Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie?

1 Korintiers 4:7

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View April 2013 Issue >>
 

Wanneer jy hoor dat jy drie, maksimum nege maande het om te leef, is dit nie maklik om dit te aanvaar nie. Wanneer jy die ma van twee dogtertjies is, wil jou hart daarvan breek.
Ten spyte hiervan kan Ilanza  nie ophou glimlag terwyl sy praat nie, sy is stralend. “As jy dink waardeur ek die afgelope vyf jaar gepiekel het, is dit menslik en fisiek onmoontlik om hierdie krag en vrede te hê wat so oorvloedig uit my stroom. Hoe is dit dat ek my ‘pelle’, my man, my pa kan troos? Want, my beker loop oor. Dit is ook wat ek elke dag vir God vra: “Laat hierdie beker van vrede en liefde en kalmte net aanhou loop. ”

Borskanker, die begin
Ilanza Reynolds is in Junie 2008 met bors-kanker gediagnoseer.
In 2011 is sy klaar met haar bestra-ling en chemoterapie en vir die hele jaar is sy ‘skoon’, maar in Mei 2012 weet sy net iets is fout en bespreek ’n skande-ring. Hierdie keer is daar letsels op haar lewer. Die kanker het weer versprei...

Worstel met God
Ilanza: Hoekom gee God my twee pragtige dogtertjies en ek kan hulle nie sien grootword nie? Dít was vir my die groot stryd-punt met die Here. Hoekom laat Hy dit toe? Ons dominee vra toe: “Ilanza, as jy kon kies om hulle nooit te gehad het nie, of om hulle vir ’n tydjie te hê, wat sal jy kies?”
Dit het ’n kalmte by my gebring. Maar ek het steeds geworstel met wat God se wil nou eintlik is. Bid ek: ‘Laat U wil geskied’, bid ek myself dan dood? Ons dominee verduidelik dit toe so: Die gebrokenheid van hierdie wêreld is nie God se wil nie. Auschwitz...was nie God se wil nie. Dat ’n ma oor haar kindjie ry...is nie Sy wil nie. Dat mense kanker kry, is ook nie God se wil nie, maar God belowe jou dat ten spyte van ’n moeilike tyd, sal Hy jou lei. Hy gaan saam met jou stap.
 Dit is ook tydens hierdie worsteling dat die dokter my aangeraai het om op die lewe en ’n doelwit te fokus. Ek was nog altyd sportief, en skryf toe op my spieël: “Ek gaan 30 Maart 2013 die Twee Oseane Halfmarathon hardloop!”

Soeke na ’n kuur
Ek is maar ’n ‘control freak’. Elke moontlike ding wat daar was om hierdie siekte te oorkom, het ons gedoen.
Ons het medisyne uit China ingevoer en as die vier botteltjies goed by my aankom, bestel ek dadelik weer, want dit het so lank gevat om hier uit te kom. Dan drink ek dit. Die slegste goed wat jy al in jou lewe gedrink het, maar drink, het ek dit gedrink, gedienstig en gedweë.
In ’n stadium het ons die nuutste rewolusionêre behandeling met lewende bloed beproef. My lewendige bloed is weggestuur en my eie kankerselle gekweek en getoets om te bepaal watter chemoterapie die beste met my tipe kanker sou werk. Ons het ook binneaarse vitamine-C probeer. As daar ’n kuur was, het ons dit probeer!

Genees!
Teen die einde van 2012 is daar ’n PET-Skandering (Positron-emissietomografie) van my hele liggaam gedoen en ek is gesond verklaar! Die dokter het my verseker, niks is fout nie, maar die hele Desember loop ek met ’n ding in my: Iets is nie lekker nie. Toe die skole op 16 Januarie begin, bespreek ek weer ’n skandering...

By ’n kruispad
Op 28 Januarie 2013 sê my onkoloog: “Luister ou Ding, dis oral. Ons is nou by ’n kruispad. Ons kan hierdie klipperige pad van behandeling loop, maar daar is net ’n 1% kans dat hierdie verskriklike ‘hell drive’ waarop ek jou gaan vat, gaan werk. Jy moet kies.” Ek het besluit dat ons nou alle behandeling stop. Volgens die onkoloog behoort daar ’n goeie drie maande te wees. Sy het gedink ek het altesaam ses tot nege maande oor om te leef.

Eiendom van God
Dit was die pienktyd van die dag, my gunstelingtyd van die dag. Mense het klaar gewerk, is op pad huis toe en gesinne kom weer bymekaar. Ek was in ’n mooi kamer in Panorama met ’n uitsig op Tafelberg. Ek het voor die venster gaan staan en uit die berg het die woord: ‘Halleluja’ verskyn. Ek het dit duidelik gesien! Ek het geweet, God praat nou baie hard met my. Halleluja, dat ek gaan leef? Halleluja, dat ek nou ‘huis toe’ kom? Maar die woord is: “Halleluja!” Op daardie oomblik het iets in my verander...ek het tot ruste gekom.
Wat ek verskriklik bevrydend vind, is dat ek vir die eerste maal, na vyf jaar, regtig my liggaam – elke sel, of hy nou onnatuurlik of normaal is – vir Jesus gegee het. Ek het elke sel vir hom gegee, my hart, siel, verstand. Alles behoort aan Hom. As Hy dit wil gebruik tot eer en verheerliking van Sy Naam, asseblief doen dit.

Verheerliking van Hom
Ek voel ek kan ontspan. Ek het nou die oggend vir die eerste maal saam met my kinders ’n bak Rice Krispies met twee lepels suiker en volroommelk geëet. Dit is so lekker om te leef! Ek is nie meer bekommerd nie.
Elke selletjie in my liggaam behoort aan Jesus, en wie is ek dan om my te bekommer oor iemand anders se eiendom. Hy kan daarmee maak wat Hy wil. Ek het hierdie liggaam vir Hom gegee. Hy moet dit gebruik – my verstand, my mond, alles – tot eer en verheerliking van Sy Naam. En as Hy dit ’n maand lank nog wil gebruik, dan doen ons dit; as Hy dit vir 20 jaar wil gebruik dan doen ons dit.

Ek sal vrede bewerkstellig
Ek het my bekommer oor my man. Hy het sy ma 27 Februarie verloor (minder as ’n maand na my finale diagnose). Hy is besig om my te verloor, en hy moet sy twee dogtertjies alleen grootmaak. Dit is dinge waaroor hy geen beheer het nie en hy het ’n ‘ek-kan-dit-uitsorteer’-tipe geaardheid. Hy vaar eintlik so goed, hy is die enigste pappa wat langs die netbalbaan staan. Ek is besorg oor hom en sy seerkry en sy verlies. Ek moes daarmee in my eie gemoed vrede maak. Op 5 Maart gee God my ’n belofte uit my dagstukkie: “Ek sal in hierdie plek vrede bewerkstellig.” Hy praat so duidelik met my: “Hou op om jou oor Michael te bekommer, Ek sal vrede in hierdie huis bring.”
’n Ander belofte is een vir my. God belowe in Matteus 6:8: “Julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.” In die dagstukkie staan daar ook die volgende aanhaling van Alexander MacLaren: ‘As God ons op klipperige paaie stuur, sal Hy ons van stewige skoene voorsien.’ Die oomblik toe ek dit lees, het ek gevra: “Goed Here, watter pad gaan ons stap? Hoe lyk hierdie pad?” In my stiltetyd, met my oë toe, sien ek ’n pad wat met edelstene besaai is, diamante so ver as wat ek loop. Ek lê met ’n glimlag op my gesig, want ek weet ek hoef vir niks bang te wees nie. Vrees is satan se geloof.

Die fees van die lewe
Daar was dinge wat ek geweet het ek nog moes doen. Ek wou een laaste partytjie met my ‘pelle’ hê.
Die uitnodiging het gesê: “Kom vier saam met ons die Fees Van Die Lewe. Om te lewe, om vriendskappe te hê is alles die gawe van God.” En jy moet leef! Terwyl jy leef, moet jy leef man! Daar moenie ’n dag verbygaan dat jy spyt is nie.
Die geleentheid was by Longridge, waar ons op Tafelberg en die see en die wynlande kon uitkyk. Ek het 200 pienk ballonne bestel en gevra dat almal tydens die pienktyd uitgaan buitentoe, ’n ballon vashou en luister na ’n boodskap wat ’n vriendin van my gebring het. Ek het hulle gevra om te dink aan kankerslagoffers, asook die vegters wat nog steeds teen die siekte stry. “Maar, sê ook Halleluja en vier die lewe saam met my.”
Mense kon dan, wanneer hulle gereed was, hulle ballone laat gaan, terwyl ons Karin Zoid se weergawe van die
Leonard Cohen liedjie, ‘Halleluja’, oorverdowend hard gespeel het. Natuurlik was daar ’n behoefte om al my vriende te sien, een laaste keer, maar ek wou ook hê die aand moet om die verheerliking van God gaan, dat selfs dié wat nie Christene is nie, aangeraak moet word deur die heerlikheid. Daardie ballonne-oomblik was so wonderlik, ek glo dat daar nie een daar weg is, wat nie aangeraak is nie.

Nalatenskap van liefde
Ek het vir my dogtertjies elkeen ’n boekie as ’n nalatenskap gemaak. Ek het elke stukkie papier daarin met die hand uitgesoek. Die buiteblaaie van materiaal het ek alles self met die hand gemaak. Alles binne-in is met die hand geskryf.
Ek het van my troulint, hulle dooplinte en verjaardagpersente se linte oral in die boekies gebruik. Foto’s van hulle babatyd, alles wat ons saam gedoen het, ook my chemo-foto’s, alles is daar. My hande het aan alles geraak. Ek het daarin vir hulle raad gegee oor mans en kêrels, oor vrou wees, oor seks, oor Mamma-wees. Hulle pa kan besluit wanneer hulle die boekies mag lees, miskien hier op twaalf, want hulle kan nie te jonk wees nie.
Ek is ook besig om vir hulle elkeen ’n boks vol herinneringe te maak. Die gaste van die ‘Fees Van Die Lewe’ is versoek om ’n brief of kaartjie te skryf om vir Myra en Charlotte te vertel hoe die persoon my as mens en as vriendin ken.
Iemand het vir hulle trouboksies gemaak. Dit gaan alles in hulle herinneringsbokse in. By die trouboksies het ek vir hulle elk ’n troukaartjie gemaak en ringetjies ingesit en my tiara is ook vir hulle ingesit.

Oorwinnaar in Christus
Ek weet, selfs al gaan ek swaarkry, al gaan ek pyn ly, ek is nie meer bang daarvoor nie, want vrees kom ook nie van Jesus af nie. Jesus wil nie hê ek moet bang vir enigiets wees nie. Ek is oorgegee. Ek bid nie: “Here maak my gesond” nie. Ek bid: “Here gebruik u eiendom tot eer en verheerliking van U naam.”

-Lourieke Haller

Die middag wat hierdie uitgawe na die drukkers gegaan het, is Ilanza oorlede. Ons vertrou dat hierdie artikel andere sal inspireer en haar getuienis sal huldig. Ilanza se getuienis is op You Tube: www.youtube.com Tik ‘Ilanza
Reynolds’ om dit te vind. –Red

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid | Grafiese Ontwerp en Webontwerp deur Kimia

English? Click here for our sister publication