As jy dit doen, sal die lig vir jou deurbreek soos die nuwe dag. Jou genesing sal spoedig herstel. Hy wat jou red, sal voor jou uitgaan, die heerlikheid van die Here sal jou van agter beskerm.

Jes 58:8.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View March 2013 Issue >>
 

Daar is geen fisieke beskrywing in die Evangelies van hoe Jesus gelyk het nie. Nie Matteus, Johannes, Petrus, Jakobus of Judas (Taddeus) wat Jesus se dissipels gedurende sy bediening op aarde was, het enige besonderhede oor Sy fisieke gelaatstrekke verskaf nie. Ons lees nie enige iets oor hoe lank Hy was, Sy haarkleur, die kleur van Sy oë of selfs lengte van Sy hare nie.

Het Jesus lang hare gehad?
Die meeste wat ons oor die artistieke uitbeeldings van Christus kan sê, is dat hulle hoogs verbeeldingryk is. Die uitbeelding van Jesus met lang hare het sy oorsprong in die Renaissance kuns-werke gehad. Gedurende die 15de eeu was dit mode vir mans om lang hare te hê. Die vroegste artistieke uitbeel-dings van Christus is egter van iemand met kort hare. Die skrif verklaar: “Die algemene opvatting is tog dat dit vir ’n man nie eerbaar is om lang hare te dra nie, maar dat dit vir ʼn vrou wel eerbaar is. Lang hare is immers vir haar gegee as ’n bedekking.” 1 Kor 11:14,15. Die skrif verwys na Simson wat lang hare gehad het, juis omdat dit so ongewoon was. Daar is egter geen verwysing na die Here Jesus wat hare gehad het wat langer was as wat normaal vir daardie tyd was nie. Die vroegste artistieke uitbeeldings van Christus – op die mure van die katakombes, in reliëf in sarkofae ingekerf, of met mosaïekteels – beeld iemand met kort hare uit. Die algemene gewoonte gedurende die eerste eeu was vir mans om kort hare te hê.

Die lykkleed van Turyn
Vir diegene wat die kontroversiële lykkleed van Turyn beduidend ag, het professor Giovanni Judica-Cordiglia die volgende beskrywing, op grond van die lykkleed, gegee: “Die man wat in die lykkleed toegedraai was, was ’n man van groot skoonheid en ongewone liggaamsbou. Hy was ongeveer 1m en 80 cm lank, met ’n volmaakte proporsionele liggaamsbou, soepel en in ewewig. Ons kan sien dat sy gesig ʼn baie sagte en sagmoedige een was, effens lank en met ’n breë voorkop. Die neus is reguit en effens na onder gebuig; die wange is groot en staan effens uit...”

Die tweede eeuse kerkvader, Justin Martyr, het na Jesaja 53:2 verwys: “Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na Hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van Hom sou hou nie” as ’n aanduiding dat Christus nie ʼn merkwaardige voorkoms gehad het nie. Oregan, het egter weer Psalm 45:3 aangehaal: “U is mooier as alle mense...” as bewys dat die Here die mooiste van alle mans was. Jesaja het geprofeteer dat Christus se voorkoms so misvorm sal word dat Hy nie meer “die voorkoms van ’n mens gehad het nie.” Jes 52:14. Hierdie kruisiging word grafies beskrywe in Psalm 22 en Jesaja 53. Sou dit dus enigsins van belang of relevant gewees het om te weet hoe die Here werklik gelyk het, sou die Evangelies vir ons ’n beskrywing van Hom gegee het. Die feit dat daar nie so ’n beskrywing is nie, dui daarop dat ons nie moet toelaat dat ons besig gehou word deur sulke dinge wat nie ter sake is nie.
Die kerkvader, Augustinus, het in ‘On the Trinity’ opgemerk dat elk-een ’n ander geestesbeeld van die Here het. Hy het geskryf: “Die fisieke gesig van die Here word deur talryke verbeeldings met oneindigende verskeidenheid voorgestel...” maar “betreffende die geloof wat ons in die Here Jesus Christus het, is dit nie in die minste vir ons verlossing van belang hoe ons verbeelding Hom vir ons voorstel nie...” Wat wel saak maak is ons begrip van Sy karakter, Sy lewe en Sy leringe.

’n Eietydse beskrywing
Vir diegene wat wel belangstel, is daar wel ’n fisieke beskrywing van Jesus in ’n kopie van ’n brief van die Romeinse konsul, Lentulus, aan die Romeinse keiser, Tiberius. Die brief van die konsul dateer terug na die 12de jaar van die bewind van keiser Tiberius. Die Joodse historikus, Josefus, noem die Lentulus in sy boek, ‘Antiquities of the Jews’. In sy brief aan die keiser beskryf Lentulus die veroordeelde man, Jesus van Nasaret, as een met: “ ’n adellike en wakker gesig, met ligte en effens golwende hare, swart en sterk geronde wenkbroue, intens deurdringende blou oë en ’n uitdrukking van wonderbaarlike grasie. Sy neus is taamlik lank. Sy baard is feitlik blond, maar nie baie lank nie. Sy nek is effens gebuig sodat hy nooit bitter of arrogant lyk nie. Sy bruingebrande gesig het goeie proporsies. Dit gee die indruk van erns in wysheid, goedheid en geheel en al geen teken van gramskap nie.’’
Daar is historiese bewyse wat aandui dat Tiberius so beïndruk was deur die opstanding van Jesus uit die dood dat hy gepoog het om Jesus ook as ’n god verklaar te kry. Die Romeinse senaat het egter geweier om hierdie veroordeelde Man toegang tot die Romeinse gode-hemel te verleen.


’n Bybelse beskrywing van Jesus
Diegene wat sê dat daar geen Bybelse beskrywing van die Here Jesus is nie, is eintlik verkeerd. Alhoewel die Evangelies niks oor sy fisieke kenmerke noem nie, het ons wel ’n beskrywing van Christus in Die Openbaring van Jesus Christus, die laaste Boek van die Bybel, as die Een wat Opgestaan en Opgevaar het.
Die Apostel Johannes beskryf wat hy gesien het: “Op die Dag van die Here is ek deur die Gees meegevoer en ek het agter my, so hard soos die geluid van ʼn trompet, ’n stem hoor sê: ‘Ek is die Alfa en die Omega, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige...’ Ek het omgedraai om te sien wie dit is wat met my praat...en tussen die lampe Iemand soos die Seun van die mens. Hy het ’n lang kleed aangehad en ’n goue band om Sy bors gedra. Die hare op Sy kop was wit soos wit wol, soos sneeu, en Sy oë het soos vuur gevlam. Sy voete was soos geelkoper wat in ʼn smeltoond gloei, en Sy stem soos die gedruis van ’n groot watermassa. In Sy regterhand het Hy sewe sterre gehad, en ’n skerp swaard met twee snykante het uit Sy mond uit gekom. Sy hele voorkoms was soos die son wat op sy helderste skyn. Toe ek Hom sien, het ek by Sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. Hy het toe met Sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: ‘Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende, Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.’ “ Op 1: 8-17.
Die belangrikste is nie hoe Jesus gelyk het nie, maar wat Hy gesê en gedoen het. Die vrees van die Here is die begin van wysheid. As die Apostel Johannes, die dissipel vir wie Jesus lief was, wat sy kop tydens die Laaste Avondmaal op die Here se skouer kon rus, voor die voete van die Opgestane, Opgevaarde Jesus soos ʼn dooie man neergeval het, hoe dink jy gaan ek en jy reageer wanneer ons te staan kom voor die Here in al Sy glorie en grootsheid?
“Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang.” Op 5:12.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication