God is nie n mens dat Hy sal lieg nie.

Num 23:19a.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View July 2013 Issue >>
 

Twee sterk arms het my van agter vasgegryp: “Moenie skreeu nie! Doen wat ons vir jou sê!” Met ’n skok het ek die rewolwer op my gesig gemik, in die hand voor my gesien.

Waarskuwing van God
My kinders het my gevra om Elreza, my drie maande oue kleindogter, te kom help oppas terwyl hulle Engeland toe gaan, want Marie, my skoonsus was siek in die bed. Die twee weke by ons skoonfamilie in Northcliff, Johannesburg het verbygevlieg.
Terwyl ek van Pretoria na Northcliff ry, was dit asof die Here my waarsku. Een van my moeder se liefling Skrifgedeeltes het my te binne geskiet: Romeine 8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk.” Terwyl ek dink aan al die hartseer, swaarkry, marteling en teleurstellings wat God se kinders tref, het ek gevra: “Alles, Here? Álles?” Hy het in my gedagtes geantwoord: “Alles, My kind!”

Nial ons van God se liefde skei nie
Ek het nog ’n teksvers onthou: “Niks sal ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus onse Here is nie, nie vervolging, of swaard, of dood…” ’n Diepe vrede en ’n kinderlike geloof het in my gemoed kom lê. My Hemelse Vader was in beheer van my lewe.

Oop motorhekke
Ek het vinnig by ’n winkeltjie aangedoen en ’n paar geskenkies en vars knoffelbroodjies vir middagete gekoop. Ek het Marie geskakel om solank die garage oop te maak, sodat ek direk kon inry. Sy het gesê dat haar man – ’n narkotiseur – weg is hospitaal toe met die sleutels om te gaan werk en dat ek by die hek moes inry en solank voor die garage parkeer totdat Hansie terugkom.
Ek het stilgehou en die huishulp het gehelp om my skootrekenaar, my Bybel waarin my selfoon was, en my tas met my ID en ander dokumente die drieverdiepinghuis in te dra. Die BMW was tot teen die dak met Bybels en kosvoorrade gelaai wat Oosterlig Kerk en die Vennote vir die Bybelkollege geskenk het. Ek het uitgeklim en die ratslot agter die voorste sitplek uitgehaal. Sonder dat ek daarvan bewus was, het die motorsleutels uit my hand tussen die stapel Gideon Bybels op die agterste sitplek ingegly.

Rewolwer in die gesig
Terwyl ek niksvermoedend vorentoe geloop het om die slot aan die remme te sluit, het twee arms my van agter aan albei elmboë gegryp. ’n Man het blitsvinnig voor my ingespring met ’n rewolwer in my gesig. Die een wat my arms vasgehou het, het gesê: “Doen wat ons vir jou sê en ons sal jou nie seermaak nie.” Ek het my mond kurkdroog geskrik; my hart het onstuimig geklop.
“Waar is die karsleutels?” het die man met die rewolwer geëis, terwyl hy die rewolwer in my gesig gedruk het. Ek het na my leë hande afgekyk en toe binne die kar ingeloer of die sleutels dalk in die slot was. Hulle was nie. “Waar is die sleutels!” het hy geskreeu. Ek het rustig geantwoord: “Ek het hulle nie, miskien is hulle in die sakke wat reeds in die huis is.” “Dan gaan haal ons hulle,” het hy beveel.

Weet jy Jesus het jou lief?
Die man het my met die geweer teen die steil trappe opgedwing. Hoewel ek weet ’n mens moet dit nie doen nie, het ek die man wat my vasgehou het, vas in die oë gekyk; waar ek die woorde vandaan gekry het, weet ek nie, maar ek het met ’n sagte intense stem gevra: “Weet jy dat Jesus jou liefhet?” Hy het sy blik laat sak. “Weet jy dat Jesus vir jou gesterf het?” Hy het bly afkyk na die grond. “Weet jy dat jy spesiaal vir Hom is?”

Die bloed van Jesus
Teen daardie tyd is ons by die voordeur in waar al my kosbaarhede – my skootrekenaar; my Bybel met my selfoon, wat luidkeels begin lui het toe ons instap; my tas met soveel belangrike dokumente – alles netjies in ’n ry in die voorportaal gepak was. Ek het saggies aangehou prewel: “Die bloed van Jesus…” In die gang het my hart in my skoene gesak, ek was magteloos om Marie te waarsku. Sy het in die bed gelê met Elrezatjie in die bababedjie langs haar.

Ek sal haar skiet
Die mans was vol selfvertroue. Die een het die rewolwer op ons kleintjie gerig: “Ek sal haar skiet as julle nie die kluis oopmaak en die gewere gee nie.” Marie het opgespring en die kluis oopgesluit, terwyl die man my elmboë laat los het en my trouring van my vinger afgeruk het. Hy het die twee selfone wat op die bedkassie gelê het, gevat.
Die gewere is by die deur uitgedra. Ek, Marie en die huishulp se hande is agter ons rûe vasgebind. Dit het soos ure gevoel en steeds het ek geprewel: “Die bloed van Jesus… Die bloed van Jesus.”

Dankie Jesus
Ek het by die venster uitgekyk en ’n man gesien wat net buite die hek op ’n klip die wêreld sit en bespied het. Die twee in die huis het alles wat hul kon, gegryp. Ek kon deur die venster sien hoe hulle alles in ’n rooi motor laai en wegjaag. Toe het ek my man, Shai gebel: “Shai, hulle het ons! Ro-wers! Hulle het alles gevat. Ek dink hulle gaan terugkom vir die BMW. Kom gou…” Skielik was die foon dood.
Ek het besef dat hy vier uur per motor weg was. Hy sou te laat wees. Ek het vervaard afgehardloop na die motor om te kyk of die sleutel nie tog iewers uitgeval het nie, maar daar was niks! Toe het ek skielik die sleutels tussen die Bybels gesien en terwyl ek begin huil, fluister ek: “Dankie Here Jesus!”

Here beskerm haar
Intussen het Shai, wat in Barberton was, net daar in die straat sy arms in die lug gegooi en na die Here geroep: “Here, spaar tog my vrou! Here, red haar! Beskerm haar!” Hy is in alleryl terug na die Bybelkollege en het na die kapel toe gegaan, waar al die studente onderrig word. My broer, ds. Johannes Kelber, was juis besig om klas te gee.
Toe Shai haastig ingestap kom, kon hy sien daar is groot fout. Shai het die hele klas vertel wat gebeur het. “Daar was ’n gewa-
pende roof, hulle het al ‘mama’ Elreza se goed gesteel!” Soos een man het hulle opgespring en die Here begin aanroep: “Here! Besorg asseblief al ‘mama’ Elreza se besittings terug! Jesus, beskerm ons ‘mama’!”

Die gebed van die regverdige
God verhoor graag gebede! Hy werk geloof in harte, want Hy is die outeur en einde van ons geloof (Heb 12:2). God het die regverdiges gehoor! Die volgende môre dou voor dag het die foon gelui.
’n Familielid het gebel om te sê ’n Soweto-polisiestasie soek na my, want hulle het my tasse in die veld naby die polisiestasie gekry.
Ek het die meeste van my besittings teruggekry en wat ek wel verloor het, is vervang: ’n pragtige nuwe trouring wat Shai vir my gekoop het; ’n splinternuwe skootrekenaar wat dierbare vriende vir my gekoop het; en my foon wat ek gratis kon opgradeer na ’n beter een!

Vader, vergeef hulle
Wat het ek geleer? God verhoor desperate gebede uit die hart wanneer dit in geloof na Hom toe kom. Ek het geleer om hulle te vergewe! Jesus het gebid: “Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Ek moet dieselfde doen, want Hy het my ook vergewe, sonder dat ek dit verdien het. God kan my nie vergewe as ek nie van harte vergewe nie!

‘GEBEDSIMFONIE’, ’n boek geskryf deur dr. Elreza Mulder op versoek van Radio Tygerberg, beskikbaar Augustusmaand.

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication