’n rigtingwyser, dan is omstandighede nie meer struikelblokke nie. Dan sal jy sien dat die oplossings van die persoon self kom, want skielik lyk die struikelblokke kleiner as hulle droom.”

Teenkanting van ander
Nobuntu praat geesdriftig daaroor om met die visie wat God in jou geplant het in kontak te kom. Volgens haar het ons elkeen reeds alles in ons wat ons nodig het om te wees wat ons graag wil wees, soms moet ’n mens net eers toegerus word. Sy blyk onstuitbaar te wees in die visie wat God in haar geplant het!
By die Baptiste kweekskool het haar manlike medestudente gesê haar studie is nutteloos, want sy gaan op die ou end tog maar net Sondagskoolklasse gee. Tog was sy slegs die tweede swart vrou wat as Baptiste pastoor ingewy is en is onmiddellik na haar graduering deur die Vishoek Baptiste Kerk beroep. Sy het ook teëstand van die vroue in haar familie ervaar. Hulle houding was dat daar niks vir ’n vrou in geleerdheid is nie.
Tersiêre opvoeding vir ’n man is aanvaarbaar omdat geleerdheid vir die vroue in Nobuntu se kultuurgemeenskap alles oor mag gaan en ‘wat wil ’n vrou met mag doen?’ Maar Nobuntu sê: “Dit gaan nie oor mag nie, maar bemagtiging. Bemagtiging van myself, wat op sy beurt weer bemagtiging van die vroue en van die gemeenskap meebring, want opvoeding gee jou ’n platform om ver-andering teweeg te bring.”

Dien God met jou talent
Sy keer herhaaldelik terug na die tema om nie net vir onsself te leef nie. Sy glo dat ons die filosofie van Ubuntu moet toepas. Sy is passievol wanneer sy praat oor opvoeding en om dit nie vir eie gewin te gebruik nie, maar om ook ander te bemagtig.
Sy kry nou oproepe uit gemeenskappe om te help om kinders in skole en universiteite geplaas te kry. ’n Vriend het spottenderwys na haar verwys as “die minister van opvoeding”. Nobuntu sê prontuit: “Jy kan baie ver met God gaan, selfs verder as jy verder gestudeer het. God gee ons die breinkrag en ons moet Hom daarmee dien. Opvoeding poleer ons Godgegewe talent.”

Bediening by Living Hope
Tydens haar bediening by Living Hope moes sy die hospitaalpersoneel, die MIV-leiers en hulle families bedien. Sy het niks van MIV/VIGS-berading af geweet nie. “Oorspronklik was ek geroep om die siekes te evangeliseer sodat hulle Hemel toe kon gaan.
Maar namate ek in my berading gegroei het, het ek geleer dat daar meer is wat moet gebeur voordat hulle sterf. Hulle is mense, hulle het waardigheid en ek het nodig gehad om ’n verhouding met elkeen te bou. Ek wou nie hê hulle moet net ‘Hemel toe gaan’ nie, ek wou hê dat hulle Christus moet ken en ten volle leef.” Tydens die interaksie met vroue wat die MIV-ondersteuningsgroepe bygewoon het, het sy besef dat die vroue bang is om hulle woede en pyn aan God te bely.
Die vroue is deur die kerk en gemeenskap veroordeel en Nobuntu wou hulle mondstuk wees. Dit is hoe sy by die Universiteit van Stellenbosch beland het om haar meestersgraad daar te voltooi – om meer oor pastorale sorg en berading te leer. Van die inligting wat sy in haar studie op Stellenbosch teëgekom het, was dinge wat die Heilige Gees haar reeds by Living Hope geleer het. “God se Gees het my sonder boeke geleer, die boeke het later net bevestig wat ek reeds deur ervaring geleer het.”

Berading
Sy sê oor haar MIV-berading: “Ek voel bevoorreg en is tot nede-righeid gebring. Dit is ’n uiters pynlike en persoonlike reis wat jy saam met ’n ander persoon onderneem, hulle is nie net ’n gevallestudie of ’n statistiek nie. ’n Mens trap versigtig.”
Volgens Nobuntu berei die kurrikulums by Bybel- en kweekskole studente nie voor om persone wat verkrag is en met MIV moet saamleef, te beraad nie. Hierdie dinge gebeur ook in kerke, maar die mense praat nie hieroor nie.
Dit is haar grootste bekommernis: “Waarheen gaan hierdie mense vir hulp?” Sy voel nou toegerus om met sensitiwiteit en insig te kan beraad en weet wanneer ’n persoon vir kliniese hulp verwys moet word en watter praktiese stappe om te neem: “Jy stuur nie ’n vrou terug na ’n situasie waar sy mishandel gaan word en bid net harder nie!”

Visie vir die toekoms
Nobuntu beoog om haar doktorsgraad te behaal. Verder is haar visie om kurrikulums vir teologiese en tersiêre instellings te help skryf en studente in pastorale sorg te onderrig, veral rakende mishandeling en MIV/VIGS.
“Ek wil mense oplei, beide op grondvlak en op tersiêre vlak. Ek wil nie hê my kennis en ervaring moet net beperk tot my klein kerkkantoortjie wees nie. Dit moet beskikbaar wees in hospitale, polisie-stasies en in gemeenskappe. Dit moet uit die kerk uit geneem word na waar die mense is wat dit nodig het.” Sy sê dat gemeenskapswerk altyd deel sal wees van wat sy doen omdat dit haar in voeling hou met die werklike wêreld en ’n mens sien wat andere moet deurmaak.
“Ek wil op grondvlak wees en sien wat God kan doen, want by Hom is alles moontlik.’’
Ed: Nobuntu is beskikbaar om as gasspreker by konferensies of kerke op te tree. Kontak haar via e-pos by: nobuntu.matholeni@gmail.com

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication