Jy moet die Here jou God liefhe met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.

Eksodus 20:1

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View May 2008 Issue >>
 

Vergiffenis

 

“Genade onbeskryflik groot, het U aan my bewys…”

 

Ons sing hierdie lied so maklik, maar weet ons werklik wat ons sing? Weet ons wat dit regtig beteken? Genade is onverdiend, lewegewend, gee hoop, bou op en help dat mense, sondaarmense, kan word wat die lewende God hulle bedoel het om te wees.

 

 As Christene staan ons maklik smekend om God se genade aan ons te ontvang, maar o, ons is tog so traag om ander met genade te hanteer, om self genadig te wees teenoor ander. God is só vrygewig met genade: Hy vergewe ons ál ons oortredinge. Maar ons is só suinig. Ons hou so maklik iets teen iemand anders. Ons is so selektief in ons vergiffenis. Ons koester tog so graag griewe…Ons leef op ‘beurtkrag’!

 

As Christene het ons tog mos ‘opgegradeer’! Dit kan ek duidelik maak aan die hand van ‘n ervaring wat ek ‘n jaar of wat gelede gehad het. Ek was vroeg een oggend op pad na Europa en het my instapkaart van die grondwaardin op die lughawe gekry. Enkele minute voordat ons moes deurstap om aan boord te gaan, is aangekondig dat ons na ‘n ander hek moes gaan en dat ons moes wag vir ‘n verdere aankondiging. Toe die interkom egter aangaan, moes ons hoor dat ons weer eens na ‘n ander hek moes gaan om daar aan boord te stap. Met die derde aankondiging het gemoedere al lelik hoog geloop en toe ek my naam oor die interkom hoor, was ek gereed om die ergste nuus te hoor – dat ek nie mag saamvlieg nie, of iets dergeliks. Groot was my verbasing toe ek hoor dat ek opgegradeer is en eerste klas kon vlieg. En het ek nie die voorkeurbehandeling geniet nie! Ek kon egter nie anders as om te merk dat die dame wat skuins oorkant my gesit het en ook opgegradeer is, met absoluut niks tevrede was nie. Eerder as om die voorkeurbehandeling te geniet en dankbaar te wees, het sy met alles fout gevind en oor absoluut alles gekla…!

 

Dit het my laat dink. So baie Christene is net soos die dame: ontevrede met die genade wat ons deur die kruis ontvang het en ongelukkig met die lewe en die gawes wat deur die Heilige Gees vir ons aangebied word. Ons verkies dit om te kla oor dit wat te erg is en daardie persoon wat ons sleg behandel en sommer net omdat ons dink ons verdien eintlik soveel beter en soveel meer.

 

Hierdie genadeloosheid kom die duidelikste uit in onvergewensgesindheid. Wanneer het ons as kinders van God die limiet bereik waar genoeg regtig genoeg is? Wat is die limiet ten opsigte vanvergiffenis van medemense? Hier kan ek slegs verwys na die woord van Jesus self. Kyk na sy antwoord aan Petrus in Matt. 18: 21 en verder. Petrus vra hoeveel keer word daar van Sy volgelinge verwag om hul medemens te vergewe. Petrus self het gedink dat sewe keer meer as genoeg is, veral gesien in die lig van die Joodse tradisie waar drie maal eintlik die perk was.

 

Jesus se antwoord kom vir Petrus egter as ‘n totale verrassing; selfs as ‘n skok. Nie sewe maal nie. Nee, sewentig maal sewe keer! En dit geld ons ook!  

 

Verder in dieselfde hoofstuk kry ons ook die gelykenis van die onbarmhartige skuldeiser. Lees dit gerus. Al ons sondes wat deur God uit genade vergewe word, maak ons presies net soos hierdie man wat die koning geld geskuld en deur hom kwytgeskeld is. As ons nou egter sou optree soos hierdie man en nie die wat teen ons iets verkeerd gedoen het, vergewe nie, verdien ons ook die ewige straf soos wat die man uiteindelik gekry het.

 

Hoe weet ons nou wanneer ‘n Christen nie kan vergewe nie? Hoe weet ons wanneer ‘n Christen nog steeds leef met die wonder van God se genade om hom/haar as sondaar te red, vars in die geheue? Kyk bloot na sy/haar lewe! Is ons net sulke gulhartige begenadigers as dankbare begenadigdes uit God se hand? Wat wys ons lewens aan ander om ons?

 

Hoe kan ons genade ‘leef’?

Ef. 4:29 sê die volgende:”Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.”

 

Geen ‘doodswoorde’ mag uit ons monde kom as ons God se begenadigdes is nie. Ons moet woorde spreek wat lewe gee, ons moet opbouend wees in dit wat ons teenoor en van ander sê. Soms is van die prominentste leiers, maar ook doodgewone mense, skuldig aan die gebruik van ‘doodswoorde’ in situasies waarin ons ons bevind.

 

Kom ons kyk na drie gebiede waar ons as kinders van God, genade kán en móét leef.

 

Die Huwelik.

Hoe dikwels krenk ons nie ons huweliksmaats met die woord van ons mond nie! Hoe dikwels spreek ons nie juis daardie verskriklike ‘doodswoorde’ oor die persoon wat deur God aan ons gegee is nie! Hoe dikwels gebruik ons nie juis woorde as messteke om ons eggenoot/eggenote voor ander te verwond nie! Spreek ons as begenadigde kinders van God oor ons huweliksmaat woorde uit wat lewe gee, wat opbou en wat versterk, of krenk ons liewer met dit wat ons sê?

 

Die Familie

Wat is ons verhouding met ons kinders? Watter woord rig ons aan ons kinders? Ontneem ons hulle van die lewe juis deur dit wat ons vir hulle sê? Ons behoort nooit iets teenoor ons kinders kwyt te raak wat hulle met ‘n diep seer laat vir die res van hul lewens oor iets wat slegs enkele minute duur nie.

 

Die Wêreld

Hoe beleef en ervaar die wêreld ons? As ongelowiges ons pad kruis, sien en ervaar hulle God se genade in ons deur ons optrede en ons woorde, of verwoes ons net? Genade sien juis dit wat belangrik is raak en bou daarop. Dit wat geen waarde het in God se oë nie, word ook as waardeloos beskou. Krenkende woorde is woorde wat in God se oë nie net waardeloos is nie, maar geheel onaanvaarbaar is.

 

Wanneer God se kinders werklik verstaan wat Sy genade behels, kan ons nie anders as om ook genade te leef nie!

 

Het jy dalk die wonder vir God se genade in die besige en vinnige lewe van vandag verloor? Leef jy soos die vrou wat nie die opgradering in die vliegtuig waardeer het nie, of verwonder jy jou nog steeds aan Sy genade teenoor jou…?

 

Herlewing sal net kan geskied as ons volkome van ons sondeslawerny bevry kan word sodat ons ook genade aan ander om ons kan bewys.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication