Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U Woord is die waarheid.

Joh. 17:17.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View April 2013 Issue >>
 

Livingstone 200 – Tydens 2013 word die 200ste herdenking van die geboorte van David Livingstone gevier. Hy was ’n belangrike sendeling en baanbreker wie se grootste begeerte slegs na sy dood bewaarheid is: die uiteindelike beëindiging van slawehandel en die oopstelling van Afrika vir die Christendom en wettige handel.

Livingstone die bevryder
Hy het die genade gehad om in te sien dat sy missie deel van ’n Goddelike plan is om ’n menigte siele van slawerny te bevry; beide fisiek en geestelik.
Livingstone se groot doelwit, om die wêreld se aandag op die Islamitiese slawehandel in Afrika te vestig, was hoofsaaklik bewerkstellig deur sy bekeerling, die Amerikaanse joernalis Henry Morton Stanley.

Opvoeding in Skotland
David het in ’n vroom, maar armoedige ouerhuis in Skotland grootgeword. Hy was ’n ywerige leser en het ekstensief boeke by die biblioteek uitgeneem. Teen die ouderdom van nege het hy reeds Psalm 119 gememoriseer en ’n kopie van die Nuwe Testament as beloning daarvoor gewen. Teen 10-jarige ouderdom het hy 14 uur per dag, 6 dae ’n week, by die plaaslike katoenspinfabriek gewerk. David het daarin geslaag om in die fabriek te lees, deur sy boek op ’n gedeelte van die spinmasjien neer te sit sodat hy sinnetjie vir sinnetjie kon lees terwyl hy werk. Onverstoord deur die gedawer van die masjinerie kon hy redelik ononderbroke studeer. Met sy bekering op 12-jarige ouderdom het hy die vaste besluit geneem om sy lewe aan die verligting van menslike ellende te wy.

Toewyding
Drie temas het sy lewe oorheers: evangelisasie, verkenning en bevryding. Hy het geskryf: “Die verlossing van mense behoort die hoof doelwit van elke Christen te wees.” Hy het derhalwe besluit dat hy alles wat hy verdien aan sending sou gee, behalwe dit wat hy nodig het om van te leef.

Teologie en medisyne
Na tien jaar van daaglikse sloofwerk by die katoenfabriek, het David vertrek om teologie en medisyne te gaan studeer. Gemeet aan vandag se standaarde was die mediese wetenskap van die 1830’s primitief. Chirurgiese operasies is teen ’n gevaarlike spoed gedoen weens die gebrek aan verdowingsmiddels. Chloroform en eter is nie in gebruik geneem tot heelwat
later nie, en ontsmettingsmiddels het ’n verdere 25 jaar in die toekoms gelê. Die studie van chemie was besig om te groei, maar biochemie en bakteriologie was nog onbekend. Hoegenaamd niks was bekend oor die tropiese siektes, soos malaria en swartwaterkoors, wat hy sou teëkom nie.

Arbeidsaam en vlytig
Dit was nie in Livingstone se aard om te ontspan nie. Hy het sy taak en sy roeping baie ernstig opgeneem, en wat hy ook al aangepak het, het hy deeglik gedoen. Hy was onversetlik en getrou aan sy woord. Vriende het hom beskryf as “’n man van onverskrokke moed en nie vuur, water, of ’n klipmuur sou Livingstone in die uitvoering van enige plig stuit nie.”

Na Afrika
Dit het hom drie maande geneem om Kaapstad per seilskip te bereik, en ’n verdere vier maande met ’n ossewa voordat hy eers by Robert Moffat se sendingstasie in Kuruman uitgekom het. Daar het hy sy werk vir die Here in Afrika begin.
Toe hy op 17 Maart 1841 in Suid-Afrika aan wal gestap het, het David Livingstone na ’n kontinent met vele probleme gekom. Die riviere was vol stroomversnellings en sandbanke. Die dodelike siekte, malaria, het wydverspreid voorgekom en het reistogte belemmer. Ekspedisies van 300 tot 400 man is in geheel deur malaria uitgewis. Die Afrika-terrein was moeilik begaanbaar; vloede, tropiese woude en moerasse het vervoer bemoeilik.

Vreeslose geloof
Livingstone het gou ’n reputasie vir vreeslose geloof gehad – veral toe hy na die Barka-stam toe gestap het (berug vir die moord op vier wit handelaars wat genadeloos vergiftig en verwurg is). As die eerste boodskapper van genade in baie gebiede, het Livingstone spoedig nog uitdagings op die lyf geloop. Hoofman Sechele het na die groot Kalahari-woestyn gewys: “Jy sal nooit oor daardie land by die stamme aan die ander kant kan uitkom nie; dit is heeltemal onmoontlik, selfs vir ons swartmense.”

Frustrasie
Sy planne om ’n Bybelkollege vir Afrikane te stig, is verydel. Die soewereiniteit van God is egter hierdeur openbaar. As Livingstone se wens bewaarheid was, sou hy moontlik die res van sy lewe daaraan gewy het om in ’n Bybelkollege klas te gee, eerder as om deur Afrika te reis en slawehandel die nekslag toe te dien. Hy het sy drie groot daaglikse uitdagings beskryf as: “hitte, moeilike omstandighede en die harde harte van mense.”

Vasberadenheid
“Ek hoop om toegelaat te word om te werk, vir so lank as wat ek leef, waar ander nog nie gewerk het nie en om die saad van die Evangelie te plant waar ander nog nie gesaai het nie...Ek is ’n sendeling, in murg en been. God het ’n enigste Seun gehad en hy was ’n sendeling en ’n geneesheer. ’n Powere, powere namaaksel is ek van Hom. Ek hoop om in Sy diens te leef, en ook daarin te sterf.”

Gesinsake
Gedurende sy eerste sendingtog saam met sy vrou en kinders, is hulle vierde kind, Elizabeth gebore. Binne ’n paar weke het sy gesterf en was die res van die gesin siek. Hy het baie kritiek ontvang vir sy ‘onverantwoordelikheid’ om sy vrou en kinders op ’n sendingtog in die wildernis saam te neem. Later is hy weer gekritiseer omdat hy sy gesin na Brittanje teruggestuur het terwyl hy baanbrekerswerk in Afrika doen. Sy vrou is aan malaria oorlede toe sy haar by hom aangesluit het vir sy tweede groot sending-ekspedisie in die Zambesie-vallei.

Oortuiging
“Ek sal ’n pad na die binneland van Afrika baan, of omkom,” het hy verklaar. “Mag Hy ons seën en ons ’n seën vir ander maak, selfs tot die dood toe...Dit sal tot ons sendelinge se skande wees as slawehandelaars ons baasraak...As Christen-sendelinge en Christen-handelaars dwarsdeur die jaar in die binneland van die vasteland kan aanbly, sal slawehandelaars binne tien jaar uit die mark verdryf wees.”

Om alle struikelblokke te bowe te kom
Deur reënstorms, konstante ongemak, roes, muf en verrotting heen, geheel en al uitgeput en siek as gevolg van koors, het Livingstone deurgedruk. Vyandige stamme het buitensporige betaling van hom geëis vir die reg om oor hulle grondgebied te reis.
Livingstone moes selfs ’n paar keer tydens gespanne oomblikke, geweer in die hand, sy man staan. Beproewinge het die volhardingsvermoë van die vermoeide span getoets. “Kan die liefde van Christus dan nie die sendeling dra tot waar slawehandel die handelaar geneem het nie?”

’n Beginselvaste man
Na twee jaar van baanbrekerswerk in die binneland van Afrika het Livingstone Luanda bereik. Die skip, ‘Forerunner’ was gereed om hom na Engeland te neem. Livingstone het egter verkies om oor land terug te keer, sodat hy sy gidse en pakdraers terug na hulle statte toe kon neem.
Eerder as om die risiko te loop dat hulle in Portugese Wes-Afrika in slawehandel verkoop word, het hy gekies om ’n verdere twee jaar te neem om die vasteland, wat hom tydens die eerste reis byna sy lewe gekos het, te oorkruis. As Livingstone egter gekies het om per skip terug te keer, sou sy bediening waarskynlik geëindig het, want die skip het met verlies van al die bemanning (en al sy dagboeke) vergaan! Deur God se genade het Livingstone kopieë van sy dagboeke gehad (moeisaam met die hand uitgeskryf).

Ontbering en swaarkry
Livingstone het dikwels onnodig uiters swaar gekry terwyl hy te voet ’n pad deur digte oerwoude gekap het. ’n Tekort aan geld het hom verhoed om die ‘luukse’ van ’n kano te kon bekostig! “Hierdie ontberings...is nie opofferings nie. Ek dink daardie woord behoort nooit genoem te word met ver-wysing na enige iets wat ons vir Hom kan doen nie. Hy wat, hoewel Hy ryk was, ter wille van ons arm geword het.”

Konfrontasie met slawehandelaars
Livingstone het gereeld die weersinwekkende gevolge van die slawehandel gesien: verbrande statte, lyke wat rivier-af dryf, en lang toue geboeide slawe wat deur die bosse aangejaag word. Die blote teenwoordigheid van Livingstone het die slawehandelaars dikwels die bosse in laat skarrel. Honderde slawe is deur Livingstone en sy medewerkers vrygelaat.
Op ’n keer het ’n oorlogsgeselskap van slawehandelaars die sendingspan aangeval. Die aggressiewe bende het die sendingspan, wat gepoog het om die konfrontasie te vermy, omsingel. Uiteindelik moes Livingstone noodgedwonge die bevel gee om terug te vuur. Die slawehandelaars het die aftog geblaas.

Drie tipes slawehandel in Afrika
Dit was Livingstone se grootse begeerte dat slawehandel tot ’n einde kom. Eerstens was daar die interne slawehandel tussen stamme. Tweedens was daar slawehandelaars van die kus – Arabiere of Portugese – wat plaaslike stamme aangemoedig het om met plundertogte vir hulle slawe te bekom. Derdens het Portugese en Arabiese kusdorpe geselskappe uitgestuur met linne, krale, gewere en ammunisie om dit vir slawe te ruil.

Belangrike ondernemings
In sy skrywe en tydens toesprake het Livingstone gereeld gepraat van sy twee belangrikste ondermenings – om mense in te lig oor die euwel van slawehandel, en om die Christen-Evangelie aan die heidene te bring. Hoewel hy beroemd was vir sy ontdekkingsreise, was dit vir hom bloot ’n middel tot ’n doel vir Evangelisasie en om dissipels van al die nasies te maak.

Wetenskaplike
Dr. Livingstone het daarin geglo dat die Groot Opdrag alomvattend uitgevoer moes word – dat liggaam, siel en gees bediening moes ontvang. Livingstone het altyd, tesame met sy Bybel, snykundige toerusting en ’n medisynetas, ook ’n mikroskoop en sekstant byderhand gehad. Sy boeke is propvol fassinerende wetenskaplike, mediese, botaniese, antropologiese en geografiese waarnemings en detail. Livingstone was die eerste om die groot Zambezirivier en vele ander dele van die uitgestrekte binneland van Afrika te karteer.
Hy was ook een van die eerste wetenskaplikes om die oorsaak van malaria aan muskiete te koppel en het baanbrekerswerk gedoen met die gebruik van kinien (quinine) as behandeling, deur dikwels op homself te eksperimenteer!

Geen opoffering nie!
Livingstone se uitdaging weerklink steeds vandag: “Kan dít ’n opoffering wees, wat slegs maar ’n klein terugbetaling is van die groot skuld wat ons aan ons God verskuldig is en wat ons nooit kan terugbetaal nie...dit is volstrek geen opoffering nie. Sê liewer, dit is ’n voorreg!” 

’n Inspirerende voorbeeld
Livingstone se standvastige voorbeeld is deur die Here gebruik om honderde manne en vroue te inspireer om hulle lewens aan sending in Afrika te wy. Mary Slessor het byvoorbeeld na Calabar (hedendaag-
se Nigerië) gegaan en daar die praktyk om tweelinge te vermoor, tot ’n einde gebring (animiste het geglo dat tweelinge beheks is). Peter
Cameron is geïnspireer om na Afrika terug te keer na sy eerste onsuksesvolle sending, toe hy die inskrywing op Livingstone se grafsteen in Westminster Abbey gelees het: “Ander skape het Ek wat nie van hierdie kudde is nie; ook hulle moet Ek bring en hulle sal My stem hoor.”

Die uitdaging van Afrika
“Ek versoek jou om jou aandag op Afrika te vestig: Ek weet dat ek binne die bestek van ’n paar jaar van daardie land, wat nou oop is, afgesny sal wees; moenie toelaat dat dit weer geslote word nie! Ek gaan terug na Afrika om ’n pad vir handel en die Christendom te baan: Sal jy die werk voltooi wat ek begin het? Ek los dit in jou hande!”
Die 200ste herdenking van die geboorte van dr. David Livingstone is ’n unieke geleentheid om die Heerskappy van Christus op alle areas van die lewe toe te pas – ’n groter sendingvisie en Evangelistiese ywer te inspireer. Dr. Peter Hammond is beskikbaar om ‘Life and Legacy of David Livingstone’-aanbiedings by skole, kolleges en gemeentes te doen.

-Peter Hammond

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication