As jy dit doen, sal die lig vir jou deurbreek soos die nuwe dag. Jou genesing sal spoedig herstel. Hy wat jou red, sal voor jou uitgaan, die heerlikheid van die Here sal jou van agter beskerm.

Jes 58:8.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View September 2013 Issue >>
 

In ’n wêreld waar dit net om eie gewin en selfverryking gaan, is dit verfrissend om van iemand te hoor wat wêreldse sukses opsy gesit het om die koninkryk van God te bou.
Ockert Potgieter, ’n stermatrikulant met 8 onderskeidings, 4 grade teen die ouderdom van 27, en ’n seniorlektor by RAU, het 20 dae na sy troudag saam met sy vrou, Michele, alles agtergelaat en as sendelinge na die Oekraïne gevlieg. Dit is ’n land waar kommunisme letsels van werkloosheid, gesinsgeweld, misdaad en verslawing gelaat het.
Daar is hulle met ’n vyandiggesinde ortodokse kerk gekonfronteer en ’n agterdogtige gemeenskap wat dekades lank beïnvloed is om alles wat Westers is te verdink. Ten spyte van die teenkan-ting het ’n oud KBG-lid die Potgieters gehelp om ’n drieverdiepinggebou op die dorpsplein te bekom! Hier word
dienste, asook uitreike na tieners en jongmense, gehou en op die grondvloer is hulle Christelike koffiewinkel met speelplekkie – die enigste ‘kindervriendelike’ plek op die hele dorp!

Besoeke in die kraamsaal
By hulle aankoms het Michele begin om die plaaslike kraamsaal met geskenkies vir die nuwe mammas te besoek. Daaruit is hulle swangerskapkrisis-sentrum gebore. Hulle besoek steeds die kraamsaal om vroue geluk te wens en Bybels en geskenkies uit te deel. Onlangs het die Here ’n reusedeurbraak gegee. Die streekshospitaal verwys nou elke vrou wat ’n aborsie aanvra eers na die krisissentrum vir ’n konsultasie voordat die aborsie gedoen word. “Ons verduidelik aan haar die nagevolge, die alternatiewe en bied ondersteuning en gebed aan. Die Here verrig wonders!” sê Michele.

Minimum menslike aanraking
Bogdan is tydens so ’n besoek gevind. Sy ma het hom kort na sy geboorte in die hospitaal agtergelaat waar hy ’n hele jaar met die minimum menslike aanraking en basiese sanitêre sorg in sy bedjie gelê het. Vandag het hy ’n pappa en ’n mamma in ’n gesinstipe kinderhuis wat deur die Potgie-ters se bediening begin is.

Vader vir die vaderlose
Hierdie gesinstipe kinderhuise is geskep omdat kindertjies sommer net ‘weggegooi’ word. Gesinne in Ockert se gemeente het die babas en kindertjies wat by die plaaslike hospitaal agtergelaat is, aangeneem. Nou kontak die plaaslike owerhede die Potgie-ters wanneer daar ’n kindjie is wat deur ouers ‘weggegooi’ word.
Hulle neem hulle tydelik totdat hulle permanent geplaas kan word. Ockert praat met passie oor God se vaderhart: “Wat kan mooier wees as om die Gees van aanneming in werking te sien, daardie Gees wat wil hê dat elke man, vrou en kind in die Vader se liefdevolle arms ontvang word.
Die Vader het een begeerte, dat die weeskinders van hierdie wêreld Sy eie kinders sal word!”

Sorg vir behoeftige kleuters
Die kindertjies van Reni loop dikwels dag na dag honger en sonder toesig op die strate rond, omdat baie van hulle ouers alkoholiste is. Die Potgieters het byvoorbeeld om middernag een aand twee kleutertjies in hulle tuin gekry. Tans is daar 70 sulke behoeftige kindertjies in hulle kleuterskool wat elke dag gratis versorging kry.
Deur die onselfsugtige diens en gehoorsaamheid van Ockert en Michele het die Here hulle bediening geseën met:
• ’n kleuterskool vir behoeftige kinders,
• twee gesinstipe kinderhuise,
• ’n swangerskapkrisis-sentrum,
• ’n weeklikse jeugprogram op die plaaslike televisie
• berading van verslaafdes.

As die Here dit in een dorp in die Oekraïne kan verrig met twee van Sy kinders, wat kan Hy nie uitrig met duisende gehoorsame kinders in Suid-Afrika nie?

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication