Maar nou se die Here: Draai met volle oorgawe terug na my toe! Vas, huil en treur! Moenie julle klere skeur omdat julle hart seer is nie, skeur julle harte!

Joel 2:12,13

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View November 2013 Issue >>
 

As ek Kersfees in een woord moes opsom, sou dit ‘liefde’ wees. Kersfees is ’n kosbare tyd vir my, want God het my met ’n baie groot familie geseën wat almal gedurende die Kersseisoen bymekaarkom. God het my ook ’n ontsaglike liefde vir die huisgesin gegee.

Ware betekenis van Kersfees
Ons moet seker maak dat ons nie die ware betekenis van Kersfees mis nie. Veral wanneer die moderne lewe so vinnig, vlug en kitsklaar is.

’n Tyd van liefde
Kersfees is ’n tyd van liefde, met die voorbeeld van ons Hemelse Vader wat Sy enigste Seun gestuur het om ons hier op aarde te help. Jesus het gekom om ons met God te versoen en te leer hoe om mekaar lief te hê. Johannes 15:13: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.”

’n Tyd vir mekaar
Kersfees is nie net partytjietyd nie. Dit is ’n tyd om mekaar lief te hê. Efesiërs 5:33 lui: “Elkeen moet sy vrou so lief hê soos hy homself liefhet, en ’n vrou moet aan haar man eerbied betoon.” Dit is ’n tyd vir mans om hulle vroue te koester, nie net deur geskenke te gee nie, maar deur kwaliteittyd saam te bestee. Dit is ’n tyd vir vroue om aan hulle mans onderdanig te wees, soos ons aan Jesus onderdanig moet wees. Dit is ’n tyd vir huwelike om verryk te word. Moenie toelaat dat julle kosbare kinders die tyd wat julle as ’n paartjie saam moet bestee, ontwrig nie. Die intiemste verhouding op aarde is dié een tussen man en vrou. Adam sê in Genesis: “Been van my gebeente, vlees van my vlees.” Julle moet dit beskut. Dit is ’n tyd om saam in die tuin te sit en ’n koppie tee te drink, om te gesels oor die toekoms, om terug te kyk en te besin oor hoe God julle geseën en voorsien het in die jaar wat verby is.

’n Tyd vir respek
Kersfees is ’n tyd vir kinders om aan hulle ouers gehoorsaam te wees (Ef 6:1-2). Kinders moet hulle vader en moeder eer. Dit is die eerste gebod in die Bybel met ’n belofte: “…sodat jy lank mag lewe.” Om te eer, beteken om respek te betoon en te luister.

’n Tyd vir harmonie en liefde
Kersfees is ’n tyd wanneer die huis vol harmonie en vrede moet wees, nie met dronkenskap en selfsug nie. God wil hê dat ons mekaar moet liefhê. Hy het gesê: “Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.” Die wêreld moet ’n gesin sien wat saamstaan, mekaar geniet, en mekaar liefhet. Hulle sal na julle aangetrek word soos bye na ’n heuningkoek, want hulle sal wil hê wat hulle by julle sien.
Ons moet so versigtig wees om dit nie te mis nie. Ons kan so maklik deur die warrelwind van feestelikhede op hol gejaag word en besig wees om na alles en almal behalwe ons eie gesin om te sien. Die duiwel is daarop uit om die gesin te vernietig, dit is hoekom egskeiding, aborsie, selfmoord, voorhuwelikse seks en gebrek aan respek deesdae so algemeen is. Sommige Eerstewêreldnasies glo nie meer in die huwelik nie. Sonder die gesin verloor Kersfees sy volledige betekenis.

’n Tyd om onsself te gee
Kersfees gaan oor gee – en in die gee, ontvang ons. Dit is wat Jesus gedoen het. Hy het ons gewys hoe lief Hy ons het deur Homself aan ons te gee. Wees hierdie Kersseisoen iemand wat gee. Gee liefde en gee dit op ’n praktiese wyse. Moenie net jou gesin aanhoudend vertel hoe lief jy hulle het nie, wys hulle dat jy hulle lief het. Duur geskenke is nie nodig nie; bestee tyd saam met hulle – ononderbroke tyd by die huis. Wees versigtig om nie herwaarts en derwaarts rond te jaag nie. Kom huis toe en sit rustig by jou gesin. Hoor, ervaar en proe die goeie dinge wat God vir jou in jou huisgesin skenk.
Mag God jou ’n geseënde Kersfees gee, en mag jy Jesus eerste in jou gesin plaas.

ANGUS BUCHAN, boer, outeur en internasionale evangelis. Skakel 033 417 1695 of besoek: www.shalomtrust.co.za

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication