God is nie n mens dat Hy sal lieg nie.

Num 23:19a.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View November 2013 Issue >>
 

Generaal Jacobus Hercules (Koos) de la Rey word oor die algemeen as een van die braafste en doeltreffendste veggeneraals van die Anglo-Boereoorlog beskou.

Gesin
Hy is van Hollandse en Hugenote afkoms, en is op 22 Oktober op Winburg gebore. Sy gesin het verhuis om ’n plaas in die Wolmaransstad-distrik te gaan vestig. Gedurende die diamantstormloop het Koos de la Rey as ’n transportryer gewerk en diens aan die Kimberley-delwerye gelewer. In 1876 is hy met Jakoba Elizabeth Greeff getroud. Sy skoonpa, Hendrik Adriaan Greeff, was die stigter van Lichtenburg. Die De la Reys het die plaas Elandsfontein gekoop en 12 van hulle eie kinders grootgemaak, asook ses ander kinders wat hulle ouers verloor het.

Geloof
Koos de la Rey is as diep godsdienstig beskryf en sy Sakbybeltjie was te alle tye by hom en dikwels in sy hande. Hy word beskryf as: imponerend, met ’n lang netjies geknipte bruin baard en ’n hoë voorkop met intense oë. Hy was 19 toe hy aan sy eerste veldslag deelgeneem het.

Kommando
De la Rey het aan die Basoetoe-oorlog van 1865 en die Sekoekoeni-oorlog van 1876 deelgeneem. Gedurende die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) het De la Rey Piet Cronje se beleg van die Britse fort by Potchefstroom oorgeneem. In 1885 is hy as kommandant van die Lichtenburg Kommando verkies.

Volksraad
In 1893 is hy tot lid van die volksraad verkies waar hy ’n ondersteuner van generaal Piet Joubert se progressiewe faksie was wat Paul Kruger se beleid teengestaan het. De la Rey het konsekwent die tegemoetkoming van die uitlanders, sowel as vrede met Brittanje voorgestaan. Gedurende ’n volksraadsitting het president Paul Kruger De la Rey van lafhartigheid beskuldig. De la Rey het terug-gekap dat wanneer die tyd vir oorlog aanbreek, hy op die veldslag sou bly en aanhou veg lank nadat die president opgegee en na veiligheid gevlug het.

Oorlog
Toevallig was dit De la Rey wat die eerste skote van die Anglo-Boereoorlog gevuur het en was hy ook die laaste om die slagveld te verlaat. Op 12 Oktober 1899 het generaal De la Rey ’n aanval geloods wat daartoe gelei het dat die eerste skote van die oorlog by die Slag van Kraaipan afgevuur is. De la Rey se manskappe het daarin geslaag om ’n Britse pantsertrein, wat onderweg van Kimberley na Mafikeng was, te ontspoor. Ná ’n geveg van vyf uur lank het die Britte oorgegee. Daar is 26 Britse soldate gevange geneem en drie veldkanonne, ’n aantal gewere en hoeveelhede ammunisie is gebuit.

Strategie
Van meet af aan het generaal De la Rey met generaal Cronje verskil oor sy strategie om Mafikeng en Kimberley te beleër. De la Rey het geglo dat dit te veel manskappe in beslag sou neem. Hierdie tydrowende en uiteindelik onproduktiewe pogings sou puur verniet wees omdat die Britte op eindelose hulpbronne kon staatmaak om die beleg op te breek en hulle manskappe te bewapen.

Modderrivier
De la Rey moes egter swig en is beveel om te verhoed dat die Britse versterkingstroepe Kimberley bereik. By die Slag van Graspan op 25 Oktober 1899 het De la Rey gepoog om generaal Methuen se eerste divisie te vertraag. Op 28 November 1899 het De la Rey by die Slag van Modderrivier daarop aangedring dat sy manskappe al langs die oewer van die Modderrivier loopgrawe moet grawe. Dit was die eerste keer dat loopgrawe in hierdie oorlog gebruik is. Die Boere het daarin geslaag om die vyand tot sononder terug te hou voordat hulle teruggetrek het. De la Rey is gewond en sy seun, Adriaan, is tydens die veldslag gedood.

Magersfontein
By die slag van Magersfontein op 11 Desember het De la Rey sy manskappe hulle op ’n vlakte aan die voet van die Magersfonteinkoppies laat ingrawe. Die Britse bombardering van die hoërliggende gebied, waar hulle verwag het om die Boere aan te tref, was dus tevergeefs. Die Skotse regiment wat in die nag aangeval het, is deur die akkurate vuur van die verskanste Boere afgemaai. Britse generaal, Wauchope, is in die slag gedood.

Ramp
Terwyl De la Rey besig was om weerstand teen generaal French se opmars in die Colesberg-gebied te organiseer, is generaal Cronje vasgekeer en het hy en al sy manskappe by Paardeberg oorgegee. Bloemfontein het op 13 Maart 1900 geval. Pretoria het op 5 Junie geval. President Kruger het via Portugees-Oos-Afrika na Europa gevlug. Slegs ’n kern van bittereinders het oorgebly om die Britse besetting van die Oranje-Vrystaat en die Transvaal teen te staan.

Teenstand
Ná Cronje se oorgawe by Paardeberg op 27 Februarie 1900, het De la Rey gepoog om die Britte te stuit met die Slag van Driefontein op 10 Maart 1900 en dié van Doornkop op 28 Mei 1900. Op 11 Julie 1900 het hy kolonel Robert by Silkaatsnek verslaan.

Nuwe voorrade
Op 3 Desember 1900 het hy 126 waens, gelaai met kleding, stewels en kosvoorrade, by Buffelspoort gebuit. De la Rey se stormaanvaltaktiek het tot groot verliese vir die Britte gelei.

Blits oorlogvoering
Gedurende hierdie guerilla-oorlogsfase, het generaal De la Rey beroemd geword as ‘Die Leeu van die Wes-Transvaal’. In plaas daarvan om van hulle perde af te klim om te veg, het hy sy manne geleer om in volle galop uit die saal te skiet. Twee jaar lank het hy ’n hoogs suksesvolle veldtog gelei met oorwinnings by Moedwil, Nooitgedacht, Driefontein, Donkerhoek, Ysterspruit en Tweebosch. By Ysterspruit het hy genoeg ammunisie en voorrade gebuit om die Boeremagte hernieude slaan-krag te gee. By Tweebosch het hy generaal Methuen gevange geneem.

Helde-eer
Generaal De la Rey was beroemd vir sy eer-volle optrede en Christelike benadering tot teenoor sy vyande. Hy sou gereeld honderde gevange vyande vrylaat omdat hy nie die middele gehad het om na hulle om te sien nie. Omdat generaal Methuen beseer is nadat sy perd op sy been geval het, het De la Rey hom vrygelaat sodat hy na sy eie linies kon terugkeer om mediese sorg te ontvang. Selfs ná hulle ’n neerlaag gelei het, soos by die slag van Rooiwal in April 1902, het De la Rey se kommando’s tot die bittereinde toe tot 3 000 man op die slagveld gehad. Generaal De la Rey het die laaste berede stormloop van die oorlog gelei.

Jakoba
Gedurende die oorlog het De la Rey se vrou, Jakoba, deurgaans gevangeneming en opsluiting in die Britse konsentrasiekampe ontduik deur rond te trek en 19 maande lank in die veld te oorleef. Haar boek, ‘Myne Omzwervingen en Beproevingen Gedurende den Oorlog’ is in 1903 gepubliseer.

Vereeniging
Lord Kitchener het versoek om generaal De la Rey by Klerksdorp vir onderhandelinge te ontmoet. Die groot openbare druk wat deur Emily Hobhouse in Brittanje teweeg gebring is, het die oorlog baie ongewild gemaak en daar was politieke druk op Kitchener om die oorlog ten alle koste te beëindig. President Steyn, generaal Christiaan de Wet, generaal De la Rey en generaal Botha het uiteindelik ingestem om die verdrag van Vereeniging op 31 Mei 1902 te onderteken. In ruil vir die erkenning die soewereiniteit van koning Edward VII, is die Boere selfregering beloof (in 1906 aan die Transvaal toegestaan en in 1907 aan die Oranje-Vrystaat) asook die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika in 1910. Daarbenewens het die Britte beloof om £3 miljoen skadevergoeding te betaal om die Boere te help om hulle huise en plase te herbou.

Unie
In 1907 is De la Rey tot die Transvaalse parlement verkies en was ’n afgevaardigde by die Nasionale Konvensie wat in 1910 tot die Unie van Suid-Afrika gelei het. Hy het ’n senator geword en het die eerste eersteminister, Louis Botha, in sy pogings ondersteun om Boer en Brit te versoen. Toe die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party mynwerkers in 1914 tot onluste aangehits het, het De la Rey die regeringsmagte aangevoer wat die stakings in hulle spore gestop het.

Rebellie
Met die uitbreek van die Eerste Wêreld Oorlog het senator De la Rey Suid-Afrika se deelname aan die oorlog ten sterkste teengestaan. Omdat baie Suid-Afrikaners van Duitse afkoms was en omdat Duitsland simpatiek teenoor die Boere se stryd om vryheid gedurende die Anglo-Boereoorlog gestaan het, het hy dit as moreel onverskoonbaar beskou om Duits Suid-Wes-Afrika aan te val. In die parlement het De la Rey neutraliteit voorgestaan, en gesê dat hy volkome teen die oorlog gekant is, behalwe as Suid-Afrika regstreeks aangeval sou word. Op 15 September 1914, het sy vriend en die kommandant-generaal van die weermag, generaal C.F. Beyers, sy amp in protes neergelê en sy motor gestuur om De la Rey te gaan haal om met hom te beraadslaag.

Sluipmoord
Die twee generaals was op pad na Potchefstroom se militêre basis waar generaal Kemp ook bedank het, toe generaal De la Rey by ’n polisiepadblokkade doodgeskiet is. Hoewel die amptelike verklaring beweer het dat hy verkeerdelik vir ’n bankrower aangesien is, was talle daarvan oortuig dat hy doelbewus vermoor is weens sy teenkanting van Suid-Afrika se betrokkenheid in Brittanje se oorlog.

Vereerde held
Op die plein voor die Lichtenburg-stadsaal is daar is ’n monument van generaal De la Rey op sy perd. Groot belangstelling in De la Rey se manhaftigheid is onlangs weer aangevuur deur Bok van Blerk se De la Rey-liedjie. Gene-raal Koos de la Rey sal altyd hoog geag word as een van die dapperste van die dapperstes, die Leeu van die Wes-Transvaal.

DR. PETER HAMMOND is ’n sendeling, historikus en outeur. Skakel: 021 689 4480; mission@frontline.org.za; www.ReformationSA.org

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication