Ek skaam my nie vir die Evangelie van Christus nie,want dit is n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, in die eerste plek vir die Jood, maar ook vir die nie-Jood..

Rom. 1:16

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View October 2013 Issue >>
 

Die afgelope paar maande se verwoede aanvalle op Christene in Egipte is skokkend en ongeëwenaard. Volgens Gerrit Coetzee, hoof uitvoerende-beampte van Ge-opende Deure Suid-Afrika, was daar maar altyd af en toe aanvalle deur radikale Moslems op kerke in dorpe of kleiner nedersettings; Christen-gesinne wat geteister word; Christene wat gedwing word om hulle tuisdorpe te verlaat en die alledaagse diskriminasie teen Christene waar hulle werk of woonagtig is. Die sistematie-se geweld wat egter oor die laaste paar maande teen die Christene in Egipte losgebars het, het die grootste Kerk in die Midde-Ooste met ’n lang lys van pynlike verliese gelaat.

Egipte bloeiend
Volgens berigte* deur die goed ingeligte biskop Jeremia, ’n lid van die Heilige Sinode van die Koptiese Ortodokse Kerk en die hoof van die Koptiese Kulturele Sentrum, het die Christelike Kerk massiewe verliese gely sedert die gewelddadige uiteenjaag van die twee sitstakings deur die Moslem-Broederbond in Augustus hierdie jaar: 73 kerke en kloosters, sowel as 22 bykomstige geboue (insluitende kindertehuise, skole en Bybel-boekwinkels) is gedeeltelik of geheel en al afgebrand en beskadig. Verder is 212 privaat Koptiese Christen-eiendomme aangeval, geplunder of aan die brand gesteek, en sewe Christene gedood.

Dankbaar om nog te lewe
Die verhale wat ons van leiers van bedieninge op verskeie plekke in Egipte hoor, gee insig in die smart wat Christene daagliks ly. Dreigboodskappe is aan sommige dorpspastore en leiers gestuur wat hulle inlig dat hulle dopgehou en geteiken word. Hulle word gewaarsku om nie enige byeenkomste in hulle kerke te hou as hulle hulle gemeentelede veilig wil hou nie.
En dit is nie net leiers in die Kerk wat geteiken word nie. Sommige Christen-boere is deur radikale Moslems gedwing om hulle grond teen halfprys te verkoop; anders sou hulle hulle lewens verloor. Gewapende radikale Moslems het ook by Christene se wonings ingebreek, al die meubels op ’n vragmotor gelaai en weggery sonder dat die gesinne ’n woord kon sê! Hulle was net dankbaar om nog te lewe.

Bid vir hulle vervolgers
Die lys van aanvalle en lyding is lank, maar vir Egiptiese Christene bly die vraag waarom alles draai: hoe kan hulle te midde van hulle swakheid, pyn en lyding die vreugde en vrede van die Here aan hulle vervol-gers betoon?
’n Christen-leier in Egipte vra: “Hoe kan ek my land se Christene help om die dilemma waarin ons tans is, deur die oë van die Almagtige God, wat ’n magtige plan vir Egipte het, te sien? Hy is sekerlik besig om die land te skud en te suiwer vir die groot werk waarmee Hy besig is, en voortgaan om te doen!”

Boodskap aan gelowiges wêreldwyd
’n Broer in Christus uit Egipte het die volgende met Geopende Deure gedeel: “Ek kan myself, of julle, nie bedrieg nie, my geliefde gebedsvriende, broers en susters wêreldwyd. Ek kan nie die swaar las wat ons dra, wegsteek nie. Hoewel ek, en baie ander Christene in my land, die wete uitleef en ervaar dat die vreugde van die Here ons krag is, bly ons steeds menslik en is ons swak. Ons verbly ons saam met julle oor die geboorte van Jesus, wat
2 000 jaar gelede in ons wêreld gebore is om die Goddelike plan vir ons verlossing te vervul, maar ons moet steeds ons daaglikse lewe met sy baie uitda-gings, pyn en angste leef.
Die primêre uitdaging wat ons as Christene in Egipte tans in die gesig staar, is om te leer hoe om ons oë op die Meester, wat verseker bewus van ons situasie is, gerig te hou; om te kies om bewustelik as getuies vir Jesus te leef.’’

Gebedstryders staan op
Christene in Egipte doen ’n beroep op gelowiges wêreldwyd om hulle te help om hulle moeë arms op te lig. ’n Gelowige in Egipte pleit: “Hou asseblief aan om vir my land te bid! Hierdie is die moeilikste dae wat ons al ooit beleef het. Vredevolle Egipte is deurweek met geweld, haat en wraaksug! My hart, en die harte van miljoene Christen- en Moslem-Egiptenare, bloei as ons sien hoe Egipte in ’n vreemde land verander wat ons nie ken nie.”

’n Mondstuk vir die vervolgdes
Gerrit Coetzee rig ’n versoek aan Christene wêreldwyd: “Ons broers en susters in Egipte staan op die gevegsfront van geloof. Hulle het ons nodig om hulle hande in geestelike oorlogvoering op te lig, soos Aäron en Hur vir Moses gedoen het. Wees ’n mondstuk vir hulle deur hierdie gebedsversoeke aan vriende en kerklidmate te versprei. Laat ons almal in gebed verenig.”
* Inligting korrek by die ter perse gaan

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication