Dit veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgele word nie.

2 Pet. 1:20.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View September 2013 Issue >>
 

Die Geopende Deure Kindersentrum in Colombia verskaf skoling aan, en beskut die kinders van Christen-gelowiges in vervolging. Een so ’n leerling getuig van die goedheid van God wat hom daarvan weerhou het om by ’n berugte guerrilla-rebellegroep aan te sluit…

’n Geleentheid om te studeer
Camilo Hernandez Ruiz* is een van vyf seuns wat op 7 Desember 2013 sy sekondêre opleiding by die Geopende Deure Kindersentrum se skool ontvang het. Vir sy ouers, Esteban* en Ana*, is die kindersentrum ’n unieke seën wat dit vir Camilo moontlik gemaak het om sy sekondêre studie te voltooi.

Beskut diegene wat in gevaar is
Terwyl hy by die kindersentrum was, het Camilo en sy broer, Leonardo, saam met bykans vyftig ander studente geleef en studeer. Hierdie sentrum is opgerig en word deur Geopende Deure ondersteun om die kinders en die jeug van die nasie se vervolgde gelowiges tot nut te wees.
Christene se kinders word dikwels bedreig deur moontlike ontvoering, of om deur die rebellegroep, FARA EP Guerrillas, gewerf te word. Camilo en Leonardo kon nie in die gebied waar hulle gebore is, studeer nie omdat die guerrillas hulle gesin ontwortel het. Nadat die rebelle die gesin se eiendomme afgeneem het, is die gesin verbied om die Evangelie te verkondig, saam te aanbid of selfs te bid en vas.

Hoop vir die toekoms
Twee jaar tevore, toe die gesin uit die gebied moes vlug, het die Hernandezkinders na die kindersentrum gekom. Hulle ouers het daarvan by ’n vrywilliger van Geopende Deure in Colombia te hore gekom.
“Vir ons is dit ’n seën dat te midde van die probleme waardeur ons die afgelope twee jaar is, ons ouer seun sy skoolloopbaan kon voltooi en ons jonger seun ook sy primêre studie suksesvol kon voltooi en met sy sekondêre studie sal voortgaan. Dit sou nie vir ons moontlik gewees het sonder die hulp van Geopende Deure Kindersentrum nie!”

Dreigemente en vervolging
Hierdie leierskapspaartjie, wat al vir 20 jaar Christene is, het die spit afgebyt van die vervolging teen die Kerk in Colombia. Hulle het in ’n moeilike gebied gewoon; onder die bedreiging en beheer van die FARC EP Guerrillas. Die guerrillagroep het druk op die gesin toegepas toe hulle begin vra het dat die Hernandezkinders vir hulle teen die regering moet veg.
Een van Esteban se broers het beplan om sy oudste seun na ’n ander stad toe te stuur om hom te beskerm, maar in plaas daarvan is die seun deur die Colombiaanse weermag opgeroep en moes militêre diensplig doen.
Toe die guerrillas uitvind dat die jongman by die weermag aangesluit het, het hulle aangeneem dit was deur sy vader se toedoen en het in weerwraak die druk op Esteban en sy broers verhoog: hulle het Esteban en sy broers se plase in besit geneem en hulle met doodsdreigemente gedwing om uit die gebied te vlug.

Verskaffing van ’n veilige hawe
Nadat Geopende Deure van die Hernandezgesin se verknorsing gehoor het, is Camilo en Leonardo ’n veilige hawe in die kindersentrum gebied. Sodoende kon hulle nie gedwing word om by die guerrillagroep aan te sluit nie en is hulle die geleentheid gegun om met hulle studie voort te gaan. Intussen moes hulle ouers noodgedwonge hulle twee seuns agterlaat en na ’n ander land trek in ’n poging om werk te vind en ’n nuwe lewe te begin.

Vertroue in God
Hoewel Esteban en Ana dit aan die begin moeilik gevind het om by ’n nuwe land en kultuur aan te pas het hulle met God se hulp en die ondersteuning van ander Colombiaanse Christene wat ook daar woon, die finansiële middele bekom om ’n sakebedryf te begin. Hulle sê dit was ’n groot troos vir hulle om te weet dat hulle kinders nie alleen beskut is nie, maar ook skoling ontvang en in Christelike waardes en beginsels opgelei word.

Bly by God
Een week voor Camilo se finale pleg-tigheid het sy ouers na Colombia teruggekeer om die seremonie by te woon. Ana het gesê dat haar hart oorgeloop het van vreugde toe sy hoor dat Camilo erkenning as die beste student in die  nasionale eksamen ontvang het – ’n eer wat ook erkenning aan die skool van Geopende Deure Kindersentrum besorg het as een van die puikste in die Metagebied. Camilo het voordat hy gegroet het, gesê: “Hier het ek geleer dat alles moontlik is wanneer ons in God se hande is.”
*Skuilname is gebruik om die gesin te beskerm

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication