Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie?

1 Korintiers 4:7

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View May 2008 Issue >>
 

Intimiteit

 

“Nie vanaand nie, Lief, my kop is seer.” Hierdie agt woorde is ‘n frase wat geen man graag wil hoor nie. Dit is ‘n realiteit dat jy noodwendig verskonings sal moet aanhoor indien jy nie weet hoe om jou huweliksmaat se emosionele tenk te vul nie. Daar word dikwels gesê: “Die drie en twintig uur vooraf, bepaal die een uur seksuele gemeenskap tussen man en vrou.”

 

Intimiteit moet gekoester word. Dit is die proses wat kan lei tot die vervullendste seks ooit, maar eers móét jy weet wat intimiteit beteken.

 

Die stamwoord kom van die woord ‘intima’, wat die heel binneste laag van ʼn aar beteken. In jou soeke na wie jy is (geestelik, emosioneel en fisiek), kan jy nie dieper soek as jou ‘intima’ nie.

 

Intimiteit is soos ʼn ui : dit het baie lae. Jy moet letterlik die lagies een vir een aftrek totdat jy by die kern of die essensie uitkom. Dit kan ook vergelyk word met die onsigbare lae rondom ʼn magneet wat die mag het om aan te trek of af te stoot.

 

Dr. D Augsberger het eens gesê: “ Wanneer jou betekenis my betekenis ontmoet oor die brug van woorde, verskillende tone en handelinge heen, wanneer begrip voorkom, wanneer twee mense kan deel uit die kern van hulle wese, ondervind hulle liefde in die suiwerste vorm. Die huwelik is ‘n lokaal wat tot intimiteit lei en intimiteit is om jouself vir jou lewensmaat oop te stel.”

 

Hierdie verskille speel ‘n definitiewe rol in die liefdeskuns wat op sigself ‘n pragreis is.

 

Emosioneel:

Mans vind dit moeilik om gevoelens in woorde om te skakel. Hulle wil veel eerder aanraak aangesien hulle nie maklik die regte woorde vind nie.

 

Mans het ook nodig om gerespekteer te word. Hulle hou daarvan om te hoor: “Jy is die man vir my!”

 

Vrouens het dit nodig om te praat en oor die algemeen kan gesê word dat vrouens probeer om mans ‘dood te praat’. Ons spot dikwels deur te sê ‘n man het net 5 000 woorde om per dag te gebruik terwyl vrouens 25 000 het. Hy gebruik 4 980 tydens werkure en wanneer hy tuis kom, het hy slegs 20 woorde in reserwe. Vrouens gebruik 5 000 gedurende die dag en wanneer haar man saans tuis kom, het sy nog 20 000 woorde in reserwe!

 

Vrouens het nodig om liefde en aanvaarding te ervaar. ‘n Groot deel van hul positiewe selfbeeld hou verband met die bemoediging en opheffing deur hul mans.

 

Intimiteit roep om kwesbaarheid teenoor mekaar. Maak dus die ui oop; al kos dit trane!

 

Fisiek:

Mans is soos versnelmotors wanneer dit by die liefdespel kom. Vrouens, darenteen, reageer weer soos swaargelaaide goederetreine. Mans kom baie gou op spoed en verminder dan weer net so vinnig spoed en kom skielik tot stilstand. Vrouens neem ‘n rukkie om momentum op te tel, maar wanneer hulle eers in beweging is, neem dit nogal ‘n tydjie om tot stilstand te kom – nie omdat die trein so ontsettend swaar gelaai is nie, maar juis omdat die vrag so kosbaar is.

 

Sielkundig:

Mans is trots op hul werk. Hulle wil graag goeie voorsieners wees en dit laat hulle voel dat hulle iets beteken.

 

Vrouens het hulle huise nodig om hulleself, en wie hulle is, te verteenwoordig. Hulle het ook nodig om te voel dat dié nes hulle s’n is en dat hulle maar kan nesskop.

 

Gevare

Cecil Osborne sê: “’n Vrou se behoefte aan ‘n intieme verhouding is so groot dat, indien sy dit nie op een manier ervaar nie, sy instinktief bereid is om ‘n ander manier te probeer.”

 

  • Buite-egtelike verhoudings.

Indien seksuele vervulling in enige huweliksverhouding afwesig is, sal die individu onbewustelik daardie behoefte wil vervul. Die vlees is een van die grootste oorsake van die mens om tot sonde oor te gaan. Slegs vasberadenheid, keuse of ‘n Geesvervulde benadering sal help om te verhoed dat die individu nie in hierdie doodstrik trap nie.

 

  • Pornografie.

Die internet het een van die grootste gevare geword wat individue toelaat om dislojaal aan hul lewensmaats te word deur in die pornografie-slaggat te trap. Meniges weet hul aksies is sondig, maar weet bloot net nie hoe om aan die kloue van hierdie dodelike monster te ontkom nie. Die regte Bybelse raad sou wees om nie toe te gee aan die vleeslike luste nie en die huweliksbed onbesmet te hou. Telkens wanneer ons aan versoeking toegee, is ons dislojaal aan ons huweliksmaats.

 

  • Onvergewensgesindheid.

Daar is geen groter passieruïneerder as juis hierdie stadigwerkende doodsgif van onvergewensgesindheid nie. Indien dit nie aangespreek word nie, sal dit selfs verder ontwikkkel deur die stadia soos bitterheid, woede en uiteindelik wraak. Laasgenoemde is die grootste sondebok aangesien dit van die standpunt uitgaan dat jy my seergemaak het; dus maak ek jou ook seer.

 

Onvergewensgesindheid is soos om self gif te drink en dan te hoop dat die ander party sal sterf.

 

  • Die afwesigheid van nie-seksuele aanraking.

Mans verinneweer soms dinge deur hul vrouens soos stukke vleis te hanteer – hul gryp dit en gooi dit op die kole. Dit is definitief nie die manier om die kroon van die skepping, naamlik die vrou wat in Hooglied besing word, te behandel nie. Sy is uniek en moet met sagtheid, teerheid en liefde hanteer word. Sy moet as die kosbaarste juweel in die wêreld behandel word.

 

‘n Gesonde porsie nie-seksuele aanraking is deel van die intimiteit wat uiteindelik mag lei tot die verlangde seksuele aanraking. ‘n Goeie wenk: ‘Liggies met die voet op die versneller!’

 

  • Gebrek aan effektiewe kommunikasie.

Mans is rasioneel en vrouens is emosioneel. Dit is al gesê: “Mans is van Mars en vrouens is van Venus”. Hulle verskil grootliks, maar beide beskik oor die gawe om verbaal te kommunikeer – en dit onderskei ons van die diereryk.

 

Mans gee voor dat hulle luister, maar dikwels hoor hulle nie ‘n woord wat aan hulle gesê word nie. Hulle aandag is elders: sport op televisie, koerantsake, ens. Ja dames, hy kan slegs op een ding per keer fokus.

 

Vrouens is multi-vaardig en het geen probleem om hul gevoelens te kommunikeer indien hul gevra word nie, maar moet gemaan word dat hul vermoë om inspanningloos van een onderwerp na die ander oor te skakel, geensins die arme man help wat probeer volg wat sy sê nie.

 

Goeie Raad

Daar is soveel klein dingetjies wat gedoen kan word en wat alles deel is van die intimiteitsreis:

 

  • Ete-afsprake
  • Onthou die huweliksherdenking
  • Dink romantiese gedagtes oor mekaar
  • Werk aan warmte en eenwees
  • Skryf klein notatjies
  • Sê jy’s jammer indien dit jy verkeerd was

 

Die lys is oneindig, maar hierdie is almal klein intieme daadjies wat na ‘n vervulde sekslewe kan lei.

 

Een praktiese saak: jy moet duidelik aan jou maat sein wanneer jy gereed is om hom/haar te ontvang en jy hom/haar intiem nodig het. Jy is die enigste persoon wat blameer kan word indien jy dit nie kommunikeer nie. Vind ‘n manier om die boodskap dat jy ‘besigheid’ in gedagte het, oor te dra. Dit kan die vorm van ‘n vooraf gereëlde kode tussen julle twee aanneem, byvoorbeeld deur in jou geboortepakkie onder die lakens te wag…die boodskap sal ontsyfer word!

 

‘n Wenk wat werk:

Mans:  Moet haar nooit emosioneel laat verarm nie.

Dames: Moet hom nooit fisiek uithonger nie.

 

Die Grondreël

 

Daar is ‘n soliede basis vir enige bespreking oor God se Wil vir jou huwelik.

 

Die Bybel sê in Ef. 5:33 “’n Man moet sy vrou liefhê en ‘n vrou moet haar man respekteer.”

 

Hierdie vers vervat die grondreël oor hoe ‘n getroude man en vrou teenoor mekaar moet optree en dit berei die pad vir intimiteit.

 

Die Bybel gee in 1 Kor. 7: 3-7 die mandaat oor hoe huweliksmaats teenoor mekaar moet optree in soverre dit seks aangaan:

 

  • Vervul jou huweliksplig.
  • Jou liggaam behoort aan jou huweliksmaat.
  • Moenie mekaar van intiemheid ontneem nie (tensy onderling so ooreengekom).
  • Kom dan weer bymekaar.
  • Waarom? Sodat die duiwel julle nie versoek nie.
  •  

Die diepste vervulling word ervaar wanneer huweliksmaats een op drie vlakke kan word:

emosioneel, fisiek en geestelik.

 

Intimiteit, oor alle behoeftegrense heen, is ‘n reis wat selfs as ‘bewegingspoësie’ beskryf kan word.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication