Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie?

1 Korintiers 4:7

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View November 2013 Issue >>
 

Is daar ʼn ‘aanslag’ op Kersfees?

Baie mense neem waar dat daar ’n doelbewuste poging is om die woord ‘Christmas / Kersfees’ uit die openbare gesprek te verwyder – ’n soort ‘oorlog’ teen Kersfees. Inkopiesentrums verwelkom, en laat ‘ feestelike uitstallings’ deur die gemeenskap toe, mits die uitstalling geen godsdienstige bybetekenis het nie. Dit is moontlik om al jou Kers-inkope te doen en nooit die woord ‘Kersfees’ te sien of te hoor nie.

Vestig sekulêre kultuur

Natuurlik is daar niks fout daarmee om te sê: “Gelukkige feesseisoen,” of “feestelike wense” nie. As iemand egter “gelukkige feesseisoen” gebruik omdat hy nie “geseënde Kersfees” wil sê nie, kan ons dit bevraag-teken. “Waarom word die woord Kersfees gesensor?” Een rede aangevoer deur diegene wat die gebruik van die woord wil vermy, is dat dit nie-Christene sal aanstoot gee. Die uitsluiting van Kersfees gaan dan nie werklik daaroor om by ’n meer diverse kultuur aan te pas nie, maar is ’n manier om ’n meer sekulêre kultuur te vestig.

’n Geestelike stryd
Dikwels word die argumente teen Kersfeesprogramme en -uitstallings in politieke terme geklee, maar die partydigheid teen-oor Kersfees gaan veel dieper. Dit is hoofsaaklik ’n geestelike stryd, nie ’n politieke een nie. Hoe moet Christene reageer op die alomteenwoordige gebruik van “Gelukkige Feesseisoen” en die uitsluiting van Kersfees? Hier is ’n paar voorstelle:

Christelike reaksie
1 Vier Kersfees! Laat die vreugde van die seisoen in jou lewe sigbaar wees. Leer jou gesin wat die betekenis van Jesus se geboorte behels en maak die Kerstradisies betekenisvol in jou huis.
2 Wens ander ’n geseënde Kersfees toe. Wanneer jy te kampe het met ’n “gelukkige feesseisoen’, wens die persoon ’n geseënde Kersfees toe! Jy sal verbaas wees hoeveel mense soortgelyk antwoord. Selfs as jy weerstand teëkom, moenie toelaat dat dit jou vreugde demp nie.
3 Spreek die waarheid in liefde (Ef 4:15). Die Kersseisoen is ’n wonderlike geleent-heid om Christus se liefde en die Evangelieboodskap te verkondig.
4 Bid vir diegene in outoritêre posisies
(1 Tim 2:1-3). Bid vir wysheid. Bid vir herlewing sodat Kersfees deur almal geëer sal word in plaas daarvan om aanstoot te gee.

Ontneem die gee van geskenke Kersfees van ware betekenis?

Baie mense neem die idee om geskenke tydens Kersfees te gee, terug na die vers in Matteus 2:10-11 wat handel oor die wyse manne wat geskenke aan Jesus gee: “Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, Sy moeder, gesien en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre.”

Geleentheid vir die Evangelie
Die Bybel vertel ’n wonderlike verhaal oor die Gawe wat God ons gegee het, Jesus Christus, en ons kan dit as ’n geleentheid gebruik om die Evangelie te verkondig en liefde te bewys. Die gee en ontvang van geskenke kan deel daarvan wees om te vervul wat Paulus oor die gee van gawes te sê gehad het in 2 Korintiërs 8:7-8: “Aangesien julle alles in oorvloed het: geloof, die gawe om julle woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer en ons liefde vir julle, wees dan ook in hierdie liefdeswerk oorvloedig. Ek gee nie ’n opdrag nie, maar ek wys julle op die ywer van ander om daardeur die opregtheid van julle liefde te toets.”

Gee aan ander
Paulus het met die kerke gepraat wat finansiële gawes aan hom gegee het sodat hy met die bediening kon voortgaan. Ons kan dit op ons eie lewens toepas deur aan ander te gee, nie net tydens Kersfees nie, maar deur die hele jaar!

Waarop fokus jy?
Kan die gee van geskenke die fokus van Kersfees word, in plaas van dankbaarheid teenoor die Here vir die gawe van sy Seun (Joh 3:16)? Natuurlik! Beteken dit dat die gee van geskenke noodwendig die ware betekenis van Kersfees sal wegneem? Nee. Nie as ons op die wonderlike gawe van verlossing wat die Here aan ons geskenk het, fokus nie (Jes 9:6). Om aan ander te gee, is ’n natuurlike uitdrukking van daardie dankbaarheid. Die sleutel lê by ons fokus. Is jou fokus op die geskenk, of op die skenker van gawes, ons genadige Hemelse Vader? “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo.” Jak 1:17.

Is Kersbome en -versierings heidense rituele?

Die moderne gebruik om ’n Kersboom te versier, kom nie van enige heidense gewoonte nie. Daar is geen bewyse van enige heidense godsdiens wat ’n spesiale denneboom vir hulle mid-winterfeeste versier het nie, hoewel die Romeine die wintersonnestilstand met ’n fees, Saturnalia, ter ere van Saturnus, die god van landbou gevier het.
Hulle het hulle huise met groenigheid en ligte versier en geskenke uitgeruil. In die laat Middeleeue het Duitsers en Skandinawiërs immergroen bome in hulle huise of net buite hulle voordeur geplaas om hulle hoop in die komende lente te toon.

Eerste Kersboom
Die eerste Kersboom is in die 16de eeuse Duitsland deur Protestante Christene versier. Ons moderne Kersboom het uit hierdie vroeë Duitse tradisies ontwikkel.

Wat sê die Bybel?
Daar is niks in die Bybel wat Kersbome gebied of verbied nie. Daar word verkeerdelik deur sommige verklaar dat Jeremia 10:1-16 die afkap en versier van bome op dieselfde manier as wat ons dit gedurende Kersfees doen, verbied. Selfs met ’n vlugtige deurlees van die teks is dit egter duidelik dat Jeremia in dié gedeelte die verbod op die maak van vergulde of versilwerde houtafgode uitlê.
’n Soortgelyke teks verskyn in Jesaja 44 waar Jesaja praat oor die dwaasheid van die afgodedienaars wat ’n boom afkap, ’n gedeelte daarvan verbrand om hulleself warm te hou en die ander deel gebruik om ’n afgod te maak waarvoor hulle dan neerbuig en dit aanbid.

Behaag die Here
Tensy ons dus voor ons Kersboom neerbuig, ’n afgod daaruit kerf en dit aanbid, is hierdie teksgedeeltes nie van toepassing op Kersbome nie.
Daar is geen geestelike betekenis daarin om ’n Kersboom te hê of nie. Watter keuse ons ook al maak, die motivering, soos in alle gewetensake, moet wees om die Here te behaag. Romeine 14:5-6 spel die beginsel uit in ’n teksgedeelte oor vryheid: “Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ’n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. Die een wat ’n bepaalde dag op ’n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here.”

Geestelike hoogmoed
Die Here is bedroef wanneer Christene op mekaar neersien oor die viering of nie van Kersfees. Dit is geestelike hoogmoed. Wanneer ons voel dat ons ’n hoër geestelikheid bereik het deur iets te doen of nie te doen waaroor die Bybel niks sê nie, misbruik ons ons vryheid in Christus, skep verdeeldheid in Sy Liggaam en doen Hom oneer aan. “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.” 1 Kor 10:31.

Wat van Vader Kersfees?
Hoewel Vader Kersfees ’n fiktiewe karakter is, is sy ontstaan deels gebaseer op ’n beroemde Christen-man, Sint Nikolaas van Myra wat in die vierde eeu geleef het. Nikolaas se ouers was Christene wat ’n erflating aan hom nagelaat het. Hy het dit aan die armes uitgedeel. Hy het op ’n jong ouderdom ’n priester geword en was bekend vir sy medelye en vrygewigheid. Hy het ’n reputasie daarvoor gehad om anoniem geskenke te gee en hy sou in die nag geldsakke by mense se vensters ingooi, soms deur hulle skoorstene, sodat hy nie gesien sou word nie.

Legende van Sint Nikolaas
Nikolaas het op 6 Desember ongeveer 340 of 350 n. C. gesterf en die dag van sy dood het ’n jaarlikse fees geword waar kinders kos vir Nikolaas en strooi vir sy donkie kon uitsit. Daar word gesê dat die heilige gedurende die nag uit die Hemel sou neerdaal en die geskenkies met speelgoed en geskenke sal vervang – maar net vir die soet seuntjies en dogtertjies. Daar is verskillende variasies van die legende van Sint Nikolaas, maar almal is geïnspireer deur die jolige gewer van geskenke in ’n rooi uitrusting wat ons nou as Vader Kersfees ken.

Onskuldige speletjie?
Baie Christen-ouers wonder of hulle die Kersvaderspeletjie met hulle kinders moet speel. Aan die een kant maak hy Kersfees pret en betowerend, met wonderlike vakansieherinneringe. Aan die ander kant moet die fokus van Kersfees op Jesus Christus wees en hoeveel Hy reeds vir ons gegee het. Dus, is die storie van Kersvader ’n onskuldige byvoegsel tot Kersfees, of is hy ’n onderwerp wat liefs vermy moet word?

Materialisme kan oorskadu
Ouers moet hulle eie oordeel gebruik wanneer hulle besluit of hulle Kersvader by hierdie fees insluit of nie, maar daar is ’n paar dinge om te oorweeg: Kinders wat glo dat die geskenke wat hulle op Kerfees van ’n toweragtige man met onuitputbare bronne ontvang, is minder geneig om wat hulle ontvang het en die opoffering wat hulle ouers moes maak om die geskenke te verskaf, te waardeer. Begerigheid en materialisme kan die feesseisoen, wat oor gee, liefde en aanbidding van God behoort te gaan, oorskadu.  Kinders van ouers wie se finansies knyp, mag voel dat hulle deur Kersvader geïgnoreer word.

Weerhou lippe van leuens
Wat selfs meer kommerwekkend is, is die leuen wat vertel word van Kersvader wat elke jaar deur die skoorsteen kom om hulle geskenke te bring. Ons leef in ’n samele-wing wat glo dat ’n leuen vir die ‘regte’ rede aanvaarbaar is. So lank as dit niemand skade berokken nie, is dit nie ’n probleem nie. Dit is in teenstelling met wat die Bybel sê. “Daar staan geskrywe: ‘As iemand die lewe liefhet en ’n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens.” 1 Pet 3:10.

Kinders se vertroue
Sommige kinders voel werklik verraai deur hulle ouers wanneer hulle uitvind dat Kersvader nie werklik bestaan nie. Kinders vertrou hulle ouers om die waarheid aan hulle te vertel, en dit is ons verantwoordelikheid om nie hulle vertroue te verbreek nie. As ons dit doen, sal hulle nie die belangriker dinge wat ons hulle vertel, glo nie, soos die waarheid oor Christus vir wie hulle ook nie fisiek kan sien nie.
Dit beteken nie dat ons Kersvader geheel en al uit Kersfees weglaat nie. Kinders kan steeds die Kersvaderspeletjie speel, selfs al weet hulle dit is alles speel-speel. Dit sal hulle nie van die vreugde van die seisoen beroof nie en gee ouers die geleentheid om hulle kinders van die goddelike kwaliteite van die ware Sint Nikolaas te vertel wat sy lewe daaraan gewy het om ander te dien en self ’n lewende voorbeeld van Jesus Christus was.

Is die woord ‘Xmas’ deel van die aanslag op Kersfees?

Daar is baie mense wat die woord ‘Xmas’ as deel van die ‘aanslag op Kersfees’ beskou. Hulle sien dit as ’n openlike poging om Christus uit ‘Christmas’ te neem. Hoewel dit onteenseglik so is dat sommige mense ‘Xmas’ op daardie manier gebruik, het die werklike oorsprong van die woord ‘Xmas’ niks daarmee te make nie.
In Grieks, die oorspronklike taal van die Nuwe Testament, is die woord vir Christus, Χριστός, wat met die Griekse letter begin wat wesenlik dieselfde letter as die Engelse letter X is. ‘Xmas’ was dus oorspronklik bloot ’n afkorting van ‘Christmas’. Dit is nie ’n sameswering om Christus uit ‘Christmas’ te verwyder nie, dit is net ’n afkorting.

Leef liefde van Christus uit
Daar kan egter nie ontken word dat daar ’n neiging is om Christus op ’n manier tog uit Kersfees te verwyder nie. In die nastrewing van verdraagsaamheid, insluiting en politieke korrektheid, poog sommige mense om die Christelike oorsprong van Kersfees te verdoesel – asof ons samelewing se materialisme nie alreeds die betekenis van Kersfees vertroebel nie. Of hulle nou na ‘Xmas’ of die ‘feesseisoen’ verwys, sal sommige nie tevrede wees voordat die feesviering geheel en al sekulêr is nie. In reaksie hierop moet ons die liefde van Christus in woord en daad uitleef eerder as om kwaad te word of oor die gebruik van ‘Xmas’ te kla.

Die ware betekenis van Kersfees
Die ware betekenis van Kersfees is liefde. Johannes 3:16-17 lui: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het nie Sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. “ Die ware betekenis van Kersfees is die viering van hierdie ongelooflike daad van liefde.

Die ware Kersverhaal
Die ware Kersverhaal is die verhaal van God wat ’n mens geword het in die gestalte van Jesus Christus. Hoekom het God dit gedoen? Omdat Hy ons liefhet! Hoekom was Kersfees nodig? Omdat ons ’n Verlosser nodig gehad het! Hoekom het God ons so lief? Omdat Hy liefde is (1 Joh 4:8). Hoekom vier ons elke jaar Kersfees? Uit dankbaarheid vir wat God vir ons gedoen het, ons herdenk Sy geboorte deur geskenke vir mekaar te gee, Hom te aanbid en veral bewus te wees van die armes en behoeftiges.

Vrye Gawe van Liefde
Die ware betekenis van Kersfees is liefde. God het wat Sy eie is, liefgehad en het ’n Weg voorsien – die enigste Weg – sodat ons die ewigheid saam met Hom kan wees. Hy het Sy enigste Seun gegee om ons straf vir ons sondes te dra. Hy het die prys ten volle betaal, en ons is vry van oordeel wanneer ons die vrye Gawe van liefde aanvaar. “Maar God bewys Sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” Rom 5:8.

GOTQUESTIONS.ORG is ’n webwerf wat die Liggaam van Christus bedien deur interessante artikels en Bybelse antwoorde op uitdagende vrae te verskaf. Vir meer inligting, besoek www.gotquestions.org

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication