Ek skaam my nie vir die Evangelie van Christus nie,want dit is n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, in die eerste plek vir die Jood, maar ook vir die nie-Jood..

Rom. 1:16

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View October 2013 Issue >>
 

As Britse burger is daar ook ’n Suid-Afrikaanse ereburgerskap aan Emily Hobhouse toegeken vir haar moedige en opofferende dade wat die onmenslikheid van die konsentrasiekampe gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) blootgelê het.

Gesin
Emily is op 9 April 1860 gebore en het op St. Ives in Oos-Cornwall grootgeword. Haar vader was 51 jaar lank ’n leraar in die Kerk van Engeland. Haar moeder was die dogter van sir William Trelawney, ’n parlementslid vir Oos-Cornwall. Ná haar moeder se dood het Emily na haar vader omgesien tot en met sy dood in 1895.

Geloof in aksie
Ná sy dood het sy na die Verenigde State vertrek om welsynswerk onder die myners in Minnesota te gaan doen. Haar verlowing aan John Carr Jackson is in 1898 verbreek en sy het na Engeland teruggekeer.
Emily was betrokke by maatskaplike werk en was ’n lid van die ‘Women’s Industrial Committee’. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in Oktober 1899 het sy by die ‘South African Conciliation Committee’ aangesluit. As sekretaresse het sy protesvergaderings teen die oorlog georganiseer.

Vroue in nood
Gedurende die somer in 1900 het sy vir die eerste keer bewus geword van die honderde Boerevroue wat verarm het en van hulle huise weggedryf is. Emily Hobhouse het die ‘South African Women’s and Children’s Distress Fund’ gestig en na Suid-Afrika gereis om aan die Boerevroue en -kinders wat weens die oorlog gely het, noodbystand te verleen.

Sending na Suid-Afrika
Sy het 27 Desember 1900 in Kaapstad gearriveer en begin verneem van konsentrasiekampe in onder meer Port Elizabeth, Johannesburg, Bloemfontein, Potchefstroom, Norvalspont, Kroonstad en Irene.
Omdat krygswet oor groot gedeeltes van die Kaapkolonie afgekondig is, het sy nie alleenlik die toestemming van lord Milner benodig nie, maar ook dié van generaal Kitchener om hierdie kampe te besoek. Danksy haar volharding en deursettingsvermoë het sy uiteindelik toestemming verkry om voort te gaan, maar slegs tot by Bloemfontein.

Konsentrasiekampe
Emily beskryf haar aankoms by die konsentrasiekamp buite Bloemfontein op 24 Ja-nuarie 1901: ‘‘Twee duisend mense is met onvoldoende huisvesting teen die helling van ’n koppie neergeplak, met massiewe oorbewoning van tien tot twaalf mense in ’n tent, geen seep nie, onvoldoende water, geen beddens nie, geen matrasse nie, ’n te kort aan vuurmaakgoed, uiters skamele rantsoene. Die wesenlike hoeveelheid wat uitgedeel is, het ver te kort geskiet aan die voorgeskrewe hoeveelheid.
Dit het doodeenvoudig hongersnood beteken. Allerlei siektes het in die in die kamp gebroei, insluitend masels, brongitis, longontsteking, disenterie en buiktifus. Bykans elke tent het een of meer siek mense gehuisves.’’ Toe Emily seep vir die gevangenes aanvra, is sy deur die owerhede meegedeel dat seep “’n luukse” is!

Liefde in aksie
Terwyl sy ondersoek ingestel en onderhoude gevoer het, het Emily geween. Sy het verder as Bloemfontein gegaan om by ander konsentrasiekampe ook ondersoek in te stel.
Toe sy deur die administrateur van die Oranjerivierkolonie ingelig is dat sy “te veel persoonlike simpatie betoon”, het Emily geantwoord: “Dit was presies waarom ek gekom het – om persoonlike simpatie te toon en om bystand in gevalle van persoonlike beproewinge te verleen.”

Skokkende onthulling
Emily Hobhouse se ‘Report of a Visit to the Camps of Women and Children in the Cape and Orange River Colonies’ het vernietigende kritiek gelewer.
Kinders het teen ’n koers van 50 per dag in die oorbevolkte en onhigiëniese kampe gesterf. “Ek noem hierdie kampstelsel ’n grootskaalse wreedheid…om met hierdie kampe voort te gaan, is kindermoord. Die vroue is wonderlik. Hulle huil baie min en kla nooit nie. Die omvang van hulle lyding, hulle vernedering, verlies en angs blyk hulle verby hulle trane te dra…die verpleegster ondervoed en oorwerk…hanteer ongeveer 30 tifusgevalle asook ander pasiënte.
’n Ses-maande oue baba is besig om sy lewe op sy ma se knie uit te snak…’n 21-jarige meisie sterwend op ’n draagbaar…die moeder wat waghou by ’n kind van ses, ook sterwend…hierdie paartjie het reeds drie kinders in die hospitaal verloor…soos verwelkte blomme weggegooi…’n pragtige kind vermaer tot vel en been…’n baba so swak dat dit nooit sal kan herstel nie…die kindjie was slegs drie maande, maar so ’n liewe kleinding…die kindjie het vanoggend nog geleef; toe ek vanmiddag inloer, het hulle my ingenooi om die kleinding uitgelê te sien…”

Vermoorde onskuldiges
‘‘Vir my het dit soos die moord van ’n onskuldige voorgekom. ’n Uur of twee daarna, is nog ’n kind dood. By Springfontein moes ’n jong dame in ’n sak begrawe word…dit is ’n eienaardige stand van sake; leeg en verrot tot in die kern daarvan, die groot ontwortelde gemeenskappe wat regoor die staat geskep is.
Mense wat deur julle as vlugtelinge bestempel en glo beskerm word, maar hulleself as oorlogsgevangenes beskou wat teen hulle wil gevange gehou word en julle beskerming verag.
Diegene wat die ergste gely en wat die meeste verloor het, hetsy deur hulle kinders aan die dood af te staan, of die verlies van hulle besittings deur vuur en die swaard, soos daardie vroue in die kampe, het die opvallendste geduld. Hulle spreek nooit die wens uit dat die mans diegene moet wees wat oorgee nie. Dit moet nou uitbaklei word, tot die bitter einde toe.”

Die koste van oorlog
‘‘Dit is ’n baie duur saak waarmee Engeland begin het en selfs teen so ’n koste, kan slegs die allernodigste, sonder enige ge-riewe, voorsien word. Die kampmense van Mafikeng was baie verras om te hoor dat Engelse vroue oor hulle lyding besorg is. Dit het hulle goed gedoen om te hoor dat daar ware simpatie vir hulle is, en daarom is ek bly dat ek my pad hierheen oopgeveg het, al is dit net om daardie rede.’’

Verskroeide aarde
Emily Hobhouse het onverpoosd ’n veldtog teen die wrede konsentrasiekampstelsel gevoer: die oorlog teen die Boerevroue en -kinders, die Verskroeide Aarde-beleid, die afbrand van plaashuise, vergiftiging van boorgate, slagting van troppe van beeste en skape, verwoesting van kosvoorrade en die gevangeneming van burgerlikes in konsentrasiekampe.
Een van die eerste suksesse van Emily Hobhouse se veldtog was dat daar seep saam met die karige rantsoene uitgedeel is en dat toestande in die kampe begin verbeter het.

Barbaarse metodes
Heftige afkeur in Engeland het die regering einde ten laaste aangespoor om toestande in die kampe te verbeter.
Eerw. Charles Aked, ’n Baptiste leraar in Liverpool, het op Sondag 22 Desember 1901 verklaar: “Groot Brittanje kan die stryd nie wen sonder om die laaste laagste lafhartigste daad van die walglikste skurk op aarde aan te wend nie – om deur die eer van sy vrou en sy kinders se lewe op ’n brawe man se hart toe te slaan! Hierdie lafhartige oorlog word deur barbaarse metodes gevoer…die konsentrasiekampe is moordkampe.”

Teen alle verwagtinge in
Emily Hobhouse het geskryf dat sy nie die ‘growwe manlike stommiteit, hulpeloosheid en knoeiery’ kon vergewe nie. “Ek vryf soveel sout as moontlik in die seerplekke in hulle gedagtes…’’ het sy geskryf.
Emily Hobhouse het met haar terugkeer na Brittanje snydende kritiek van die media en vyandiggesindheid van die Britse regering ontvang. Die opposisieleier, sir Henry Campbell-Ballerman, het egter die barbaarse metodes veroordeel en die regering gedwing om die Fawcett-kommissie aan te stel om ondersoek na haar aansprake in te stel.

Toegang geweier
Alhoewel Emily Hobhouse nie toegelaat is om deel van die kommissie te wees nie en met haar terugkeer na Kaapstad in Oktober 1901 nie toegelaat is om aan wal te gaan nie en gedeporteer is, het haar verslae steeds die rondtes gedoen.
Sy het na Frankryk verhuis om die boek, ‘The Brunt of the War and Where it Fell’ te skryf. Die boek het selfs meer woede en aksie tot gevolg gehad. Die Fawcett-kommissie het Emily Hobhouse se bevindinge bevestig.

Red lewens
Ten spyte van hewige teenkanting van die Britse koerante wat die regering se oorlog ondersteun het, het Emily voortgegaan om openbare vergaderings toe te spreek oor die lot van vroue en kinders in Suid-Afrika. Dit is nie te betwyfel dat die ondernemings en energieke handeling van Emily Hobhouse die oorlog verkort het en talle lewens gered het nie. Sy het ook hoop aan moeders gegee wat alle hoop verloor het.

Brawe veldtog
Emily Hobhouse se brawe veldtog om ’n spreekbuis te wees vir die Boerevroue en -kinders wat brutaal behandel is, het ’n belangrike rol gespeel in die ondermy-ning van die Britse volksondersteuning van die oorlog.
Dit het ook die regering gedwing om enorme toegewings aan die Boe-remagte te maak, wat daartoe gelei het dat die Boere deur die Unie van Suid-Afrika in 1910 beheer oor hulle land teruggekry het. Die eersteministers van die Unie van Suid-Afrika was almal Boeregeneraals: generaal Louis Botha, generaal Jan Smuts en gene-raal James Barry Hertzog.

Heropbou
Emily Hobhouse het in 1903 na Suid-Afrika teruggekeer om Boere-tuisnywerhede wat jongvroue leer spin en weef, op die been te bring. Danksy haar is 27 skole in die Transvaal en die Oranje-Vrystaat gestig. Sy het in 1913 weer na Suid-Afrika gereis vir die inhuldiging van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein, maar moes weens swak gesondheid by Beaufort Wes stop.

Diens aan die wat ly
Emily Hobhouse was ook ’n vurige teenstaander van die Eerste Wêreld Oorlog en het ywerig daarteen geprotesteer. Danksy haar is duisende vroue en kinders in Duitsland en Oostenryk wat weens Britse vlootblokkades aan hongersnood gely het, gevoed deur die ondersteuning wat sy aan hulle kon deurstuur.

Gedenkstene
Emily Hobhouse se oorskot is in ’n nis by die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein begrawe. Die mees suidelike dorp in die Oos-Vrystaat is Hobhouse. Een van die Suid-Afrikaanse duikbote was die SAS Emily Hobhouse.

Dr. Peter Hammond is ’n sendeling, historikus en outeur. Tel: 021 689 4480; mission@frontline.org.za; www.ReformationSA.org

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication