Vertrou jou lewe aan die Here toe. Vertrou Hom en Hy sal vir jou sorg.

Ps 37: 5.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View July 2013 Issue >>
 

Die uitdrukking ‘underdog’ word dikwels in sport gebruik. Dit het sy ontstaan in die 19de eeu gehad, gedurende ’n era toe hondegevegte ’n toeskouersport in Amerika en Brittanje was. Toe is daar na die hond wat gewen het, as die ‘top dog’ verwys. Die hond wat verloor het, was kenmerkend op die grond onder die ander een gedurende die geveg en is die ‘under dog’ genoem. Teenswoordig is die uitdrukking so algemeen dat dit eenvoudig een woord geword het: ‘underdog’.

Ons gevalle held
Onlangs was die internasionale nuus vol van die tragiese verhaal van Suid-Afrikaanse paralimpiese kampioen, Oscar Pistorius, wat aangekla is van die moord op sy vriendin en in Augustus weer in die hof sal verskyn. In Amerika is Lance Armstrong se poging om tydens ’n onderhoud met Oprah Winfrey te bieg dat hy wel verbode opkikkers gebruik het, met bittere teleurstelling ontvang – des te meer omdat hy die aantygings jare lank heftig ontken het.

Teen alle verwagtinge in
Hier tref ons twee ‘underdog’-tipes aan. Armstrong is met kanker gediagnoseer, het die siekte oorkom en toe die ‘Live- strong Foundation’ gestig. Miljoene dollars is ingesamel en bewustheid oor die voorkoming van kanker en ander siektes is bevorder. En hiervoor was hy die wêreld se liefling.
Pistorius is een van die grootste ‘underdog’-verhale ooit. Oscar se bene is op elf maande net onder die knie afgesit. Hy het sy fisieke beperkinge sowel as die openbare vooroordele oorkom deur as jong seun aan verskeie sportsoorte in sy tuisdorp deel te neem. Namate hy ouer geword het, het hy hom op die atletiekbaan toegespits. Met behulp van prostetiese bene wat spesiaal vir hom aangepas is, het die ‘Blade Runner’ met die 2012 Londen Olimpiese Spele oornag beroemdheid verwerf deur teen die wêreld se vinnigste ongestremde atlete deel te neem. Onmiddellik het die wêreld hulle steun aan die jong man toegesê.

’n Lewe in die kollig
Om op die voorgrond te wees en so intens dopgehou te word, is iets wat nie Armstrong of Pistorius sou wou hê nie. Vir Armstrong was die begeerte om ten alle koste te wen so groot dat dit hom daartoe gedryf het om die gawes, die geleentheid en die invloed wat God hom geskenk het, te misbruik. Daar word nog gewag om te sien watter wending Pistorius se verhoor gaan neem.
Namate die storie van sy lewe egter begin ontvou, kry ons toenemend ’n dieper insig in diegene wat vanuit ekstreme omstandighede moes terugveg. Ek kan nie poog om al die faktore wat tot hierdie tra-giese gebeure bygedra het, te verstaan nie, en ek sal ook nie probeer om ’n verklaring te gee nie. Wat ek egter kan aanbied, is ’n wyer perspektief oor hoe ‘underdogs’ ’n terugkeer kan maak.

Om ’n terugkeer te maak
As jy al ooit slegte keuses in jou persoonlike of professionele lewe gemaak het, is die goeie nuus dat alles nie verlore is nie. Daar is steeds hoop op herstel. Jy mag dalk nie so vinnig soos wat jy graag sou wou hê, herstel na die posisie waar jy voorheen was nie. Jy mag dalk ook op ’n plek, geheel en al anders as wat jy verwag het, op-
eindig. Ek glo egter dat die grootste faktor tot ’n hertoetrede, opregte berou voor God is. Die Skrif sê dat dit God se goedheid is wat ons tot bekering lei (Rom 2:4). Wanneer ons onsself voor God verootmoedig, ontvang ons nie net vergifnis nie, maar ons plaas onsself terug op die regte weg om ’n terugkeer te maak.

Verander jou denke
Die probleem begin by ons gedrag en die wyse waarop ons dink. Dit is die wyse hoe ons optree nadat die foute begaan is, wat die verskil maak. Ons kan ons mislukkings in verband bring met die talente wat begrawe word in die gelykenis in Matteus 25:14-30. Die een dienskneg het die geld en gawes wat aan hom toevertrou is vermeerder, terwyl die ander een syne begrawe het.
Om dit ’n stap verder te neem, die misbruik van daardie talente en roekelose gedrag het ook nagevolge. Op die ou end kan ons die talente verloor en kan dit aan iemand anders gegee word. ’n Geleent-heid wat vir jou bedoel was, kan aan iemand anders toegesê word.

Ware berou
Na gelang ons leer en oor ons foute besin, en ons begin toespits op die terugkeerproses, sal die Here ons op verskillende maniere herstel. Koning Dawid het na die Here uitgeroep om hom te herstel na sy grootste mislukking (Psalm 51:12). God het hom herstel. Daarbenewens het Dawid die Here gevra om hom gewillig te maak om God te gehoorsaam en om die Gees in hom te vernuwe. Ons sal daarby baat om Dawid se berou en sy plan vir herstel na te volg. Uiteindelik is ons hoogste hoop om eendag die grootste bekragtiging van die Here self te hoor, soos opgeteken in Matteus 25:21: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.” Elke mens op hierdie aarde het die potensiaal om alles te wees waarvoor hulle geskape is, maar sommige, om die een of ’n ander rede, slaag nie daarin om dit te bereik nie. Elkeen kan word wat die Here hulle geskape het om te wees. Die potensiaal is altyd daar.

Word alles waarvoor  God jou bestem het
Wat is jou potensiaal? Wat kan jy doen met die lewe wat aan jou gegee is, of dit nou met een, twee, of vyf talente is? Want dit maak nie saak wat aan jou gegee is nie, wat saak maak is wat jy doen met wat aan jou toevertrou is.

Wees ’n kampioen

Dit maak nie saak wat jou huidige omstandighede is nie, gebruik die gawes en ta-lente wat God jou gegee het om jou volle potensiaal te ontwikkel. Begin hier, waar jy nou is. Doen die beste wat jy kan met wat Hy jou gegee het, dan sal jy die meeste bereik en die beste weergawe van jouself in hierdie seisoen van jou lewe wees. My gebed is dat jy, of jy nou ’n pastoor, sakeman, leier, huisvrou of student is, aangevuur sal wees om dit wat jy het te neem en dit na jou beste vermoë aan te wend.
Onthou: die Here kan al die nederlae, beproewinge en frustrasies wat jy beleef het, gebruik om jou vermoëns en deursettingsvermoë te versterk sodat jy dit wat vandag op jou pad is, kan behartig. As jy met Hom saamwerk en op die korrekte wyse reageer, sal jy van ‘underdog’ na God se kampioen verander.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication